Nuuskommentaar: Land van twee rasse-oordele

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Die Theunissen- en Qwabe-insidente is nog nuut, maar daar is reeds tekens van onewehandige optrede deur die owerheid. Onewehandige optrede in gevalle van rassisme en haatspraak, stook bloot nog meer sulke voorvalle en die owerheid sal ewehandigheid moet toon.

Twee name wat nou deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis word, Matthew Theunissen en Ntokozo Qwabe, het sosiale media soos ʼn storm getref.

Theunissen word verguis vir ʼn bitterbek Facebook-inskrywing, waarin hy onder meer die k-woord ingespan het.

Qwabe het ʼn wit kelnerin in trane gehad deur haar weens haar velkleur ʼn fooitjie te weier en op die rekening geskryf sy sal haar fooitjie kry wanneer wit mense die grond teruggee. Haar trane is ook as “tipies wit” beskryf.

Theunissen sukkel om weens sy velkleur werk te kry. Qwabe is houer van ʼn Rhodes-beurs van Oxford en ironies, een van die leiers van die #Rhodesmustfall-veldtog.

Hy het in ʼn radio-onderhoud om verskoning gevra en verduidelik dit was in die hitte van die oomblik gedoen nadat minister Fikile Mbalula teen vier sportsoorte opgetree het wat na die minister se mening nie genoeg getransformeer het nie. Theunissen het ontken hy is ʼn rassis en verduidelik hy is op die laagtepunt van ʼn laagtepunt in sy lewe. Hy het ook gou sy fout besef en die inskrywing van sy Facebookblad verwyder, maar nie voordat iemand ʼn skermgreep daarvan geneem het nie.

Theunissen se optrede word blitsig onder die aandag van die Menseregtekommissie gebring.

Meer as 20 000 mense het reeds ʼn versoekskrif onderteken wat eis dat Qwabe se studiebeurs teruggetrek word, of dat minstens dissiplinêr teen hom opgetree word.

Maroela het by herhaling gemaan optrede teen rassisme en haatspraak moet ewehandig gedoen word en om voor-die-hand-liggende redes. In ʼn plurale samelewing, wat deur die ANC se rasbeheptheid erg rasbewus gehou word, kan daar eenvoudig nie bekostig word om aan die een kant ʼn mossie met ʼn voorhamer te bly moker en aan die ander kant studente wat “Kill all Whites” en “F*&k all Whites” op hul T-hemde dra, skotvry daarvan te laat afkom omdat dit spraakvryheid verteenwoordig nie.

Tweedens het Maroela gemaan die optrede van Mbalula het die potensiaal om rassespanning verder aan te blaas.

Een plus een het toe klaarblyklik twee gemaak, nie net wat Theunissen en Qwabe betref nie, maar geoordeel aan die moddergooiery hieroor op die sosiale media, ʼn seer oopgesteek met lelike etter wat uitloop.

Theunissen, ten spyte van sy berou en verskoning, besef hy gaan vir die res van sy lewe betaal vir die oomblik van onbesonnenheid – selfs al is hy self geen rassis nie.

Gaan die owerhede ten spyte van die skade wat dit aanrig, die Qwabe-insident met ʼn blote “onwyse optrede” agter hulle probeer plaas?

Die “probleem” is die kuberruim versprei nie net gou inligting nie, maar beskik oor ʼn reuse geheue en insidente van die verlede kan met gemak deur soekenjins opgeroep word. En dit word mildelik gedoen. In die jongste herrie word feitlik elke rassistiese en beweerde rassistiese insident, elke geval van haatspraak, weer opgedis en net te gereeld op die onewehandige optrede daarteen gewys.

Daar is groot begrip daarvoor dat ewehandige optrede sy eie kwota probleme oplewer. Die opvatting loop wyd in Suid-Afrika dat rassisme en apartheid in wese sinonieme is. Hieruit vloei ʼn slagoffergemeenskap voort wat net die slagoffer en nie die pleger van rassisme kan wees nie.  Dit is daarom ook vir die regering belangrik om apartheid deur opruiende toesprake “lewend” te hou.

En dit is nie net swart mense wat so dink nie – belangrike mediagroepe moet nog afdoende bewys lewer dat hul ewehandigheid volmondig ondersteun. As daar ʼn gebrek aan volmondigheid is, bly daar reste van rassisme oor wat weer rassisme stook.

Dit sluit voorts aan by leerstellinge van Franz Fanon, wat in ʼn verwronge vertaalde vorm in Suid-Afrika gemanifesteer het as ʼn opvatting dat ʼn swart persoon per definisie nie ʼn rassis kan wees nie.

Maar hoe word die talle voorbeelde van rassisme deur swart mense dan verklaar? En is so ʼn opvatting dan nie per se rassisties nie?

Iewers moet ʼn verantwoordelike regering die voet dwars kan sit, veral as dit verkondig dat dit ʼn nie-rassige Suid-Afrika as eindbestemming het.

Anders gaan die soort voorvalle soos nou gemanifesteer, by herhaling en herhaling voorkom.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

John ·

Verwronge reaksies strek oor eeue. Die oorsprong van rassisme le nie eers in Suid-Afrika nie. Waar daar 2 mense is, heers verskille en teenreaksies. Al wat nou in plek is, is internetkommunikasie en papier wat dit wat gese word, uitbasuin. Die teenparty in die verskil van opinie gebruik die opponent se siening tot sy voordeel, indien die kans voordoen. ‘n Opsweep van die massa werk soos ‘n bom, orals in die wereld. Senator Cruz van die VSA het selfs probeer om sy opponent, Trump, se geslagsdele by te sleep om sy posisie te verbeter, tog is hy nie voor die hof gedaag nie. Cruz is weer deur ‘n ander gesiene burger uitgekryt as Lusifer sigselwers en steeds, geen nuwe wette om die drama te stop nie. As blankes wit honde genoem word, is alles maar ok, solank die ANC die ‘darlings of the world’ bly, of so glo hulle … steeds. Lelik en verkeerd verander nie in goed of reg nie, dit is so, maar balans in die reaksie daarop moet eerder die wagwoord wees.

Melt Olckers ·

Afriforum moet die leiding neem en Qwabe aankla, of stappe loods om hom geskors te kry by Oxford, en hom sy beurs laat verloor.

M A ·

Lees maar ‘n bietjie die Amerikaanse koerante – rassehaat is nog laaank nie dood in die “Land of the Free” nie. Dis orals, maar hier by ons word dit aktief aangemoedig. Daar was onlangs ‘n briefie op Facebook van ‘n “African American” wat sê sy haat alle wit mense en die seer sal nooit verdwyn van wat aan swartes gedoen is nie. Dis nou dieselfde mense wat Gospel voor en agter. Bou nou ‘n nasie!

Lynni ·

EFF is die mense wat rassisme aanblaas. Ons moet maar bid dat hulle nooit aan bewind gaan kom nie.

Koos ·

Die afgelope 20 jaar het verby gegaan en ipv beter het ons verval in n land van haat en nyd, plaasmoorde, omgekeerde apartheid, werkloosheid en armoede neem daagliks toe. Die wit jeug neem die ouer garde toe vir huidige toestand, die swart jeug oor die algemeen leef in armoede en betoog daarvoor. Die probleem is ons is nie n welsyn staat nie, het wel verval in n bedrog sone van Groot omvang. Beledigings word oor en weer geslinger, stadionne word volgepak om na onsinnige beloftes te luister. Hoekom kan ons nie die stadionne volpak en met sprekers van alle kante ons mense toelig met die waarheid oor ons land se toestand rerig planne beraam om uit die gemors te kom nie. Vra maar net?

david ras ·

Hierdie gebeure ondestreep eintlik net Newton se Stelling–vir elke aksie is daar ‘n gelyke teen reaksie :
Mbalula is ‘n rassis. Punt. Hy gebruik sy mag teen ‘n ander kleur mense–het hy nou verwag almal gaan dit klakkeloos aanvaar ? Theunissen se uiting was die teen reaksie.
Dieselfde geld vir Qwabe–hy beskuldig weer mense van ‘n ander kleur dat hulle die swrtmense se grond gesteel het–is hy korrek, of lieg hy om sy blindelingse haat jeens blankes te motiveer ?
Die een se beskuldigings is rassistiese snert, en die ander rassistiese magsmisbruik.
En hulle beweer dat swartes nie rassisties kan wees nie?

Tertius ·

Hulle kan nie rassisties wees nie, altans nie volgens hulleself nie. Google die betekenis van lekgoa, en laai die pdf boekie af getiteld “Is Jesus Christus…”

Hendrik ·

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Kom ons aanvaar dit, beweeg aan en werk aan Plan B. Ekonomiese onafhanklik.

Theuns ·

Herman jy is weer 100% in die kol met jou kommentaar. Rassisme stook Rassisme. Terwyl al die dinge aangaan lees ek van die ondeking van drie planete wat om ‘n dwerg son wentel waar daar moontlik lewe kan wees. Dit het my laat wonder, se net dit sou moontlik wees om die drie planete te kon toeken. Een planeet vir elke ras groep (Wit, Bruin en Swart) Dit sou interesant wees om te sien hoe elke planeet ontwikkel word en die tempo waarteen dit ontwikkel. Wie dink julle gaan wen? Of gaan die swart groep daarteen rebeleer dat hulle ‘n swakker planeet gekry het om op te bly? Gaan die swart groep probeer om na die wit planeet te migreer?

Rina ·

Leer mense dan nooit – jy kan mos nie hierdie dinge in openbare media neerpen en dink niemand gaan dit raaksien!! Ons almal raak woedend oor gebeure in land, maar wees versigtig in wie se teenwoordigheid jy wat se en “delete” sekere woorde uit jou woordeskat – beginnende by jou gedagtes as dit moontlik is! Hoe maak jy ooit sulke uitsprake ongedaan agterna? Niemand gaan sy verskoning aanvaar lyk dit vir my en dit stig nog net meer rassisme – petrol is nou bo-op vuurmaakhout! En sy loopbaan vorentoe sowel as die van sy familie…..??

John ·

Genetika is baie meer ingewikkeld as wat ons ooit sal besef. Om te kry wat jy wil he, le ten grondslag van al die mens se doen en late. Die hoe, word telkens ten alle koste ontken en verdoesel. Suid-Afrika en die verloop van sy hele geskiedenis, is die bloudruk vir hierdie listige plan van die mensdom. ‘Natuurlik’ is ek verkeerd.

Stoney ·

Wanneer gaan mense leer om nie jou griewe op openbare media te lug nie. Indien jy nou regtig so ontsteld en kwaad is dat jy kan slange vang, gaan grawe ‘n gat in jou tuin en spreek jou kwade gedagtes hardop daarin uit. Gooi die gat toe en stof jou hande af. Dit werk. Jy het jou hart ligter gemaak en niemand anders is wyser nie!

Henry ·

Theunissen se inskrywing is so ooglopend onnooslik, dat mens soms wonder of dit nie ‘n doelbewuste en kwaadwillige poging is om onmin tussen die rasse van hierdie droewe land aan te blaas nie.
Om in die proses die hanswors wat as minister van SA Sport optree, te ondersteun wanneer hy en sy korrupte regime ons wittes van rassisme beskuldig.
Die ANC se Stasi en KGB leermeesters in die voormalige Oos Duitsland en USSR, was hoeka die meesters van vals propaganda waarmee hulle die Weste en Wes Duitsland in besonder, geterroriseer en verleentheid veroorsaak het.
Hopelik sal die volle waarheid oor die Theunissen storie mettertyd bekend word.
Intussen kan mens die gebeure vir ‘n lekker spaai storie gebruik…

Otter ·

Magswanbelans tussen regering met sy anti-wit ideologie en witmense frustreer wimense. Daarom sal die uitbarstings voorkom ten spyte van algemrne selfbeheersing. Kommunikasie word vrhoed omdat my menings oor Afrikanerselfbeskikking dadelik geklassifiseer word as ‘n voorbeeld van ‘nuwe, post-apartheid wit oorheersing”.

Johannes Meintjes ·

Maar diep onderliggend is die gebrekkig leierskap in SA wat nie die “Reenboognasie” gefokus wilof kan kry op ‘n volhoubare en wen-wen ekonomie nie, die werklike skuldiges.

Theuns ·

Mathew, as jy ooit die kommentaar lees weet dat daar ‘n paar miljoen witmense is wat empatie het met wat jy gese het omdat wat jy gese het verwoord witmense se woede en frustasie oor die rasisme wat deur die regerende party gestook word sonder dat ‘n haan daarna kraai. Hou op om verskoning te vra want jy sal steeds verguis word. Ek weet dat jy nie die gewraakte woorde so gese het nie as jy nie so magteloos gevoel het om iets aan die situasie te doen nie! Ek weet ook dat as jy nou in ‘n situasie was om iets te doen daaraan so jy nie die gewraakte woorde geskryf het nie. Hie is ‘n gediggie vir jou:
once upon a time
there was a guy called Matt
he could travel faster than light
He decided to go on a flight
and came back the previous night
and deleted that FB Post

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.