Nuuskommentaar: Land wat brand, het vele wortels

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Die onluste in Noordwes, die uitjouery van Ace Magashule gisteraand in Durban, die skynbare heksejag op premier Supra Mahumapelo en die president se wipplankryery tussen sy ANC- en landsampte om skynbare intra-ANC-onmin en landskrisisse te balanseer, dui daarop dat ten minste sommige ontbrandingspunte hul wortels diep moet gaan soek.

Dié kwessie het bykans oornag die donker rookmis van die EFF se rassistiese anti-wit beskouinge na die sykant van die hoofstroomnuus verdring (al is dit net tydelik).

Kenners van Noordwes se interne politiek het al lank voorspel dat die bom oor premier Mahumapelo gaan bars. Dat dit die oud-Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, ook sou tref, is in die oog gehou. Toe die moeilikheid regtig begin, was dit nie sommer in die nasionale oog nie, en is eers werklik kennis geneem toe pres. Cyril Ramaphosa ’n belangrike Statebondsberaad in Londen los en hom na Noordwes haas.

’n Belangrike kantlynaantekening hier is dat hy en die ANC dit tot dusver ’n streng intra-ANC-affêre probeer hou (hoewel staatsgeld mildelik ingespan word om byvoorbeeld logistiek aan die president en sy gevolg te gee, en die weermag in te span om mediese dienste oor te neem).

Supra is ’n Zuma-lojalis. Inderdaad is daar noue bande tussen Supra en Magashule, albei Tswanas, met Ace se “hoofstad” Parys aan die walle van die Vaalrivier.

Mabuzo het met ’n kinkel adjunkpresident geword, en Ace het naelskraap die sekretaris-generaal van die ANC geword. KwaZulu-Natal, die hoofsetel van Zuma se mag, is in ’n warboel met volop tweespalt (en hofsake).

Net Supra het nog redelik duidelik sy rug styfgemaak. Ná die aankondiging dat Ramaphosa na sy brandende tuisprovinsie onderweg is, is nog berig dat Supra glo gesê het as Cyril daarheen gaan, bly hy self weg van die geleentheid. Hy was egter teenwoordig.

Die aandrang op sy ontslag is sterk, aangevuur deur geweld, saakbeskadiging, plundery en vele meer, maar Supra het ook ’n diep interne ondersteuningsbasis. Die indruk is tog dat hy sy hand oorspeel het, onder meer deur ’n verdagte transaksie om nooddienste aan ’n Gupta-verwante onderneming uit te kontrakteer, sy seun wat ’n ruim beurs by Denel gekry het, en nou, byna “onbenullig”, ’n klag van die EFF dat hy glo staatsgeld sou gebruik het om beeste wat vir beginnerboere bedoel was aan Zuma te skenk.

Dienslewering in veral die gesondheidsektor is so te sê daarmee heen, en veral die Vryheidsfront Plus waarsku al lank dat dit onhoudbare en onmenslike omstandighede skep en op moeilikheid afstuur.

Die ANC het aanvanklik die yl kombersie gebruik dat dit Ramaphosa se persoonlike aandag verg omdat dit ’n internasionale voorval geword het toe Botswana die grens gesluit het. Botswana het wel gedreig dat dit gedoen gaan word, en die minister, Lindiwe Sisulu, het wel sy skielike vertrek aan die sluiting van die grens toegeskryf, maar die werklike grenssluiting is eers ure ná Ramaphosa in Mahikeng was, per flitsberig deur die SAUK aangekondig. Die gevolg is dat daar ’n sweempie van herinnering is aan ook ander Afrika-staatshoofde wat hulle inderhaas uit Europa tuis moes haas om opstande in bedwang te bring of te onderdruk (en soms weer tot die hasepad van die staatshoof gelei het).

Die feit is egter dat die Noordwes-kwessie nou met omsigtigheid hanteer moet word, soos om oor die lot van Supra te beslis. Tegnies, ingevolge die Grondwet en die ondersteunende wetgewing, het Ramaphosa wye magte oor wat om met dié tameletjie te maak. Die tweede faktor is egter dat daar botsende berigte is oor die omvang van ’n tipe Zuma-verset wat onder sy ondersteuners aan die broei is. Ramaphosa se sameflansing van sy eie, en Zuma-ondersteuners, is klaarblyklik nie met dieselfde diplomatieke vernuf hanteer as ’n Bismarck van ouds nie. Sy linkse uitlatings oor grondroof en ander sake wat selfs dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasse-aangeleenthede laat vra of hy nie deur linkses gekaap is nie, help ook nie baie om die Ramaphosa-euforie vol te hou nie. Lees hier.

Hier moet nou raakgevat word om te keer dat Noordwes se moleste nie in landwye rollende massa-aksie oorspoel wat al op die spoor loop van ’n (in sekere kringe) erg gediskrediteerde Zuma-verset nie. Daar is genoeg brandhout oor ander kwessies, soos gebrekkige dienslewering, xenofobie, etniese wantroue, werkloosheid en ’n verhittende busstaking om sake op die spits te hou.

Afsluiting

Hierdie nuuskommentaar skiet ver te kort om ’n werklik holistiese beeld op die Suid-Afrikaanse “onrustigheid” te werp.

Die geheim is om die beste weg te kies te midde van mededingende aansprake, historiese perspektiewe (wat uiters uiteenlopend in die land is, en in ’n skynbaar al jonger kring al wyer word), en die grondwetlike voorskrif van “die beste belang van almal in die land”.

Spreek die werklike kwessies aan, sodat miljoene rande se begrotings vir infrastruktuurontwikkeling nie jaarliks ongebruik van munisipaliteite na die fiskus terugval nie, rol staatskaping en korrupsie so snel en sigbaar moontlik op.

Alles berus egter nie by die staat nie. Elke burger het sy plig om ontlonting te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pelle ·

Eintlik haat hulle net die wittes,al die ander goed is ‘n rookskerm, hulle gebruik net die ander redes om die wittes se paaie en huise en besighede te vernietig, more drink hulle weer saam met Supra ‘n lekker whiskey en eet sushi saam met ACE .. Die massas sal altyd saamstaan .vandag ‘n tyre om die nek, more is hulle groot chommas. SO het Winnie ‘n HELD doodgegaan wat die halssnoer moorde op meer as 400 mense aangehits het ..

Casper Labuschagne ·

‘n Vuur brand nie sonder dat iemand die vuurhoutjie trek nie. Supra se korrupsie is die goeie brandhout, maar dieselfde vlambare toestand bestaan in dieselfde mate in die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo en Oos Kaap en in ‘n mindere mate elders. So wie doen die opstokery? Die EFF speel ‘n rol, maar hulle is nie sterk in landelike gebiede nie. Dit is nie Zuma nie, want die premier is deel van die Zuma kamp. Die waarskynlikste gevolgtrekking moet dus wees dat dit elemente binne die ANC is wat effektief teen ANC strukture agiteer.

Hierdie gekonkel in die Noordwes kom al ‘n lang pad. Coligny het na die dood van die kind nie uitgebars nie, tot nadat daar persone van buite die gemeenskap verskyn het wat letterlik van deur tot deur gegaan het en die gemeenskap opgesweep het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.