Nuuskommentaar: Landbouterreur

windpomp_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

“Landbouwterreur” verwys ʼn Nederlandse koerant na die lot wat boere van Gelderland wie se appelbome afgesaag word. Patrollies word oorweeg en ’n buurtapp is ontwikkel.

Het Trouw nie dalk onbedoeld op ’n heel gepaste naam vir die kollektiewe verwysing van plaasaanvalle en plaasmoorde raakgeboor nie? Dit sou selfs ruimte laat vir die insluiting van ekonomiese terreur waaraan boere blootgestel is – veldbrande (wat ook gereeld lewens eis), veediefstal sodat dit onekonomies geword het om in sekere streke met vee, en veral skape te boer, gewasdiefstal, die diefstal van toerusting en gereedskap en vele meer.

Trouens, dit laat selfs ruimte vir die begrip waarvoor die ANC in die struggle-jare so lief was, staatsterreur. Wat anders as staatsterreur is dit as die staat groot bedrae geld vir droogtehulp laat wegraak met die onmenslike gevolge vir mens en dier?

Wat die meer klassieke elemente betref, soos moorde en marteling, spreek die syfers vanself. Volgens AfriForum se jongste berekenings is die moordkoers onder boere nou meer as 150 per 100 000 per jaar.

Suid-Afrika se algemene moordkoers word op ongeveer 35 per 100 000 per jaar bereken. Die wêreldwye gemiddelde moordkoers word op 6,2 per 100 000 per jaar bereken. Afrika se moordkoers is na raming 12,5 per 100 000 per jaar. Europa se moordkoers is ongeveer 3 per 100 000 per jaar, en dié van Asië ’n aks laer.

Sulke syfers moet tog iets sê?

Wat nie uit hierdie syfers blyk nie is die ontsettende wreedheid waarmee die aanvalle, en veral moorde, gewoonlik plaasvind.

Tog is daar filantrope wat die erns hiervan wegpraat, en selfs “regverdig” aan die hand daarvan dat daar binne die landbougemeenskap, soos in ander gemeenskappe, vrot appels is. Hulle is gewoonlik nie deel van die georganiseerde landbou nie. Veral landbougemeenskappe wat op uitvoer gerig is, kan die vrot appels eenvoudig nie bekostig nie – die Europese Unie doen immers jaarliks ’n streng oudit om te verseker dat plaaswerkers oor ’n omvattende terrein goed behandel word.

Die harde werklikheid is dat die regering die kwessie in woord en daad erg blootgestel het. Vir die feit dat die regering sensitief is om dit te laat lyk of slegs ’n deel van die landelike gemeenskap met beveiliging spesiale behandeling kry, is daar begrip, maar die landelike beveiligingsprogramme kon tot ’n groot mate nog nooit behoorlik op dreef kom nie.

’n Vorige minister van polisie se beskuldiging dat ’n protesaksie deur AfriForum slegs “goedkoop propaganda” is en die dawerende swye om hom te repudieer, vertel reeds ’n verhaal. By die VN in Genève het ’n Suid-Afrikaanse diplomaat voorleggings van onder meer die Vryheidsfront Plus oor plaasaanvalle probeer keer deur dit te beskryf as die werk van mense wat na apartheid verlang. Tydens die parlementêre debat oor plaasaanvalle het ’n persoon wat toe ’n adjunk-minister was, uitgeroep: “Begrawe hulle (die boere) lewend!” Hy is deur sy kollegas beskerm en geen stappe is teen hom gedoen nie. Hy het eers uit sy amp bedank toe hy in die hof aangekla is dat hy twee vroue in ’n kuierplek aangerand het.

Die nuwe minister se aankondiging oor ’n spesiale taakspan om op plaasaanvalle te reageer, is hoogs tydig. Skeptisisme sal egter eers verdwyn as die taakspan doeltreffend op dreef is.

Intussen is daar weer ’n algemene protesaksie teen plaasaanvalle aan die ontwikkel. Dit is goed dat die boere en hul gesinne se moraal onderskraag word in die wete dat daar sommer baie mense is wat omgee. Daar is ruim geleentheid om steun te toon, benewens om dit op simboliese wyse te toon. Daar is altyd ’n behoefte aan veiligheidstoerusting wat onder meer deur AfriForum en Agri-Securitas versprei kan word, daar is ook geleentheid vir droogtehulp, en soveel meer.

Kom ons sit op ’n sinvolle wyse skouer aan die wiel om landbouterreur hok te slaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae