Nuuskommentaar: Lang lys skoonmaakwerk vir “nuwe besem”

besemsAdjunk-president Cyril Ramaphosa se verwysing na homself as ‘n nuwe besem, moet verwelkom word, maar of hierdie nuwe besem die robuustheid en wil gaan hê om alles goed skoon te vee, moet nog gesien word.

Van die plekke wat skoongevee moet word, het al fungi gevorm en goed nesgeskop – blote vee gaan niks help nie. Dettol, Jik en kookwater sal ook moet ingespan word.

Oor waar die besem moet begin vee kan daar min twyfel wees, en herinner aan ‘n ou Nederlandse kinderliedjie wat in Suid-Afrika sy eie afsluiting gekry het. Die liedjie, aangepas om die “babapresident” snags aan die slaap te sus, sodat dit wat hy moet doen, goed kan insink, sou min of meer so klink:

De bezem, de bezem
wat doe je ermee, wat doe je ermee?
Je veegt ermee, je veegt ermee
voor Zuma in de zee

Al oorhandig Zuma ook sy eie, ongebruikte besem aan Ramaphosa, soos ‘n spotprent dit wil hê, moet dit nog gesien word of selfs dié besem sal kan hou teen vuiligheid wat hare gekry het, en gevestigde belange wat al baie lang, dik wortels gery het.

Volgens ‘n spotprent wat in die kuberruim die ronde doen, het ʼn boek, “Hoe om ‘n vrou te verstaan”, pas verskyn. Volgens die prentjie is die boek seker ‘n meter en ‘n half dik. (Die boek oor hoe om ‘n man te verstaan bevat glo net een sin: “Onmoontlik, veral as hy gesuip is”). Maar die lêer oor hoogste prioriteit vir skoonvee in Suid-Afrika het in 20 jaar al baie dikker geword, en self al ‘n stewige laag stof opgedoen waar dit op ‘n spesiaal versterkte rak in ‘n kluis lê. As dit nie vir burgerlike instellings soos Freedom under Law, Outa, AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en vele meer was nie, sou selfs daai versterkte rak lankal die wit vlag gehys het.

Sommige media het ook al hard gaan blaas om die stof afgeblaas te kry, terwyl ander ongelukkig kliphard probeer om die kluis se deur toegedruk te hou.

Sommer die afgelope paar dae se nuusgebeure lewer al ‘n hele paar dokumente op wat dringend met die besem bygedam moet word:

– Minister Gugile Nkwinti met sy grondroofplanne, wat hy as grondhervorming opdis. Vir sy opmerking dat die rolspelers, soos Agri SA, nie met die vind van oplossing behulpsaam is nie, verdien hy ook ‘n paar harde mokerhoue met daai einste besem. Agri SA het in geen onduidelike taal nie die werklikheid van die regering se chaotiese benadering uitgelig, terwyl TLU-SA nuwe data van die Economist Intelligence Unit ingespan het om die belangrikheid van voedselsekerheid te beklemtoon.
– Lynne Brown, die minister van openbare ondernemings, wys Eskom en die SAA as haar grootste kopsorge uit. Haar kollega, Tina Joemat-Pettersson, die minister van energie, probeer die blaam weg van Eskom plaas. Eintlik, met só ‘n enorme kabinet, ontbreek ruimte om al die robbies wat losgeskrop moet word, te lys. Net die lysie in die ekonomiese groepering is al Davis lank. (Die plaaslike laaste woorde van die liedjie oor die besem, “die Rooies in die see”, bly eintlik nog net so goed van toepassing.
– Die bestaande arbeidswetgewing moet baie gou skoongevee word van ‘n uitkoms waar die reg om te werk ondergeskik gestel word aan die reg om nie te werk nie. Met die nuwe arbeidswetgewing kan gerus gekyk word na aspekte soos ekonomiese sabotasie. Trouens, daar moet gewoon geen beweegruimte vir vakbonde soos Amcu wees nie.
– Die nuus dat die ANC skynbaar die besem begin inspan het deur vier burgemeesters in Limpopo te pos, word gedemp deur berigte dat dié vier gepos is weens hul bande met Julius Malema. Maar dan, dit lyk of daar ernstig in die parlement skoongevee moet word deurdat Malema aangewys is om op die Regterlike Dienstekommissie te dien. Dit maak beswaarlik saak dat hy daar min invloed kan uitoefen, want by ‘n beslissende stem is sy stem tog goud werd.
– Op die vooraand van die VN se internasionale dag teen marteling, sal dit goed wees om die besem in te span om diegene wat onverskillig teenoor die wreedheid van plaasmoorde en die gepaardgaande marteling staan, eers goed met die besem te moker voor die rafels uitgevee word. AfriForum gaan so ‘n verslag môre bekend stel, waarin 30 bladsye se gevalle gelys word, as Ramaphosa dalk eers seker wil maak waar hy die besem kan gaan inspan.
– Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, toon self tekens van ‘n nuwe besem, deur die SAUK opdrag te gee om binne drie maande ‘n nuwe hoof uitvoerende beampte aan te stel. Gaan die besem drie maande hou, en wat gaan die besem doen as die raad gaan verbrou en ‘n persoon aanstel wat nie aan die vereistes voldoen nie, wie se kwalifikasies van matriek ontbreek, of om ‘n ander rede nie in die pos hoort nie? Of gaan die beleid van kaderontplooiing tog maar net weer besembestand wees?
– Sal Ramaphosa waag om die besem in te span teen rasgebaseerde wetgewing, waar iemand se lewe van die wieg tot die graf deur sy etnisiteit bepaal word? Of dit nou sy kanse om Springbok te word beïnvloed, of die loopbaan van keuse waarvoor hy sy hele skoolloopbaan hard gewerk het, fnuik omdat sy velkleur sy keuring saboteer?

Ramaphosa kan dié pad nie alleen aanpak nie. By Cosatu se vakbonde kan hy ook nie hulp kry nie, want die werkers sal weldra vir hoër lone en korter werksure staak.

Maar as hy ondersteuning soek waar daar reeds aansienlike kundigheid (en werksetiek) is met die opruim van hardnekkige vullis, gaan hy op ‘n gedugte leër van kundige hulp en mannekrag staatmaak. Instansies soos Agri SA, TLU SA, Solidariteit, Justice for All ….

En iemand sal wel ‘n koevoet aan hom skenk om die besem ‘n behoorlike steel te gee sodat die mokerwerk behoorlik gedoen kan word en hard geskrop kan word.

Smeer aan en kom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.