Nuuskommentaar: Lê ‘onspeelbare toestande’ vir ANC voor?

Argieffoto

Dat die ANC sy verkiesingskongres in Desember moet laat plaasvind, staan skynbaar volgens sy eie grondwet soos die wet van die Mede en Perse. Maar dit wil elke dag onwaarskynliker lyk of alle voetwerk betyds afgehandel gaan wees, en geen hangende hofsaak boonop nog dreig om die kongres nietig te laat verklaar nie. Boonop lyk dit of dit pres. Jacob Zuma pas as alles nog nie wettig in plek gaan wees nie.

Jare gelede is ’n provinsiale rugbywedstryd iewers in die middel daarvan afgelas. Gietende reën het volgens die skeidsregter toestande onspeelbaar gemaak.

Hoe nader Desember kom, hoe meer lyk dit of toestande vir die ANC se leierskapsverkiesing onspeelbaar raak. Miskien is die woord wat die media nou vir die DA se jongste tameletjie gebruik, “uitrafel”, meer beskrywend vir wat in die ANC aan’t gebeur is, maar aangesien die ANC nie iets anders as uitrafel ken nie, en geleer het om daarmee saam te leef, volstaan hierdie skrywer by die term “onspeelbaar”.

In ’n artikel in Media 24 wys die bekende Theo Venter daarop dat die ANC se grondwet nie voorsiening maak vir die uitstel van die Desember-kongres nie. Die kongres moet dus plaasvind, al sit baie nog met die broek op die knieë.

En as dit wel plaasvind, en die verkiesing van ’n nuwe ANC-president vind wel plaas sonder dat al die afgevaardigdes van al die provinsies se wettige betrokkenheid geverifieer kon word, is dit amper ’n uitgemaakte saak dat die verloorder(s) hulle tot die hof gaan wend – en wen.

Soos sake nou reeds gestaan het, het die hofsaak wat die verkiesing van die Zuma-faksie in 2015 as oorwinnaar in KwaZulu-Natal nietig verklaar het, die proses om alles betyds reg te stel met die oog op Desember onder enorme druk geplaas. Dit, tesame met die regsmening wat die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, skynbaar ingewin het, maak die aanteken van ’n appèl onlogies.

Desondanks het pres. Jacob Zuma skynbaar die besluit om wel te appelleer deurgedruk. Vir Zuma was dit onaanvaarbaar dat lede van sy faksie in die belangrike KwaZulu-Natal die magsgreep verloor, en boonop wesenlik as konkelaars uitgewys word. Dit lyk nie of die hofproses voor Desember afgehandel sal kan word, en die nodige provinsiale verkiesingsprosesse ook nog voor Desember afgehandel sal word nie.

In die Oos-Kaap het die faksie wat adj.pres. Cyril Ramaphosa steun die leisels oorgeneem. Die Zuma-faksie kon kwalik die hofrol haal. Gaan Zuma sy span se Oos-Kaapse neerlaag eenvoudig aanvaar, of kom hier ook nog ’n gekonkel, of dalk ’n voortgesette hofstryd?

Ook in van die ander provinsies lyk dit of die voetwerk nog baie ver van afgehandel is, en ook of minstens ’n paar provinsies draaie deur die howe gaan maak. In die Wes-Kaap kan die ANC byvoorbeeld geen ander saambindende faktor vind as om met die DA fout te vind nie (en ongelukkig gee die DA, of DA-lede, soms rede om fout te vind). Hoewel dit nie hardop gesê kan word nie, speel etnisiteit ’n groot rol in die magstryd in die ANC in die Wes-Kaap. Weg is die dae toe prof. Jakes Gerwel, Chris Nissen, in ’n stadium dr. Allan Boesak, Ebrahim Rasool en ander ’n bruin statuur aan die party in die Wes-Kaap (en soms selfs landwyd) kon gee. Marius Fransman kon daardie skoene nie volstaan nie. Vandag is die mees gesaghebbende bruin gesigte in die DA te vinde. Sonder beduidende bruin steun kan die ANC die “herbevryding” van die Wes-Kaap op sy maag skryf.

En dan maak dit nog vir die ANC op nasionale vlak saak watter faksie die septer moet swaai. In dié stadium lyk dit of Ramaphosa, Matthews Phosa en Lindiwe Sisulu almal deur ’n aantal ANC-takke in die Wes-Kaap gesteun word.

(Die DA is nou self in ’n dilemma vasgevang – ongeag of daar op meriete tussen Patricia de Lille of JP Smith gekies word, die etniese impak gaan ’n klip in die maag wees. Daar sal dus kliphard na ’n kompromis gesoek word.)

Uiteindelik het die ANC nog die struikelblok dat dit amper ondenkbaar is dat prosesse wat deur die howe nietig verklaar is, oorgedoen kan word sonder dat ’n gekonkel maar weer iewers plaasvind. Die gekonkel om “wettige” afgevaardigdes aan te wys, het al lank endemies in die ANC (en verskeie opposisiepartye) geword.

Selfs al veroorsaak die ouditproses dat registrasie langer as ’n dag duur, sit daar tog afgevaardigdes wat nie daar hoort nie. En soos by herhaling beweer word, is van daardie stemme nog “vloeibaar” ook na gelang van wie ’n “geskenkpakkie” van R50 000 uit die kattebak kry.

Hoewel Ramaphosa se beskikbaarstelling om as ANC-adjunkpresident, ter ondersteuning van Zuma se herverkiesing tydens die Mangaung-konferensie in Bloemfontein, Zuma se herverkiesing verseker het, het Zuma Ramaphosa vanuit die staanspoor taamlik stief behandel. Ramaphosa is ook verskeie kere, soos met die Lesotho-debakel, met “hospitaal-aangeë” gevoer. En skielik wil hy voorkom dat Ramaphosa hom as president opvolg. Dit op sigself is ʼn lont wat ’n lekker groot stinkbom kan laat afgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Wat ons dus kan aflei is dat die uitkoms van die konferensie beslis beïnvloed kan word deur die stilsluipers, wat n onbekende en onverrekende faktor is. Dis maar hoe ons die regering ken, uitkomste wat bepaal word deur faktore ongekend aan die normale waardestelsels.

Politikus ·

Inderdaad. Die kans dat die uitkoms “gekook” sal wees is feitlik 100%.

Vergesig ·

Goeie artikel, Pieter, dit laat mens dink. Ek is egter meer besorg oor 2019 as wat in Des gaan gebeur. Zuma is so diep in die moeilikheid dat hy eintlik vir die res van sy lewe agter die skerms “in beheer van die ANC en die regering” moet bly ten einde uit die tronk te bly…..Ek lê toenemend snags wakker met die kwelling dat die IEC die volgende prioriteit op die kapingslys mag wees……wat kan beteken dat die ANC wel kan regeer tot die wederkoms….

John ·

KPMG se probleme en die vloed by die OB pas Zuma. Al die sake teen hom gaan teruggetrek word. Hy gaan aanbly as president en sy x-ie sy regterhand maak, kom wat wil… al moet hy die weermag uit hul 23-jaat slapie wakker skud en… en self die silwer atoomfantoom in Groot-Marico vol perske-mampoer gaan pomp…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.