Nuuskommentaar: Leë sitplekke maak harte vol hoop

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa kom by die stadion aan. Foto: ANC/Twitter

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa kom by die stadion aan. Foto: ANC/Twitter

Die baie leë sitplekke by die ANC se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes in die Nelson Mandelabaai-stadion is ’n groot verleentheid vir die party, en bied ruimte vir hoop vir ander partye. Die gebeure moet egter nie oorskat word nie, en geen ander party of sy ondersteuners kan hieroor ’n oomblik agteroorsit nie.

Vooraf het die ANC gespog dat hy die stadion in Port Elizabeth met 100 000 ondersteuners gaan vul vir die bekendstellingsgeleentheid van sy verkiesingsmanifes. Hiervoor het die party onder meer ’n duisend busse gehuur om mense van oor die land heen aan te karwei. Baie verleë moes die ringkoppe en organiseerders teen rye en rye leë sitplekke vaskyk. Ramings oor hoeveel mense hul opwagting gemaak het, wissel tussen 46 000 tot minder as 30 000.

Laat ’n mens geen fout maak nie. Die opkoms van selfs “net 30 000” mense vir so ’n geleentheid is baie, en min, indien enige ander party, kan die ANC dit nadoen.

Teen dié agtergrond het die ANC se verkiesingsmanifes, soos breedweg deur pres. Jacob Zuma bekend gestel, bitter min aandag gekry teen die geskarrel om die leë sitplekke te verduidelik. ’n Duisend busse teen gemiddeld 50 passasiers elk, sou immers die stadion met ’n sitplekkapasiteit van 46 000 gevul het. Dan word nie eens gepraat van die plaaslike inwoners nie waar die ANC ’n besonder fel stryd voer om die Nelson Mandelabaai-metropool te behou, en duisende taxi’s gehuur het. Selfs gewese sokkerbaas Danny Jordaan is ingespan om die ANC se lang geskiedenis om mamparras in senior ampte en poste te ontplooi reg te probeer stel.

Die “hitte” het die blaam gekry toe busse glo nie opgedaag het nie. Dit klink of daar ’n heksejag gaan volg om skuldiges vir die verleentheid te vind. Boonop oorskadu die bustragedie in die Vrystaat ook die geleentheid.

Ontleders sou “mal kon gaan”, sou daar ’n behoorlike formule wees om die leë sitplekke in minder stemme vir die ANC om te reken. Dit bestaan egter nie, en bied ook nie veel meer as propagandawaarde aan opposisiepartye nie.

Wat die manifes self betref, sou die groot klem op die vasvat van korrupsie ’n riem onder die hart wees. Maar, soos ontleders uitwys: “Hoor wie praat.” Zuma het eenvoudig nie die reputasie dat woorde uit sy mond oor die vasvat van korrupsie enige waarde het nie. Die syfers wat hy noem oor wetstoepassingsuksesse, is in werklikheid ’n skreiende aanklag teen die regering gemeet die werklike omvang van korrupsie, en veral omkopery.

Maar daar is heel ander faktore wat kan bepaal hoe partye met die munisipale verkiesing op 3 Augustus gaan vaar. Kommer oor die adreskwessie op die kieserslys, maar ook kiesers wat geregistreer was en al herhaaldelik gestem het wie se name skielik van die kieslys verdwyn het, kan nog ’n groot kopsorg word. Soos Rapport gister in wydlopende beriggewing en sy redaksionele kommentaar daarop gewys het, die konstitusionele hof word in ’n baie moeilike posisie geplaas. Dié hof het reeds met die tussenverkiesingsage in Tlokwe bevind die afwesigheid van adresse maak die hou van vry en regverdige verkiesings onmoontlik. Die OVK het blykbaar sedert 2003, toe die aanbring van adresse wetlik verpligtend geword het, die kieslyste laat verslons eerder as opgeknap. Nou word die hof met ’n keuse van onmoontlikhede gelaat – die hof moet op die OVK se versoek in wese ’n verkiesing toelaat wat hy reeds bevind het nie vry en regverdig kan wees nie, of hy moet die verkiesing laat uitstel wat ook ongrondwetlik sou wees.

Die konstitusionele hof het egter voorheen al laat blyk dat dit sy ruimte om te kan improviseer goed kan benut, en dit sal dié keer stellig nie anders wees nie. Een moontlikheid is dat kiesers wat al dikwels gaan stem het, maar nie seker gemaak het hul adresse het nie voete gekry of is onvolledig nie, dieselfde soort dokumente na die stemburo saambring as wat hulle gebruik om hul selfone te Rica of hul bankrekeninge te Fika. ’n Party wat hierteen beswaar maak, erken in wese dat baie van sy lede se selfone eintlik gesteel is of op ander onwettige wyses bekom is.

Sou die hof aandring dat net kiesers wie se volledige adresbesonderhede korrek op die kieslys is, mag stem, kan altesaam meer as tien miljoen kiesers ontkieser word, en dit is volledig die OVK se skuld.

Die konstitusionele hof se vindingrykheid in die verlede waarborg egter byna vir seker dat iemand wat bespiegel oor die oplossing wat beveel word, die pot mis gaan sit.

Die OVK se droogmakery, eerder as ’n moedeloosheid met die gekweste ANC se oormag, kan tot verkiesingsapatie lei. Lae stempersentasies sal verskillende partye nie ewe hard tref nie, maar dit sal baie moeiliker wees om kiesers wat gewoonlik op die randjie van apatie op veral munisipale vlak huiwer, sover te kry om te stem as die OVK reeds die smaak daarvoor uit hul mond geneem het.

Gaan die ANC weer daarin slaag om die beleërde Zuma aan ontnugterde kiesers te verkwansel? In veral KwaZulu-Natal lyk dit of Zuma ongeag alles ’n groot aanwins is, maar elders kan sake haper, veral in Gauteng. Die suksesse van veldtogte om Zuma te dwing om te bedank kan ook nog tot die verkiesing ’n groot, maar onvoorspelbare invloed uitoefen. Nuwe onthullings kan ook die skaal na die een of ander kant verder laat kantel.

Die ANC het die bewese vermoë om laat in ’n verkiesingsveldtog groot sukses te behaal. Geen party kan wat hulpbronne betref daarmee saampraat nie.

Ongelukkig moet aanvaar word die raskwessie gaan belangrik bly – en die ANC sal ook daarvoor sorg. Selfs in die VSA blyk dit dat 57% van die kiesers die raskwessie as belangrik ag, met swart kiesers wat dit as veel belangriker ag as ander minderheidsgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Blinde Sjambok ·

…karma is duidelik besig om soos finale fase kanker te manifesteer en deur die die totale ANC-‘liggaam’ te versprei en dit te verswak …die logiese einde, die dood, is dus suiwer net ‘n kwessie van tyd. Die volgende vraag is dus nie ‘of’ nie …maar ‘wanneer’ die ANC hulself na geweld en bedrog (soos verkiesings-bedrog kameraad kannie-dood Mugabe langs-aan) sal wend om hul kwynende en onverdiende misbruikte sitplekke op die sous-trein te behou? Ons weet reeds die totale ANC regering (bykans sonder ‘n enkele uitsondering) skroom nie om skaamteloos (en met hul boude) teen die Grondwet te handel nie …waartoe is hulle nog in staat …..Volksmoord Burundi 2…..?!

Kaspaas ·

Kom stemtyd kry die ANC weer meerderheid stemme, die rede vir dit is eenvoudig. Die ANC is baie goed om die massas veral in landelikke gebiede te laat glo dat as die DA aan bewind kom apartheid weer ingestel sal word en enige ander party gaan al hulle “grants” wegvat. Die ANC het hierdie mense so afhanklik van die party gemaak.

Johann Marx ·

Wat die meeste blanke Suid Afrikaners nie in ag neem nie, is die feit dat swart kiesers nie “gelok” word met ‘n manifest of beloftes nie, maar ge-intimideer word deur hulle mede-kiesers en deur tradisionele leiers (wat dreig om jou in jou eie gemeenskap as die “vrot appel” te identifiseer, wat weer verreikende gevolge vir jou en jou familie kan hê). Dit is hoekom die ANC onlangs miljoene Rande spandeer het om aan die 180+ tradisionele leiers in die land elkeen ‘n nuwe Toyota Bakkie, ‘n selfoon, beeste en ‘n bonus te betaal….Dit verseker dat die ANC die stem van die “rural areas” het….maak nie saak wat nie. Die ANC is dus nie baie bekommerd oor vol of leë stadions nie….die tradisionele leiers sal dit uitsorteer ‘n week voor die verkiesing.

Koos1 ·

Johann, ek stem saam met jou, maar die landelike bevolking is besig om uit te sterf. Miljoene 20 en 30 jariges trek stede toe op soek na werk en as hulle in die stede beland, dan begin hulle sien wat werklik aangaan. Dan word hulle kwaad vir die ANC wat hulle in die donker gehou het, en word kwaad vir die wit man wat alles het (gesteel het? Soos hulle vertel word), en hulle niks nie, en dan score die rooi barrette. Dit volgens my is erger as Zuma en sy kaders. Julius Malema het weer die naweek openlik die wit mense as die vyand bestempel.

LTVW ·

My vraag: HOEKOM die massas aanry uit ander provinsies, as hierdie n OOSKAAP geleentheid moes wees? Gaan hulle die selfde doen in die ander provinsies?
Die Gala geleentheid in PE moes sonder seker RINGkoppe gebeur, want dié het Sat.Aand sommer teruggevlieg omdat die opkoms so swak was.

johann cb ·

Ek steur my nie soveel aan die aantal mense wat die geleentheid bygewoon het nie, maar ons kan ook nie ‘n blinde oog draai nie. Stille water diepe grond… Ek is eerder bekommerd oor Malema se uitlatings en dreigemente. Hy is jonk en charismaties met baie jong en ouer aanhangers. Ek slaan eerder ag op sy woorde as Zuma se swak verskonings. Malema het al oral in die wêreld sy stem laat hoor, veral in die Parlement, en die mensdom spits hul ore.

Blinde Sjambok ·

…ons vrese is geregverdig, maar daar gaan nie plek wees vir rasse-diskriminasie in ‘n post-ANC dispensasie nie. Wit en Swart sal moet saamstaan om die ANC uit te roei …en daarna sal dinge SAAM besluit en gedoen word! Ons het mos op die HARDE manier geleer, of hoe? Nooit, nooit weer …soos Zuma het Malema ook geen plek hier nie en dra niks by tot vrede en ‘n rassis-vrye land nie …daarom sal ook hy val…

Blinde Sjambok ·

Johan …jou en my vrese is geregverdig …maar ons het mos nou geleer en sal NOOIT WEER Zumas en Malemas ‘n verhoog toelaat om teen Wit (of enige ander ras) mense te diskrimineer in ‘n post-ANC dispensasie nie …ons het genoeg gehad van rassiste en het hulle letterlik geen kans op oorlewing nie. Malema is niks sonder die Afrikaner nie …en hy weet dit! Sy blaf het nie ‘n byt nie…

Bolander ·

Kaspaas, ek stem saam met jou, maar van watter “grants” praat jy??????? Die arme drommels weet nie van so iets nie, siestog>>>>>

Julius ·

hulle kry kinder toelae, pensioen, gratis water en ook gratis huise.hoe weet jy nie ván die “grants” nie?

Rynhardt ·

Baie mense te blind om te kan sien wat aangaan.OVK het reefs beklemtoon dat hy nie n vry en regverdige verkiesing kan waarborg nie! Baie kan nog gebeur voor 3Augustus.

Bolander ·

Julius, ek praat van hulle wat in die verre tuislande lewe en self vir hulle moet sorg. Die wat die ANC dreig as hulle nie vir hulle stem nie!!

Poplap ·

Die mense in die “verre tuislande” weet van en ontvang dieselfde “grants” as hul familie in en om die stede. Ek weet dat daar selfs mense is wat in die Boland woon, wat uit die “grants” trog skep.

Gerhard ·

Ek dink ons probleem in hierdie land is daar is teveel kiesers wat nie kan lees of skryf nie. Hulle word deur die slimjanne vertel waar om te stem. iNTIMIDASIE was nog altyd politieke partye se wapen. Julle oumense gaan julle pensioene verloor, die buiteland gaan ons afskryf . ons gaan nie brandstof kry nie is alles voorbeelde. Die ‘necklace’ was die anc se uitvindsel.

Pieter ·

Volgens Zumpie was die stadion seker vol gepak, hy was net nie seker of daar “eleventy seven and one hundred thousand” of “eleventy seven and thirty thousand” kaders in die pawiljoene gesit het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.