Nuuskommentaar: Leiers wat hul mense uitverkoop en seepbelle

Argieffoto

Argieffoto

Die jaar 2014 is nog in sy feestelike roes, of die een waarskuwing op die ander volg. Die jongste wenner van die Nobelprys vir Ekonomie, prof. Robert Shiller, waarsku dat daar reeds seepbelle dreig na aandelemarkte in die VSA en talle lande nuwe rekordhoogtes bereik het.

Die adjunk-sekretaris-generaal vir humanitêre sake, Valerie Amos, maan dat die VN vanjaar ‘n rekordbedrag van $12,9 miljard benodig vir hulpverlening. Die menslike tragedies in Sirië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die Suid-Soedan staan op die voorpunt.

Die werklike tragedie is dat hierdie humanitêre rampe nie deur natuurverskynsels veroorsaak word nie, maar deur mense, en in die besonder die leiers.

In ‘n interessante artikel in Trouw, met die opskrif: Starre politici gijzelen Zuid-Soedan word vanuit ‘n Westerse perspektief gekyk na hoe leiers lustig hul bevolkings vir hul eie magswellus opoffer. Die impak wat Idi Amin op Westerse beskouings van Noordoos-Afrika en hul leiers gevorm het, is duidelik in die artikel, wat effe stereotipes is, te bemerk. Maar dit bly nie tot daardie streek beperk nie – ook die probleme in die Sentraal-Afrikaanse Republiek word bygesleep.

Amin se grootheidswaan het geen perke geken nie. Sy land se radio-omroep moes in berigte hul sinne oor hom om die beurt begin met “president”, “veldmaarskalk” en “sy edele” en dan boonop volg met ‘n klomp ere-toekennings wat hy aan homself toegeken het. Die destydse “keiser” Bokassa van die “Sentraal-Afrikaanse keiserryk” met sy goue troon het nie ver agter gebly nie.

Die sprong om magswellus te sien in wat nou in die streek gebeur is dus bitter klein – twee presidente wat deur die Internasionale Strafhof gesoek word om vir misdade teen die mensdom verhoor te word, krygshere in Somalië wat die vestiging van gesag en vooruitgang belemmer, Al Shabaab wat sy terreur na buurlande uitvoer, lande wat persvryheid voer na die vlakke van vervolging van joernaliste … nie ‘n mooi prentjie nie.

Die beeld wat die streek se leiers uitstraal is ligjare verwyder van dit wat Piet Retief gesê het toe hy tot president van die Voortrekkers verkies het. Hy het onder meer na homself as ‘n dienaar verwys, want die volk is koning…demokrasie in sy idealisme getooi betreklik kort na die ideale van die Franse Rewolusie oor ‘n groot deel van die wêreld gespoel het.

Die negatiewe persepsies oor hoe demokrasie in Afrika uitrafel is nie altyd so radikaal soos in die lande wat nou so regstreeks deur interne anargie geteister word nie. ‘n Persepsie ontwikkel ook dat Afrika nie kan onderskei tussen ‘n werklike demokrasie, en ‘n diktatuur van die meerderheid nie. Te dikwels word die verkiesingstelsel van die demokrasie aangewend (en heel dikwels gekonkel) om ‘n bewind te vestig wat in belang van die oorwinnaar, in plaas van algemene belang regeer.

En elke nou en dan brand so ‘n plunderpresident se kierankies uit en vlug met ‘n fortuin uit die land uit en laat ‘n byna kaalgestroopte land vir die mense wat hy moes dien agter.

Die finale spyker in die kis van hierdie persepsies is die mate waarin die leiers aan mekaar solidariteit betoon, maak nie saak hoe krom en skeef die gekoesterde leiers is nie. ‘n Mens hoef nie veel verder as ons buurland, Zimbabwe, te gaan soek om te sien hoekom Afrika met ‘n hout oog vanuit die gevestigde demokrasieë betrag word nie.

As dit nie was dat daar ook ligpunte verspreid oor die kontinent voorgekom het nie, was Afrika grootliks weer pikdonker. En natuurlik het Afrika in die vorm van oliereserwes en ander hulpbronne iets wat die wêreld graag wil hê, en die moeite werd maak om in stabiliteit te belê.

En as dinge in Afrika rof raak, is Europa baie gou die bestemming van vlugtelinge wat die kontinent op enige manier probeer bereik, waaronder lendelam bote wat gereeld nie die oortog oor die Middellandse See heelhuids maak nie.

Afrika, en in die besonder Suid-Afrika, is ook grootliks “gered” deur die statuur wat oud-president Nelson Mandela in die buiteland geniet het. Die land moet egter gewoond raak daaraan dat dié statuur nie meer daar is nie, en dat die huidige generasie leiers al hoe meer aan hul eie doen en late beoordeel gaan word.

En presies hoe ver verskil baie van ons leiers van die Europese stereotipes wat van Noordoos-Afrikaanse leiers gekoester word? ‘n Bankrot munisipaliteit met dienste wat bykans tot stilstand geknars het met burgemeesters in koeëlvaste ampsmotors met GPS en ‘n gelaaide drankkabinet kompleet. En meer titels, soos “his worship” en “honourable” as kwalifikasies.

En voer hierdie verskynsel op deur die “range” tot by Nkandla, met die bure wat in strooise woon. Hoeveel “dienaar” en “die volk is koning” straal uit Nkandla uit?

Uit ‘n land waar verskeie politici al hul frustrasie met die grondwet uitgespreek het omdat die grondwet ‘n stokkie voor ‘n “diktatuur van die meerderheid” probeer steek. En die “ongetransformeerde” howe verkwalik word omdat hulle nie “getransformeerde” uitsprake lewer nie.

Demokrasie durf nie net seepbelle word nie.

As die kontinent nie die demokratiese waardes respekteer wat vir die Weste ononderhandelbaar is nie, maar daarvan ‘n klug maak, kan die kontinent ook nie respek verwag nie.

En met Mandela nie meer daar nie, gaan Suid-Afrika nie meer onder ‘n ander kam geskeer word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae