Nuuskommentaar: Lesers verdien die waarheid

skryfblok_vuurvreters_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Om ’n nuuskommentaar te skryf, behels nie maar net om agter ’n rekenaar in te skuif, oor ’n onderwerp te besluit, en weg te val nie. Dis ’n veld vol slaggate met fopnuus wat ook nog in allerlei gedaantes voordoen. Soms is ’n dik vel nodig om nie ontstel te word deur veral valse kritiek nie.

 Die twietlustige pres. Donald Trump van die VSA het ’n nuwejaarsboodskap van beste wense aan onder meer sy vriende, vyande en selfs die “skandalige fopnuus-media” getwiet.

Enige nuusmedium met selfrespek sal uiteraard hard probeer om nie self fopnuus op te dis, of die slagoffer daarvan te wees nie, en so ook Maroela Media. Die lesers verdien die waarheid.

Maroela Media se nuuskommentaar gaan deur verskeie hande voor dit gepubliseer word. Soms, as daar byvoorbeeld oor regskwessies getwyfel word, word dit eers vir regsadvies verwys. ’n Groot verantwoordelikheid rus egter op die skrywer om dit die eerste keer reg te probeer kry.

Dit is nou wat die feite wat gebruik word betref, asook die feite waarop die kommentaar gebaseer word. Die kommentaar self kan verskil van afleidings wat baie lesers van dieselfde stel feite sou maak, maar die afleidings en vertolkings moet steeds in feite gemessel wees.

Dit beteken die nuuskommentaarskrywer moet baie nuus per dag inneem om sy feitebasis so goed as moontlik ingestel te kry, en ook nog verdere navorsing te doen terwyl hy die nuuskommentaar skryf.

En baie dankie tog vir die internet en soekenjins – so anders as in die dae van pioniers soos die bekende AM van Schoor, wat mense weekliks op Wêreldgebeure op Afrikaanse radio vergas het. Hier moet die nuuskommentaarskrywer ook ligvoets trap omdat die internet ook die woonplek van baie fopnuus geword het.

Maroela Media is bevoorreg om ’n verskeidenheid bydraers, ook van nuuskommentaar, te hê wat onder die opskrif “Nou pra’ jy” gepubliseer word. So is die lesers ook nie aan eenmansdenke uitgelewer nie.

Om ’n objektiewe nuuskommentaar te kan skryf, moet politieke korrektheid snippermandjie toe gaan. In ’n sekere sin is politieke korrektheid vir ’n nuuskommentaarskrywer ’n groter euwel as persoonlike vooroordeel omdat met persoonlike vooroordeel minstens na ander hoeke van die werklikheid gekyk word. Politieke korrektheid gee aan partye, en veral ’n regerende party, die geleentheid om wanpersepsies as onbetwisbare beleid vas te messel.

Tot ’n groot mate, veral ná politieke korrektheid in Suid-Afrika grootliks die knie moes begin buig, het ’n situasie ontstaan waar baie kommentators se politieke objektiwiteit tot opposisiepartye beperk is, en die ANC ’n spesiale kategorie ingeneem het van sleg en boos te wees. Dit is veral duidelik in die Zuma-era. Tog is dit nie so verwyder van objektiwiteit nie. Kommentators het wel deeglik kennis geneem van ’n wye verskeidenheid periodieke “dipstok-waarnemings” wat allerlei instansies en ekonome op die ANC gedoen het, en telkemale steeds bevestig het dat dinge erg haper. Die ANC (en Zuma veral) het gereeld self met sinnelose uitsprake ruim tot hierdie negatiewe waarneming bygedra.

Die gevaar bestaan natuurlik dat die outomatiese afwysing van die ANC daartoe kan lei dat ’n opposisieparty weer kunsmatig bevoordeel kan word. ’n Nuuskommentaarskrywer wat sy produk onder tydsdruk lewer, sal egter byna outomaties ’n party “bevoordeel” wat sy nuusverklaring oor ’n onderwerp tydig, en ook in Afrikaans, lewer. Tyd vir die ontrafeling van ’n stuk wat slegs in Engels ontvang is ontbreek dikwels – tyd wat bestee kon word om ander bronne na te gaan.

Die Christelike beginsels, of afwesigheid daarvan by politieke partye, speel ook by sommige nuuskommentators ’n rol.

’n Nuuskommentaarskrywer wat sy sout werd is, maak ook daarvan werk om deur sy rubrieke die probleem van “verdomming” te probeer teenwerk. Noodsaaklike onderwerpe sal dus aan die bod kom, wat nie soveel lesers sal interesseer nie, maar waarvan hulle tog eintlik behoort kennis te neem.

’n Goeie nuuskommentaarskrywer sal gereeld die rubrieke van ander lees, ook oorsee. So word nie net die “aktualiteit van die dag” dikwels duidelik belig nie, maar insigte geskaaf. ’n Mens hoef natuurlik nie met hierdie kommentaarskrywers saam te stem nie. Tog bied skrywers soos Red Rall, Patrick J. Buchanan, Michael Barone en Sylvain Ephimenco heelwat om gedagtes te vorm.

’n Nuuskommentaarskywer behoort eintlik te onafhanklik in sy vertolking en denke te wees om ’n rolmodel te hê. Tog kan hy baat by die navolging van die produktiwiteit en gehalte van dr. Leopold Scholtz, waarskynlik nou die doyen van Afrikaanse kommentaarskrywers.

Die uwe probeer sy bes ter wille van Maroela Media en sy lesers.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Vaalseun ·

Groot waardering vir jou en Leopold en die ander kommentators se waardevolle kennis, navorsing en insigte, Herman. Seënwense vir julle in 2018. Net terloops, gelukkig het ons ook nog die Orakel. Ek verstaan hy het nou elke wit rassis aangespreek en hy gaan nou met die swart rassiste begin.

Amanda ·

Na my mening kry Herman die beker van beste rubriekskrywer nie met in Afrikaans nie maar sommer van alle media wat ek gebruik (ek gebruik baie media).

thelsa ·

Dankie vir julle gewaardeerde bydrae. Dit is lekker om berigte te lees wat kort en kragtig is en nie bladsye van verbale gimnastiek waar skrywers per woor betaal word nie. Dis lekker. Dis opwindend. Dis cool. Doe zo voort

Coenie ·

Baie goeie samevatting al wat ons as leser wil weet is die ware feite soos dit is.Die leser vervang van die joernaliste om die nuus so objektief moontlik te gee.Ek verstaan dat die alewige polities korrektheid al hol rug gery is ,Ek kan nie verstaan hoe dit verkeerd kan wees om te verwys na n verdagte as n wit persoon of swart persoon nie ,Hoe kan enige rassistiese konektasie gemaak word as die feite korrek is .Die polisie woordvoerder kan vra gestel word oor die voorval en as hy nie weet dan weet hy nie en klaar.Ek verstaan dat fobnuus algemeen is maar n oproep of e pos kan die ware stand van sake onmiddelik bepaal.Dit kom alles neer op een ding , die leser soek ware nuus met feite sonder om iemand se regte te skend maar die klem op ware feite wie,waar ,wanneer hoekom en wat gebeur verder.

m.d.r ·

Van my kant af ook groot dankbaarheid Herman. Die een skrywer wat veral met aktuele onderwerpe mense se denke aanroer–al stem jy nie altyd saam nie–dit bly altyd nuuswaardig…Baie Dankie..!

Eish ·

Groot waardering vir u objektiewe werk, veral ook omdat u geensinds die krane toegedraai het met die streep vakansiedae nie. Dit is prysenswaardig. Ek het n punt gemaak om u artikels te lees hierdie tyd. Uself en dr. Scholtz is my gunsteling artikelskrywers vanweë deurwinterdheid.

Cathy Kotze ·

Dit is ongelukkig ‘n feit dat die meeste joernaliste in die media oorwegend linksgesind en uiters liberaal is. In die buiteland waar daar deesdae aangedring word op die erkenning van tenminste 23 verskillende geslagte. Bewaar jou siel as jy iemand as mejuffrou aanspreek terwyl sy verkies om Ze of Mir wil wees.

Die absurde geniet voorrang.

Dan is daar die erkende “Donald Trump Derangement Syndrome.” Mens kan nie help om te wonder waarom ‘n organisasie soos CNN ‘n halfuur lange bespreking het oor die aantal blikkies Diet Pepsi wat Trump daagliks drink nie. Terseldertyd word die vele positiewe kenmerke van sy presidentskap geheel en al geïgnoreer: Meer as 3 miljoen nuwe werkgeleenthede en ‘n 3% groeikoers in die ekonomie. Die vernietiging van ISIS. Die aanstelling van dosyne konserwatiewe regters. Hy word gesien as ‘n vroue hater, ten spyte van die groot aantal vroue in sy administrasie.

Op die ou end is YouTube die mees betroubare bron van inligting. Ek maak ‘n punt daarvan om na die werklike toesprake van elke politieke leier te luister. Ek kyk na die direkte onderhoude wat met hulle gevoer word. Joernaliste is tê dikwels daaraan skuldig dat hulle slegs een sin of frase uit ‘n uur lange gesprek neem en dit dan buite verband aanhaal.

Fopnuus is ‘n werklikheid. Elke nuus media het ‘n spesifieke politieke agenda. Daar is baie goeie redes waarom studente in die Weste al hoe meer identifiseer met kommunistiese en Marxistiese waardes. Hulle indoktrinasie is in die finale fase.

Kobus Duvenage ·

Feite is net feite wanneer dit die meerderheid van jou lesers oortuig met die waarhede wat geverivieer kan word.
Ons behoort n meerderheid kritiese denkers te he wat tussen die lyne lees en objektiewe vrae vra. Dit verwis eerstens opleiding/ studie/lewensondervinding….
. en waar kry jy die omder die “outcomes based education” van die afgelope 20jr?
2dens behoort politieke volwassenheid ook n rol te speel. Die standpunte van an andersdenkendes word aangehoor gevalueer en belig in die tekortkominge sonder n rasistiese of meerderwaardige woord spel.
Ongelukkig het ons n meerderheid mense in ons land wat ver tekort skiet in die bg kriteria en hul skree hul onvolwasse standpunte op openbare media uit. Daarmee onstel hul ander en kry onverdiende dekking van hul verbale diariea.

Gerrit ·

Mense in Suid Afrika is al so gebreinspoel hulle is met min tevrede , n goeie voorbeeld is die boere van Suid Afrika die meeste mense is kwaad oor grondhervorming maar die boere produseer die beste produkte vir die buitelandse mark en die SA mark word voorsien van die 2de en 3de graad se produkte net agv van winste
Die media kan enige berig skryf en die meeste sal dit glo omrede hulle dit in die “koerant” gelees het mense veral wit mense het gewoond geraak om afgeknou te word en aanvaar alles wat met hulle huidiglik gebeur as hulle straf ,mense kla net agter hulle rekenaars as hulle n klagte per e pos stuur dit het tyd geword om die standaarde te lig en met beter tevrede te wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.