Nuuskommentaar: Lesse uit die Kerkstraatbom

AfriForum Jeug onthou die Kerkstraatbom van 1983

AfriForum Jeug onthou die Kerkstraatbom van 1983

Die spreekwoord lui dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf. Dit is egter moeilik om te sien hoe die ANC-bewindstrukture die Kerkstraat-bomontploffing, soos verskeie ander dade van terreur, as heldedade opgeteken sal kan kry vir die leerplan van die beoogde verpligte vak, geskiedenis.

Nié dat die ANC die stryd militêr gewen het nie, maar dit sal nogal verrassend wees as die nuwe geskiedenisboek daardie feit sal belig. Mense wat dade gepleeg het wat volgens enige definisie terreurdade sal wees, sal in hierdie boeke vryheidsvegters en helde wees.

Die Kerkstraatbom het ’n paar sekondes na half vyf die middag van Vrydag 20 Mei 1983 ontplof. Dit was in ’n geparkeerde motor tussen die Poynton-gebou en ‘n burgerlike gebou wat volgens ANC-propaganda die Lugmaghoofkwartier was, geplaas om die skyn van ’n militêre aanval te gee. Altesaam 19 mense, insluitend die twee bomplanters, is dood en 217 is beseer. Ongeveer ’n derde van die beseerdes was militêre personeel.

Dit was nie die enigste hartverskeurende terreurdaad deur die ANC nie. In 1985 is drie lede van die Van Eck-gesin dood toe hul motor ’n landmyn op ’n plaaspad afgetrap het. Onder die oorledenes was die tweejarige Nasie van Eck, sy ma en sussie. Nog drie ander mense het gesterf. Die ANC het die land se boere tot militêre teikens verklaar.

Heelwat van die ANC se destydse aanvalle, of dade van sabotasie, het die skyn gehad van uitgesoekte strategiese teikens.

Bloemfontein, destyds weens die omvang van die Spoorweë se teenwoordigheid in die stad, is as vervoerstad geklassifiseer. Van die 13 bekende bomaanvalle was 11 op spoorwegteikens gerig, soms bloot sinjale, maar ook die treinbrug wat die stad en die destydse swart woongebied, Mangaung, van mekaar geskei het. Die brugbomme kon kwalik die pleister afskiet, maar het groot aandag getrek. Nog ’n bom het die Administrasieraadkantoor erg beskadig, terwyl die bomplanter wat in Peetstraat die ewigheid ingeblaas is, nog met sy bom na ’n onbekende bestemming onderweg was. Dit kon na die appèlhof gewees het, aangesien Bloemfontein destyds nog die land se juridiese hoofstad was.

In Sasolburg was die keuse van die Natref-aanleg geen verrassing nie. In Durban, ’n toerismestad, was ’n mens die aanvalle op die strandfront te wagte, terwyl die kommandomentshoofkwartier op die strandfront ’n ideale teiken gebied het – kamma ’n aanslag op ’n militêre teiken, maar nog steeds teen toeriste gemik. En dan was die verskoning vir die aanval op die Magoo’s-dameskroeg dat dit gereeld deur militêre personeel besoek sou wees.

Die PAC het so laag gedaal om ’n aanval op ’n kerk te loods.

Dis slegs ’n fraksie van die aanvalle wat landwyd voorgekom het.

Die 60 kg militêre springstof wat in die Kerkstraat-bomontploffing gebruik is, het egter aan die hart van die land geruk. Volgens berigte was dit waarskynlik dat die ontploffing eers ’n halfuur later moes gebeur toe daar meer mense op straat sou wees. Die feit dat die twee bomplanters self die ewigheid ingeblaas is, staaf hierdie aanname.

Vandag sal verskeie groepe gedenkgeleenthede op die toneel hou. Bekendes sal teenwoordig wees.

Maar is daar nie méér en dieper lesse uit die gebeure te leer nie?

Die horlosie kan nie teruggedraai word nie. Die Kodesa-onderhandelings kan nie weer gevoer word om ’n bedeling los te onderhandel wat groter respek sou betoon aan diegene wat die hoogste tol in terreurdade betaal, of op die grens gesterf het nie.

Daar word al meer en meer na die Plan B verwys –om ’n beter bedeling te bewerkstellig deur te werk met wat ter hand is.

Prof. Koos Malan beskryf die situasie in Maroela Media aan die hand van die grondwet en ander faktore. Die Solidariteit Beweging beweeg verby die punt van planne maak na doen.

By baie individue is die ideale van wat bereik moet word erg werklikheidsvreemd, en gewaarborg om militêre teenreaksie en internasionale verwerping te ontlok. Sommiges meen steeds die heil is in die status quo te vinde.

Maar diegene wat die middelgrond met verantwoording opneem bied waarskynlik die beste opsie om nie net diegene wat tydens die terreurstryd die hoogste tol betaal het of lewenslank vermink is, met waardigheid te dien nie, maar ook die talle wat daarna dié lot te beurt geval het – die talle plaasmoordslagoffers en die getraumatiseerdes wat wreed gefolter is.

’n Regverdige bedeling waar mense nie bloot weens hul velkleur, of die taal wat hulle praat, soos tweedeklasburgers behandel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tommie ·

Die terreur dade deur die ANC gepleeg teenoor alle ras kleure is onaanvaarbaar. Ons almal is bewus daarvan dat die ANC se ideologie gebaseer is op leuens! Die ANC se terreur aanvalle word nou gefokus op plase.

Peet Schabort ·

Oliver Tambo, destydse president van die ANC, het toestemming gegee vir die plant van die bom om deur ‘n daad van terrorisme onskuldige mense dood te maak en te vermink.
Lees ook Dr. P.W. Möller se boek “Die Mandela-Legende/The Mandela Legend” om mooi te kan begryp waar hierdie Nelson Mandela inpas.
Die boek is by Dr. Möller verkrygbaar maar ek glo dat hy self sy besonderhede moet gee indien so verlang.

Adel Meyer ·

Ons moet heeldag en aldag hoor van versoening en gelykheid. Terwyl die speelveld alles behalwe gelyk is. Ons word uitgemoor, onder die vaandel van kapings en roof. Hoekom sou ‘n voertuig gekaap word om 3 of 4 km ver mee te ry? Die antwoord: blankes in die land moet uitgeroei word. As Zuma werklik enige iets vir enige inwoner in die land gevoel het, sy eie kiesers inkluis, sou hy al die onwettige immigrante uit die land gegooi het en opdrag gegee het dat geen werkpermitte gegee word aan immigrante van ander Afrika lande nie, China ook. Sou hy dit doen kan hy ‘n hengse duik maak in die werkloosheid syfer. En dan kom hy darem een van sy verkiesings beloftes na: werkskepping . Maar hy sal dit nooit doen nie. Want dit is nie waaroor dit gaan nie. Sy doel en motief is baie meer sinister as dit, net jammer die blankes in die land glo nog die fabel. Word wakker, jys nie onnosel of rassisties as jy sien dat die keiser eintlik kaalgat is nie.

Rynhardt ·

Waarvan baie afrikaners nie eens bewus is nie, is dat Nelson Mandela uit Robbeneiland se tronk opdrag gegee het vir die 1983 kerkstraat-bom.Mandela en die Anc was ook onder sy presidentskap verantwoordelik vir die 1998 Shellhouse-slagting ,waartydens talle Zoeloes gesterf en gewond was, maar alles was onder die mat gevee! In die begin van April verlede jaar voor die 7Mei 2014 verkiesing, het SABC beeldmateriaal gewys waar die verraaier, FW de Klerk regoor Joe Slovo gesit het, die vader van die vryheidsmanifes.Die einste vryheidsmanifes spel n rewolusie uit, waarvan die meeste blankes nie eens van bewus is nie.Dit wys dat De Klerk het geweet wat wag op SA en die Afrikanervolk!Is dit nie eienaardig dat n deel van die blankes het in 2015 gebaklei,dat die liberale DA vir De Klerk vereer met n straatnaam! Hy lag hom pap vir daardie oningeligtes!

Dave ·

En wat vele ook nie weet is dat Mandela se termyn in die tronk aansienlik korter sou wees indien hy bereid sou wees om geweld te staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.