Nuuskommentaar: Lesse vir Afrikaner uit eeu-herdenking van Armeense volksmoord?

Foto: Wikipedia

Foto: Wikipedia

Vandag herdenk Armeniërs wêreldwyd ’n gebeurtenis in hul geskiedenis, wat ten nouste met die Christendom verweef is. Dit is presies 100 jaar sedert ’n proses begin is wat waarskynlik meer as ’n miljoen Armeniërs in een van die ergste volksmoorde hul lewe gekos het. Eintlik het die proses van Armeense vervolging reeds in 1894 begin en tot 1923 voortgeduur, maar die werklike slagting se eeuherdenking is vandag.

Wat die afgelope paar jaar se herdenkings meer opvallend maak as wat voorheen die geval was, is dat dit nou vir Turkye as verleentheid opduik in sy pogings om lid van die Europese Unie te word. Dit, terwyl Turkye die volksmoord amptelik ontken. Die Armeniërs en die Ethiopiërs maak albei daarop aanspraak dat hulle die eerste Christenvolk ter wêreld was.

Boekdele is oor die Armeense volksmoord geskryf. Die agtergrond was dat die jong Turke die bewind van die sultan oorgeneem het, en met ’n beleid begin het om die land te verturks. Minderhede soos die Armeniërs en die Christen-Assiriërs, asook Grieke en sigeuners, en daarna ook Koerde, is in groot getalle bymekaar gemaak en op strawwe marse na ander dele van die destydse Ottomaanse ryk geneem. Baie het dit eenvoudig nie oorleef nie, onder meer weens teregstellings. Dokumente wys ook hoe die Armeniërs op ander maniere uitgemoor is, soos talle wat in die Swart See verdrink is.

Aanvanklik, so word berig, het Koerde die blootgesteldes op groot skaal aangeval en afgemaai. Later het dieselfde lot die Koerde te beurt geval, wat steeds Turkye se optrede, of gebrek daaraan, in buurlande waar daar enigsins ’n Koerdiese teenwoordigheid is, bepaal.

Griekeland het byvoorbeeld eers in 1930 van Turkye onafhanklik geword waarna ’n groot uitruiling van mense plaasgevind het.

Die talle Armeniërs, ook in die diaspora, het nié vergeet nie, en het met volgehoue pogings daarin geslaag om hierdie gebeurtenis uit die vergetelheid te herroep en het wêreldwyd ondersteuners verwerf, wat ook lustig per e-pos en op ander maniere meedoen om ’n gebeurtenis waarvan die mensdom wou vergeet, lewend te hou. Invloedryke Armeense gemeenskappe in ballingskap het hulle in lande soos Frankryk (ongeveer ’n halfmiljoen) en die VSA gevestig, met kleiner maar nie minder invloedryke groepe nie in ander lande soos Nederland en Libanon. In Ciprus het die Armeense bevolking ’n gewaarborgde parlementêre setel. In die VSA is na raming meer as 300 000 mense van Armeense herkoms, en baie beklee invloedryke poste in die politiek en as joernaliste in van die VSA se belangrikste koerante, TV-stasies en nuusdienste. Van die bekendste Armeniërs in die VSA is die gewese tennisster André Agassi, Cher en die Kardasian-susters.

Ongeveer 20 lande erken nou amptelik die volksmoord, al bring dit hul betrekkinge met Turkye ernstig in gedrang.

In die 1970’s het verskeie Turkse ambassades en die Turkse lugdiens onder terreuraanvalle deurgeloop wat deur Asala uitgevoer is. Asala is die afkorting vir die Armenian Secret Liberation Army for the Liberation of Armenia. Hoewel die terreur opgehou het, is dit nie so seker of dié organisasie so onaktief is soos wat amptelik voorgehou word nie. Asala self meen dit is nie nou ’n aktiewe organisasie nie omdat sy doel, bewusmaking, reeds geslaag het. Dit was egter tot baie onlangs, lank na sy amptelike opskorting in 1986, nog besonder aktief en radikaal op talle internetwebwerwe.

Boonop is Asala se stigtingsdoelwitte nog nie behaal nie. Dit is om grondgebied te herwin in Oos-Turkye, Noord-Iran en oorspronklik ook die voormalige Sowjet-Armenië, soos wat in die verdrag van Sèvres in 1920 deur pres. Woodrow Wilson onderneem is. Dié verdrag is egter nooit bekragtig nie, en die VSA is onder meer via Navo, waarvan Turkye ’n lidland is, ’n bondgenoot van Turkye.

Sowat ’n jaar gelede het Turkye kortstondig alle bande met Frankryk verbreek ná die Franse parlement ’n simboliese wet aanvaar het waarin die Armeense volksmoord erken word. Onlangs het Turkye sy gesant in die Vatikaan teruggeroep en het die pous sy gesant in Turkye ontbied nadat die pous na die Armeense volksmoord verwys het. Die pous het melding gemaak dat dit een van die drie groot volksmoorde van die 20ste eeu was – die ander was die volksmoord op die Jode, en die huidige vervolging van Christene in veral die Midde-Ooste. Pas het Turkye ook sy ambassadeur in Oostenryk teruggeroep nadat die Oostenrykse parlement ’n mosie oor die volksmoord aanvaar het. (Die pous is verkeerd oor die getal drie – daar was verskeie ander soos die Khmer Rouge se uitdelgingsveldtog in Kambodja, die Matebele-massamoord in Zimbabwe, Biafra, Bosnië en die Tutsi-Hutu-kwessie in die Groot Mere-gebied.

’n Armeense staatjie het wel weer verrys met die ontbinding van die Sovjet-unie. Hierdie staatjie, vasgeknyp tussen Georgië, Turkye, Iran, Azerbadjan en die Russiese Federasie is net ’n fraksie van die oorspronklike Armenië en is ’n arm en klein oorblyfsel van ’n eens magtige staat wat lank voor die Oos-Romeinse Ryk (Bisantium) as bolwerk teen Moslem-indringing uit die Ooste gedien het. Afgesien van die Georgiërs (wat deur die Armeniërs gekersten is), is al die omringende lande Moslemstate, en veral Azerbadjan is Armenië besonder vyandig gesind. Die Islamitiese Tsjetsjniese Republiek binne die Russiese Federasie grens boonop ook aan Armenië.

Die berg Ararat in dié landjie is moontlik meer bekend as die land self, en is vir baie van dié land se toeriste verantwoordelik.

Kort ná onafhanklikheidswording is die herrysende staat boonop deur ’n verwoestende aardbewing getref, en sowat 30 000 mense het gesterf.

Afgesien van die ou Armeense koninkryk in hoofsaaklik die noordooste van die huidige Turkye het ’n tweede Armeense staat in vervloë dae tot stand gekom. Hierdie staat is gestig na ’n lang trek deur ’n prins en sy volgelinge, en die staat is aan die Middellandse See, ook binne die grense van die huidige Turkye, gestig.

Hierdie staat, wat dikwels op ou kaarte verkeerdelik as die kruisvaarder-koninkryk van Armenië aangedui word, het veral met Frankryk noue bande gehad. Die staatjie het egter waardevolle ondersteuning aan die kruisvaarders en hul besittings soos Edessa en Antiochië verleen.

Toe dié staat verdwyn het, het baie van hierdie inwoners hul weg na Libanon gevind, en die Christenbevolking daar nie net in getalle versterk nie, maar ook met hul hoë opvoedingspeil gehelp om ’n hoogs-ontwikkelde staat, wat eens as die Switserland van die Midde-Ooste genoem is, te vorm.

Van vergeet en vergifnis is geen sprake nie, veral omdat Turkye steeds ontken dat dit ooit plaasgevind het. So volledig is die Armeense bevolking verdelg en verdryf uit hul oorspronklike kerngebiede, dat ensiklopedieë oor die algemeen nie eens verwys na Armeens as ’n minderheidstaal in Turkye nie.

Onlangs het ’n bekende Turkse geskiedskrywer vir die eerste keer erken dat die volksmoord plaasgevind het. Dit word as belangrike deurbraak beskou, maar nie alle Turke is hiermee ingenome nie.

Die sand loop egter uit vir Turkye. Die gebeurtenis verkry internasionaal al hoe meer aansien, en in Nederland het die tweede kamer, op inisiatief van die Christen-Unie, die volksmoord amptelik erken.

Turkye het al óm die gebeurtenis aan die voorvereistes vir deelwording van die EU begin voldoen. Die doodstraf is byvoorbeeld afgeskaf, wat beteken het dat Koerdiese opstandelinge nie meer die doodstraf opgelê kon word nie. Belangriker egter, het Turkye die amptelike onderdrukking van ander inheemse tale, byvoorbeeld juis Koerdies, opgehef. Vir die paar oorblywende Armeniërs – wat meesal ter wille van hul lewens verturks en Moslems geword het, bied dit egter min troos juis omdat hulle amptelik nie bestaan nie.

Indien Turkye meen die Armeense kwessie sal weggaan, misgis die land hom heeltemal. In Nederland en ander Wes-Europese lande kry die beweging om die ontkenning van volksmoorde ’n strafbare misdryf te maak algaande momentum. Anders as wat ’n mens sou verwag, handel dit nie soseer oor die uitwissing van Jode nie, aangesien dit, miskien met die uitsondering van die vorige Iranse president, nêrens amptelik geglo word nie. Met die Armeense volksmoord is dit anders. In Nederland moes verkose parlementslede van Turkse afkoms al van die opneem van hul setels afsien omdat hulle vas glo dat die volksmoord nooit plaasgevind het nie.

In die VSA is ’n sterk Armeense drukgroep wat die Withuis sal bly wikkel. Hoewel ’n Amerikaanse kongreskomitee lank reeds die volksmoord erken het, sal die president ter wille van betrekkinge met Turkye,’n belangrike Navo-bondgenoot, nooit daarna verwys nie.

Verder woed ’n inligtingsoorlog op die internet. Aan die een kant Armeniërs en simpatiseerders wat die stryd lewend hou, en aan die ander kant die Turke met teen-propaganda en verwysings na die “sogenaamde” volksmoord.

’n Vergelyking tussen die Armeniërs en die Afrikaners kan op twee maniere getref word: die omstandighede rondom die volksmoord, en die reaksie, asook verwagte reaksie daarop.

Daar is raakvlakke tussen die volksmoord en die konsentrasiekampe, ook in die effektiewe ontkenning daarvan in die kollektiewe geheue van die bevolkings van die lande wat daarvoor verantwoordelik gehou word. In albei gevalle is die bevolking se vermoë tot meerderheidsbesetting in sy eie grondgebied ernstig geknou. Dikwels word geargumenteer dat die omvang van plaasmoorde in Suid-Afrika op volksmoord neerkom, veral in die lig van parallelle met Zimbabwe se grondgryp en ’n vasbeslotenheid om liedjies te mag sing soos “Maak dood die Boere”.

Die onlangse beeldestorm kry ook ’n ander betekenis as in gedagte gehou word dat Unesco se vernietiging van antieke beelde deur die IS in Irak as “kulturele volksmoord” beskryf het.

Ook wat die diaspora-gemeenskap betref is daar ooreenkomste. Verder het die hedendaagse Armenië ’n soortgelyke rol as wat Orania by ’n groot deel van die Afrikaner speel, al is die ooreenkomste vir alle praktiese oorwegings (tans nog) simbolies van aard.

Hoe om die Afrikaner se beeld in die buiteland ten beste te bemark kan moontlik ook een van hierdie volk se belangrikste voortbestaansmiddele wees. Daar kan nie maar agteroorgesit word en gereken word op die wêreld se heroïese herinneringe aan die Anglo-Boere-oorlog nie, en daar kan nie op gereken word dat Julius Malema en ander hier deurlopend en genoegsaam begrip vir Afrikaner-onwilligheid om te assimileer sal skep nie.

Uit links-liberale kringe word daar gereeld, sonder om na die Armeense kwessie te verwys, ’n derde aspek bygetrek. Dit is om ’n soort psige onder swart mense te verduidelik “omdat blankes nie behoorlik hul rol / voordele uit apartheid en die verguising van swart mense erken nie”. In ’n stadium het die historikus Hermann Giliomee en die filosoof prof. Anton van Niekerk hieroor woorde gehad.

Soos tussen die Turke en Armeniërs is die probleem dikwels verskillende persepsies / weergawes van die geskiedenis. Die ad hoc-komitee oor eiendomsreg het tydens ’n kongres oor grondbesit die regering se weergawe oor hoe die blankes hul grond in besit gekry het, as die groot leuen afgemaak.

Die blote ontkenning van een groep se trauma deur die verantwoordelike groep verdiep die trauma – soos ou Britse ensiklopedieë se effektiewe ontkenning van die toestande en gevolge in konsentrasiekampe, die ontkenning van die negatiewe impak van affirmative action, die ontkenning van die omvang van die probleem van plaasaanvalle en veel meer.

Gaan na die Armeniërs en word wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rynhardt ·

Om die Afrikanervolk se situasie vandag met die Armeense volksmoord te vergelyk, vertel nie werklik ons mense se volle verhaal nie!Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was dit nie net Engeland nie, maar ook die Nuwe Wereldorde wat agter hom gestaan het, verantwoordelik vir die verbrokkeling van ons Boererepublieke! Vir albei het dit net gegaan oor goud en diamante! Die nuwe wereldorde was betrokke by alle oorloe wat oor dekades strek, waarvan bitter min mense bewus is! Met die 1999 feesvieringe van die Boereoorlog het dit aan die lig gekom dat 50000 afrikaners vermoor is vir goud en diamante om die nuwe wereldorde en Britse Ryk tevrede te stel.Oor dekades is ons mense se getalle uitgedun.Die 1914 Rebellie en twee wereldoorloe het die Afrikaner se getalle verder uitgedun, sodat ons as volk nooit kon herstel nie! Dit was beplan oor dekades deur verradelike politici! Dit het in 1990 die maklike weg gebaan vir FW de Klerk om in opdrag van die nuwe wereldorde n kommunistiese Anc aanbewind te bring! Ons mense was gespeel deur die NP wat in hul kerkpakke verskyn het, maar nie opregte afrikaners was nie, maar agente vir die nuwe wereldorde! Die KP gespuis was juis deur die NP gestig om verdeeldheid in Afrikanergekedere te skep, om sodoende n maklike, verradelike oorgang te bewerkstellig!Die nuwe wereldorde wat agter die NP-bende gestaan het, staan vandag agter die Anc! Die chaos wat uit SA moet kom, moet deel vorm van die wereld chaos (die val van die wereldmarkte ingesluit),sodat n een wereldregering uit Europa kan kom!Talle nasies gaan hul wend tot hierdie regering, net om uit te vind dat hy hul in die rug gaan steek! Vir jare het Europa sanksies teen SA ingestel, maar die vloek is besig om hom te tref met mening! Vandag se die Burger:”Italie verwag nog 200000 migrante!” Europa se onderskeie kulture en voortbestaan word liederlik bedreig deur Afrikane, moslems en Turke! Die Hete is regverdig en die vloek van apartheid is besig om hom te tref! Dinge gaan drasties daar verander met al die geweld wat voorle vir hulle! Vir die afrikaner en ander gelowige nasies le die antwoord, n terugkeer na die Here! Die “dinosaurus-media” ignoreer vandag die nuwe wereldorde en hamer net op apartheid, sonder om die storie agter die storie uit te le vir mense! Wat teen ons Afrikanervolk gedoen was, was agterbakse, beplande verraad deur gewetenlose skurke, maar die Here slaap nie!

Grassie ·

Rynhardt – ek het saam met die KP weggebreek van die NP en ek is niemand se gespuis nie, allermins joune.

Blaar ·

Rynhart, dankie, jy is in die kol en ek stem heelhartig saam met jou ten spyte van Grassie.

Grassie, is dit al wat jy kon kwytraak wanneer daar na ons Volksmoord verwys word???

Grassie ·

Blaar – ek het na een spesifieke sin in die kommentaar verwys wat my omgekrap het. Ek het daardie tyd in die Waterberg gewoon en Dr Andries Treurnicht, die stigter van die KP was ons LV. Hy was ‘n eerlike man, ‘n gelowige Christen en opregte Boere-Afrikaner. Om ook na hom as “gespuis” te verwys staan my nie aan nie.
Ek het al dikwels oor die aanslag op ons Volk kommentaar gelewer op hierdie werf, en sommige daarvan is al verwyder, miskien omdat dit aggressief was. Ek kan nie onthou dat ek veel van jou hier rond gesien het nie, behalwe as jy meer as een naam gebruik.

Rynhardt ·

Dit is duidelik jy het nie jou KP-leiers goed geken nie! Ek was bevriend met Willie Bienedell, voormalige skrywer en uitgewer van boereoorlog-boeke.Ek het baie dinge met Willie gedeel en hy met my.Willie was goed bevriend met Jaap Marais , voormalige leier van die HNP wat n vegter vir die afrikaner en SA was! Hy het baie geheime met hom gedeel oir die KP wat nie saam met hul wou werk om De Klerk te stuit nie! Willie het die KP soos volg beskryf in 2010:”Rynhardt die KP was die grootste klomp boewe op die planeet”.Dit se alles.Willie sou n boek uitgebring het oor die KP se verraad teen oor afrikaners, maar het ongelukkig gesterf op 5Januarie 2011, voordat dit kon gebeur! Die NP was besig om in 1982 te skeur, so die KP is gestig om hom te red en verhoed dat Jaap Marais aanbewind kom! Een van die KP se medestigters, Clive -Derby Lewis was een van daai stigters in opdrag van die NP! Vandag verkies hy nog steeds om van sy geheime saam met hom graf toe te neem! Derby-Lewus en sy maatjie was nie alleen verantwoordelik vir Hani se dood nie! Daai opdrag het gekom van iemand in NP geledere; want Hani het gedreig om SA met geweld omver te gooi.Derby-Lewis weier om nog steeds die skuldiges te noem, want dit sou vir afrikaners die verraad met NP uitwys! In die boek reguit deur Clause Nordbruch word dit duidelik uitgespel dat Ferdi Hartzenberg, voormalige leier van die KP vergader het met die Anerikaanse C.I.A. in pretoria! Die skrywer, advokaat Piet Pretoruis het die foto’s en tot op hede is dit nie vir ons mense gewys nie! Die C.I.A. en alke geheime agentskappe word deur die nuwe wereldorde beheer!Grassie, ons mense was vir jare gebreinspoel! Jy en jou KP kan my nie breinspoel nie! Ek het te veel visie en is teen breinspoeling bestand! Beslis nie my probleem as jy oor jou KP huil nie!

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessante geskiedenis waarvan ek nie veel weet nie. Die Armeniërs is ‘n ongelukkige groep mense, want na onafhanklikheid is hulle boonop getref deur ‘n aardbewing wat 30 000 van hulle uitgewis het. Sjoe!

Daar is beslis ‘n vergelyking te tref tussen die Armeniërs en die Afrikaner. Ek is egter bevrees daar is ook een groot verskil. Waar die Armeniërs saamstem dat daar volksmoord teenoor hulle gepleeg is en hulle verenig is in hul verontwaardiging, stem Afrikaners verbasend genoeg nie daaroor saam nie. Die meerderheid is tot dusver ongeraak deur erge misdaad en moord en sing saam met die koor wat sê “misdaad raak alle Suid-Afrikaners”. Daar kan dus nie sprake van “volksmoord” wees as die betrokke volk die stelselmatige uitwissing van hul mense as gewone misdaad beskou nie. Ons praat dan nog nie eers van die Afrikaanse taal wat al hoe meer uitgedruk word, met die stilswyende goedkeuring van Afrikaners nie.

Afrikaners moet nie veel simpatie van die buitewêreld verwag as hulle self so min omgee nie.

Rynhardt ·

Vir mede afrikaners(ek steer my nie aan KP-mannetjie nie )wil ek die volgende leesstof aanbeveel:Die boek, afrikanernasionalisme deur Jaap Marais wat De Klerk en NP se verraad uitwys! Die boek, Die Idassa-komplot deur die merkwaardige Jaap Marais wat deel van KP se verraad uitspel asook van genl.Viljien.Die dvd film; Pionne wat insetsels bevat oor De Klerk en NP se verraad en dit verwys na nuwe wereldorde! Hierdie film was verbied voir die verradelike ; 1994 verkiesing! Al drie is beskikbaar by Hutten Bychdienst! Dan kan mense sien hoe dit aansluit by kommentaar! Myne is gegrond op navorsing en visie; nie gegrond op KP en NP sienings nie! As die NP en KP wonderlik was; sou ons afrikaners nie in n doodloopstraat gesit het nie!

Piet Snot ·

Rynhardt
Jou kommentaar is interessant. Die uitroepteken agter elke sin is egter hinderlik.

Johannes ·

Rynhardt, Piet Snot is baie beleefd teenoor jou om slegs na die onnodige uitroeptekens te verwys. Met respek gese, jy sou baie meer geloofwaardig oorgekom het as jy beter kon skryf, veral as jy se dat jy baie navorsing gedoen het. As voorbeeld, steer ipv steur, verradelik ipv verraderlik, Idasa ipv Idassa ens. Daarbenewens is die baie tikfoute ook hinderlik. Nietemin, jou siening is nogal interessant.

Schalk Kruger ·

Ons is n paar gesinne wat ons in Die Republiek van Georgia gaan vestig het,die bure van Armenia.Ek en my seun het ook die eerste spilpunt besproeiingstelsels gaan oprig in”Karabakh”…n provinsie van Armenia…ek is oorsproklik vanaf Orania se omgeweging,ek dink Orania kan n afvaardiging stuur na Karabakh en bande versterk met die mees selfde tipe mense,braai vleis met pap en sous,eie self beskikking,eie ekonomie en n jare lange geveg vir Vryheid.Almal kan gerus meer oor Karabakh lees!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.