Nuuskommentaar: Leuens, vervlakste leuens en statistieke

(Foto: Facebook)

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het gister die nuutste kwartaallikse syfers vir werkloosheid bekendgemaak. Ondanks die verwagte bloedbad het die amptelike werkloosheidsyfer met 6,8 persentasiepunte gedaal – dit is die laagste werkloosheidsyfer nóg volgens die definisie gemeet. Die rede vir hierdie daling in amptelike (eng) werkloosheid is geensins omdat die land die volle trefslag van die grendeltydperk nouliks ontkom het nie. Dit is bloot omdat die regering se definisie vir werkloosheid absoluut ongeskik is as noemenswaardige ekonomiese aanduider.

Die aanduider wat eintlik aandag moet geniet, is die uitgebreide definisie van werkloosheid wat in die tweede kwartaal tot ʼn skokkende 42% gestyg het. Die amptelike (eng) werkloosheidsyfer sluit nié diegene in wat nie ekonomies aktief is nie. Dit is tradisioneel diegene wat studeer, ontmoedigde werksoekers of mense wat weens ʼn ander rede nie aktief werk soek nie.

Die streng ekonomiese inperking waaronder ons veral in die tweede kwartaal deurgeloop het, het dit moeilik gemaak om deel van die ekonomies aktiewe groep te wees. Dit het tot gevolg gehad dat die ekonomies aktiewe groep in die tweede kwartaal met 33 persentasiepunte verlaag het. Weens die inperking kon mense nie werk soek nie, al wou hulle.

Sodoende was sowat vyf miljoen minder mense ekonomies aktief in die tweede kwartaal. Tog is hierdie vyf miljoen nie in ag geneem in die amptelike werkloosheidsyfer nie. Dit is ook presies waarom dié syfer afgeneem het – soveel mense het ekonomies onaktief geword dat dit uiteindelik ʼn positiewe uitwerking op die werkloosheidsyfer gehad het.

Die regering se eie statistiese definisie vir werkloosheid kon bloot nie voorsiening maak vir die verandering en uitwerking wat die grendeltydperk op die land se ekonomie gehad het nie. Eerder as om dié definisie aan te pas, het hulle daarby gestaan. Die gevolg is dus ʼn niksseggende en absurde syfer wat ʼn misleidende werklikheid van die stand van ons arbeidsmark voorhou.

Die regering het ʼn geskiedenis daarvan om die standaarde en definisies aan te pas ten einde die resultaat te kry wat hy graag wil hê. Eerder as om diepliggende probleme op te los, verander hulle bloot standaarde ten einde ʼn voorkoms van sukses te verkry. Dit is presies wat hulle met ons onderwysstandaarde oor die jare heen gedoen het.

In 2016 was die matriekslaagsyfer 76,2% terwyl die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) ons onderwysstelsel in dieselfde jaar 137ste uit 139 lande geplaas het. In 2010 was die matriekslaagsyfer 67,8%, met die onderwysstelsel 129ste uit 138 lande. In 2000 was die matriekslaagsyfer 61,7%, maar die onderwysstelsel was 52ste uit 148 lande geplaas.

Weens die toenemende uitvalsyfer word die gaping tussen die departement se slaagsyfer en die ware slaagsyfer ook al hoe groter. Met al hoe minder kinders wat vanaf graad 1 tot uiteindelik matriek vorder, word die ware slaagsyfer al hoe laer. Oor die afgelope vyf jaar was die ware slaagsyfer eerder tussen 37% en 40% – dit is 35% tot 40% laer as die departement se amptelike syfer.

Sodoende het die plaaslike gehalte van onderwys oor die jare heen oënskynlik verbeter, terwyl dit gemeet aan internasionale standaarde drasties agteruitgegaan het. Eerder as om die gehalte van onderwys daadwerklik te verbeter, het die regering standaarde so verlaag ten einde die resultate bloot beter te laat lýk.

Die rede waarom die regering slegs oppervlakkige verbetering teweeg kan bring, is omdat hulle bloot nie verstaan hoe om ʼn moderne land te bestuur nie. Hulle het nie die vermoë om dié kompleksiteit te verstaan en te bestuur nie. Oudmin. Nomvula Mokonyane het in 2017 immers genoem dat ons bloot die rand sal optel, indien hy sou val. Die regering – en selfs sy hooggeplaaste amptenare – verstaan bloot nie hoe ʼn hedendaagse staat en ekonomie werk nie. Daarom verander die lede deurlopend standaarde ten einde kosmetiese verandering teweeg te bring.

Siende dat hulle nie weet waarom goed werk nie, weet hulle ook nie hoe om dit reg te stel wanneer iets fout gaan nie. Pres. Cyril Ramaphosa het reeds in reaksie op die werkloosheidsyfer die regering se plan vir ekonomiese herstel aangekondig. Die antwoord op hierdie krisis is meer regeringshulp en -inmenging as dryfveer vir herstel.

Terwyl die herstel geskied, sal die regering voortgaan om programme uit te brei wat moet verseker dat mense nie hul werk verloor nie en hul inkomste behou. Dit sluit in die geskiedkundige maatskaplike en ekonomiese hulpverligting wat die regering in reaksie op die pandemie van stapel gestuur het. Die regering se antwoord op die ekonomiese krisis wat hy self geskep het, is dus meer regeringsinmenging.

Vanweë die regering se onvermoë om ʼn moderne land te bestuur, bly sy swak antwoorde op ons probleme dieselfde. Sodoende verlaag die gehalte van alle regeringsdienste oor die jare heen. Infrastruktuur, basiese dienslewering, gesondheidsorg, onderwys en opvoeding word al hoe swakker – juis vanweë die regering se antwoorde op die probleme.

Die antwoord hierop is om jouself sover moontlik aan die regering, sy swak standaarde en swak antwoorde te ontkoppel. Diegene wat voortaan nog hulself aan die regering gekoppel gaan hou, sal ook saam met die regering verswak. Diegene wat hulself toenemend aan die regering ontkoppel, staan die bes moontlike kans op sukses.

Hierdie verskynsel is reeds jare lank te bespeur. Gesondheidsorg het vir diegene wat dit kan bekostig volledig na die privaat sektor geskuif. Privaat sekuriteitsdienste het die gaping van die polisie begin vul. Ou model C-skole het vir alle praktiese doeleindes hulself aan die regering ontkoppel deur hul eie standaarde vir onderwys na te jaag. Beheerliggame en ʼn aktiewe ouerskorps onderskei dié skole van die regering se swak standaarde. Gemeenskappe vul toenemend self die tekort wat in behoorlike dienslewering en onderhoud van infrastruktuur bestaan.

Daar waar die regering dieselfde ou antwoorde op dieselfde probleme bied, moet ons nuwe antwoorde kan bied. Die regering het nie die vermoë om enige daadwerklike positiewe verandering teweeg te bring nie. Daarom moet ons die gaping vul wat die regering toenemend laat. Ons moet voortgaan met ʼn de facto-ontkoppeling van die regering totdat ons die werklikheid skep waarna ons op soek is.

As jy iets reg gedoen wil hê, doen dit self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Syfers en statistiek was nog nooit die ANC se sterkpunt nie, hulle manipuleer dit soos dit hulle pas en kan dus vir alle praktiese doeleindes as fopnuus beskou word.

Nie Verbaas

“Die regering – en selfs sy hooggeplaaste amptenare – verstaan bloot nie hoe ʼn hedendaagse staat en ekonomie werk nie”. N duidelike teken van totale tekort aan intellek.

Vriendelike Frikkie

Statistiek is vir die redenaar soos ‘n lamppaal vir die dronke; hy staan daar vir die ondersteuning en nie die lig nie. Met statistiek kan jy enige standpunt “bewys”.

Andrew

Oud model C is n staat skool , verwag meer en meer hof uitprake wat beleid regte van die oud model c beheer ligaam gaan inkrimp. Dink nie model c skole is hoegenaamd ontkoppel nie.

Gerhard

Goeie stukkie skryf werk Monica Mynhardt, 100% korrek gestel. Dit bevestig net weer hulle onvermoe om enige iets te kan verstaan wat nog bestuur.