Nuuskommentaar: Lewe anderkant Oscar

Oscar Pistorius word Dinsdag na die aanhoudingselle by die hooggeregshof in Pretoria geneem. Foto: Herman Verwey/Media24/Pool

Oscar Pistorius word Dinsdag na die aanhoudingselle by die hooggeregshof in Pretoria geneem. Foto: Herman Verwey/Media24/Pool

Afgesien van die moontlikheid van appèl, is die Oscar Pistorius-sage nou eers afgehandel. Daar sal nog ’n ruk lank teekoppie-bespreking wees, nog ’n rukkie lank regstegniese kringetjies gemaak word, maar vir baie Suid-Afrikaners breek daardie punt nou aan waar besef word, daar ís lewe buite die euforie of sepie-wêreld waarin hulle hul nou al ’n geruime tyd bevind het.

Eintlik nie ’n sepie nie – die sage het die gewildste elemente van ’n sepie en ’n werklikheidsreeks gekombineer.

Minstens twee boeke oor die sage het die lig gesien nog voor die vonnis gevel is.

Regsgeskiedenis is gemaak deurdat die saak regstreeks gebeeldsend is. Vir baie Suid-Afrikaners het ’n nuwe wêreld oopgegaan oor hoe regspraak werk. Mense wat nou die dag nie die verskil tussen begrippe soos “die reg” (law) en ’n “wet” (act) geken het nie, het skielik soos gesaghebbendes besin oor waar die grens tussen doles eventualis en strafbare manslag moet loop. Daar was die afgelope aantal jare verskeie sulke sake, ook opspraakwekkende sake, waar die regters oor presies hierdie kwessie moes kopkrap, maar geeneen het van die breë publiek sulke kitsadvokate gemaak soos hierdie nie.

Ons sal egter steeds gefrustreerd moet lees hoe selfs groot koerante na artikels in wette as “seksies” of “afdelings” verwys.

Ons sal steeds sien dat baie mense ’n hofproses wil laat afloop volgens hul eie emosionele belewenis, eerder as die feite en regsbeginsels ter sprake. Dink maar hoeveel mense het ná die saak oor die Griekwastad-moorde steeds “met gesag” volgehou die veroordeelde is onskuldig.

Volksblad en Beeld deel vanoggend ’n hoofartikel oor die hofsaak, terwyl Die Burger ’n heel ander kwessie onder die loep neem – ʼn duidelike aanduiding dat nie almal se lewens vir die duur van die saak “tot stilstand” gekom het nie.

Uit die sosiale kommentare is dit egter ook duidelik dat baie Suid-Afrikaners volop menings het, maar steeds niks geleer het nie. Een het byvoorbeeld die regter erg verkwalik oor sy nie met die vonnis-oplegging Pistorius vrygespreek het nie.

Die saak het ook geleer dat Suid-Afrika, anders as wat die regering soms optree, steeds deel is van die hele internasionale gemeenskap – nie net deel van die Brics-groepering en daarom knievallery voor China en Rusland, is nie, maar ook daardie deel van die wêreld waar sulke “vreemde konsepte” soos dat korrupsie verkeerd is, naamlik die weste, vandaan kom.

Binne ’n japtrap na die vonnis het die nuus oor die vonnis op Google meer as 1,6 miljoen Engelstalige trefslae opgelewer. Om perspektief te gee, net die woord “Zuma” het minder as 40 miljoen trefslae oor ’n lang politieke en omstrede loopbaan opgebou. Dit sluit trefslae in alle tale in. En dit sluit ook trefslae in oor die Zuma-videospeletjie, Kalifornië se Zuma Canyon en die Zuma-strand waarop dit uitmond. (En nee, die Kaliforniese Zuma het niks met onse Zuma te make nie).

Mense sal uiteenlopend reageer op die (voorlopige) afloop van die Pistoriussaak. Aan die een kant sal daar diegene wees wat verlig sal wees dat koerante nou weer meer plek gaan hê om oor werklike saakmakende nuus verslag te doen. Op die ander uiterste sal daar diegene wees wat ’n ruk met pantoffels aan die loodvoete sal sloof, traag om die werklikhede om hulle in die oë te staar (en daardie werklikhede is dikwels nie mooi nie). Ander sal vlytig, by wyse van spreke, die stompies om die rusbank waarop voor die TV gesit is, opvee, en met ’n oop kop die res van die lewe tegemoet stap.

Wat niemand moet vergeet nie, is dat daar elke dag tallose sake in ons howe afspeel waar die gebrokenheid van die wêreld diep spore deur menslike emosie trap. Ons weet net nie daarvan nie, want dit is dikwels die sogenaamde “klein mensies” wie se doen en late ons liefs nie van wil weet nie. Ook “klein mensies” rou oor geliefdes wat wreed weggeruk is, of wie se kinders verkrag is.

Vir ons gemoed is dit beter dat dit tot statistiek gereduseer word waaroor ons elke nou en dan die mond kan uitspoel. Waar statistiek soos die gemeente se koskas word – ons plaas ons bydraes daarin sonder om self aan die ontsettende nood om ons blootgestel te word – ons weet gewoonlik nie wie die mense is wat so noustrop trek nie – dit kan net sowel die ou tannie langsaan wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

jakoos ·

‘n Paar goeie punte, Herman, maar helaas ook ‘n paar punte wat jy moes uitgelig het.

Soos bv. die uitsending van die hele verhoor op TV. Daar het seker ‘n paar mense iets geleer oor hoe die regstelsel en die howe werk, maar as ek so na van die kommentare op die sg sosiale media kyk het bitter min mense werklik iets geleer. Ek het wel iets geleer – en dit is dat daar baie, baie aaklige vieslike en siek mense rondloop.

Ek is bevrees al wat ons op die ou ent met die TV gehad het was ‘n media-sirkus met ‘n spul sg kundiges wat hard probeer het om slim te wees en ‘n spul mediamense wat nooit in hul lewe slim kan wees nie. Ek vermoed en voorspel eintlik dat dit die laaste hofsaak is wat op TV gesien gaan word – of in elk geval vir ‘n baie lang tyd.

En ek sal graag wil hoor wat dink jy van my standpunt elders op hierdie webblad dat die uitspraak en die vonnis ‘n gevaarlike en omstrede presedent in regspraak geskep het oor wanneer jy kan skiet of nie kan skiet nie indien inbrekers jou woning binnedring. Volgens hierdie uitspraak wat vir ‘n lang tyd die regspraak gaan beinvloed mag jy nie skiet nie aleer jy duidelik en behoorlik aangeval word. As jy selfs net laag deur ‘n deur skiet en daar is beslis indringers aan die anderkant, kan jy van mansslag aangekla word as een van hulle dodelik getref word en dalk van nalatige gebruik van ‘n vuurwapen as iemand net gewond word. En in beide gevalle kan jy tronk toe gaan – en jou vuurwapens weggevat word.

Dis ‘n kwessie wat jou en Maroela se indringende aandag verdien.

Willie Steenkamp ·

Het kommentaar gelewer rondom Oscar/Steenkamp saak , en wou graag weet hoekom het Reeva Oscar se spoirtdrag aangehad toe sy geskiet is . Geen reaksie ontvang

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.