Nuuskommentaar: Lewenslesse te leer tydens Madiba-nuusstilstand

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Dit is redelik veilig om te sê dat Suid-Afrika nie gou weer ‘n maand soos hierdie Desembermaand gaan beleef nie. Die groot intog van wêreldleiers wat reeds gister begin het, en tot Sondag sal duur, sal hiervoor sorg. Dit oortref die buitengewone poging wat die ANC aangewend het tydens dié organisasies se eeufeesvieringe.

Voor die gebeure iets van die verlede gaan wees, gaan verskeie mense ‘n paar harde lewenslesse leer.

– Die eerste persoon wat ‘n harde les geleer het, is die voortvarende Julius Malema, wat versoek het dat hy ook so gerespekteer moet word soos Mandela gerespekteer word. Hierop het Evita Bezuidenhout flink ingestem, en voorgestel dat begin word deur Malema ook 27 jaar tronk toe te stuur. Dit het enorm baie reaksie op die sosiale netwerke ontlok soos mense dit geniet het. Respek is iets wat verdien moet word, punt.

– Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skryf dat die kontras tussen Mandela en pres. Jacob Zuma fataal vir Zuma kan wees. Hoe groter die euforie oor Mandela aangeblaas word, hoe skriller gaan die kontras tussen hierdie twee blyk. Wyslik (vir Zuma) het die kabinet besluit om die openbaarmaking van die interministeriële komitee se verslag oor Nkandla wat dié week sou gebeur uit te stel. Die doel met die bekendmaking van die verslag was klaarblyklik om te probeer toon dat die kabinet meer geloofwaardigheid het as die openbare beskermer. Om die week daarmee voort te gegaan het sou in alle waarskynlikheid daartoe gelei het dat die kabinet ‘n reuse geloofwaardigheidstoets druip.

Vir baie mense hou die gebeure ‘n “kultuurskok” in. Die grense wat verskillende kulture trek tussen huldeblyke vir ‘n afgestorwene en menslike verheerliking word nou deeglik getoets. Omdat lank werk gemaak is daarvan om Madiba as “almal” se rolmodel en “besitting” te skets is dit vir baie ‘n vreemde ervaring hoe ook ander, met drasties verskillende kulturele gebruike, ‘n plek vir die laaste eerbetoon opeis. Tradisionele leiers eis ‘n selfs nog groter rol vir begrafnisrituele op wat ander as animisties van aard beskou. Indien nie omsigtig hiermee gewerk word nie, kan dit die geledere van diegene wat reeds soos vreemdelinge in hul eie land voel, laat groei.

Vir regeringsleiers wat gemeen het die land kan die internasionale statuur handhaaf wat Mandela in lewe feitlik verseker het terwyl die land op indekse soos die korrupsie-persepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die geweldsindeks, innovasieindeks en die indeks vir mislukte state die kreeftegang gaan, wag daar nuus. Terwyl Suid-Afrika nog tot ‘n groot mate ‘n nuusstilstand beleef het Mandela se afsterwe reeds grootliks van die internasionale nuustoneel begin verdamp, en ander belangrike nuusgebeure begin voorrang kry. Suid-Afrika moet gereed begin maak om op ‘n Mandela-lose werklikheid beoordeel te word, en om verdere tuimeling op die indekse te voorkom, sal almal hard skouer aan die wiel moet sit.

In die binneland kan aanvaar word dat heelwat politici opportunisties op die Mandela-euforie sal wil ry om hul kanse in volgende jaar se verkiesing te verbeter. Dat dit ook omsigtigheid vereis, blyk uit die bloedbek wat Malema opgedoen het.

Oor minder as ‘n week is dit Geloftedag en Versoeningsdag, en kom die toets baie gou of die een aspek van Mandela se nalatenskap wat deur verantwoordelike leiers beklemtoon word – versoening – enige blywende indruk gemaak het. Al hoe meer word ervaar hoe die begrip “versoening” in die Suid-Afrikaanse konteks herdefinieer word iets wat min of meer daarop neerkom dat een deel van die bevolking alles kry wat hulle wil hê, of deur die politici voorgesê word wat hulle wil hê, en die ander niks. Trouens, daar was tydens Mandela se hospitalisasie selfs politieke uitsprake dat “ter wille van Mandela se nalatenskap” deurgedruk word met naamsveranderinge in Pretoria.

Werklike versoenende leierskap is nou bitter nodig om die land die toekoms in te neem. Vir die huidige val die mantel op Zuma se skouers, en dit boesem nie oral ewe veel vertroue in nie. Die kontras met Mandela, of dan die persepsies van Mandela, kan net te groot wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thea Kluckow ·

Dit is in my opinie te laat vir versoening hoegenaamd. Direk na Mandela se vrylating was dit ondenkbaar maar met die jare kon mense in n groot mate saamleef sonder woede. En haat. Hoewel regstellende aksie spanning meegebring het sou dinge weer kon om n tafel bespreel word. Met die biljoene wat regerings lui bedrog mee pleeg, oordadige geld mors en dreigende windlawaai Malema wat grond met geweld wil afvat is daar nie sprake van versoening nie. Die skeiding is n massiewe weersin in al wat wil gryp, afvat en moor. Die ontkenning van die reg om nie in jou eie huis vermoor te word nie, bejaardes se wrede moorde en so ook plaasmoorde en die regering se traak my nie agtigheid het n kloof gevorm want nerens of ooit weer gaan herstel nie. Die uitsprake van Zuma en ander dat Mandela die God is wat vereer moet word het die klem weer laat val op die verkragting van die Christen minderheid se geloof. Al die okasies sal binnekort verby gaan en Thuli Madonsela sal voortgaan met die Nkandla verslag en die verkiesingsgevegte geweld, knoeiery sal hervat. Dan begin die aksie en versoening? Nee dit is lankal uit die woordeboek gevee.

Sara ·

Om vrede te soek wat deur wereldleiers geskep word is maar net ‘n strewe en ons sal daarvan net klein sprankies sien solank ons hierdie ou droewige aarde bewoon. As ‘n mens nie daardie ware vrede diep in jou hart met jou Skepper het nie, sal dit jou altyd ontwyk. Die mees onregverdige, korrupte regering en SA val in hierdie kategorie kan net met hierdie Vrede in jou hart trotseer word. Leef en werk elke dag in die afhanklikheid van ons Koning en dit word elke dag meer draagbaar. Laat hierdie helde verering van ‘n mens nie die ware Christusboodskap in hierdie feestyd oorskadu nie.

Demokraat ·

Moontlik het die uur van waarheid ook nou vir Zuma aangebreek in die lig van die nalatenskap van Mandela naamlik versoening en ‘n voorspoedige Suid-Afrika vir almal – en dit is dat Zuma te lig bevind word. Want beide versoening en voorspoed het vir duisendes nog nie ‘n werklikheid geword nie en blyk die kanse dat dit ‘n werklikheid onder die bewind van Zuma kan raak, net skraler te word.

Dis dalk nou die tyd vir die opposisie-partye om saam te staan en die ANC in die volgende verkiesing met brute krag en oortuiging aan te pak en hul greep op die land te breek. Die Wes-Kaap is alreeds voorheen “verlos” van die ANC en kan daar dus ook in ander provinsies deurbrake gemaak word.

Koeksister Unplugged ·

Ek stem saam met Demokraat – dit is nou tyd vir die opposisie partye om saam te staan – ek moet se (al is ek self ‘n wit Afrikaner) – dit is vir ons so moeilik om saam te staan – kom ons staan saam teen e-toll, staan saam teen petrol verhogings, staan saam teen die regering se uitbuiding van sy land se mense (die mense wat hulle in die regering stoele gesit het!!) – kom ons see NEE en vat die land terug vir al sy mense – ongeag jou kleur/ras of geloof – maar as ons dit los soos dit nou is, is dit tickets met ons……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.