Nuuskommentaar: Liberalisme en die Suid-Afrikaanse werklikheid

Skermskoot uit Dookoom se musiekvideo, "Larney jou p***"

Skermskoot uit Dookoom se musiekvideo, “Larney jou p***”

AfriForum (en sommer Solidariteit) word in ’n nuwe artikel bygedam oor die klag wat teen Dookoom se lied, “Larney jou p***” gelê is. Is dit “liberaal” om so ʼn lied in vrede te laat?

Twee onlangse rubrieke plaas die vraag op die ontleedtafel of daar nog staanplek vir liberalisme is, en in die besonder in die Suid-Afrikaanse konteks. Eers het die bekende liberale ontleder, dr. Piet Croucamp in Media24 se publikasies geskryf onder die titel, Gee liberalisme staanplek in SA, en vandag bespreek dr. Christi van der Westhuizen die kwessie onder die opskrif,  Regstappe sal nie woede stuit.

In ’n sekere sin, moontlik onbedoeld, lewer Van der Westhuizen repliek op Croucamp se artikel. Croucamp, in breë trekke, het dit daarteen dat politieke korrektheid dikwels liberale verhinder om suiwer liberale waardes uit te druk. Kortom, as wittes iets aanvang wat as primitief sou kwalifiseer, is kritiek in orde, maar as swart mense ’n “primitiewe” ding doen, soos die inisiasiepraktyke wat jaarliks talle lewens eis, is dit politiek inkorrek om kritiek te lewer. (Dit sou uiters selektief teenoor Croucamp se artikel wees om te sinspeel dat die verwysde deel verteenwoordigend van die hele artikel is).

Van der Westhuizen draai nie doekies om nie. Sy dam AfriForum by oor die klag wat teen Dookoom gelê is oor die lied “Larney jou p***”.

Terwyl sy AfriForum op die oog af loof vir die inspan van grondwetlike beginsels, is sy tog krities oor “ons” en “hulle” wat AfriForum sou skep. “Regstappe sal miskien dié spesifieke (Dookoom-) stem momenteel stilmaak, maar dit verwyder nie die materiële werklikheid wat in die hedendaagse Dookoom se kreet van woede tot uiting kom nie.”

Van der Westhuizen se argument sou suiwer wees, mits die “materiële werklikheid” waarna sy verwys, inderdaad die “materiële werklikheid” sou wees, naamlik dat plaastoestande in die Wes-Kaap vir werkers haglik is, dat werkers uitgebuit word, en dat – in die konteks van die huidige debat – werkers op groot skaal onwettig van plase afgesit sou wees.

Agri Wes-Kaap soek bewyse, wat Cosatu en die ANC erken hulle nie het nie, en die afsettings waarvan Agri Wes-Kaap weet, is deur die howe as wettig bevind. Talle ondersoeke is al gedoen, wat geblyk het almal vals te wees. Die enigste beduidende uitsondering was ’n verslag deur Human Rights Watch, waar dit geblyk het die opsteller het ’n enkele geval ondersoek en haar ganse verslag daaruit veralgemeen. Dit is onder meer deur die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, verwerp, wat as ’n liberalis met ’n geskiedenis deur die Black Sash bekend staan.

Weliswaar is Dookoom se omstrede stuk eerder gebaseer op die situasie rondom die destydse Bolandse plaasstakings wat ook as die plaasopstand bekend staan, en word die wortels daarvan na die tyd van slawerny en die dopstelsel teruggevoer. Baie van die opstandelinge het egter nié via hul voorouers deel aan die historiese praktyke gehad nie, maar later vanuit die Oos-Kaap, Lesotho, Zimbabwe en elders daar aangekom. Een van die hoofkwelpunte van hierdie “inkommers” is die praktyk van dubbelgesinne – ’n volledige gesin in die Boland, en ’n volledige gesin tuis, wat enorme druk op die inkomste plaas. Dit is ook as belangrike faktor by Marikana uitgewys.

Dat Van der Westhuizen haar mes vir AfriForum en Solidariteit se optrede in het, blyk daaruit dat sy Solidariteit se Mynwerkersunie-verlede oprakel, en dan verklaar: “Hierdie boodskappe het genoeg speling sodat Solidariteit tussendeur die bevordering van Afrikanerbelange ook bruin Afrikaanssprekendes in ’n hofgeding kan verteenwoordig. Só word ’n meer inklusiewe kulturele vorm paradoksaal gebruik om ’n wit agenda te legitimiseer. AfriForum-boodskappe het ’n breë gebelgdheid oor Afrikaner-magsverlies in ’n politieke projek omgeskakel. Die projek se interpretasies van gebeure laat dele van hul teikenmark selftevrede voel, maar die ander kant van die muntstuk is die vervreemdende uitwerking op die ‘hulle’. Byvoorbeeld, die saak oor ‘Kill the Boer’ het rassepolarisasie aangeblaas.”

Croucamp “antwoord” hierop soos volg: “Die implikasie is dat wit en swart teenstellende of selfs onversoenbare waardestelsels het. Die normatiewe veronderstellings van wat eties, goed of reg is, is dus relatief of subjektief, en kritiek word getrivialiseer of selfs gestigmatiseer.”

Is dit wat Van der Westhuizen bepleit inderdaad liberalisme, of adem dit nie eerder die gees van die sendelinge Reid, Phillips en Van der Kemp in nie? ’n Tipe ras-paternalistiese beskouing waar gemeen word gelykheid is reg, solank die een meer gelyk as die ander is, en wat as “ideologie” ’n bepaalde, politiek inkorrekte naam het. Dit dra skynbaar nog die wortel van “die edel barbaar”.

Ons het dit onlangs beleef met die gevalle van “black face” deur studente, waar mense wat lankal by daardie punt verbybeweeg het, met ’n skok moes besef historiese opvattings tref steeds ’n groot onderskeid tussen wittes wat hul gesigte swart smeer om hulself as swart (karikature) voor te stel (ongeag die selfs onskuldige motiewe) terwyl daar niks mee verkeerd is as swart mense hul gesigte wit maak nie (al was die “play for white” eens ʼn sensitiewe kwessie in sekere bruin gemeenskappe).

Croucamp kon uiteraard nie voorsien het dat Van der Westhuizen se artikel die lig sou sien nie. Sy artikel is meer waarskynlik ’n generiese antwoord op ’n stelling enkele jare gelede deur die menseregteaktivis, Rhoda Kadalie, waarin sy geskryf het politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis, of meer bekend,dat politieke korrektheid ’n nuwe soort diktatuur skep.

Van der Westhuizen trap vierkantig met haar voet in die slagyster wat Kadalie gestel het.

Van der Westhuizen, ook as kampvegter vir vroueregte bekend, het ’n reputasie dat sy selfs onder moeilike omstandighede die regte ding kan sê. Op RSG se program, Kommentaar, het sy jare gelede ʼn senior deelnemer oor ’n stelling aangevat. Sy skroom selfs nie om bekende liberale reg te help nie. In ’n onlangse deelname aan dieselfde program het sy Max du Preez en Jan-Jan Joubert aangevat en byvoorbeeld Max se stelling, dat Suid-Afrika se grondwet nie vir selfbeskikkingsregte voorsiening maak nie, van die tafel gevee deur na die bestaan van artikel 235 van die grondwet te verwys. Die opskrif van daardie artikel is “Selfbeskikking”.

Haar persepsie oor AfriForum is geskoei op slegs ’n klein fraksie van die werk wat dié burgerregte-organisasie doen. Daar is al gereeld oor gevalle gerapporteer waar AfriForum hande vat met munisipaliteite om probleme op te los. Waar munisipaliteite rug styfmaak, volg gereeld regsprosesse. ’n Mens kan maar net dink hoeveel gemeenskappe, wit, swart en bruin, sou reeds sonder skoon drinkwater, elektrisiteit, en werkende rioolplase gesit het as AfriForum nie met regsaksies ingespring het nie.

Dit laat die vraag ontstaan of daar inderdaad nog iets soos werklike liberalisme in Suid-Afrika is?

Croucamp lys ’n onafhanklike regbank, vrye media, individuele regte en die vryemark-ekonomie as klassieke liberale waardes. In die moderne era is hierdie waardes egter reeds ook deeglik ingebed in ander waardestelsels soos die Christen-demokrasie, hoewel die punt waar regte teen ander regte opweeg, soos die reg op vryheid van uitdrukking teen ’n ander se reg op waardigheid en sy reg op godsdiensvryheid, nie op dieselfde plek op die ideologiese lyn is nie.

ʼn Goeie voorbeeld oor die vraag of “suiwer” liberalisme nog in Suid-Afrika neerslag vind, is die diskoers oor of die DA nog ’n liberale party is (soos in sy Helen Suzman-dae), en of dit nie reeds sterk beïnvloed is deur elemente van swart nasionalisme en soortgelyk nie? Sommige liberale analiste verwyt ook gereeld die behoudende sleureffek van veral Afrikaanssprekendes in die DA en bepleit openlik hul verwydering uit die party.

Croukamp sluit af: “Indien liberalisme nie vinnig in Suid-Afrika ’n dominante staanplek kry nie, sal ons kinders na mekaar vingers wys oor ’n ashoop van destruktiewe ideologieë, primitiewe gelowe en fascistiese kulture. Dit is tyd dat liberalisme die politieke korrektheid besweer.”

Nie alle koerantlesers het doktorsgrade in die politieke wetenskap nie, en dit is dus verstaanbaar dat dit uit die lesersreaksies en die voortgesette diskoers in die sosiale media baie onsekerhede sou ontlok oor wat Croukamp nou eintlik gesê het. Hierdie ontleder is selfs tot ’n groot mate met onsekerheid geslaan. Wanneer só iets gebeur, maak lesers hul eie gevolgtrekkings.

Liberaal of andersins, haatspraak kan nie geduld word nie, en word deur die grondwet verbied. As “politieke inkorrektheid” ingespan word om haatspraak selektief “aanvaarbaar” te maak, neem dit niks weg daarvan dat polarisasie plaasvind nie. So ’n selektiewe regstoepassing bevorder nie liberale waardes nie, dit bevorder rassisme en rassehaat. En as liberalisme so uitgelê sou word dat die klem te swaar op die reg op vrye menings (en die uitspreek daarvan – hetsy as deel van ʼn opgesweepte skare wat ’n “vryheidslied” met ʼn haatspraak-inhoud, aanhef, of as gesuipte op die pawiljoen wat gekoester in ’n groep rassistiese opmerkings uitbasuin, stuur ons op anargie af.

Dit slaan Van der Westhuizen se argument dat die hofsaak oor “Kill the Boer” die rassepolarisasie aangeblaas het, vir ’n ses. Dit was die sing daarvan wat polarisasie aangeblaas het. En selfs al was Van der Westhuizen reg, is dit nie wat daai skaal van geregtigheid op die afbeelding van justisie uitbeeld nie.

Juis daarom so skokkend dat pres. Jacob Zuma se regspan in vertoë sou aanvoer dat korrupsie ’n Westerse konsep sou wees, en die aanklagte teen hom teruggetrek moet word.

As die land nie na ’n alkantigheid beweeg nie, gaan ʼn vreemde waardestelsel nes skop – een waar rassisme deur rassistiese optredes en wette “bekamp” word, soos “affirmative action” en dit dan nog ironies “regstellende optrede” genoem word.

ʼn Land waar almal gelyk en ongelyk tegelyk is. Dis anargie.

 

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Deon ·

Die bekende Amerikaanse akademikus en konserwatiewe denker Thomas Sowell vra die vraag: hoekom is dit dat die mees liberale van denkers hulself in akademia bevind waar hulle idees nie aan die toets van werklikheid blootgestel hoef te word nie (my vrye vertaling). Al hierdie “meningsvormers” wat dag na dag vanuit akademia hulle perels van wysheid voor ons gooi is van realiteit af verwyder. Net soos die opinies van verloopte Afrikaners soos Max du Preez, Casper de Vries en Elsabe Zietsman van geen of minder waarde word – eintlik irrelevant – in ons daaglikse lewe so raak Croukamp en van der Westhuizen ook irrelevant juis omdat hulle van realiteit verwyder is.

Sowell se voorts “If you have always believed that everyone should play by the same rules and be judged by the same standards, that would have gotten you labeled a radical 60 years ago, a liberal 30 years ago and a racist today.” En so is dit dan ook met die linksverkrampte getjommel wat paradeer as opinie uit die penne van die van der Westhuizens in Suid Afrika. Min verstaan hulle dat ‘n hulle ‘n elite liberale speelgroepie gestig het wat uit hubris voorgee dat hulle, en slegs hulle, die antwoorde het

Liberalisme – selfs die voorgestel deur ou Piet Kopdoek – is deuspek en besoedel met Sosialistiese / Marxistiese denke. Sosialisme was orals so ‘n mislukking dat dit selgs deur akademici geignoreer kan word.

SY de Wet ·

Jesaja_32:5 ” The vile person shall be no more called liberal, nor the churl said to be bountiful. ” Beste in Engels .

Herman Toerien ·

Dankie Deon. Dit sou goed wees as al die reaksies, al stem mens nie altyd saam met die inhoud nie, beredeneerd en deurdag sou kon wees. Dan kan die gesprek vorentoe gevoer word, en inhoud gegee word aan die konsep van vryheid van uitdrukking. Te veel sien ons dat iemand bloot ‘n smerigheid neerpen (en kwaad is as dit weens bv haatspraak verwyder is), of gebaseer op totale onwaarhede, of selfs halwe waarhede.

Herbert Maré ·

Dis duidelik dat Dr. vd Westhuizen in ‘n illusie van ‘n Utopia leef, waar sy in veiligheid mense kan kritiseer wat elke dag met die werklike realiteite van ons dag moet saamleef. Dis ook duidelik dat sy nog nie die realiteite aan haar eie bas gevoel het nie, of langs bedroeftiges op ‘n plaasmoordtoneel ‘n verkragte meisietjie se hand moes vashou terwyl hulle toekyk op hul vermoorde ouers voor hulle nie. Vanuit haar glashuis moet sy liewer nie klippe gooi nie, want sy of een van haar geliefdes (as daar ander behalwe die spieël is) mag dalk net die volgende teiken wees; ek wonder hoe haar kritiek daarna sal uitsien. Die gewraakte skelwoord is veronderstel om jou as vrou te grief, want dis direk op jou gemik, en ja, dit sal elke opregte Afrikaner man grief omdat ons met morele waardes grootgemaak is om ‘n vrou te respekteer (die wat dit verdien, in elkgeval). Dokter, wat jy moontlik nie besef nie, is dat as dit nie vir instansies soos Solidariteit was nie, was die Afrikaner Nasie lankal tot niet. Jy sit in Dingaan se kraal, en die buiteland se oë is gesluit vir die volksmoord wat hom hier afspeel. As jy wyer gelees het, sou jy besef het dat, volgens United Nations beleid, Suid-Afrika lankal reeds in ‘n burgeroorlog betrokke is, dog is daar geen reaksie van die buiteland nie. Solidariteit se voortgesette pogings om ongeregtighede teen die Blanke Nasie teë te staan en haatspraak te probeer verhoed, is dan juis om die buiteland se oë te vestig op dit wat jy so graag onder die maatemmer wil wegsteek. As jy voorts glo dat dit oor grond en grondeise gaan, en glo dat dit geregverdig is of reggestel kan word deur produktiewe plase voetstoots aan geofae uit te deel, het jy boonop die suksessyfer van die regering se vorige pogings misgewerk! Meer as 90% van eens-hoogswinsgewende kommersiële plase wat aan “voorheen-benadeelde gemeenskappe” uitgedeel is, is verwoes, totaal vernietig, waarvan die meeste meer as ‘n dekade sal neem om tot sy vorige glorie te herstel – geen inkomste, geen belastings. Besef jy watter impak dit op voedselsekerheid en die ekonomie in sy geheel het? Wat jy miskien nie mooi verstaan nie, is dat rassehaat instinktief / ingebore / geneties van aard is; Palestina is ‘n klassieke voorbeeld waar Abraham se kinders (Isak by Sarai / Semiete, en Ishmael by slavin Hagar / Arabiere) vir meer as tweeduisend jaar mekaar steeds dag vir dag uitmoor. Doen gerus navorsing oor Jakob en Esau (Edom / Red, wie se bloedlyn deur God vervloek is), en as jy tyd het, kyk ook na die verskil tussen “Sephardic” Jews en “Ashkenaz” Jews, dan sal die prentjie miskien bietjie duideliker begin word . Dan sal jy ook besef dat in Afrika, die pen nooit magtiger sal wees as die swaard nie, want as mense hulle nie kan hou by die woord wat deur die pen geskryf is nie (waaraan meeste akademisie vasklou). Dingaan het Piet Retief (terloops, hy was ‘n Voortrekker) se traktate vir die “verkoop” van sy grond reeds onderteken voordat hulle uitgemoor is! Die saak is dus veel meer ingewikkeld as wat jy voorgee om te verstaan. As jy dus wil klippe gooi, gooi dit na die ANC regering wat te onbevoeg is om buitelandse beleggings te trek en volhoubare werksgeleenthede te skep, want alles hier gaan oor niks anders nie as geld, afguns en verwyt. Word dan eerder deel van die oplossing (gooi jou beuel in Solidariteit se orkes) as om op die kantlyn te sit en hulle te kritiseer wat bereid is om te probeer om ‘die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe’ te laat bly en wat jou boonop veilig hou binne jou glaskasteeltjie! Passenger stel dit so mooi, ‘life is for the living, so, live it, or you’re better of dead’! Die probleem met akademici is, soos my wyse ou Prof dit eens gestel het, dat hulle aanvanklik niks van alles weet, meer van al hoe minder leer, en uiteindelik alles van niks weet nie! Carpe diem!

Manie Maritz ·

Ja die Piet Kroukamp en Max du Preez en altyd die so genaamdes geleerde manne sal altyd onthou word vir hulle liberale propegande. Wat het hulle sinvol by gedra tot vrede en versoening in hierdie land hulle is net soos Juilus Malema regte haatspraakers en opsteekers. Ek luister graag nuus kommetaar op n sondag op RSG en as Piet en Max op is luister ek en beoordeel hulle siening en nog altyd kon hulle my nie beindruk nie. Jammer om te se hulle is n verleentheid vir ons afrikaners en ek sien hulle hulle as mense wat ons as afrikaanse mense nie die son oor ons wil laat skyn nie. Ek wonder of hulle nie hulle vanne kan verander na n ander volksgroep se vanne nie. Hulle is die naam afrikaner nie werd nie , regte hanskakkies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.