Nuuskommentaar: Lieg die media en politici?

Die EFF buite die parlement tydens die 2020 staatsrede. Foto: Maroela Media

Die geskellery in die parlement tydens die debat oor die staatsrede, ’n uitjouery en ’n uitlopery kan grootliks teruggevoer word na oor en weer beskuldigings van die waarheid wat geweld aangedoen word. Daar is selfs ’n aandrang dat van die lede wat skynbaar bietjie rof met die waarheid omgaan beëdigde verklarings moet aflê sodat die waarheid bepaal kan word. Die waarheid is egter nie net ’n woordjie wat aangepas kan word na aanleiding van die kompleksheid van ’n saak nie – dit is ’n noodsaak dat die waarheid as grondslag gebruik moet word sodat die regte staatskapers hul oranje oorpakke se mates moet laat begin neem.

Die noodsaaklikheid van die waarheid

Geskiedskrywers en politieke analiste gaan nog lank besin oor die vraag of pres. Donald Trump die beste president was wat die VSA nog opgelewer het, en of hy ’n liegende frats was – so uiteenlopend is die menings oor hom wat elk deur ’n deel van die media gesteun word.

Hier in Suid-Afrika is daar ’n storm oor uitlatings, perspektiefstelling, die waarheid en opnuut ’n verskoning deur oudpres. FW de Klerk oor apartheid. Het die openbare narratief van veral swart Suid-Afrikaners die land en die wêreld opnuut “gedwing” om ’n weergawe van die waarheid onverdund as die volle waarheid te aanvaar?

Kortom. Gaan ’n narratief wat eerder deur openbare mening as deur die waarheid gevorm is, die grondslag van ons kontemporêre geskiedenis lê?

Die voormalige DA-leier Mmusi Maimane. (Foto: AP/Jerome Delay)

Hoeveel van die warboel wat nog dubbeltjies in die DA-pad laat beland het, is toe te skryf aan Helen Zille se kolonialisme-twiets, en die destydse DA-leier, Mmusi Maimane, se vloermoer-reaksie wat ’n simplistiese siening koester dat kolonialisme sleg en boos was, en waaroor nie ’n positiewe woord oor kolonialisme nie geduld sal word nie?

Lank voor die kwessie van grondgryp sonder vergoeding amptelike ANC-beleid geword het, het Maroela Media reeds daarop gewys dat die probleem van uiteenlopende narratiewe oor grondbesit dringend aandag moet kry aangesien dit ’n sleutel-brandpunt is wat versoening bitter moeilik sal maak. Presies waarteen gewaarsku is, het gebeur. Die een kant se narratief, naamlik dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, is nou die “amptelike” narratief.

Ondersoekende joernalistiek in SA

In Suid-Afrika vorm ondersoekende joernalistiek steeds vasberade die grondslag van die blootlegging van die staatskaping. Die Zondo-kommissie kan skynbaar jare lank besig wees om die kwessie verder te ondersoek en juridies te begrond om vervolgings te fasiliteer. Die sleutelwoord hier is die “waarheid”. Persepsies, narratiewe en politieke korrektheid om die land en sy mense na ’n ongekaapte land terug te lei sal nie deug nie. Slegs ’n onverdunde waarheid sal met die euwel van endemiese korrupsie kan klaarspeel.

Slotsom

In Suid-Afrika is kluitjies bak, of bietjie ruim met die waarheid omgaan, ʼn groot probleem. Selfs meineed word vrylik gepleeg asof dit van ’n kind kom wat ’n wit leuentjie gebruik om ’n pak slae vry te spring. Beskuldigings dat pres. Ramaphosa neig om te lieg word al meer. Die jongste is die EFF se beskuldigings dat hy sy eerste vrou aangerand het.

Word deur die lys van sake voor die mededingingskommissie se tribunaal gewerk, is dit ontstellend hoeveel keer veral een mediahuis se naam voorkom, wat noodwendig tot kommer lei oor die eerbaarheid van die koerante wat deel van die groep se eerbaarheid moet wees. Dit ding goed mee met die geloofwaardigheid van ’n ander groep wat via die Openbare Beleggingskorporasie miljoene rande van die staatsdiensfonds se geld geleen gekry het, en waarvan miljoene rande weer afgeskryf moes word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan Venter ·

Politiek teen wit mense, die ANC noem dit Demokrasie:

Die wit mens kan nie piep oor die onreg wat vandag teen hom gepleeg word nie, SEB, kwotas, noem dit, of hy word deur enkele wittes, maar meestal swart mense daaroor verguis. Kyk na die vlak van en die intensiteit waarop politiek in die algemeen maar spesifiek deur die EFF en die ANC regering teen die wit mense bedryf word, self regslui doen mee in hul uitsprake en dit als in die naam van ‘demokrasie’ wat die ANC oor en oor herhaal sodat die woord soet op die ore val. Als is dan mos grondwetlik reg.

(Cyril Ramaphosa blaas nou en dan vure aan en haak by grondonteiening vas. Oor Lesufi se blatante haat teen ‘Afrikaans’ praat mens nie eens van nie, hy en Julius val in effek in dieselfde kategorie, net die woord ’wit’ is deel van Julius se woordeskat.)

Vervolg …

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Daar word slim van woorde soos SEB en ander, soos ook kwotas, gebruik gemaak om wit mense dmv regulasies uit te sluit. Daarom ignoreer, omseil, of weier hulle (die ANC regering) ook om by enige gesprek waar dit oor minderheidsregte gaan, betrokke te raak.

Waarom? Omdat hulle die woord ‘wit’ of ‘blank’ daarin sien, en al is ons ‘n heterogene volk van vele etniese minderhede in die land, verseg hulle eenvoudig om gehoor te gee, juis omdat hulle die wit mense vir uitsluiting teiken. Hulle koester die verlede en hulle mobiliseer ook daardeur alle swart mense om een oormag te vorm en etniese versplintering te keer.

Hulle span woorde en frases baie slim in (die EFF, Julius en ander is baie keer sommer blatant in hul weersin) om spesifiek wit mense te na te kom of om hul algemene afkeer aan wit mense in die openbaar en in die politiek weer te gee.

Vervolg …

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Demokrasie is ook vir hulle om die onregte uit die verlede reg te stel soos hulle voortdurend op wys en dit regverdig dat wit mense se beweging gemonitor en gereguleer word.

Mense kan gerus ‘n hele lys van hierdie voorbeelde, van wat in dié praktyk gebeur, wat deur regulasies en wetgewing beskryf word en wat deur die ANC regering afgedwing word opstel. Dalk kan die VF Plus dit na die parlement verwys, daar waar hulle baie gevoelig is vir die apartheid van die verlede, daar kan ook aan ‘n manier gedink word hoe dit aan die Algemene Vergadering van die VVO voorgelê kan word, dalk ook om sommer apartheidsresolusie 1761 te hersien, miskien kan van ons burgerlike organisasies hierin behulpsaam wees.

Hier is FW De Klerk se TV onderhoud van 2 Feb 2020 (misdaad teen die mensdom – 22 min. van die begin af):
https://www.youtube.com/watch?v=VBE844vDkx4

Werner ·

Solank die media die terrorisme wat onder die blanke gevoer word op plase dorpe en stede as misdaad af maak mislei en sus hulle die paddas in die pot en is hulle net so skuldig aan die terrorisme

Simon ·

Misken jou land land se (ware, eerlike) geskiedenis dan gaan en sal jy ‘n vervlenterde, donker, rigtinglose toekoms tegemoet gaan.

J ·

Selektiewe moraliteit?

Meer as 5000 Swartmense is tydens die ANC se ‘struggle’ d.m.v. die “neklace” metode tereggestel.

Wanneer gaan ‘n opposisie parlementariër opstaan en al die medepligtiges aan die ‘necklace’ moorde uitwys … vir die hele wêreld om te sien … en dan eis dat die moordenaars die parlement moet verlaat?

Selfde met die ANC se Quatro kamp verkragters, martelaars, bomplanters en landsverraaiers?

Soos hulle met FW de Klerk gedoen het!

Lg. kan dalk die naamlys en inligting verskaf ?

Michael ·

Die media verdraai die waarheid en feite gereeld om polities korrek te wees en dit is n groot jammerte

Sokrates ·

Geradbraakte “opinie”, is nou se dae die stert wat die hond swaai. Hoe meer emosioneel, hoe beter. Feite, besinnende denke, ewewigtige oorweging van teenstrydige gegewens, en genuanseerdheid is by die deur uit. Dit is wêreldwyd n probleem. Ondersoekende joernalistiek moet die knie buig voor hierdie oorverhitte lae vlak van “gepeupel” rumoer. Eendimensionele “waarhede” word verkondig. Verdraaiing en verwringing raak tweede natuur……..Soek maar baie van die redes hiervoor in die siek saad van “wokeness” en identiteitspolitiek en sekere links liberale agendas wat heeltemaal die kat aan die stert beet het. As’t ware die “plot” algaande verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.