Nuuskommentaar: Ligter oomblikke voor begrotingsrede

Sir Frederick de Waal, eerste administrateur van Kaapland, 1910 tot 1925 (Foto via Wikimedia Commons)

Sir Frederick de Waal, eerste administrateur van Kaapland, 1910 tot 1925 (Foto via Wikimedia Commons)

Die algemene gevoel is om swaarmoedig te wag om te sien hoe minister [Nhlanhla] Nene vandag gaan probeer om bloed uit ʼn klip te probeer tap.

Tog is daar histories ligter oomblikke oor hoe te werk gegaan is om weer geld vir noodsaaklikhede uit die staat te kry.

Met die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog moes die skool op Nieuwoudtville, in die Noordweste, weens groeiende getalle haas ’n eie skoolgebou kry, maar die staat se geldkraantjie het droog gebly. Die hoofrede, so is geglo, was nie werklik ’n geldtekort nie, maar die destydse administrateur van Kaapland, sir Frederick de Waal was die skool glad nie goedgesind nie omdat die skoolhoof tydens die Rebellie glo nie die kinders die liedjie Tipperary laat sing het nie.

Die kerk, wat eintlik die dorp gestig en ’n groot invloed daarop uitgeoefen het, stuur toe ʼn afvaardiging na die administrateur. Die twee afgevaardigdes of deputate was AE Erlank en die baie bekende leraar (en later dokter en politikus), dr. WP Steenkamp.

Oor die verloop van die gebeure skryf ds. JMN Breedt later in die kerk se vyftigsteherdenkingsboekie soos volg: “Hy (sir Frederick) het die deputasie só koel en hooghartig ontvang dat dr. Steenkamp hom taamlik hardmondig te lyf gegaan en hom so in ’n verleentheid gehad het, dat hy soos handomkeer verander het…” Die skoolhoof is ook laat weet die kinders hoef nie Tipperary te sing nie.

ʼn Paar jaar later was die skoolgebou te klein, en weer was die staat se hand toe met die nodige aanbouwerk. Weer is ’n “deputasie” na die administrateur wat hulle opnuut hooghartig ontvang het. Een van die deputate het hom toe so “ingeklim” en laat verstaan hulle meen die sir is soos ʼn brandsiek skaap, dat sir Frederick groter duidelikheid wou hê of die mense regtig dink hy is soos ʼn brandsiek skaap.

By bevestiging is die geldjies vir aanbouing goedgekeur. Volgens die jubileemboekie het die sir darem nie kans gesien om vir ’n brandsiek skaap aangesien te word nie.

Later, aldus ’n rubriek van Johan van Wyk in Volksblad, het dr. Steenkamp politikus geword. In ’n see van Natte was hy egter ʼn SAP-LV. Sy belofte was dat hy sou toesien dat daar ’n groot dam in die berge gebou sou word wat dele van die Knersvlakte onder besproeiing sou sit. Die dam is tot vandag toe nie gebou nie.

Dit was ook die laaste sien van Steenkamp in die geweste, tot die volgende algemene verkiesing sou plaasvind. By sy eerste verkiesingsvergadering tuis is die eerste vraag ook sommer wat van die beloofde dam geword het. Steenkamp verduidelik hy het so hard werk van die saak gemaak dat die dam so te sê klaar aan’t boue was, toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek. Hy sit toe dadelik af na die minister om te gaan pleit dat die dam tog nié gebou word nie. So verduidelik hy aan die kiesers dit was eintlik in hul belang, want hy was bang die Duitsers kom en bombardeer die dam, en dan versuie al die goeie mense op die Knersvlakte tot by Hondeklipbaai aan die see.

Volgens Van Wyk het die dak behoorlik gelig soos Steenkamp vir hierdie stukkie briljante dinkwerk toegejuig is.

’n Predikant van een van die susterkerke moes ’n groot plattelandse gebied met huisbesoek bedien, en daarom was die aankoop van ’n rybare ding deel van sy traktement. Toe die motor egter sat gery is, was die kerkraad se hande erg toe vir die aanskaf van ’n nuwe ryding. Een Sondagmôre op pad kerk toe, gaan staan die motor met die dominee. Gelukkig kom die plaaslike pastoor daar verbygery, en bied hom ’n rygeleentheid aan. Die pastoor laai hom buite sig van die kerk af dat die dominee nie in die verleentheid gestel word by sy eie mense dat hy by die pastoor ’n rygeleentheid gekry het nie.

’n Paar vroeë kerkraadslede sien die dominee egter te voet aangestap kom, en wil toe weet hoekom. Die dominee wil nog eers ’n kluitjie bak, maar besef toe die waarheid kan dalk werk. “Die motor het gaan staan en die pastoor het my ’n geleentheid tot hier naby gegee.”

Vir ʼn klomp van die eerwaarde Kerkraad se lede was dit te erg. Daar is destyds nog dikwels op die pastoor en sy mense neergesien. Na die kerkdiens was daar ’n nood-kerkraadsvergadering, wat sommer gou afgehandel is. Na afloop daarvan is die dominee ingelig dat hy die Maandag vir hom ’n nuwe vuurwa kan gaan aanskaf.

Oudpres. PW Botha het dikwels voor ’n toespraak gesê sy vrou sê ’n goeie toespraak is soos ʼn minirok; dit moet kort genoeg wees om interessant te wees, maar lank genoeg om die onderwerp te dek. Teen wil en dank moet ’n begroting (nie noodwendig die begrotingsrede nie) ook soos ’n minirok wees. Die reël geld altyd dat daar ’n skaarste aan geld is, maar ’n oorvloed van behoeftes wat aangespreek moet word. Die kuns is om al die behoeftes deur die korste moontlike minirokkie bedek te kry.

Dit beteken noodwendig dat geld wat nie deur die Inkomstediens ingevorder word nie, of geld wat gesteel of op luukshede of onwerkbare ideologieë uitgemors word, leemtes laat waar dit werklik nodig is. Kinderhuise staan bakhand, hospitale kan nie broodnoodsaaklike toerusting aankoop nie, of het nie geld om die noodkragopwekkers heel te maak nie, onderwysers wat wel aangestel word, kry dikwels nie salarisse nie – daar word erg voete gesleep tot die nuwe boekjaar aanbreek. Die staat is al verskeie kere hof toe gesleep, onder meer oor die versuim om die toelaes aan welsynsinstansies te betaal. Dié sake word dikwels deur minagting van die hof-sake gevolg.

Om ’n agbare ’n brandsiek skaap te noem, werk klaarblyklik nie meer nie. Om die agbare ʼn kokkerot te noem, kan weer ander moeilikheid afgee.

Hierdie skynbare swak beheer oor die spandering van fondse lei tot allerlei gerugte. Volgens hardnekkige gerugte bly die Vrystaatse gesondheidsdepartement finansieel noustrop trek omdat glo van departemente verwag is om vanuit hul begrotings bydraes vir die ANC se Mangaung-kongres in Bloemfontein te maak.

Van Nene gaan nie net Salomo se wysheid geverg word nie, maar dat hy murg in sy pype sal hê om toe te sien dat die maatreëls teen wanaanwending wat hy aankondig, nie maar net woorde bly nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae