Nuuskommentaar: Links, regs, links, r….?

Shinzo Abe, Japanse premier en leier van die Liberale Demokratiese Party (22 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Verkiesingsuitslae in verskeie lande bevestig skynbaar ’n swaai na regs. Maar is dit ’n vaste verskynsel of deel van die pendulum se periodieke swaai van links na regs, en dan weer omgekeerd?

Die indruk word soms gewek dat “geharde” liberaliste eenvoudig aanvaar dat die wêreld, namate dit beskawingsgewys vorder, ook onherroeplik in ’n meer liberale koers beweeg. Heeltemal sonder meriete is dit nie, soos blyk uit wat nou as gangbaar beskou word vergeleke met die feodale tyd, of die Donker Eeue.

Tog, as na die afgelope aantal dekades gekyk word, blyk dit nie so ’n reguit lyn te wees nie. Wie sou byvoorbeeld in die permissiewe era van Joop den Uyl kon dink dat Nederland in 2017 ’n regering sou kry wat twee partye insluit wat op ’n Christelike herkoms dui – die Christen-Demokratiese Appèl (CDA), en die Christen-Unie (CU). Die CDA is nou wel meer van ’n volksparty as Christenparty, maar oor waar die CU se wortels lê, kan daar nie twyfel wees nie.

In naburige Duitsland het Angela Merkel se CDU wel die kreeftegang gegaan, maar meer weens ’n groei na regs. Oostenryk het weer ’n regse swaai gemaak. Ook ander.

Pas het premier Shinzo Abe van Japan se blok ’n oortuigende oorwinning behaal (ondanks ’n rits skandale), en word veranderings aan die grondwet in die vooruitsig gestel. Abe word as regskonserwatief beskryf.

Voeg hierby Trump en Brexit, en sake lyk op die oog af na ’n swaai na regs, met uitsonderings soos Kanada.

Dit is geen poging dié om ’n volledige wêreldbeeld te verskaf nie.

Duidelike, reguit lyne kan nie altyd getrek word nie. So is minderheidsregte en veral selfbeskikking in Europa nie noodwendig ’n regse manifestasie nie. Die Skotse Onafhanklikheidsparty is byvoorbeeld sterk sosialisties en ideologies taamlik na-aan die Arbeidersparty. Steun vir die erkenning van die Armeense volksmoord ’n eeu gelede aan die hand van die Turke is dikwels deur linkse en sosialistiese partye gedryf, en in Frankryk byvoorbeeld skerp deur regse partye teengestaan. Een van die grootse figure in die ontwikkeling van minderheidsregte, nie net in Europa nie maar ook elders ter wêreld, was Joop den Uyl se regterhand, Max van der Stoel.

In België is die ontwikkeling van die land in ’n etniese federasie wel grootliks vanuit regse kringe gedryf.

In verskeie lande het die opkoms van regse of konserwatiewe partye min of meer saamgeval met die agteruitgang van sosialistiese, of sosiaal-demokratiese partye. Vir baie Europeërs is die ondersteuning van sosialisme min of meer gelykstaande aan omgee vir die armes. Met die lank uitgerekte samestelling van die Belgiese federale regering was die uitsluiting van die sosialiste ’n teer punt, veral in Wallonië, “omdat daar nie vir die armes omgegee word nie”.

Tot watter mate Europa se Nazi-verlede steeds die opkoms van partye wat selfs net na ’n sweempie van nazisme ruik, of doeltreffend deur teenstanders omgehang word, steeds die groei van hierdie partye inhibeer, is ’n debat op sy eie.

Een van die hoofoorsake vir Abe se goeie vertoning in Japan is die situasie in Noord-Korea. Japan is grootliks gebind deur ’n grondwet wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur die Amerikaners op hom afgedwing is, en wat onder meer bepaal dat Japan nie oor ’n weermag met buitelandse vermoëns mag beskik nie. Dié beperking tot ’n selfverdedigingsmag is mettertyd geërodeer en Japan beskik byvoorbeeld nou oor ’n vliegdekskip en ander wapentuig wat maklik in buitelandse offensiewe gebruik kan word, maar op ver te beperkte skaal om dit sinvol te kan inspan.

Abe wil die grondwet nou wysig om ’n behoorlike weermag met slaankrag te ontwikkel wat ook die Noord-Koreane twee keer sal laat dink. Japan het juis nou dié verleentheid beleef: Ondanks beloftes om Noord-Koreaanse missiele neer te skiet wat oor sy grondgebied sou vlieg, het Noord-Korea juis missiele sonder om afgeskiet te word oor Japan laat trek.

Die bevolking gaan egter nou eers voorberei word voor daar referendum gehou word.

Terwyl dit interessant en goed is om wêreldtendense te ontleed, bly dit ook nodig om streekfaktore (soos die toeloop van vlugtelinge) en individuele faktore (soos Katalonië en Spanje) deeglik onder die loep te neem voor sommetjies gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kat ·

Ja ek hoop die libs neem kennis. Hulle gaan nerens heen kan hardloop nie . Hulle gaan ‘n nasie op hulle eie wees – sonder ‘n land. Veral die media in S A wat so teen die blanke gedraai is.

Johan Oosthuizen ·

Ja, links of regs bly ‘n relatiewe begrip. Ek is tans op besoek in Nederland en het ook ‘n draai in Engeland gaan maak. Die media gooi met alles wat hulle het wal teen alles wat “regs” is. Ek kry die indruk dat wat die media en die man op straat sê, hemelsbreed van mekaar verskil. Dit lyk vir my of daar op voetsoolvlak ‘n snel groeiende gevoel van Nasionalisme is. Oor die koffiekoppies word driftig gepraat. “Wij zijn nu minderheid in eige land. Dat kan toch niet! Dit bly interessant om dop te hou wat aan die gebeur is en waarheen dit gaan lei.
Baie dankie skerp waarneming en weldeurdagte gevolgtrekkings, Herman.

T. van Schalkwyk ·

Stem saam, puik nuuskommentaar soos altyd deur Herman Toerien!

So gepraat van Nasionalisme …
In die “Sydney Morning Herald” is ‘n artikel getiteld: “Locals move out as new arrivals target Sydney”.
Hoe dan so? Multikulturalisme en diversiteit word tog as die alfa en omega voorgehou.
Of dalk net totdat dit jóú buurt betrek.

Nico K ·

Links en regs is moeilik definiëerbare begrippe. En as ons begin praat van Links = sleg en Regs = goed, dan word alles relatief. In Brittanje word die Liberale Party as links beskou en die Konserwatiewe as regs. Maar tydens die Anglo Boere oorlog was dit die Liberale Party wat aan die Boere se kant was en die Konserwatiewes wat ons vyand was. Ek aanvaar iemand soos kat hierbo wat “libs” as ‘n etiket gebruik besef hy sou tydens die AB oorlog teen die Boere gewees het.

Johan Oosthuizen ·

Van Multikulturalisme gepraat. Dit is tans ‘n gonswoord hier in Nederland en dit maak baie warm onder die boordjie veral omdat Nasionaliste ‘n Nazi-bordjie om die nek gehang word. Ek het hier voor my met ‘n uitgawe van Cultuur onder Vuur genaamd “De mislukking van het Multiculturalisme – Achtien vragen en antwoorden over massa-immigratie.” Die slotparagraaf sê ondermeer; “Nederland bevind zich op een kruispunt. Laten we onze kultuur verder oplossen in het giftige zuur van multikulturalisme?” Die skrywer borduur dan voort, m.b.t. “Vandalen, Goten en andere volken die flink bijdroeg aan de val van het Romeinse Ryk.” Baie interessante leesstof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.