Nuuskommentaar: Links, regs, links regs… vir Afrikaans

Studente van die NWU hou op 24 Julie 2014 'n optog by die Puk-kampus in Potchefstroom Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Studente van die NWU hou op 24 Julie 2014 ‘n optog by die Puk-kampus in Potchefstroom Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Die Hoër Onderwys Transformasienetwerk (HETN) het die Puk-studente wat gister ‘n optog gehou het om aan te dring op hul grondwetlike reg vir onderrig in Afrikaans, “regs” genoem. Die vakbond Solidariteit het sy steun aan die studente toegesê, terwyl die HETN Solidariteit, AfriForum en die AWB ook as regs beskryf het.

In ‘n verklaring wat die dag voor die optog uitgereik is, skryf die HETN onder meer soos volg:

“The Higher Education Transformation Network (HETN) acting on behalf of its alumni members, hereby condemns the planned march tomorrow by rightwing students against the findings of the Wessels Task team Report at the NWU Potchefstroom campus. On the surface the memorandum seems to be an effort by rightwing students to stand up for themselves, but for anybody who knows NWU Potchefstroom dynamics, it is clear that the initiative is driven by NWU management who have their backs against the wall after the Wessels Task Team report came to light. The Wessels report is never mentioned in the memorandum, but there can be little doubt that the current student mobilization is a desperate effort to buffer any possible negative outcome of the damning findings.”

Dit beteken, soos dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit uitwys, dat die Suid-Afrikaanse grondwet regs is.

Dit is ‘n ou laai om iemand anders bloot as “regs” of selfs ‘n rassis af te maak as die argument verloor is.

Dit beteken in effek ook dat die transformasie wat die HETN bedryf, ongrondwetlik is. Hoe anders moet ‘n mens dit dan vertolk as diegene wat op moedertaalonderrig tot op universiteitsvlak aandring, dit wat hulle vra of opeis woord vir woord uit die grondwet en die internasionale reg haal? En hoeveel keer gaan die Afrikaanssprekendes nog moet aanhoor dat hulle die grondwet “misbruik” om klein bastions van apartheid te skep – terwyl meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes bruin is? Daai storie is al net so holrug gery soos ‘n grammofoonplaat wat al só deurgespeel is dat ‘n mens hom kan omdraai en dieselfde musieksnitte sommer van die anderkant af kan speel.

In die betrokke verklaring bly die HETN ook nie uit hiermee nie:

“It is obvious that the students’ demand that Potchefstroom remains an Afrikaans campus is made without awareness of how a predominant Afrikaans culture has served to exclude students from other races and cultures on the Potchefstroom campus. The memorandum is silent about the shocking reality that a country where only 40% of the Afrikaans speakers are white would allow a state sponsored Afrikaans university to provide education on a campus that remains almost exclusively white.”

Prof. Hans du Plessies skryf in ‘n rubriek in Beeld vandag, waarin hy vir die behoud van ’n Afrikaanse universiteit pleit, onder meer soos volg: “Ek is nie meer eintlik baie lus vir ’n taalgesprek in Suid-Afrika waarin die woord Afrikaans skaars oor jou lippe is of jy word as rassis gemerk nie. Praat oor Afrikaans en die gesprek word vervlak tot rassisme as die kern van die onderwerp. Lees gerus maar weer die uitsprake oor ’n Afrikaanse universiteit in die media.”

Die HETN se uitsprake, en verskeie onlangse uitsprake van rektore oor die kwessie geskied op ‘n vlak wat nie op akademiese eerlikheid dui nie, en nog minder op uitnemendheid. Politieke kruiperigheid verdien immers nie respek nie.

Maar is die konsepte van “regs” en “links” nie ook besig om uitgedien te raak nie?

Hierdie konsepte is inderdaad argaïese reste van ‘n era wat lank reeds begrawe moes wees. Nederlandse intellektuele het reeds ‘n aantal jare gelede tot die gevolgtrekking gekom die politieke spektrum kan nie soos ‘n reguit lyn uitgebeeld word wat van links na regs loop nie. Dit is eerder soos ‘n groep sirkels wat met mekaar oorvleuel.

Dit kom daarop neer dat partye nie net oor een saak ‘n beleid het nie. Dit het ‘n gesondheidsbeleid, ‘n ekonomiese beleid, landboubeleid, immigrasiebeleid, buitelandse beleid en vele meer. ‘n Party wat algemeen as “regs” beskou word, kan dus heel moontlik beleidsrigtings oor sekere sake hê wat heeltemal links is as dié van ‘n party wat as “links” beskou word.

Hierdie model, so geldig soos dit mag wees, is gou onder stof geloop deur ‘n kieserspubliek, selfs in Europa, wat ‘n eenvoudige prentjie wil sien. Dit is baie aangehelp deur die opkoms van die party van Geert Wilders en soortgelykes in Europa, wat in enige taal regs is, en byvoorbeeld die Groen Linkses wat maar noustrop sal trek om iewers ‘n regserige beleidsrigting te verpak.

Dus is die wêreld maar weer terug by links en regs, hoe onnatuurlik die konsepte ook al is, en allermins deel van die taal van akademici behoort uit te maak. Akapolidemici is natuurlik ‘n ander saak. Van hulle verwag ‘n mens ‘n kruiperigheid, ‘n naïwiteit of ivoortoring-houding. Dit deug nie vir die praktyk nie. Hulle hoort nie in ‘n demokrasie nie, maar eerder is die soort politieke bestel waar politieke kommissarisse deur die regerende party in allerlei instellings ontplooi word om die politieke party se beleid, eerder as die grondwet, te implementeer.

En grondwetlike bepalings en beleid is nie noodwendig dieselfde nie. Tydens ‘n onlangse internasionale kongres oor die inheemse bevolking van die Amasone, met die titel, Awá, on the brink of extinction, het een van die sprekers daarop gewys dat die Brasiliaanse grondwet wel voorsiening maak vir die beskerming van die regte en belange van inheemse volke. By die parlementêre politici is daar egter geen erg hieroor nie. Die gevolg is dat talle groepe, waaronder die Awá, se voortbestaan erg bedreig word.

Die bisarre aard van die aanslag teen Afrikaans veroorsaak dat daar nie werklik die luukse van tweedrag is nie, maar dit is ongelukkig ‘n gegewe. Juis omdat die aanslag van sommige Afrikaanse organisasies te “links” en ander te “regs” is.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns saam met die Afrikaanse Taalraad op dieselfde dag as die optog, ‘n beraad oor Afrikaans op universiteitsvlak gehou het, het die ATKV positiewe terugvoer oor sy gesprek met die SAUK oor die kleiner voetspoor van Afrikaanse TV-nuus gegee.

Terwyl akademici oor ‘n wye front by die beraad oor die haalbaarheid van Afrikaans as onderrigmedium op universiteitsvlak saamgestem het, is die indruk ongelukkig gewek dat die ATKV in sy gesprekvoering met die SAUK met te min tevrede was. Dit sluit onder meer in dat Afrikaanssprekendes in groot hoofsaaklik Afrikaanse dele van die land tot in 2015 nie Afrikaanse TV-nuus sal kan kyk nie. Dit klink nie of die SAUK se optrede met die grondwet versoenbaar is nie.

Hoe is dit moontlik dat soveel mense die bepalings van die grondwet so verskillend kan lees? Linkse of regse politieke oogklappe? Moedswilligheid? Of is dit dalk soos dr. Theuns Eloff tydens die Akademie-beraad opgemerk het: hy dink nie die minister, dr. Blade Nzimande, het al “daardie deel” van die grondwet wat taalregte waarborg, gelees nie.

Wat egter duidelik is, is dat Afrikaans gaan bly noustrop trek tensy die “ander kant” van die betrokkenes se edel motiewe oortuig word. In dié stadium lyk dit egter of so ‘n oortuiging dwars staan in die pad van ‘n politieke agenda, en dat dit maar moeilik sal gaan. Vasstaan, opneem van regte, en dalk selfs hofsake is die alternatief. Want sonder hofsake kan selfs private inisiatiewe soos Akademia onder skoot geplaas word.

Wat wel duidelik is, is dat “links” en “regs” deur onlangse gebeure in hul gemaksones uitgedaag is en hard moes besin oor of hulle op die regte pad is. Selfs die media is oor die wyse waarop verslag gelewer en skynbaar kant gekies is, onder druk geplaas. Met die opkoms van burgerlike strukture – ‘n integrale deel van grondwetlike demokrasieë, word die vlakke van verantwoordbaarheid teenoor die grondwet en internasionale konvensies van beste praktyke skerp verhoog.

En die ironie ontgaan ook nie dat diegene wat die skerpste kritiek teen die grondwet het, nou ten minste ten opsigte van sekere sake die grootste kampvegters daarvoor word. Diegene wat tydig en ontydig die grondwet besing, is nou juis hulle wat aspekte daarvan vertrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.