Nuuskommentaar: Lojaliteit aan Suid-Afrika maar nie die regering?

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Is dislojaliteit teenoor pres. Jacob Zuma dieselfde as dislojaliteit teenoor die land, of kan burgers selfs aandring op sy ontslag? Wie tree uiteindelik as die mees lojale teenoor die land op?

Die eerste kop in die Zuma-sage, ’n senior ouditeur, het pas gerol, en dit lyk al hoe meer of die kwessie nou op ’n spits gedryf kan word. Maar is dit reg dat pres. Jacob Zuma, wat ten diepste verdag is, en ook op ’n wye reeks fronte verbrou, nog op ’n soort wetlike mandaat kan aandring om president van die land te bly soos om te eis dat die stemming van die mosie van wantroue teen hom “oop” moet wees?

En kan van die bevolking in geheel verwag word om lojaal aan Zuma en sy kornuite te wees, terwyl baie mense voel daar is nie ’n manier waarop Zuma hulle as president kan verteenwoordig nie? Hy maak dan van wit mense vreemdelinge in hul eie land, ingekleur met allerlei rassistiese retoriek.

En kom eise op Zuma se afdanking neer op dislojaliteit teenoor die land? Niemand het immers ingestem om sonder hul medewete na Guptopiastan te verhuis en lojaal teenoor die nuwe bestuur te bly nie.

Die verantwoordelike antwoord moet effe wyd gaan haal word.

Die VSA vier vandag sy onafhanklikheidsdag. Altesaam 49% Amerikaners glo die VSA bied aan almal vryheid (liberty) en geregtigheid aan almal.

Dit is miskien nie ’n baie betroubare barometer om te bepaal of Amerikaners baie lojaal aan hul land is nie, maar gee nietemin ’n aanduiding, veral as dit saamgelees word met ander opnames, soos een in 2014 wat daarop gedui het dat 86% van die volwasse Amerikaners trots daarop is om Amerikaners te wees. Daar is wel krakies, soos dat baie Amerikaners bedenkinge het oor die land se toekomstige rol as wêreldmag.

Wat interessant is, is dat Amerikaners se lojaliteit teenoor hul land los staan van hul steun vir hul president. Volgens die jongste Rasmussenopname is net 44% van die Amerikaners tevrede met pres. Donald Trump se vertoning in die Wit Huis, terwyl 56% meen hy maak droog. Altesaam 46% van die kiesers is erg ontevrede met Trump se presidentskap.

Hoe sou Suid-Afrikaners die posisie in hul eie land ervaar? Het Suid-Afrikaners die vermoë om hul landslojaliteit te skei van byvoorbeeld hoe hulle oor die regeervermoë van die ANC (of die Guptas) voel? Daar was immers al verskeie geleenthede waar woordvoerders van die ANC mense wat die ANC-regering kritiseer, van dislojaliteit teenoor die land beskuldig. Ook AfriForum is by geleentheid so gekritiseer, terwyl dit eintlik ’n geval is van kritiek juis omdat ’n mens lojaal teenoor die land is, en nie wil hê die regering moet die land skade berokken nie.

Of anders gestel, kritiek op pres. Jacob Zuma om te probeer keer dat die land as Guptopiastan gekaap word, dui immers op lojaliteit teenoor die land.

Opnames dui ook dat Amerikaners baie lojaal teenoor die vlag en volkslied is.

Heel dikwels “red” sport Suid-Afrika van ’n verdeelde lojaliteit teenoor die land. Suid-Afrikaanse vlae word in die pawiljoene gewaai.

Die volkslied bly omstrede, met beduidende groepe wat nie meer die Afrikaanse gedeelte van die Volkslied in wil hê nie. Die koor wat moes voortgaan met die volkslied tydens die huidige ANC-konferensie het byvoorbeeld net die Nkosi-gedeelte gesing. Hoewel dit nie die goedkeuring van die leiers weggedra het nie, is dit deur ’n groot deel van die teenwoordiges toegejuig.

Die “probleem” is dat die volkslied, soos dit nou volgens die Grondwet saamgestel is, deel van die kompromis-voortvloeisels van die Nasionale Vredesverdrag was. Wie nou die Afrikaanse gedeelte wil uit hê, skop die skikking in die tande.

Wie is nou dislojaal teenoor die land? Wie kan Afrikaanssprekendes dan verkwalik as hulle in groot getalle en entoesiasties die ou volkslied aanhef?

Maar is dit heeltemal so eenvoudig om die land/staat vir lojaliteitsdoeleindes te skei van sy regering, byna soos dat ’n mens hartstogtelik lief vir ’n familieplaas, maar baie wrokkig teenoor die huidige eienaars kan wees? ’n Staat word immers gedefinieer as ’n onafhanklike grondgebied met ’n regering en ’n bevolking waaroor die regering soewereiniteit het. Volgens hierdie definisie lyk dit of die vereistes vir lojaliteit as ’n onverdeelbare pakket kom.

Dit is egter nie so eenvoudig nie. ’n Regering word op sy beurt gedefinieer as al die partye wat in die parlement verteenwoordig is, die staatsdiens en die regbank. In Suid-Afrika geld die oppergesag van die reg boonop, asook ’n skeiding van magte. Minderheidsregte moet soos individuele regte erken en onderhou word. Demokrasie is dus nie bloot die produk van die meerderheidswil nie. Dít staan as tirannie van die meerderheid bekend. Uit verskeie uitsprake is dit duidelik dat Zuma dit glad nie verstaan nie.

Die demokrasie maak voorsiening vir verskeie “aanhangsels” soos ’n vrye media, asook die rol van burgerlike organisasies soos die Solidariteit Beweging en Outa. Verskeie stigtings, soos die Nelson Mandela- en Ahmed Kathrada-stigting begin al hoe meer soos burgerlike instellings optree wat ontevrede met die regering is, en veranderings teweeg wil bring.

Die gemeenskaplike opvatting, al word dit nie pertinent so uitgespel nie, is dat ten minste Zuma die sosiale kontrak tussen regering en burger verbreek het, en dat die aandrang om sy voortydige trekpas legitiem is.

By geleentheid het die ANC gekla dat die baie kritiek op die regering die indruk aan buitelanders wek dat die land deur hansworse regeer word.

Maar is die werklikheid nie eerder dat Zuma en sy kornuite so optree, en uitlatings maak, dat hulle self vir hul beeld as hansworse verantwoordelik is nie?

Met die groot hoeveelheid verbrekings van die Grondwet, soos ook deur die konstitusionele hof uitgewys, het Zuma se regering nie sy legitimiteit as regerende party verbeur nie? Of dan ten minste Zuma as “legitieme president” waar parlementariërs onder groot druk geplaas word om hul gewete met die mosie van wantroue teen Zuma te versaak?

Die EFF is baie demonstratief dat dié party Zuma nie meer as legitieme president aanvaar nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leendert ·

En as die land toevertrou is aan ‘n President en ‘n Regering wat dislojaal is teen die land? Eintlik is dislojaal, is so ‘n geval, sommer baie sagkens gestel, ‘n mooi woord, hulle het nie net die land en die mense se verwagtinge versaak nie, maar dan versprei hulle nog disinformasie en is in baie gevalle verantwoordelik vir fopnuus.

O’ja en dan parisiteer hulle en die korrupte kaders saam die Guptas op die land.

Sw ·

Natuurlik moet lojaliteite geskei word. Wanneer ñ president ñ land tot in die afgrond heers, is dit die burgerlikes se plig dat hy van sy pos onthef word.
SA’ners het gelukkig nog ñ morele kompas en waardes iewers onder die rommel, en dit moet ons ten alle koste behou en voor opstaan.

John ·

Die probleem le dalk eerder in die breinspoel tot ‘n gruwelike etiek van boelie, terroriseer, rewolusionere vergrype en skone verontskuldiging… a la die koek-koek-voels wat vere voel vir hul mede-slawe en die’ se nageslag. Ons howe is ons laaste skansmuur en as dit telkens uit vrees vir eie verlies ook maar die koek-koek as baas van die nes sou aanvaar en verklaar, is dit ‘tickets’ met ons en dan sit die ‘oom’ vir ewig op die troon soos Oupa M, wat hy duidelik al meer en meer beoog, want om op Nkandla se stoep in die son te bak en die boerbokke (hoe gril ek nou) dop te hou wat die dahlias verslind, is mos nie ‘n vlytige hoogskop gum-booter se eintlike taak nie.

johnny_walker ·

Daar was in die afgelope twee jaar meer geweldadige protes optredes in die land as in die voorlopige 40 jaar saam , wat sê dit vir jou , daar was nog nooit soveel werklose mense nie , die staat se korrupsie vlak word net ge-ewenaar deur sy onbevoegdheid in alle departemente. Die blanke bevolking is nou die helfte van wat hulle was in 1995 , en is vandag die swaarste belaste volk in die geskiedenis van die wereld buiten slawe.
Daar is meer bekende kriminele in die staatsdiens as buite die staatsdiens !

Amelia ·

As ek geen rede vir respek het nie, hoe moet n mens die sg president respekteer. Hoe moet n mens die regering enige respek betoon as hul net jou geld gebruik vir eie gewin. Ek is jammer maar dai man moet waai. En ou Malema en hy moet mekaar maar in hul eie staat Nkandla gaan geselskap hou.

Andre Traut ·

Ek dink nie dis dieselfde nie. Ek is lojaal teenoor my land, maar nie teen die idioot wat tans in beheer staan van my land nie. Ek sal eerste my handtekening sit op enige dokument om van hom ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.