Nuuskommentaar: Loop Manyi se spook weer?

Terwyl ‘n ligte storm steeds woed oor die staat se motiewe vir die sensusvraag oor mense se ras berig die FW de Klerkstigting dat bruin mense in die Wes-Kaap die stigting om hulp genader het omdat die Departement van Korrektiewe Dienste ‘n nasionale raskwotastelsel op dié provinsie van toepassing maak. Die implikasie is kortom: Bruin werknemers in die provinsie moet van 39 persent tot 9 persent verminder word.

Sou die kommentaar op sosiale netwerke enigsins ‘n algemene gesindheid verteenwoordig, is die huidige sensus in die moeilikheid. Die negatiewe kommentaar het heelwat karaktertrekke van ‘n veldtog wat teen die sensus gevoer word – baie van die argumente – eintlik valse argumente – is dieselfde, die kommentaar weerspreek die feite in die berigte waarop gereageer word wat die indruk skep dat die berigte self nie eens gelees is nie, en die negatiewe kommentaar slaan selfs uit op webwerwe wat gewoonlik nie kommentaar ontlok nie.

Dit is duidelik dat die ANC se optrede in die Malema-haatspraakverhoor ‘n diep rassekloof in die samelewing geslaan het. Toegegee, die staat se kommunikasie-aksie oor die sensus was ook power verby. Die bietjie boodskap wat wel uitgaan, het te laat gekom, is te simplisties en spreek nie die vrese aan nie. Die gevolg was dat burgerlike instellings met meer geloofwaardigheid in die gemeenskappe wat beswaard is, die staat se werk hieroor moes begin doen. Maar sulke instellings wil nie graag hul nekke van geloofwaardigheid uitsteek, en dan deur die staat in die rug gesteek word nie.

Die rasvraag op die sensusvorms sal gelaai bly solank die staat ‘n ideologiese beheptheid met ras het – nie om iets reg te stel nie, maar om mense van ‘n sekere ras te “affirm.” Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar “affirmative action” toegepas word om die regerende meerderheid te bevoordeel, en ‘n statutêre kwotastelsel daarvoor ingespan word.

Dit beteken sommer van die vertrekpunt af dat die natuurlike ekonomiese kragte versteur word – die individue met die talente en vaardighede wat as brandstof vir ekonomiese groei dien, word beperk en vervang met mense wat nie die vaardighede het nie, of nog nie het nie, en ‘n uitkringeffek veroorsaak wat in groeiende werkloosheid manifesteer.
Anders as wat algemeen aanvaar word, skryf die grondwet nie affirmative action voor nie. Dit skryf wel maatreëls voor om die impak van diskriminerende maatreëls van die verlede reg te stel. Twintig jaar na die laaste apartheidswet, ironies die wet op bevolkingsregistrasie, geskrap is, sit die benadeelde skoen al tot ‘n groot mate aan die ander rasvat, maar dié feit word geïgnoreer. Staatsregkenners verkies dus om in Engels na “corrective action” te verwys omdat dit iets regmaak wat verkeerd was, anders as “affirmative action” wat op die blatante voortrekkery van ‘n ras dui en wat elemente van nepotisme bevat. ‘n Noodwendige implikasie van “affirmative action” is dat die remme nie aangedraai word wanneer kwotas behaal is nie, en die voorkeurbeleid behou word selfs wanneer die ras wat bevoordeel word meer as 90 % van die personeel uitmaak soos by talle munisipaliteite, die provinsiale wetgewers en ander instellings.

Die FW de Klerkstigting meen die DKD se beleid is ongrondwetlik omdat dit op duidelik onregverdige diskriminasie ingevolge artikel 9 (3) van die grondwet neerkom, en ook onwettig omdat dit strydig is met artikel 42 (a) (i) van die Wet op Gelyke Indiensneming wat bepaal dat die raskwotas die demografiese ekonomiese aktiewe deel van die nasionale en streek se bevolking moet verteenwoordig.

Daar is ander redes waarom die streekkarakter neerslag moet vind, naamlik om inhoud te gee aan die taalbepalings van die grondwet. Elke provinsie het uit die elf amptelike tale ‘n paar as amptelike tale vir die betrokke provinsies aangewys, en die Likkewane se beleid beteken in wese dat die bevolking van provinsies kort voor lank grootliks nie in hul eie amptelike tale bedien sal kan word nie.

Die tydberekening dui ook daarop dat die linkerhand in die staat nie weet wat die linkerhand doen nie. Die regeringswoordvoerder. Jimmy Manyi se opmerkings oor die bruin en Indiërbevolkings het ‘n storm veroorsaak en in alle waarskynlikheid veral bruin stemme van die ANC vervreem. Lapwerk was bitter moeilik.

Nou loop die spook weer. Nou gaan die ras-vraag op die sensusvorm selfs nog meer soos ‘n seer duim uitsteek. Hoe die arme sensus-publisiteitsarm hierdie taai toffie gaan oorkom, is onduidelik, want dié keer gaan min burgerlike instellings met ‘n sin vir geregtigheid en wat oor ‘n beeld van geloofwaardigheid begaan is, die sensusmense tot hulp kom. Dis nie die sensusmense se skuld nie – hulle het nie hulself in die leierskap van die sensus aangestel nie, en om ‘n sukses van ‘n sensus te maak ten spyte van die regering, in plaas van danksy die regering, is ‘n onbillike taak.

Die regering se optrede ontbloot sy aanspraak op nie-rassigheid as ‘n mite, en dit, ironies, maak dit nog noodsaakliker dat mense hul beginselbesware moet oorkom en hul ras aandui – die weglating hiervan sal noodwendig beteken dat die regering nog meer skietgoed vir rassediskriminasie sal hê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

Herman ~

Jy formuleer oortuigend as jy aantoon hoe rassisties eerder as meritokraties die huidige heersers ons land bestuur.  Jou volgende sin ontbloot die kernprobleem: 
 
“Dit beteken sommer van die vertrekpunt af dat die natuurlike ekonomiese kragte versteur word – die individue met die talente en vaardighede wat as brandstof vir ekonomiese groei dien, word beperk en vervang met mense wat nie die vaardighede het nie, of nog nie het nie, en ‘n uitkringeffek veroorsaak wat in groeiende werkloosheid manifesteer.”

Skerp!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.