Nuuskommentaar: Los drade rondom COP 17 as jaarlikse Kersmark

COP-17 loop ten einde en dit lyk of die beste waarop die wêreld kan hoop is dat ‘n nuwe verdrag die lig kan sien wat deur selfs minder beduidende groot nywerheidslande onderteken sal word as wat die Kioto-verdrag onderteken het. Groot planne soos ‘n koolstofhof soortgelyk aan die internasionale strafhof, sal hoogs onwaarskynlik realiseer. Die probleem verdwyn egter nie saam met die hoop nie.

Stil-stil het die goudprys meer as $200 per fyn ons duurder as die prys van platinum geword, na die goudprys ‘n paar maande gelede die neus voor gekry het. Die redes hiervoor is kompleks, en hou meestal verband met die algemene toestand van die wêreldekonomie, aangevuur deur politieke faktore. COP 17 se rol hierin sal egter ook nog lank bepeins word. Platinum, of eerder, die platinum groep van metale het ‘n wye industriële aanwending, soos onder meer in die katalisators in petrol-aangedrewe motors om skoner lug in die atmosfeer vry te stel. Juis omdat platinum so duur is word hard gewerk aan die ontwikkeling van plaasvervangende materiale.

‘n Interessante kenmerk van die huidige COP 17 is dat olie-uitvoerlande soos Saoedi-Arabië ook in die bakhand-tou ingeval het om ‘n milde aalmoesie te probeer opeis. Hul vrees dat die talle pogings om koolstofproduserende brandstof met skoon, hernubare energie te vervang hul olie-uitvoere negatief kan raak, is dalk effe voortydig en beslis opportunisties. Tog – daar is groot verwikkelinge met lande soos Duitsland en Nederland wat reeds indrukwekkende teikens begin haal het om na groen energie oor te skakel. Baie hiervan, soos ‘n waterstof-vulstasie in Nederland, is eksperimenteel, maar ‘n snel-laaisvulstasie naby Amsterdam waar elektriese motors gelaai kan word, is iets wat na verwagting meer en meer gaan gebeur. Lugdienste begin ook verwerkte gebruikte kookolie as brandstof gebruik. Omgewingsbewustes begin kla oor die horsisonbesoedeling wat die talle windkragparke begin skep – ‘n estetiese klag. Dis alles aanduidings dat ‘n ieder woelt om ‘n groen verandering.

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie in Suid-Afrika het pas ook aangekondig dat dit R25 miljard oor die volgende vyf jaar beskikbaar stel vir ondernemers wat bydra tot Suid-Afrika se omskakeling na groen energie. Die bronne van groen energie is bykans onbeperk – van stortingsterreine wat metaangas afgee, sonkrag, windkrag, brander- en getykrag, hidro-elektriese krag en vele meer. Die probleem is die uitleg vir die omskakeling, en ook die ontwikkeling van tegnologie wat dié bronne meer lonend maak. Daagliks is daar deurbrake. Oor 20 jaar wil die land 42 persent van sy elektrisiteit deur groen bronne lewer.

In sy evaluasie tot gister van COP 17, som die Nederlandse koerant Trouw die vordering op as ‘n jaarlikse Kersmark waar die ontwikkelde lande hul slagofferrol speel oor klimaatsverandering en bakhand staan, sonder om natuurlik enige waarborge te gee oor hoe die geld aangewend gaan word, met die olielande wat nou saam in die tou staan, terwyl drakoniese maatreëls van die geïndustrialiseerde lande opgeëis word. Die boodskap is duidelik – die versnelde klimaatverandering is die hele wêreld se probleem, en nie net dié van die groot koolstofbesoedelaars nie. Volgens die UV se Sentrum vir Omgewingstudies het temperature oor Suid-Afrika sedert 1950 geleidelik hoër geword, terwyl die reënval, weliswaar wisselend, ook neig om droër te word. Teen 2050 kan die temperatuur in die binneland met twee tot drie grade gestyg het, terwyl dit teen 2100 tussen sewe en agt grade hoër kan wees. Veral die arm en kwesbare deel van die bevolking sal geraak word.

Nog voor die einde van COP 17 het die ontkenners ook opgedaag. Klimaatontkenners bestaan uit twee groepe, waarvan die een groep ontken dat die mens ‘n beduidende rol in klimaatverandering speel, terwyl ‘n ander groep ontken dat die klimaat hoegenaamd verander. Laasgenoemde groep word egter al hoe meer geïgnoreer namate nuwe navorsingsdata bekend word, die Nederlanders hul dyke hoër moet maak, die poolys wegsmelt en die Groenlanders se aartappeloeste, radyse en gars jaarliks toeneem – landbouprukte wat ‘n dekade gelede nog ondenkbaar was. Met moderne tegnologie, soos die internet, slaag ontkenners oor bykans enige aangeleentheid soos dat Vigs nie deur die Vigs-virus veroorsaak word nie, dat outisme nie toeneem nie en vele meer om beduidende gehore en aanhangers op te bou.

Die groot les van COP 17 is dat ook die lande wat hulself so as slagofferlande beskou, ook hul deel moet doen. Dit kan die groot nywerheidslande inspireer om self ‘n bydrae lewer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae