Nuuskommentaar: ‘Los (pres.) Steyn se standbeeld uit’ – Jansen

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Terwyl die huidige taaldebat, wat maar op ’n slopingspoging van Afrikaans neerkom, op verskeie kampusse woed en diep spore deur potensiële versoeningslanderye trek, het daar ’n welkome afwisseling gekom. Prof. Jonathan Jansen, Kovsie-rektor, het volgens Volksblad aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê dit is nie nodig dat oud-pres. MT Steyn se standbeeld op die Kovsie-kampus afgebreek word nie.

Deur die jare het Jansen hom periodiek as versoener sonder weerga onderskei, net om dan weer deur hete (en dikwels gekruide woorde) polarisasie aan te blaas.

In heterogene lande bly kulturele kwessies soos taal en kultuurhistoriese simbole, soos standbeelde en plekname, deurlopend onder druk. Dit geskied veral in lande wat nie juis as demokrasieë gefunksioneer het nie, en die geskiedenis dikwels deur, en ten bate van die oorwinnaar geskryf is. ’n Goeie voorbeeld is hoe mense in verskillende dele van die Oekraïne die geskiedenis heel uiteenlopend verstaan, nadat die land lank deel van die Sowjet-Unie uitgemaak het.

Tog, in die VSA, wat soms demokrasie tot die absurde voer waar onder meer sherrifs verkies moet word, is daar uiteenlopende idees oor die geskiedenis en vind dit neerslag in die aandrang van die vordering of vernietiging van ou simboliek. Ons is reeds goed vertroud met die gereelde konflik oor mense en soms instellings wat steeds van die suidelike Konfederasie se simbole soos die vlag gebruik maak. Die kiesers van Suid-Carolina het met hul wetgewer se besluit om weg te doen met die gebruik om die Konfederale vlag oor dié deelstaat se hoofstad te laat wapper, saamgestem.

Maar dis nie al brandpunt onder Uncle Sam se neus nie. Die peilingsagentskap Rasmussen het pas gevoelens oor ’n hele paar kwessies getoets. Onder die ander kwessies is byvoorbeeld die besluit dat die hoogste piek in die VSA weer sy inheemse naam terugkry, Berg Dinali. Daar is aandrang dat die presidente se gesigte wat uit rots gekap is by Stone Mountain in Georgia verwyder moet word omdat van die vereerde presidente regstreeks of onregstreeks slawerny goedgekeur het. “But 85% of voters disagree, saying the United States should not erase symbols of its past that are out of line with current sentiments. Most Americans also oppose adding any more presidents to the lineup on Mount Rushmore, perhaps the nation’s most iconic symbol of the presidency.”

Die meeste kiesers meen ook alle medeburgers behoort trots te wees op die land se geskiedenis as geheel, maar ’n belangrike maar, in die Suid-Afrikaanse konteks ook, tot 60% Amerikaners meen ander Amerikaners het selfs nie ’n basiese begrip van hul land se verlede nie.

Pres. Jacob Zuma se onlangse skuldpakkery op Jan van Riebeeck, maar veral sy idilliese voorstelling van sake in die land voor Van Riebeeck se koms, dui op ’n algehele gebrek aan kennis oor die land se geskiedenis. Ja, en daar was in ’n stadium Afrikaanse geskiedenisboeke wat mettertyd al hoe minder swart en bruin mense aan Voortrekkerkant in die laer van Bloedrivier geplaas het, en selfs heeltemal verswyg het. In watter geskiedenisboek die toespraakskrywer van premier Ace Magashule ’n weergawe gekry het dat oudpres. CR Swart ’n Boeregeneraal was en die gebou wat na hom vernoem is na die Fidel Castro-gebou hernoem moes word, sal net nugter en sy maat weet.

Teenoor die NRP probeer Jansen dit soos iets positiefs klink dat Huis JBM Hertzog se naam na Huis Beyers Naudé verander is, maar ná jare se mediagedweep oor “oom Bey” is daar steeds enorme ongelukkigheid by baie oor dié man se optredes.

Dis moeilik om ’n balans te vind.

Doodgewone bogpraatjies is daar ook, soos die burgemeester van die Tshwane-metropool wat tydens oudpres. Nelson Mandela se hospitalisasie in Pretoria gesê het hy wil die naamsveranderinge ter wille van die Madiba-nalatenskap deurdruk.

Maar Mandela word dan as versoeningsikon voorgehou – hoe is ’n proses van absolute polarisasie aanblaas deel van die Madiba-nalatenskap?

’n Krap-krap hier om ’n beentjie ter wille van vrede vir die wagtende kake te gooi, weeg eenvoudig nie op teen die harde werk van ’n holistiese versoeningspoging wat grondwetlik houdbaar is nie.

En neem maar kennis, weens verskeie faktore het die gebruik van die term “transformasie” deel van die probleem, eerder as die oplossing geword. Oor wat die begrip “transformasie” behels is daar lank nie meer eenstemmigheid nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bruno Stef ·

Jonathan Jansen moet nou vir ons verduidelik hoe gaan hy die verwydering of die besmering met verf van die standbeeld voorkom na sy onlangse eensydige optrede wat op leunagtige aantygings gegrond was. Dit is maklik om vure aan te steek jou politieke onderrok hang ver uit daarom word jou sogenaamde verklaring deur die meerdeheid Afrikaners bevraagteken.

Johan ·

Ek moet net dit sê, as jy ‘n berig begin lees, kan ek altans aan die formaat en gehalte van skryf WEET dis ‘n HERMAN TOERIEN MEESTERSTUK. Hy skryf nie vir sensasie nie, net logiese feite en logiese beredeneerde afleidings. So lekker om te lees.

Baie dankie Herman vir die plesier wat jy verskaf met die lees van jou puik skrywes, keer op keer.

sarie van heerden ·

As andersdenkes in die land die standbeelde wil bemors met verf, of wat ookal, moet dit nie herstel nie. Los dit net so maar lig oorseese besoekers in wie dit gedoen het. Jy kan nie kompeteer met hulle nie. Laat net die buitewereld SIEN hoe hul is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.