Nuuskommentaar: Lugborrels se geneigdheid om te bars – kan dit deur positiwiteit teengewerk word?

Amerikaanse vlag amerika

Argieffoto (Foto: Gordon Dean)

In die VSA neem staatskuld teen duiselingwekkende snelheid toe, maar anders as voorspellings dat die VSA se ekonomiese rug weens die oorbesteding geknak gaan word, gaan dit ekonomies steeds goed met die burgers. In Suid-Afrika het Eskom, SAL en ander saamgespan om die ekonomie te knak. In die VSA kry die landbouers 40% van hul inkomste uit staatsubsidies en soortgelyk. Hier speel ’n vernietigende droogte ’n verwoestende rol. Waarom sukkel die een en floreer die ander? Die VSA se florerende ekonomie mag dalk nie meer lank hou nie, maar positiwiteit kan ’n lugborrel nog lank laat hou – en daarvan is te min in Suid-Afrika oor, behalwe by ’n paar naïewe akademici en rewolusionêr radikale rolspelers.

So ’n dekade of wat gelede het ’n Vrystaatse LUR, Ouma Tsopo, in die provinsiale wetgewer in ’n toespraak die opposisiepartye se navorsers daarvan beskuldig dat hulle vir die onrus in die provinsie verantwoordelik was. Die navorsers het naamlik die bevolking gewys op die dinge waaroor hulle ontevrede behoort te wees.

Die volgende jaar is die begroting vir opposisiepartye se navorsers tot byna niks nie gereduseer, en partye moes improviseer. Terselfdertyd het die wetgewer self ’n baie gawe Zoeloesprekende kader vir mediamonitering aangestel. Maar die man was glad nie Afrikaans magtig nie, en om iemand in die Vrystaat wat nie Afrikaans magtig is nie vir mediamonitering aan te stel, is so goed soos om iemand wat nie kan lees en skryf nie as navorser aan te stel.

In ’n splinternuwe artikel klink Helen Zille, met ’n tweede lewe binne die DA, nogal baie soos Ouma deur die “kommentators” (skynbaar bedoelende veral media-geplaasde kommentators) daarvan te beskuldig dat hulle “mis tas”. Of sy reg het, of dan wel in ’n bepaalde fokusgebied, naamlik of regstellende aksie juis op rassegrondslag reg of verkeerd is, is ’n kwessie op sy eie.

Met ’n rasbehepte ANC aan bewind, boonop gestook deur uiterste swart rassiste, het die land te kampe met ’n spesifieke probleem wat neig om oplossingsku te wees. Voeg hierby wit akademici wat daardie benadering vlees probeer gee deur wit skuldgevoelens aan te wakker aan die hand van half bekookte gegewens wat buite holistiese konteks manipulerend vertolk word, en dis duidelik dat Zille self die probleem te eng beskou.

Soos elders in die wêreld wissel Suid-Afrika se ontleders, kommentators en ontleders van briljant tot pateties polities bevooroordeeld. Boonop werk hulle in ’n politieke omgewing waar hul bekwaamheid gewoonlik deur die politieke bril van kiesers se eie politieke bevooroordeeldheid gemeet word, eerder as vakkundige vaardigheid. En ja, daar is die kommentators wat afhanklik is van hul bekendheid (en af en toe ’n goeie skoot berugtheid) om prominent genoeg vir winsgewendheid in hierdie veld te wees. Soms gaan dit nie oor selfreklame nie, maar bloot ’n individuele onbevoegdheid deur “feite” in te span (en selfs te “werf”) om die kommentator se eie diskoers feitelik geldig te laat lyk.

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

Op dieselfde dag dat Zille die kommentators bydam, raak die bekende Amerikaanse kommentator, John Stossel, ook aan die onderwerp. Sy artikel, “The Forgotten Debt”, kan in soveel opsigte net so goed op Suid-Afrika van toepassing gemaak word, en bepaald die skuld-dryfsand waarin Suid-Afrika vasval, onder meer weens die bodemlose putte waarin Suid-Afrika se semi-staatsintellings nie net hulself bevind nie, maar ook die staat met sy eie skuldlas en al in betrek.

Stossel wys daarop dat die VSA se staatskuld $23 Amerikaanse triljoen, oftewel $23 internasionale (ook Afrikaanse) biljoen beloop, en jaarliks met ’n biljoen dollar toeneem. Hy wys daarop dat die VSA se ekonomie nog goed vaar, anders as wat hy voorspel het met die druk van te veel papiergeld om die bykomende uitgawes te dek, maar: … “But while our deficits haven’t yet created a crisis, they will. You can stretch a rubber band farther and farther. Eventually, it will snap back – or break.”

In Suid-Afrika is daar daagliks berigte wat waarsku oor die onbekostigbaarheid van regeringsplanne soos die beoogde nasionale gesondheidskema; die fiskale en ekonomiese implikasies van die beoogde grondgryp sonder vergoeding (ongeag hoe soet die versiersuiker, genaamd die term “grondhervorming”, klink); te min wat aan die armes en mense met gestremdhede, asook oues, bestee word, maar hopeloos te veel aan luukshede vir die rykes opgedok word, terwyl, soos in die VSA, die belastingbasis nie by die groeiende uitgawes kan kers vashou nie.

Hier in Suid-Afrika hou radikale vakbonde boonop die regering gyselaar om te bly oorbestee.

Die lysie kritiek raak ook baie lank, soos dat pres. Ramaphosa te stil en te afwesig is wanneer hy ferm en inspirerend moet wees. Nou, ná die politieke en ekonomiese sabotasie (laasgenoemde het glo ook letterlik tot die beurtkrag bygedra), wil hy die skuldiges laat vervolg. Maar die vernaamste saboteurs, van die vernaamste staatskapingsaboteurs, sit skynbaar hul sabotasie sonder teenspoed vir hulself voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

André André ·

Herman, betreffende jou laaste paragraaf wat van Cyril Ramaphosa se ekonomiese “sabotasie” waarna hy verwys mending maak en waar jy politieke sabotasie insluit wonder ek waarom het die Saatveiligheidsdiense dit nie opgetel nie? Loop hier nie dalk ander saboteurs rond nie?

Ander Koos ·

Amerika en Suid-Afrika verskil hemelsbreed van mekaar en kan beslis nie oor dieselfde kam geskeer word nie, derhalwe is hierdie artikel/nuuskommentaar wat my betref irrellevant. Vergelyk tog appels met appels

Adam ·

Dalk is jou kritiek op Herman se rubriek die gevolg van effe te simplisties na dinge kyk. Die VSA en SA word geregeer deur staatshoofde wat hopeloos te hoog aangeslaan word en alhoewel ons ekonomiese omstandighede sleg lyk is die VSA se pak slae ook nie so ver weg as wat almal allerwee dink nie.

André André ·

Ek het inligting vroeër nageslaan, daar is net oor die 39,6 miljoen volwassenes (mense 18 jaar en ouer) in Suid Afrika, iets oor die 17 miljoen mense kry maatskaplike toelaes, dit is rofweg 43%.

Gert ·

Hoekom sukkel die een en floreer die ander?. Want die een het ‘n Ramaphosa en die ander het ‘n Trump.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.