Nuuskommentaar: Lydelike verset teen e-tol

Foto: City Press

Foto: City Press

“In die ruimte,” so skryf ‘n rubriekskrywer onlangs, “kan jy maar skree maar niemand hoor jou nie.” Baie Suid-Afrikaners beleef daagliks dat hulle ook “in die ruimte” woon. Korrupsie, plaasmoorde, boere wat in die droogte noustrop trek, riool wat in riviere beland, kaders wat die land agteruit “bestuur”… alles lok protes en besware uit, maar die regering is dikwels doodgewoon horende doof.

Niks demonstreer waarskynlik die vergelyking met die ruimte beter as die regering se doofheid oor die e-tolstelsel nie. Protesplanne is volop.

Volgens ‘n boekie, Toepassing van lydelike verset, is daar 165 metodes van nie-gewelddadige protes. Hoewel lydelike verset veral deur die verset van Mahatma Gandi deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geword het, word dié begrip gereeld in die Afrikanerpolitiek ook aangetref. Steve Hofmeyr het verlede jaar tong in die kies onder meer oor ‘n kragonderbreking getwiet dat hy, as lydelike verset teen Eskom, net gaan sit en niksdoen tot die krag weer aankom.

Die Afrikanervolksparty het hom in 2011 na aanleiding van metodes deur die Verkennersbewing (wat nie met die Voortrekkers verwar moet word nie) oor die waarde van lydelike verset uitgelaat.

In baie opsigte is die planne om die e-tolstelel in duie te laat stort ook ‘n vorm van lydelike verset. Trouens, Beeld het ook reeds na die begrip in die konteks van die moontlike uitbreiding van e-tol na die Wes-Kaap verwys.

Vir die doeleindes van hierdie kommentaar word lydelike, en nie-gewelddadige verset as sinonieme aanvaar.

Heel verstaanbaar is verset iets wat in Suid-Afrika met groot omsigtigheid aangespreek word. Baie Christene is doodgewoon teen verset in enige vorm gekant omdat die Bybel bepaal dat die owerheid gehoorsaam moet word, en die keiser betaal moet word wat die keiser toekom. In Titus 3:1 lees ons: “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.”

Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis onderskryf dit ook, maar kwalifiseer dat die owerheid die Woordbediening moet beskerm en die ryk van die antichris teen te staan. Ook Calvyn het die gehoorsaamheid gekwalifiseer: “Ons is dus gehoorsaamheid aan die owerhede verskuldig. Egter altyd met hierdie bepaling daarby dat die gehoorsaamheid ons nie ongehoorsaam moet maak aan Hom, aan wie se wil al die begeertes van die konings onderworpe moet wees, vir wie se majesteit hulle almal moet buig nie. Hoe verkeerd sal dit nie wees om Hom te beledig ten einde mense tevrede te stel nie. Hy is die Koning van die konings.”

In die praktyk kom dit daarop neer dat God van die owerheid verwag om doeltreffend, in die beste belang van die mense te regeer, en nie korrup of magsugtig te wees nie. As die regering korrup is, beteken dit nie die burger mag maar die spoedgrens oortree nie (al doen die blouligbendes dit skynbaar sonder goeie rede), want daardeur stel hy onskuldige mense se lewe in gevaar.

Oor presies waar die grens lê tussen geregverdigde verset en verset wat op dislojaliteit teen die land neerkom, sal lank gedebatteer kan word. Die regering het onder meer AfriForum se poging om die kwessie van plaasaanvalle te internasionaliseer as dislojaal teenoor die land beskryf, terwyl AfriForum se verset nie teen die land nie, maar die regerende party se versuim gerig is.

Is die verset teen e-tol geregverdig? Die regering het die implementeringsdatum, 3 Desember, aangekondig nog voor die regsprosesse wat reeds aanhangig gemaak is, in die howe besleg is. Die Vryheidsfront Plus het daarop aangekondig dat hy gaan aansoek doen dat die proses waarmee dit, saam met onder andere die TU SA betrokke is, as interdik voor 3 Desember aangehoor word. Daar is vrae oor hoekom juis hierdie baie duur vorm van e-tol, terwyl daar doeltreffender en veel goedkoper metodes in Europa gebruik word. Wat van die enorme bedrae geld wat die land gaan uitvloei vir die “voorreg” om die stelsel te bedryf?

Is alle vrae oor die moontlikheid dat daar ongerymdhede plaasgevind het, soos die beweerde verband met die finansiering van die Nkandla-hoofweg, al bevredigend beantwoord?

Klaarblyklik nie. Adv. Anton Alberts van die VF Plus laat hom soos volg uit: “Dit lyk of die regering doelbewus probeer om die publiek te mislei. Die ANC loop hom hier vir die eerste keer vas teen reuse openbare verset van regoor die politieke spektrum, en dit sal sonder twyfel reflekteer in aanstaande jaar se verkiesing.”

Terwyl die oë van die land op die e-tol en Nkandla se bunkers gerig is, het Eskom ‘n krag-noodtoestand aangekondig. Ook hier word die vinger na die regering en Eskom self gewys.

As die individu hom tot lydelike protes wend is die kanse baie goed dat in die leë ruimte gaan skree en nie gehoor word nie. Wanneer dit deur burgerlike instansies soos Outa en AfriForum geskied, is die kanse veel beter om gehoor te word. Dit verbeter ook die kanse dat die versetpogings nie buite-om die wet en die reg geskied, en ‘n persoon in die sop kan laat beland nie.

Lydelike verset hou egter verband met die woordjie “ly”, en daarom moet diegene wat deelneem ook weet dat hulle opofferings moet maak.

Die hele e-tolkwessie gaan met die komende algemene verkiesing ook ‘n groot toets inhou vir die volwassenheid van die Suid-Afrikaanse kieserskorps. Verset teen die e-tol sny oor rassegrense heen, maar as die verkiesing weer in ‘n rassesensus ontaard is dit duidelik dat kiesers steeds bereid is om hulself in die voet te skiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannetjie ·

Met die regering wat nie wil hoor nie is dit ‘n geval van ignoreer die probleem dan is daar nie ‘n probleem nie! Intussen gaan die land en sy mense tot niet terwyl hul heel gemaklik leef en simpel besluite neem!

Nelspruiter ·

Ek wil net graag een ding weet. Ek is ‘n Laevelder wat hou daarvan om in modder paaie te ry. As my motor se nommeplate vol modder is in Gauteng , is dit dan ‘n oortreding ? Waar is die kameras geplaas wat die fotos neem ? Ek verneem hulle neem drie fotos by die tolhek – van voor , van agter en van bo. Neem hulle die lisensie skyf ook af ? Hoekom ek die laaste een vra is omdat hier by ons steel hulle die skyfies van sleepwaens af…. wonder maar net hoekom ?
Hoe sal hulle weet die nommerplate is vervals of eg ? Ek kan mos ontken dat ek in Gauteng was – hoe sal hulle weet ?

Centurianer ·

Ek hou van Nelspruiter se idees.

Ek het ‘n tolskyfie gekoop, seker al 8 jaar terug, want ek ry gereeld die N1 noorde toe. Op ‘n stadium moes ek die skyfie gaan hernu toe my voertuig gesteel is, toe gee hulle vir my die e-toll skyfie. Groot was my verbasing toe ek onderdeur die nuwe oorhoofse tolhekke ry en die skyfie blieb! Dis mos nie waarvoor ek die tolhek-skyfie gekry het nie!

Onmiddelik het ek die skyfie verwyder, en haal hom net uit as ek die N1 noorde toe vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.