Nuuskommentaar: Maak Covid-19 van demokratiese lande polisiestate?

Pres. Emmanuel Macron. Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

In gister se nuuskommentaar het Maroela Media na verskeie implikasies van Covid-19 verwys, waaronder die uitwerking en moontlike uitwerking op die demokrasie. Binne 24 uur hierna het die Belgiese parlement ses maande se uitgebreide magte aan die tydelike minderheidsregering (kabinet) gegee om drastiese (drakoniese) wette en maatreëls sonder parlementêre goedkeuring te implementeer solank dit met die bekamping van Covid-19 verband hou. Ook binne daardie 24 uur het die Franse pres. Emmanuel Macron gesê sy land is in ’n oorlog gewikkel en maatreëls aangekondig wat veral mense se bewegingsvryheid inkort, en stemme laat opgaan het dat die land nou ’n polisiestaat word. Ook pres. Donald Trump van die VSA het sekere reis- en sosialiseringsbeperkings ingestel.

Trouens, daar is reeds verskeie artikels wêreldwyd gepubliseer om op die gevare te wys van gedwonge sosiale isolasie (desosialisering) wat die beperkings teweeg gaan bring.

Daar was in antieke Athene ‘n staande praktyk om gedurende oorloë die demokrasie op te skort en ’n diktator aan te wys omdat geoordeel is dat dit die doeltreffendste metode is om bedreigings af te weer. En hierdie nuwe koronavirus hou beslis genoegsame bedreigings in dat noodmaatreëls getref moet word om dit te kan bekamp.

Suid-Afrika is een van die lande wie se grondwet voorsiening maak vir die afkondiging van ’n noodtoestand waar sekere ingrepe op die normale funksionering van grondwetlike demokrasieë en regstate plaasvind. Teen gisteraand, betreklik kort na die afkondiging van ’n ramptoestand, was daar reeds berigte, weliswaar gebaseer op weinig meer as bespiegelinge, dat die president binnekort ’n noodtoestand gaan afkondig. Omdat die Grondwet baie streng voorwaardes en beperkings plaas op ingrepe op die Grondwet self, is die verklaring van ’n noodtoestand waarbinne die ramptoestand bedryf moet word nie noodwendig ’n slegte idee nie.

Die verklaring van ramptoestande in die post-1994-SA is nie vreemd nie. In 2017 is byvoorbeeld ’n provinsiale en munisipale ramptoestand oor watertekorte in die Langeberg- munisipale gebied afgekondig. In 2015 is die Wysigingswet op Rampbestuur (Wet 16 van 2015) (wat verskeie maatreëls instel om die risiko van rampe te verminder, en vroeër waarskuwingstelsels bevat) deur die parlement goedgekeur. Die nuwe wet vervang die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) en maak ook die rehabilitasie en funksionering van rampbestuursentrums duideliker. (Lees hier.) Die klem is veral op natuurrampe, soos groot brande en droogtes, en die gewysigde wet is na berig word in ’n groot mate genoodsaak om klimaatsverandering te akkommodeer.

’n Grondwetlike noodtoestand sal moontlik net meer toepaslik wees as die Covid-19-pandemie newe-effekte begin hê soos betogings, oproerigheid, besettings, plundering, ensovoorts wat in Suid-Afrika neig om te maklik in geweld om te sit. Dan kan die noodtoestandbepalings betreffende aanhouding en arrestasies waarskynlik broodnoodsaaklik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan Venter ·

President Ramaphosa het gister gesê dit is tyd dat die politieke partye in die land hul verskille opsyskuif en saam werk om die virus te beveg. Ek kon nie agterkom wat dit als behels en van watter politieke verskille hy praat nie. As hy so vaag is, kan dit enigiets beteken en moet mens se oë wawyd oop wees.

Johan Venter ·

Dit sal die wêreld se verskil maak as Chef Cyril ‘n voorbeeld vir almal kan stel, sy kokhoed (toque blanche) afhaal, sy staatshoed opsit en op die taak voor hande konsentreer. Ons moet maar daarop bedag wees as hy so wyd van politieke verskille praat want netnou werk Chef Cyril so ‘n kluitjie of twee daarby in.

Jacobus ·

Die situasie is kommerwekkend genoeg sonder vae politieke nuanse. Ongelukkig mis politieke oppotuniste selde ‘n geleentheid om ‘n kortkop voor te kom.
Twee gevolge wat met volle mag teengestaan moet word:
Herhaalde politieke retoriek
En die geleentheid gebruik om NGV ‘n hupstoot te gee.
Dit gaan ‘n krisis in ‘n ramp laat verander – versoeking is darem groot!

Snowball ·

In ‘n oogwink, voor ons oë, verander die wêreld wat ons geken het in iets wat herinner aan die bizarre verloop van ‘n post apokaliptiese rolprent. Paniekbevange mense wat skarrel by leë winkelrakke en verlate lughawens met gemaskerde personeel. Is ons genadeloos uitgelewer om een of ander verskuilde agenda uit te leef terwyl ons dink handewas is die antwoord?

Anel ·

Die mense is al klaar histeries. Winkels word leeg. Op een plek maak vrou broodrakke leeg in haar trollie, ‘n ander een vra vir 1 brood vir haar gesin, want sy het niks anders nie. Nee, sê die brood vrou, dis nie my probleem nie. Dit gaan asolute chaos veroorsaak oor niks. As jy gewoonlik griep kry gaan jy moonlik sie word. So nie, gaan jy dalk net liggies siek word. As hier noodtoestand af gekondig word gaan hier absolute anarie heers in hierdie land. Behoede ons daarvan.

Jacobus ·

Puik artikel.
Bekommernis is nie soseer die virus, maar die vernietiging van feitlik alles wat ons as gemeenskappe gehad het om effektief op te tree teen so ‘n nasionale krisis. As ‘n gebore optimis kan mens tog nie anders om bekommerd te wees oor die gevolge van die huidige omstandighede.
Bid dat ons die Wysheid sal hê!

Wessel ·

In 2009 to 2010 het ons die Vark griep virus gehad waaraan 200 000 mense gesterf het. Nou het ons die Korona virus met 6000+ sterftes en mense word histeries? Dit alles word deur die media aangeblaas.

Fluisterwind ·

My beskei mening is dat die wêreld oefen vir ‘n groter uitbraak, van ‘n baie meer ernstig pes of siekte. Nou kyk almal watter land reageer die vinnigste en lande wat nie erns maak nie, sal aangespreek word.

pestilensie ·

Ons landjie is in n permanente noodtoestant , en as ek wil moedswillig wees, sal ek se “vanaf die ANC oorgeneem het” maar ons is mos nie .

Johan Venter ·

Herman, kyk as ek nou in die tyd ‘n boer moes wees, sal niemand by my wil inbreek of ons leed aandoen nie, ek kan sommer die huis se deure snags laat oopstaan as dit so warm is, ek bring net ‘n kennisgewingbord by die plaas se hek aan: “Virus at work.”

Johan Venter ·

So terloops, ek sien daar word berig dat president Cyril Ramaphosa gedy met hierdie krisis, hy neem leiding en stap nou voor, dis wonderlike nuus, so hy word nie meer agterna getrek nie, maar hulle stoot hom nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.