Nuuskommentaar: Maak die beste van verkiesing

Argieffoto

Argieffoto

Amptelik kry Suid-Afrikaners nou ‘n blaaskans by die politici wat nou so kliphard na hul stemme vry. Partye moes teen gisteraand hul verkiesingsveldtogte afsluit, maar daar is baie maniere om die kat in die donker te knyp.

Hierdie verkiesing moet nog plaasvind en daar was reeds sterftes – die keer nie net in die onstuimige KwaZulu-Natal nie, maar ‘n persoon in die Wes-Kaap met ‘n DA-T-hemp is onder die klippe gesteek en het gesterf. In die Wes-Kaap en in Gauteng is voertuie wat DA-passasiers vervoer het aangeval, en ‘n busbestuurder het in die hospitaal beland.

Die Wes-Kaapse leier van die ANC, Marius Fransman, het seker een van die laakbaarste verwere verskaf vir die geweld op DA-voertuie. Dit sou die DA se eie skuld wees, want dit is in ANC-gebied, en die ANC was self daar aan om werwing te doen. Het Fransman vergeet sy party het die OVK se verkiesingskode onderteken, en beloof om dit na te kom? Het hy vergeet wat in die grondwet staan oor die reg om politieke werwing te doen? En wat demokrasie beteken, en in die besonder grondwetlike demokrasie?

Klagtes teen die verskillende partye is onder mekaar by die OVK gelê, terwyl die OVK se voorsitter onder ‘n wolk verkeer, en weerbarstig weier om tot na die verkiesing af te staan. By die ANC se afsluiting-saamtrek in Soweto het selfs die buitelandse media kennis geneem daarvan dat bykans die helfte van die sowat 90 000 mense teenwoordig, voor die einde van pres. Jacob Zuma se toespraak uitgestap het. Hulle het wel ook kennis geneem dat Zuma beloof het om die rasseskroewe stywer aan te draai.

Gaan die kiesers ook op stemdag op Zuma “uitstap”, en indien wel, gaan dit die ANC negatief raak?

‘n Kieser hoef nie ver te soek om galserig oor die verkiesing te wees nie. Dit is byvoorbeeld ‘n gegewe dat die swakste president wat die land nog gehad het, ná hierdie verkiesing ‘n tweede termyn gaan kry, al is daar sprake dat die tweede termyn dalk ook nie watwonders lank sal duur nie.

Daar is ‘n wye persepsie dat staatsfondse gebruik is om die regerende party te bevoordeel, soos met advertensies wat maar moeilik te onderskei is van partypolitieke advertensies.

Tog is dit so – die sekerste manier om te sorg dat niks verander nie, is om van die stembus weg te bly.

In die kiesstelsel wat ons ingevolge die grondwet het, kan selfs net een stem daardie stem wees wat die knoop vir ‘n party deurhaak om ‘n setel in die parlement te kry, of ‘n bykomende setel te kry. Die setel is dalk net die setel wat nodig is dat die party ‘n sterker span ondersteuningsamptenare kan kry, soos navorsers en mediamense, wat daardie party veel doeltreffender maak. Dit kan die setel wees wat die party laat kwalifiseer vir ‘n bykomende setel in die Nasionale Raad van Provinsies.

So word die partye in staat gestel om meer mense beskikbaar te hê om aan die allerbelangrike komiteebedrywighede deel te neem en aanpassings aan wetgewing te beding.

En vir elke bykomende setel verhoog die party se aandeel in staatsfondse wat vir verkiesingsdoeleindes beskikbaar gestel word, en kan die party sy volgende verkiesingsveldtog nog doeltreffender uitvoer. Dit werk deur na die munisipale verkiesings, en ‘n party wat daar beter doen, het weer ‘n beter platform vir sy volgende aanslag op die parlement.

Die argument word dikwels gehoor dat “geen party het nog iets vir my gedoen nie”. Hoe weet die persoon dit as hy wat die politiek betref, volstruispolitiek bedryf? Dit is omtrent dieselfde logika wat Koos aan die dag gelê het toe hy gereken het omdat hy ‘n retoerkaartjie het, en nie vir die terugrit opgedaag het nie, ontwrig hy die Spoorweë nou liederlik.

Maar ‘n politikus wat sy sout werd is, sal ‘n kieser met sy probleem help. En as hy dit nie doen nie, probeer volgende keer een instem wat dit wel sal doen. Maar dikwels gaan dit om sake wat nie net die individu raak nie – word daar hard geveg om ‘n groep se taalregte te beskerm, om wal te gooi dat minderhede nie uit die ekonomie gerangeer word nie, dat plekname nie kwetsend verander word nie. Soms word tot selfs hof toe gegaan. Dit is so dat sommige partye, en sommige parlementslede, baie harder werk as ander, en dikwels ver bo hul gewigsklas baklei. Jou stem kan bydra daartoe dat daardie hardwerkende politici se hande gesterk word.

Deur te stem, word gesorg dat die politici nie koning word nie, maar dienaar. Soos Piet Retief gesê het na hy tot president van die Voortrekkers verkies is, hy is nou dienaar want die volk is koning.

Maar deur weg te bly van die stembus verval ‘n belangrike werktuig om die politici verantwoordbaar te hou.

Smeer aan en kom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frik Lotz ·

Gaan stem op 7 Mei want jou stem kan n verskil maak. As jy gekant is teen regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en grondeise,stem dan VF Plus. Enigste party wat werklik jou belange op die hart dra!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.