Nuuskommentaar: Maak die Grondwet ons vry?

Op Vryheidsdag kan die nuwe Grondwet gevier word. Daar kan ook besin word of ’n ander staatkundige model nie ’n beter oplossing as die huidige sou kon gee nie, maar veral kan daar besin word oor die beste metodes om die leemtes en die geleenthede in die Grondwet te benut om die huidige wantoestande so doeltreffend moontlik die hoof te bied.

Maak die Grondwet ons vry?

Die ANC self verskaf (deesdae) hier die antwoord, maar om ’n heel ander rede as wat minderheidsgroepe dit sou beskryf, naamlik “nee”. Voortgesette armoede (en aanverwant soos ongelykhede) vereis “nog ’n bevryding”. Om nie van minderheidsregte te praat nie.

Dit is ligjare verwyder van ’n moontlik anekdotiese aanhaling van Kwame Nkruhma met Ghana se onafhanklikheid: “Ontvang hiermee die politieke vryheid en alles sal vir julle daarby gevoeg word.”

Toe nou nie.

Soos belowe, kyk ons vandag na ’n aantal verskillende staatkundige modelle ter wille van lesers wat nie weet hoeveel opsies daar met die onderhandelinge om ’n nuwe Grondwet beskikbaar was nie.

Grondwetlike modelle

As eerste opmerking kan gemeld word dat lande met ’n heterogene bevolkingsamestelling gewoonlik na ’n grondwetlike model neig wat meer gedesentraliseerd is, terwyl lande met ’n homogene bevolking na ’n unitêre stelsel neig tensy daar historiese of ander faktore soos die grootte van die land ter sprake is.

Met Suid-Afrika se besonder heterogene bevolkingsamestelling sou staatsregtelik en politiek wetenskaplik verwag word, gegrond op politiek-sosiologiese empiriese data, dat Suid-Afrika ’n Grondwet met sterk federale karakter sou kry, en in die besonder dié van ’n etniese federasie soos Indië en België. Dit was aanvanklik ook duidelik die doel van die destydse Suid-Afrikaanse regering en die Nasionale Party wat wesenlik onder een opdraggewende gesag gestaan het.

Die opdragte en aanwysings aan diegene wat namens onder meer die administrateurs voorleggings aan die onderhandelingspan by Kodesa moes maak, was dus byna klakkeloos geneem uit ’n studie van die staatkundige komitee van die presidentsraad, Besluitnemings- en Konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels.

(Die uwe dra eersterangs kennis van dié opdragte en hul inhoud, want ek was getaak om die Vrystaatse administrateur se insette op te stel – deurnag tuis op ’n IBM-rekenaar sonder harde skyf.) Die volgende dag is dié stukke Kempton Park toe aangery.

Uit mediaberigte oor die onderhandelings is die gevoel egter gekry dat hierdie insette wat in opdrag van die regering, en volgens bepaalde riglyne, opgestel moes word, deur die regering se onderhandelaars ongelees in die asblik gesmyt is, veral ná Roelf Meyer hoofonderhandelaar van die regering geword het. Die uwe is dus dalk subjektief wanneer hy met ’n joernalistieke juweeltjie van die vermaarde rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, saamstem dat die regering sy derde span se reserwes as onderhandelaars ingestuur het. Hieroor is Scholtz destyds erg deur Cape Libs gekritiseer, wat sommer ’n aanduiding gee dat die Grondwet as ’n liberale, unitêre grondwet beskryf kan word, en dikwels steeds so deur liberale ontleders bemark word … en baie kwaad word vir minderheidsgroepe wat die elemente wat minderheidsregte (behoort) te beskerm, aanwend “om die pilare van ’n liberale grondwet mee om te trek”.

Dit moet net bygevoeg word dat die kabinet uiteindelik die voorgestelde oorgangsgrondwet goedgekeur het, wat beteken dat die onderhandelaars in ’n stadium die kabinet se koppe by wyse van spreke heeltemal moes draai. Daar was wel sekere beskermingsmeganismes in die oorgangsgrondwet wat nie in die finale een opgeneem is nie, soos dat die regte van ’n amptelike taal soos dit voor 1994 bestaan het, nie verminder mag word nie. Die ANC was onversetlik dat hulle dié bepaling wou verwyder, wat ’n goeie beeld gee van hul onverdraagsaamheid teenoor minderheidsregte.

Dat die Grondwet op bykans haas elke terrein onder druk sou kom, deurdat dit nie die bevolkingswerklikheid erken het nie, is dus te wagte.

Watter alternatiewe opsies was daar?

Federasies

Hoewel nie die losste vorm nie, word federasie eerste bespreek omdat dit die behandeling van ander modelle vergemaklik. Definisies verskil redelik wyd (soos ook by ander modelle) en die “vereistes” wat hier gestel word, is nie noodwendig by alle federasies teenwoordig nie. Tipies sou ’n federasie bestaan uit ’n land wat uit ’n aantal deelstate saamgestel is, en dié deelstate beskik oor ’n wye verskeidenheid oorspronklike en gedelegeerde magte waarby die sentrale regering nie mag inmeng nie. Onderwys en polisie is twee tipiese voorbeelde. Die sentrale regering beskik weer oor soewereine gesag soos buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike kwessies. Dit is egter algemeen dat oor tyd heen, en namate so ’n staat ’n hegter eenheid word, die sentrale regering deur kruipende sentralisering al meer magte sou oorneem, gewoonlik deur “sekere maatskaplike aangeleenthede” te “rek”. Dit kan tot oneindige hofsake aanleiding gee, soos nou in die VSA oor sommige state wat by skole kospakkies voorsien, en ander state nie.

België was tot enkele jare gelede nog ’n unitêre staat, maar sy heterogene karakter het ’n proses van “groeiende federalisme” aan die gang gesit, tot dit nou as (etniese) federasie bekend staan. Trouens, in sommige bronne word gemeen dat België nou reeds kenmerke van ’n konfederasie begin toon, hoewel daardie waarnemers dalk ’n definisie vir konfederasie gebruik wat te ver van die algemene staan. Trouens, die regerende party, die NV-A, het betreklik onlangs die konsep van konfederalisme vir bespreking oopgestel, maar is oor ’n wye front, ook in die media, die kop gewas.

Benewens ’n geografies gebaseerde federasie kan in beginsel ook ’n korporatiewe federasie bestaan. In die ou VSA het twee stamme dikwels dieselfde grond bewoon en daarop gejag, maar elke stam het totaal onafhanklik oor sy eie stamgenote die septer geswaai. Dié stelsel is veral geskik waar (van die) bevolkingsgroepe te verspreid woon om sinvol geografies ondervang te kan word. Die Maori-kongres (voorheen parlement genoem) beskik oor sekere regeermagte oor Maori’s ongeag waar hulle woon. (Hulle het ook, soos die oorspronklike inwoners van Indië, gewaarborgde setels in die nasionale parlement.)

Konfederasies

In ’n tipiese konfederasie geld die internasionale reg, eerder as nasionale reg, tussen die deelnemende state. Ander definisies bepaal dat die samevoeging van dié state deur verdrae bepaal word, wat dan kan insluit dat daar wel ’n nasionale parlement en nasionale wetgewing kan wees. Tipies sal deelnemende state ook sonder belemmering uit die konfederasie kan tree.

Die interessantheid is dat die bekendste lande wat hulself ’n konfederasie noem, soos die Switserse Konfederasie, of, soos reeds genoem, die Konfederasie van suidelike state van Amerika, verreweg nie as konfederasies kwalifiseer nie.

Switserland kon wel tot ongeveer 150 jaar gelede as konfederasie kwalifiseer, maar nadat ’n wegbreekpoging van Rooms-Katolieke kantons met wapengeweld gekeer is, is dit geen konfederasie nie maar eerder ’n klassieke federasie.

Die “konfederale” state in die VSA het vanuit die staanspoor ’n grondwet aanvaar wat sterk ooreengekom het met dié van die noordelike state (’n federasie). Met die grondwetskrywing is selfs afskeiding verbied – iets wat in die noorde wel tegnies moontlik is, hoewel baie moeilik.

Die naaste aan ’n hedendaagse konfederasie is die Europese Unie, hoewel sommige waarnemers meen dit bevat elemente van federalisme.

Konfederasies was algemeen onder voor-koloniale bevolkings in Noord- en Sentraal Amerika, byvoorbeeld die Tolteke en Asteke.

Grondwetlike en parlementêre demokrasieë

Demokratiese state kan ook verdeel word tussen state waar die grondwet oppergesag het, en waar die parlement die oppergesag het. Pres. Jacob Zuma het al verskeie kere sy ontevredenheid uitgespreek dat die Grondwet die “meerderheidswil” frustreer, maar dit is die bes beskikbare verskansing teen ’n meerderheidsdiktatuur.

Selfregerende gebiede

Voorts kan selfs unitêre state selfregering toestaan aan streke waar minderheidsgroepe woon, soos die Kataloniërs en Baske in Spanje en die Skotte in Brittanje. Trouens, die Europese Unie vereis dit vir deelname aan die Unie en dis een van die vernaamste redes waarom Turkye se pogings om ’n lidland te word, nog nie kon slaag nie. Hierdie selfregering kan ook korporatief wees.

Bied die Suid-Afrikaanse Grondwet voldoende uiting vir minderheidsregte?

Dié kwessie is tot groot mate “sub judice” en sal waarskynlik uiteindelik besleg word wanneer die taalkwessie rondom Kovsies se verengelsing voor die konstitusionele hof dien.

Artikel 235 steek wel soos ’n pynlike vinger in die oog van diegene wat die Grondwet simplisties liberaal, unitêr wil beskou. Dié artikel maak vir geografiese of korporatiewe selfbeskikking voorsiening, maar nie vir volkome onafhanklikheid nie. Dit beperk, soos die internasionale reg, die gronde vir selfbestuur/onafhanklikheid tot taal en kultuur, en sluit ras as norm uit.

Benewens ’n skynbaar grootskaalse onwilligheid van minderheidsgroepe om hiervan gebruik te maak, is dit ook duidelik dat die toepassing van dié artikel teen die ANC-beleid indruis. Tydens die abortiewe Kliptownberaad in 2012 wat nasionale versoening moes bevorder, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma byvoorbeeld in reaksie op ’n toespraak van dr. Pieter Mulder minderheidsregte vir die Afrikaner afgeskiet. Sy wou weet hoekom die Afrikaner nie eenvoudig deel van die meerderheid word nie.

(Met haar gewese man se huidige tirades teen wit mense en hoe wittes “gemelk” moet word en hul plek moet ken, is die antwoord taamlik voor die hand liggend – wit mense en Afrikaners is nie welkom as volwaardige lede van “die meerderheid” nie.)

Voorts het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ’n onderhoud met Beeld op ’n vraag oor minderheidsregte vir die Afrikaner die opsie van minderheidsregte vir wit mense heeltemal afgeskiet. (Dit is ’n ou taktiek van die ANC om ’n volkeregtelike entiteit soos die Afrikaner dadelik met “witte of wit mense” te vervang, wat nie oor positiewe volkeregtelike regte beskik nie.)

Is ons vry?

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, bestaan daar vele vryhede, soos die vryheid om geloof te beoefen.

Intussen het Verslaggewers sonder Grense (VSG) se jongste persvryheidsindeks die lig gesien, en hoewel persvryheid op globale skaal ’n laagtepunt bereik het, het Suid-Afrika se posisie van die 38ste tot die 31ste plek verbeter. Dit moet egter vermeld word dat dié instansie die afgelope aantal jare foutiewe inligting oor Suid-Afrika koester, soos die stand van die sogenaamde snoerwet, en dat dié indeks wesenlik sy waarde verloor het. Veel meer waarde kan aan Freedom House se indeks geskenk word. Op VSG se indeks stof Suid-Afrika byvoorbeeld die VSA baie ver uit, terwyl Freedom House Suid-Afrika net as gedeeltelik persvry klassifiseer, en ook op die kreeftegang plaas.

Eloff wys egter ook op die volgende: “Baie Suid-Afrikaners, veral dié wat 1994 beleef het, sal vanjaar se Vryheidsdag as die laagtepunt van alle Vryheidsdae beskou.

Hoekom? Omdat ons sien wat op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied om ons gebeur. Daar is groot spanning in die regerende party – oor die huidige president, maar ook in die leierstryd vir ’n nuwe president. Daar is sprake van korrupsie, en staatskaping deur regeringsleiers en amptenare. Ons sien dat die ekonomie stagneer en dat ons land se finansiële stelsel basies na rommelstatus afgradeer is. Ons beleef rassespanning en ’n klaarblyklik totale gebrek aan versoening en gedeelde waardes.”

Die vraag word dikwels gevra of Suid-Afrika nou beter daaraan toe is as sou daar nie ’n skikking bereik gewees het nie? Dit is ook oudpres. FW de Klerk se standpunt.

Maar wat van ’n opvolgvraag? Sou die land nie nog beter daaraan toe gewees het as die skikking ’n grondwet sou oplewer wat meer geskik vir die heterogene omstandighede is nie? Dit is immers waarom baie wit mense “ja” in die referendum gestem het dat onderhandelings kan voortgaan, maar met die “waarborg” dat ’n ondoeltreffende skikking in ’n opvolgreferendum geveto kon word. Dié referendum het egter nooit plaasgevind nie.

Alternatiewe opsies

Steeds glo baie mense uit minderheidsgemeenskappe dat die huidige Grondwet reg en goed is, en vergeet of ignoreer dat Solidariteit byvoorbeeld die DKD-saak gewen het om blatante diskriminasie teen bruin mense stop te sit. Trouens, daar word oor ’n wye front veldtogte en hofsake gevoer, en internasionale forums word gereeld opgesoek.

Solidariteit se Plan B wat binne die beperkings van die Grondwet lewensvatbare opsies bied, word deur verskeie liberale as ’n “onvergeeflike” mosie van wantroue teen die “wonderlike Grondwet” beskou, en skryf selfs dat die Solidariteit Beweging ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Gereeld gaan daar ’n geweeklaag van die Seunse Weenkoor op, en lê die Orakel van Stellenbosch misplaaste eiertjies.

Die land sit nou met ’n gegewe. Die sterkste aanduidings van grondwetlike veranderings wat kan kom, is waarskynlik Zuma en Kie se voorneme om die Grondwet so te wysig dat grondgryp-optrede sonder vergoeding moontlik sal word.

Die beste waarborg om die beste van die saak te maak is om by burgerlike instellings soos lidorganisasies van die Solidariteit Beweging aan te sluit.

Daar is volop opsies, sodat dit kortsigtig sou wees om te sê Netwerk 24 tas mis waar dit in vandag se hoofartikel onder meer skryf: “Wanneer die magshebbers dan vandag toenemend praat asof die Grondwet nie meer saak maak nie, is dit die moeite werd om woorde soos dié (van Mandela) te vier. Om ons te herinner dat ons Grondwet ’n saak is waarvoor mense gesterf het. Om wéér te bevestig dat ons dit nie sal prysgee ter wille van ’n individu (Zuma) se eng belange nie.”

Die Grondwet is nie volmaak nie, maar dit is nou al wat ons het om mee te werk, en dit gaan harde werk op talle fronte kos om die buigsaamheid in die grense daarvan so gestrek te kry dat dit tot voordeel van almal sal wees – ook die minderheidsgroepe.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
HEVW

Herman baie dankie. Baie briljant. Die moeite werd om deeglik te bestudeer. Ek kan net nie dink waarom Theuns se dat ons nog godsdiensvryheid het nie, want op skoolvlak is dit nie meer heeltemal die waarheid nie. Iets wat onderdruk word, word bedreig en is nie meer vry nie.

Leendert

Baie dankie Herman, veral ook vir die stukkie meedeel van wat destyds agter die skerms gebeur het. Dan kan mens ook sien hoekom mense vir sekeres, wat die skikking onderhandel het, soos Roelf en FW beskou as synde ons uitverkoop het, party noem hulle verraaiers. Ek het ook in ’94 ja gestem, met die verwagting soos aanvanklik belowe dat ons weer ‘n ‘inset’ sal kan lewer, of dan by wyse van ‘n opvolgreferendum, soos jy dit hier bo gestel het. ‘n Baie insiggewende stuk. My slotopmerking, na ek jou hier bo lees, kom ek weer onder die indruk daarvan dat… Lees meer »

HEVW

Maroela ek dink jul het nou genoeg tyd gehad om my kommentaar te plaas.

Johanna Botha

SA sal werk soos dit is as die mense nie so korrup is steel plunder en alles verkrag nie en grootword met halfhartige skoling en geen morele waardes …goed wat alles by die huis geleer word aan kinders as hulle nog jonk is en waardes vasgele word …

AL

News 24 het ñ artikel geplaas dat mag wit mense ook vryheidsdag vier? Ek het dit nie gelees, want dalk is dit weer ñ klap na ons wittes. Ek glo dat as daar ñ manier is om hierdie rasgedrewe artikels te kan vasvat moet dit gedoen word.