Nuuskommentaar: Maak of breek met AMCU geen Thatcher-kloon

Barones Margaret Thatcher

Barones Margaret Thatcher

Die langdurige staking op veral platinummyne van die vakbond Amcu se impak op die ekonomie en die land se begroting word gereeld uitgespel.

Het Amcu met, wat wyd beskou word as sy buitensporige looneis nou sy eie magsposisie in gedrang gebring, en wat kan die impak daarvan op toekoms van vakbondwese in die algemeen in die land wees?

Amcu meen hy kan die staking nog ses maande laat voortduur, maar kan sy lede werklik so lank sonder enige inkomste uithou? Gee Amcu nou in sonder om sy sin te kry, is dit sy geloofwaardigheid by sy lede kwyt – en is hulle nog boonop platsak ook.

Toe die Britse ystervrou, Margaret Thatcher wat in 2013 oorlede is, is haar eertydse premierskap en haar rol daarin uit baie dele van die wêreld geloof. Maar daar het uit veral radikale vakbondwese ook geluide gekom van “good riddance” en selfs nog meer kru verklarings. Thatcherisme het immers min of meer klaar gespeel met radikale vakbondwese, en in die besonder die Britse National Mineworkers’ Union.

Wêreldwyd het daar ‘n persepsie bestaan dat vakbondwese in Brittanje so hand uit geruk het, dat dit die Britse samelewing gyselaar geneem het. Verhale oor buitensporig baie hoogsbesoldigde werkers wat ‘n enkele masjien in bedryf moes hou was volop, terwyl dieselfde masjiene elders ter wêreld met veel minder mannekrag heel suksesvol aan die loop gehou is. Die beheergreep wat die vakbondwese op die regering en samelewing uitgeoefen het, het ook verhinder dat doeltreffend gemeganiseer kon word.

Thatcher het aan bewind gekom en dadelik haar missie aangepak om die mag van die vakbondwese in die bek te ruk, onder meer om die vernedering van haar Tory-voorganger, Edward Heath, aan die hand van die mynwerkersunie te wreek.

Amcu se stryd, en in ‘n mate ook dié van Numsa, loop hulle nie in ‘n Thatcher in die Suid-Afrikaanse regeringsgeledere vas nie.

Die koue skouer wat dié vakbonde grootliks by die regering kry, het veel meer met politiek, en in die besonder ANC-politiek, te make as met die impak op die land se ekonomie.

Die mynbase moet daardie rol vervul, wat uiteraard ander (politieke) implikasies inhou.

Die mynbase moet nou die ongewilde rol van rug styfmaak teen radikale vakbonde inneem. Weliswaar, as die mynbase en baie ekonome geglo kan word, is die looneise van Amcu nie net buitensporig nie, maar onbekostigbaar. Maar selfs al sou dit vir die platinumbedryf haalbaar wees, sou die instemming daartoe heel waarskynlik ‘n rollende impak op ander sektore van die ekonomie hê. Hoewel gewaak moet word teen appels met pere te vergelyk, sou plaaswerkers en huiswerkers, om een voorbeeld te noem, kennis neem dat die rotsboorders dan bykans tien keer meer as hulle verdien.

Dit sou in alle waarskynlikheid die werkloosheidsgeledere aanvul, en iemand met geen inkomste nie kan maar ‘n duisend persent verhoging kry, hy kry dan steeds niks.

Daar is, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, goeie redes hoekom die vakbondwese so belangrik is.

Vakbonde het ‘n remmende uitwerking daarop dat die inkomstegaping hand uit ruk. Terwyl daar in die ekonomie ‘n sterk en oortuigende saak uit te maak is dat die inkomstegaping in die privaat sektor ook sekere voordele inhou, soos die skep van nog meer momentum vir werkskepping en kompetisie wat werkers se omstandighede (en lone) verbeter, is dit baie moeilik om te motiveer waarom die topbestuur van staats- en semi-staatsbedrywe – veral daardie wat noustrop trek – sulke enorme salarisse moet verdien en boonop ongeag swak prestasie, reuse “prestasie”-bonusse aan hulself moet toeken.

Vakbonde se rol om hierdie euwel aan te spreek, is onontbeerlik.

Die tweede aspek is dat ekonomiese manipulering dikwels mense met geen bestuurservaring en selfs bestuurspotensiaal na topposte sien opskiet, met ‘n erg nadelige uitwerking op arbeidsverhoudinge. Kortom, daar is ‘n enorme behoefte om werkers teen swak base te beskerm, veral waar dit boonop nog ook neerkom dat swak behandeling ingespan word om van toegewyde, kundige werkers ontslae te raak.

Gevalle soos Renate Barnard en die DKD sluit hierby aan, maar ook gevalle soos Woolworths se aanstellingsbeleid waar agter wetgewing geskuil word.

Die land se arbeidswetgewing word as baie beskermend teenoor werkers beskou, en dit is moeilik om van selfs ‘n swak werker ontslae te raak. Base probeer dan dikwels die arbeidsreg omseil deur doodeenvoudig die werksomstandighede van ‘n werker van wie hy of sy ontslae wil raak, onhoudbaar te maak. Weens die tegniese moeilikheidsgraad is dit vir ‘n werker baie moeilik om self ‘n saak van konstruktiewe ontslag te dryf, en ‘n vakbond is absoluut nog, en bygesê, ‘n goeie vakbond.

‘n Grondwetlike demokrasie word as onvolledig of gebrekkig beskou as dit nie oor voldoende persvryheid beskik nie, of as daar ‘n afwesigheid is aan burgerlike samelewingstrukture. In Suid-Afrika het vakbonde dikwels die leemtes aangespreek, hetsy deur self ook as burgerlike strukture te funksioneer, of instrumenteel te wees vir die skepping daarvan. So het AfriForum as inisiatief van Solidariteit ontstaan, terwyl Outa uit die verset teen Gautengse e-tol ontstaan het.

Die geheim is dat ‘n vakbond verantwoordelik moet kan optree. Vakbonde moet deel van die oplossing en die ontginning van groeipotensiaal van die ekonomie wees, nie deel van die parasitiese kragte wat die ekonomie lamlê nie.

In die Suid-Afrikaanse konteks waar die ANC se magshegemonie byna verskans “ingebou” is, is die versoeking groot om iets (politiek) positief in Amcu en Numsa se aanslag teen die bestaande politieke establishment te soek.

Of die land dié verdere radikalisering kan bekostig, is ‘n heel ander kwessie. Die regering en die NUM kan in die versoeking verval om die radikaler vakbonde in radikale beleid te oorbie om steun terug te wen. Of as dit in die politieke arena daartoe lei dat die ANC in provinsies koalisievennote moet soek om aan bewind te bly, is dit ‘n onaangename gedagte as gedink word dit kan in ANC-koalisies met Julius Malema se EFF manifesteer, of in koalisie met werkerspartye wat uit die radikale vakbondwese ontstaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

alet ·

Die probleem moet by die regering gesoek word hulle gee alles verniet weg huise water krag solaat hulle vir die regering gaan werk die sous trein het genoeg om weg te gee in ons dae was daar nie soding soos staak nie waar kom dit vandaan seker ook aparteit se skuld siestog

Rustenburger ·

Ons het hierdie week 3 kliente gehad van die stakers wat nie meer sonder inkomste kon uithou nie. Hoop dat meer mense sal terug keer,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.