Nuuskommentaar: Madiba en Agang – Word politieke toneel herskik?

Mandela en Graça Machel in Julie 2007 Foto: Werner Beukes/SAPA

Dokters wat oudpresident Nelson Mandela behandel het laat blyk dat sy toestand versleg het. Dit plaas opnuut die vraag hoe sy afsterwe die land se landskap – ook die politieke landskap, gaan beïnvloed.

Agang SA is Saterdag te midde van groot belangstelling en met die steun van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gestig, Julius Malema wil ‘n politieke party stig wat meer op maatskaplike hervorming en minder op versoening konsentreer, eerw. Kenneth Meshoe wil as parlementslid bedank om geld vir die ACDP in te samel om veel sterker te word, die Bruin Belangebeweging (BBB) het ‘n uiters geslaagde kongres gehou en die DA is aan die ontvangkant van ‘n poefie-oorlog… Daar is pogings tot politieke samewerking…

Aan die ander kant het die ANC beswaar gemaak omdat pres. Jacob Zuma so met die teerkwas bygedam word. Die monduitspoelery hieroor het behoorlik momentum gekry toe die losbekkige sakeman, Kenny Kunene, Zuma onder meer ‘n tiran en ‘n monster genoem  het. Met die kritiek, en die argumente dat dit elders strafbaar is om staatshoofde te beledig, het die ANC deeglik kennis gegee dat die kritiek op Zuma die party pla.

Binnekort, so lyk dit, sal die ANC ook nie meer die outomatiese rugsteun hê dat dit die party ná Mandela is nie.

Beteken dit dat die land dalk ‘n politieke verskuiwing kan sien? Dat die ANC na volgende jaar se algemene verkiesing dalk nie meer ‘n volstrekte meerderheid sal beleef nie?

Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie, maar in die politiek is een dag ‘n lang tyd…

Voor die verkiesing gaan ‘n hele paar partye deskundiges in hul reklameveldtogte inspan, met die partye wat meer geld het, wat ‘n duidelike voorsprong gaan kry. Dit beteken die ANC, wat boonop ‘n geskiedenis het van die strategiese inspan van staatsfondse kospakkies en ander meevallers, ‘n groot voorsprong bo ander gaan hê. Die DA het gewoonlik ook aansienlike geld beskikbaar, en dit maak die opsie vir ander opposisiepartye om op ‘n manier saam met die DA in ‘n verkiesingsalliansie van die een of ander aard betrokke te wees aantreklik. Die DA regeer ook ‘n provinsie en verskeie munisipaliteite, en hul vermoë kan in die praktyk gemeet word. Dit beteken egter ook blootstelling aan die verkiesingsveldtogte van ander, veral die ANC wat die Wes-Kaap as ‘n “onbevryde gebied” beskou, en sal kwessies soos dienslewering en die sluiting van skole tot die uiterste onder die vergrootglas plaas, al staan die ANC selfs nog meer agter die gemakshuisie se deur (as die gemakshuisie so iets, en selfs mure het).

Die ANC het op die oog af egter ‘n yslike wind gesluk deur pres. Jacob Zuma nie net as sy leier te herkies nie, maar te besluit hy sal die gesig vir die verkiesing wees. Of die ANC bloot geoordeel het iemand wat soveel grondvlak-steun binne die ANC-geledere kan opvorder, ook dieselfde soort steun in die breër Suid-Afrikaanse konteks kan monster, en of bloot geoordeel is dat die ANC se steunbasis in ieder geval so groot is dat dit wat daarbuite is, irrelevant is, is moeilik om te beoordeel.

Dit is wel bekend dat dit wat binne die ANC gebeur en deur die wêreld as skandaal beskou word, nie binne die ANC as sodanig ervaar word nie, en dié vreemde verskynsel is al deur kenners soos onder meer prof. Michael Friedman uitgewys.

Veral die SABC se pogings om Zuma staatlik aan te bied het nie oral geslaag nie. Daarvoor het omstrede opmerkings te veel rysmierwerk gedoen.

Die feit bly dat dit wat die ANC die seerste in die verkiesing kan maak, waarskynlik iets gaan wees wat binne die ANC self gaan gebeur. En hier is nog talle los drade, maar niks is gewaarborg nie.

Maar hoe lyk die potensiaal van die aanslag van buite die ANC?

– Agang SA: Agang word eerste genoem omdat dit die nuutste faktor, en grootliks onbekende faktor is. Dit gaan gewis aansienlike steun trek, maar die vraag is weer of daardie steun hoofsaaklik vanuit die geledere van die ANC of die geledere van opposisiepartye gaan wees? Met emeritus aartsbiskop Tutu wat sy steun van die  ANC na Agang geskuif het, het Agang ‘n belangrike vis gevang, maar daar sal nog heelwat sulke openlike swaaie moet wees voor die party as groot party uit die verkiesing sal kan stap. ‘n Peiling het getoon dit het sowat een persent kiesersteun, en dat baie mense nie daarvan weet nie, en ook nie weet wie dr. Ramphela Mamphele is nie, maar dit sal gou verander. Agang het reeds aangedui dat baie van die mense wat hom steun dit nie openlik kan doen nie, omdat hulle met werk en kontrakte “gestraf” kan word.  Dit is duidelik dat Agang heelwat seun in die geledere van swart intellektuele het, maar of dit genoegsaam impak sal hê om die massa kiesers wat die ongeletterde Zuma aanhang na Agang te swaai lyk nie baie waarskynlik nie. Agang sal ook iets moet optower wat beduidend tot daardie verkiesingsmark kan praat.

– Malema: Dit is ‘n gegewe dat Malema so in hofsake verstrengel sal bly dat hy nie sy hande behoorlik los sal hê om ‘n politieke party ordentlik slaggereed te kry nie. Boonop loop hy tegnies die gevaar dat hy agter tralies kan wees. Hy sal baie steun kan mobiliseer onder jong swart mense maar hy is nou ook al ‘n hele ruk aan sloopwerk van binne die ANC blootgestel, en sy trefkrag neem by die dag af.

– Meshoe: Eerw. Kenneth Meshoe se jongste skuif word onder die loep geneem omdat dit in beginsel die potensiaal het om ‘n groot verskil te maak. Sy kritici, ook binne die ACDP, sal argumenteer dat Meshoe sy en die party se eie grootste vyand is. Min leiers van politiek partye het immers so ‘n “indrukwekkende” lys van politieke lyke gelaat soos Meshoe, wat eenvoudig van ‘n baie lang lys veral blanke opkomende lede ontslae geraak het, met ‘n spoor van groot bitterheid. Sou daardie mense steeds die party ondersteun het, sou die dramatiese kreeftegang met die vorige verkiesing waarskynlik nooit plaasgevind het nie. Aan die ander kant, daar is talle kapitaalryke Christengroepe oorsee, en onder meer Skandinawiese eweknieë wat staatsgeld kry om susterpartye oorsee te steun om demokrasie daar te bevorder. Om as verteenwoordigers van die Christen-demokrasie in SA te kwalifiseer, moet ander partye in dié dampkring eers ingebind word, en hier gaan die ACDP dalk voor die keuse gestel word – of samewerking, of Meshoe, maar nie beide nie. Die ACDP het immers onlangs aan die Christen-Demokratiese Party (CDP), wat al lank werk maak van samewerking van Christelik-gebaseerde organisasies laat blyk dat dit nie in samewerking belangstel nie, en dat ander, soos die CDP, se lede bloot by die ACDP moet aansluit. Die CDP het reeds vordering gemaak in samewerking met onder meer die UCDP, die IVP en dien op die BBB se hoogste gesagsliggaam.

– Die BBB: Met die kongres het die Bruin Belangebeweging besluit dat dit nie as politieke party sal registreer nie, maar die taal was duidelik dat dit ook aktief in die politieke veld sal wees. Dit gaan ‘n belangrike rol, hoewel nie noodwendig bepalende rol nie, speel in hoe bruin mense in veral die Wes-Kaap gaan stem, en in ‘n mindere mate waarskynlik ook in die Noord-Kaap. Dit lyk betreklik seker dat die ANC nie ‘n kandidaat vir steun is nie, terwyl die DA, en Afrikaanse koerante wat in effek die DA steun, die hele kwessie nog baie laag speel. Die BBB is vir partye met hul oog op groot swart steun potensieel ‘n klip in die maag, hoewel die BBB self laat blyk dat dit weens die ANC se beleid van neo-apartheid teensinnig, en reaktief gedwing word om in terme van belangepolitiek te dink. Sommige kleiner partye sal die rooi tapyt vir samewerking uitrol.

– Die DA: Die DA se vooruitsigte is tegelykertyd op die oog af rooskleurig, en ‘n toets vir ‘n internasionale verskynsel wat as die keerpunt van rassedinamika bekend staan. Hierdie balanseerpunt word op ongeveer 30 persent geraam – dit wil sê, wanneer ‘n invloei van ‘n ander kultuur die karakter van die instelling so begin uitdaag, dat die “ou lede” ongemak en selfs verdring begin voel. Dié beginsel is die naweek goed in Rapport beskryf aan die hand van ‘n artikel oor die koshuise by Kovsies wat aanvanklik met oorweldigende steun begin integreer het, tot hierdie “balanseerpunt” bereik is en spanning so ontwikkel het dat die koshuise weer op aandrang van wit en swart in kultuurkoshuise gesegregeer is, voor die herintegrasie deur die huidige rektor opnuut aangepak is. Daar is in internetkommentare en selfs koerante se briewekolomme al hoe meer tekens dat die DA in sy strewe om op groot skaal swart stemme te trek, vir heelwat kiesers wat DA stem (nie noodwendig lede of selfs ondersteuners nie) hierdie balanseerpunt begin toets. Kwessies soos SEB, grondhervorming, gebruikstaal vir mediaverklarings, reaksie op plaasaanvalle (op nasionale vlak) en Julius Malema se haatspraak waar peilings toon dat wit en swart baie uiteenlopende sienings het, bied ‘n groot uitdaging aan partye wat werklik nie-rassig probeer wees. Die interessanheid is dat dieselfde mense wat in die DA “verdring” kan begin voel, nie noodwendig dieselfde ervaring het wanneer hulle by ‘n party wat vanuit die staanspoor “swart” was aansluit nie. Dit is egter ‘n bekende aspek van die dinamika.

Die media

Verlede week het ‘n Gallup-peiling in die VSA ‘n interessante verskynsel in syfers uitgedruk. Onder Amerikaanse kiesers beskou een uit vier mense die media nie as geloofwaardig nie. Die interessantheid is dat ‘n Gallop-peiling aangedui het dat net 23 persent van die ondervraagdes aangedui het hulle het baie, of heelwat  vertroue in koerante en TV-nuus. Dis die laagste vlakke sedert 2007.

Wat ook insiggewend is, is dat hoe konserwatiewer, hoe minder geloofwaardig beskou die mense dié media. Sowat 33 persent Demokrate het vertroue in dié media, en net 19 persent Republikeine dink so.

‘n Ou studie, wat nog gereeld deur die konserwatiewes gebruik word, toon dat die gemiddelde Amerikaans joernalis meer liberaal is as die gemiddelde Amerikaner.

Verlede jaar het ‘n peiling reeds aangetoon veertig persent van die volwasse Amerikaners dink die kuberruim is die beste plek om daagliks oor nuus en ander sake ingelig te word. Altesaam 37 % meen die TV is die beste manier, 9 % die radio en net 7 % sê hulle wend hulle tot gedrukte koerante.

Wat Suid-Afrika betref, blyk dit dikwels uit internetkommentare dat baie Afrikaanssprekendes die groot Afrikaanse koerante bloot as die DA-in-druk beskou (en soms ongelukkig is hieroor). Die SAUK-TV in die besonder, en die SAUk in die algemeen word as pro-ANC beskou. The New Age, en nou met die verwisseling van eienaarskap van die Independent-groep, word ook gereeld as in die  ANC se sakkie beskryf.

Hoe affekteer dit in die eerste plek die geloofwaardigheid van die media self onder verskillende bevolkings- en belangegroepe, en daardeur ook uiteindelik die geloofwaardigheid van politieke partye? Daar is immers ‘n beginsel in bemarking, dat iemand hom sal verset die oomblik as hy agterkom daar word probeer om hom te beïnvloed. En die alternatiewe inligtingsbronne, soos die kuberruim, wat mense wat nie self agterkom hulle word beïnvloed het nie, dit deeglik onder die neus vryf, word al hoe doeltreffender.

Dit kan selfs ‘n interessante studie word of die besluit van die groot Afrikaanse dagblaaie om hul kuberweergawes betaalplatforms te maak, nie ‘n impak op Afrikaanse kiesers se stemvoorkeure volgende jaar gaan maak nie, as beduidende getalle hulle tot ander gratis nuusbronne in die kuberruim wend.

Algemene gevolgtrekkings

In die verlede het dit nie gelyk of suksesvolle of minder suksesvolle regering veel verskil aan die ANC se tradisionele steun maak nie. Die ouditeur-generaal se jaarlikse verslae oor veral munisipaliteite getuig immers hiervan. ‘n Onlangse peiling het ook getoon dat jong swart mense steeds meer vertroue in die ANC as die DA het om dienste (aan die armes) te kan lewer.

Ongelukkig het daar reeds berigte begin kom dat potensiële kiesers aan dreigemente soos verlies van hul pensioen blootgestel word as hulle nie aanstaande jaar vir die ANC stem nie. Of die gesamentlike versekerings van Agang, Cope en die UDM dat dit nie kan gebeur nie, enige beduidende impak kan hê, is nog onseker.

Dit lyk nie of die ANC sy eeufees-euforie in momentum kon omskakel om hom in volgende jaar se verkiesing te bevoordeel nie. ‘n Onbekende faktor bly die invloed n Mandela se afsterwe, en hier sal die kwessie oor die wanneer ‘n groot rol speel. Die ANC sal bepaald vir ‘n ruk momentum kry as die een buitelandse leier na die ander Madiba se lof onverdund besing.  Naby aan ‘n verkiesing sal dié euforie ‘n groot rol speel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae