Nuuskommentaar: Madonsela, Malema, Mathunjwa en Mazibuko spioene?

Foto: Al Jazeera

Foto: Al Jazeera

Die verspottigheid om verskeie prominente Suid-Afrikaners amptelik te wou ondersoek vir beweerde spioenasie op grond van bewerings op ’n bedenklike webjoernaal, Africa Inteligence (sic, siek) Leaks, is lagwekkend. Gelukkig het die minister teruggekrabbel en gesê die ondersoek gaan na die webjoernaal self verplaas word.

Dit neem nie die feit weg dat daar dalk heelwat Suid-Afrikaners, soos ook burgers van haas elke land in die wêreld is, wat om die een of ander rede vir een van die groter moondhede as “spioene” optree nie.

Die inligting wat volg, is nie geklassifiseerd nie, en kon byvoorbeeld goed in TV-reekse soos NCIS waargeneem word, asook uit onlangse onthullings.

Suid-Afrika is juis nou teoreties baie blootgestel hieraan. Ten eerste dui die mees onlangse versoeningsbarometer aan dat die meerderheid Suid-Afrikaners hulle eerstens in terme van ras uitdruk, en nie as Suid-Afrikaners nie. Ten tweede het peilings nou ook al aangetoon dat daar onder die breë bevolking groot ongelukkigheid met pres. Jacob Zuma is, en dat die ANC so opsigtelik alles in die stryd werp om hom te steun, voed ook nie juis patriotisme nie. Voorts is die werkloosheidskoers hoog, en die geleentheid om ʼn klompie geld te verdien vir kennis is aanloklik.

Die name wat die webjoernaal noem, adv. Thuli Madonsela, Julius Malema, Lindiwe Mazibuko en Joseph Mathunjwa, val op die oog af nie in een van die kwesbare kategorieë nie, maar die kennis waarmee hulle in hul kop rondloop, sou onberekenbaar kosbaar wees sou hulle daarmee te koop loop.

Intelligensiedienste werk normaalweg met tussen 80 en 97% “oop” inligting. Dit is inligting wat in bronne soos koerante en op die internet verskyn, en vrylik beskikbaar is.

Daar is egter geklassifiseerde inligting wat die belange van lande raak, en wat hulle nie uit oop bronne kan bekom nie. ’n Wye verskeidenheid maniere word ingespan om daardie inligting te bekom, soos die rig van laser op die venster waar vermoed word oor die inligting gepraat gaan word, en die opneem van die teruggekaatste golwe, baie soos ʼn plaatopname. Meeluisterapparaat in die vertrekke waar sulke gesprekke plaasvind, is nog ’n manier. Elektroniese aftapping word ook ingespan.

Trouens, die volume inligting wat so bekom word, is so enorm baie (waarvan slegs ʼn klein deel relevant is) dat dit menslik onmoontlik is om deur alles te sif. Die rou, onverwerkte data word daarom deur ’n rekenaarstelsel gejaag en die berigte wat sekere sleutelwoorde bevat, word gedupliseer en dan deur die menslike oog nagegaan. Oor die jare verander die tegnologie – waar dit soms in die dae voor 1994 gelyk het of Suid-Afrika se gebiedswater deur ’n drywende ystervark omring is (skepe met antennas wat soos ystervarkpenne orent staan), sal satelliete nou meestal die aftapping hanteer.

Die Amerikaanse NSA was lank kniediep in die sop oor hoe en op wie almal gespioeneer is. Van die “verontwaardigde” lande moes hul verontwaardiging gou sluk toe dit blyk dat hulle nie net soortgelyke operasies uitvoer nie, maar dikwels hand aan hand met die NSA. So het dit geblyk dat ’n Britse intelligensiediens op die Suid-Afrikaanse G20-afvaardiging vir ’n beraad in Brittanje gespioeneer het. Suid-Afrika se verontwaardiging was maar baie yl.

Uiteindelik is dit ’n baie klein persentasie inligting waarvoor spioene benodig word.

Veral drie soorte spioene is van belang.

Die bekendste is die persoon, gewoonlik ’n amptenaar in ’n instansie soos ’n plaaslike intelligensiediens, ’n instansie soos Krygkor, en so meer wat op die een of ander manier gewerf word. Dit wissel van die uitbuiting van geldgierigheid tot ideologiese afvalligheid tot doodgewone afpersing soos ’n indiskresie met ’n prostituut. So word sensitiewe inligting, soos oor militêre operasies, die ontwikkeling van wapens of selfs die identiteit van spioene in die ander land gelek.

Die tweede tipe is sensitiserings- of desensitiseringsagente. Die Suid-Afrika van voor 1994 was ’n gewilde teiken hiervoor, waar buitelandse agentskappe jong, toekomstige leiers geïdentifiseer en “geskool” het om hul toekomstige leiersrol te gebruik om sekere doelwitte te bereik. ’n Ideale “benuttingspunt” sou byvoorbeeld die Kodesa-onderhandelings wees. Hoe meer mense van hoe meer verskillende deelnemende partye deur dieselfde land gewerf is, hoe makliker sou die buitelandse moondheid se uitkomste beding kon word. Amptelike navorsers sien dan verbysterd hoe hul eie, voorgeskrewe insette eenvoudig snippermandjie toe gaan ondanks die amptelike aard daarvan.

’n Derde kategorie is die sogenaamde “stringers”. Dit is gewoonlik joernaliste wat baie goed geplaas is, en dan deur ’n intelligensiediens van inligting “gevoer” word wat ’n gewone joernalis nooit sou kon bekom nie.

Weereens word die belange van ’n buitelandse moondheid gedien – soos die verdagmakery van die land wat die toutjies trek se vyande. Die doel is gewoonlik om die teikenland (die land waar die “stringer” se berigte verskyn) teen die vyand te laat draai. Tipiese inligting sou wees om aan te toon hoe die vyandige land skelm steeds wapens na ’n gemeenskaplike vyand smokkel.

Word die “stringer” boonop in ’n senior genoeg pos in die plaaslike media aangestel, kan hy ook as sensitiseringsagent optree – met ander woorde die lesers subtiel beïnvloed om sekere konsepte te aanvaar wat sy meesters se invloedsposisie versterk.

Wie sou almal op Suid-Afrika wou spioeneer? Die antwoord is eintlik baie kort – byna almal. Die probleem is eerder dat nie almal oor genoeg hulpbronne beskik dat Suid-Afrika as prioriteitsland aan die bod sou kom nie. Maar dit kan aanvaar word dat lande soos Rusland, China, die VSA en Brittanje met taamlik wydlopende aksies in Suid-Afrika besig sou wees.

’n Groot nadeel van menslike bronne is dat hulle menslik is. Die land wat spioeneer, vertrou hul agent nie so ver soos sy neus lank is nie, want iemand wat sy eie land verraai se integriteit is omtrent so betroubaar soos dié van ’n wilde skerpioen. Lande met erkende intelligensiedienste sal dus nooit aan so ’n bron die klassifikasie van “A” (die mees betroubare bron) gee nie. Hy kan wel “1”-inligting voorsien – die mees betroubare inligting. Daarteenoor kan die inligting wat van ’n A-bron (soos die aftapping van ʼn telefoongesprek) 5 (heeltemal onbetroubaar) of 6 (kan nie die geloofwaardigheid bepaal nie) wees. Die teikenland kan byvoorbeeld weet, of sterk vermoed, dat ’n sekere kommunikasie onderskep word, en ’n lokval stel. So kan, hipoteties, doelbewus “gelek” word van militêre oefeninge anderkant Mier. Nie lank nie, verskuif ’n klomp satelliete, insluitende spioenasiesatelliete, na ’n posisie bokant Mier. Dié operasie kos die spioenerende lande enorm baie, want onnodige dryfmiddel is vir die plasing gebruik wat die betrokke satelliete se leeftyd verkort.

Sou daar waarheid steek in die bewerings oor die vier Suid-Afrikaners wie se name genoem is, sou dit interessant wees om te weet vir watter soort spioenasie hulle in die oog sou wees. Madonsela is byvoorbeeld goed geplaas om sensitiewe inligting oor prominente Suid-Afrikaners te lek. Die ander drie is goed geplaas as sensitiseringsagente.

Die blote keuse van name laat dit egter meer klink of dit ’n geval is van verdagmakery. Elkeen van hierdie vier persone kan sekere politici groot skade berokken. En Suid-Afrika se intelligensiedienste het juis nou, ná die seinversteuring in die parlement en die uitlek van ’n vrag inligting, nodig om te beredder wat hy kan. Julius Malema se reaksie op die nuus dat hy as spioen ondersoek sou word, was miskien die akkuraatste: “Is daar nog intelligensie in die intelligensiedienste?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

O wee, sensitiseringsagente…. Ek reken ons het baie van hulle deesdae in die internasionale perskorps…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.