Nuuskommentaar: Mag ons maar die bont hond in raak?

Argieffoto

Argieffoto

Die rubriekskrywer, Max du Preez, meen “ons” het rede om oor talle owerheidsvergrype meer gereeld vreeslik kwaad te word en dit duidelik te maak. Maar terwyl hy ’n oproep op vloermoere doen, het instansies waaroor hy gereeld die pen in gal druip soos AfriForum en Solidariteit al veel meer deur onder meer hofsake die regering op ’n beskaafde manier gedwing om die pad met die Grondwet suiwerder te loop.   

Die rubriekskrywer, Max du Preez, skryf vandag op Netwerk 24 onder die titel, Dis tyd vir kwaad word. Hy gee vervolgens ’n langerige uiteensetting van voorbeelde van bedrog (waarvan sommige soos in die geval van die wapenskandaal deur die Seriti-kommissie toegesmeer is) en meen ons het baie rede om baie kwaad te wees. Net om bietjie rooi rissie by te meng word ’n foto van pres. Jacob Zuma daarby geplaas – ’n gesig wat baie Suid-Afrikaners oombliklik hul bloedgroep laat verander van woede/frustrasie/moedeloosheid … noem maar op.

Max sinspeel “ons” het afgestomp geraak en skop nie die kabaal op wat nodig is nie. Hy is waarskynlik reg, maar het dood nie ’n oorsaak nie?

Suid-Afrikaners moet gereeld hoor die land het die beste Grondwet in die wêreld. Wanneer egter gekyk word na die motivering hiervoor is dit gewoonlik simplisties dat die Grondwet destyds die jongste was, en dat die opstellers die voordeel gehad het van talle ander te raadpleeg en die sterkpunte daarvan op te neem. Ongelukkig werk dit nie so nie. Met ’n meer wetenskaplike ontleding blyk dit dat die ou Weimar-grondwet van Duitsland baie hoog aangeslaan is. Ook verskeie lande se grondwette word nie net hoog aangeslaan nie, maar as ontwerp vir die realiteit van die land, soos heterogeniteit, aangeprys.

Niemand sal Brittanje se grondwet as swak beskryf nie, al is dit nie ’n geskrewe grondwet nie, met die elemente daarvan vervat in wette, hofuitsprake, gewoontereg, konvensie en vele meer. Toegegee, daar is ’n sterk gevoel dat dit gekodifiseer moet word. (Op 23 April 2012 het Maroela Media reeds in ’n nuuskommentaar breedvoeriger hier na die kwessie van die beste grondwet gekyk.)

Twee bekende maar uiteenlopende kommentators het ook reeds hul menings op skrif gestel wat op iets minder as ’n volmaakte Grondwet dui. Dr. Leopold Scholtz het by geleentheid geskryf dat die Nasionale Party sy derde span se reserwes as onderhandelaars na Kodesa gestuur het. Dr. Piet Croukamp het regses daarvan beskuldig dat hulle die Grondwet misbruik deur daarmee die pilare van ’n liberale Grondwet om te trek (die uwe kon hierdie opmerking nog nooit uitgepluis kry nie).

Hoewel dit nie noodwendig beteken dat die Grondwet in geheel swak is nie, dui dit tog op swak plekke, en as ’n grondwet swak plekke het, en daar is ’n meerderheidsregering wat hom nie veel daaraan steur nie, dan gaan daar iewers frustrasies opbou. Aan die een kant byvoorbeeld gemeenskappe wie se grondwetlike regte vertrap of misken word, en aan die ander kant ’n regering wat sy mond uitspoel oor diegene wat die Grondwet en howe gebruik (misbruik) om die regering se diktatuur van die meerderheid kort-kort nek om te draai.

Uitspraak is voorbehou in die geding tussen AfriForum, Solidariteit en verskeie vriende, versus die Universiteit van die Vrystaat oor die UV se nuwe taalbeleid.

AfriForum en vriende beroep hulle hoofsaaklik op die bepalings van die Grondwet, en beweer die UV het (dalk moedswillig) nie die grondwetlike bepalings in ag geneem nie.

Die UV se verweer is basies dat die behoud van Afrikaans as onderrigtaal klaskamersegregasie skep en daardeur konflik. Dit is eerder ’n sosiologiese as regsargument, en boonop hoogs betwisbaar omdat die kampusonluste hier baie sterk ooreenkomste toon met die filosofiese onderbou van onrus by Amerikaanse universiteite, waar taal en segregasie daaroor geen rol speel nie. Roer plaaslik bietjie Fanon in, en die UV se argument wil-wil bietjie verspot lyk.

Die UV se nuwe beleid is glo “in pas met transformasie” en daarom gerugsteun deur die Grondwet. (Die woord “transformasie” kom nie in die Grondwet voor nie, hoewel die grondwetlike hof reeds beslis het dat die ganse Grondwet in wese ’n transformasiedokument is. Maar kan pertinente, gekodifiseerde bepalings in die Grondwet so maklik uitgeskuif word weens die transformasiebevinding, en nog erger, die howe wys gemaak word dat grondwetlikheid ondergeploeg moet word oor jong skurke hulle tot geweld gaan wend?)

Dit is goed en wel om bitterlik kwaad vir die regering te wees oor ’n vreeslike magdom goed. Trouens, op die oomblik kom heelwat van die woede uit die ANC se eie geledere soos met die relletjies (en dood) wat verband hou met die ANC se aanwysing van Thoko Didiza as Tshwane se burgemeesterskandidaat.

AfriForum is wyd, onder andere deur einste Max, gekritiseer omdat op ’n wyse op die EFF se woedeuitbarsting oor Afrikaans op Tuks gereageer is wat self op ’n voet-neersittery neergekom het. Max sou in alle waarskynlikheid die blouaapstuipe gekry het as AfriForum dieselfde soort woede as die EFF uitgepak het.

Maar ook die gebruik van die howe verleen nie altyd aan diegene wat hulle om die behoud van grondwetlike regte tot die howe wend, in alle geselskap die morele hoë grond nie. AfriForum se intrede (deur die howe) by die taalstryd by die US het wye kritiek ontlok, onder andere van prof. Anton van Niekerk. Is dit logies dat ’n hoogleraar in filosofie die boodskap aan studente van ’n opvoedkundige rigting uitstuur dat die handhawing van die Grondwet sekondêr moet staan tot sekere ander oorwegings (soos dat ontevredenes hulle tot wetteloosheid en vandalisme sal wend)?

Opsommend kan dit gestel word dat die gebreke in die Grondwet onder meer veroorsaak dat ’n individu baie moeilik sy grondwetlike regte kan opeis (asook dat ander onregte wat die owerheid pleeg aangespreek word). Dit lei tot frustrasie. Die uitlaatklep wat werk, is nie noodwendig vloermoere nie, maar om kollektief deur burgerlike instellings kragte saam te snoer. Burgerlike instellings word as belangrike onderdeel van ’n grondwetlike demokrasie beskou, net soos die vrye pers. Dit handel nie net oor om howe toe te hardloop en ander soorte van kollektiewe protesaksies nie, maar om ook intern te versorg soos Solidariteit se Helpende Hand, en om die hande uit die moue te steek soos AfriForum se projek om self slaggate gevul te kry.

So is al veel meer vermag as ’n hele swetterjoel vloermoere, selfs vloermoere wat deur briewe in koerante of deur rubrieke ’n hiperboliserende uitwerking gekry het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris Lombard ·

Dit is dalk pertinent om te vra wat bedoel word met “transformasie”. Die uiteindelike doelwit is duidelik. Alle “verskille” moet verdwyn. Alles moet “inklusief” wees. Dus moet die volgende “verdwyn”:

Klas, ras, taal, geslag en geloof sonder twyfel. Selfs “mooi” en “lelik”. Miskien selfs ouderdoms en intelligensie verskille.

Mense wat “Christene” is en wat lekker saamspeel met die transformasie agenda moet weet, “hulle” gaan vir jou geloof ook kom. (In sekere aspekte het hulle al klaar)

Ek dink dit is ook belangrik om te besef dat dit reg oor die wereld gebeur, nie net hier by ons nie.

Theuns ·

Herman jou kommentaar is briljant! Ek is dankbaar dat jy nooit maar nooit probeer het om polities korrek te wees nie. En jy is nie ‘n draadspringer soos Max nie. Sy voordurende smagting na sy liberale tjommies se goedkeuring maak hom onduidelik en verwarrend. Hy is soos iemand wat in die skerp son afge-ets staan, sy skaduwee niksseggend ! Maar kyk hoe skreeu hy soos ‘n maer ….. wat keelaf gesny word as hy in die ….. geskop word deur sy eie tjommies. Politieke Kommentaar het betrekking.

Piet Snot ·

Oom Max, ek dink nie daar is baie onse in jou pond nie.
Ek het myself van jou “ons” onttrek sedert jy omtrent 30 jr gelede die kluts kwytgeraak het.
Jy het self die huidige regime aan bewind help bring, so jy’s mede-verantwoordelik vir wat hulle nou doen.
So jammer Oom Max, maar jy het nie die reg om namens my te praat nie.

Poot ·

Piet Snot
Nou praat jy. So ‘n bek kort jêm. Max die”liberaal”.

Flippie ·

Ons grondwet beteken niks vir die gewone man in die straat nie. Ons het doodgewoon nie die fondse (soos bv Afriforum) om ons grondwetlike regte af te beskerm nie.

Dit is veral waar as jy blank is. Mens word deur verstommende mate van verstoting en ‘n apatiese housing begroet by regerings instellings waneer jy geregtigheid eis.. Maar as jy swart is en jou klag is teen ‘n wit persoon gaan die regerings instellings oorboord met hulp.

Ek kan bg bewerings met werklike gebeure staaf. Maar die spasie is beperk daarvoor.

Die enigste beroep wat voordeel trek uit hierdie grodwet is die juriste, die prokereurs, advokate en ander jurists in die privaat sektor en in die regering.

Maar vir ons gewone mense beteken dit sweet blou mokoll.

JC ·

NB:
Dit is bitter belangrik om in ag te neem die advokaat (wow, wat ‘n uiters intelligente vrou!) die Regters tydens die aanhoor van slotargumente op briljante wyse daarop gewys het dat die “founding fathers” (soos sy hulle noem) van die Grondwet in hul wysheid natuurlik voorsien het dat die vooropstelling daarvan om in die amptelike taal van jou keuse onderrig te word tot ‘n sekere mate (SLEGS) in die lesinglokaal tot segregasie van studente sou lei, maar tog (o.g.v. o.a SA se geskiedenis oor taalstryde) het hul die fundamentele reg INGESLUIT in die GW omdat dit so ‘n bittere belangrike mensereg is! Wil jy my se dat die “arme ou versukkelde studente” (ag sies/shame tog!) nou so papbroekig is dat DIT hul pla dat Afr studente in hul taal onderrig word terwyl vermenging en integrasie oral op kampus is? ASSEBLIEF! SEKERLIK OM HEMELSNAAM TOG NIE! Indien DIT die toekoms van SA is, is daar nie hoop nie. Let asseblief tog op wat ek gese het hier want dis bitter belangrik en effektiewelik smoor dit enige teenargumente van segregasie (as shame tog!) effektiewelik in die kiem! Pleks die “arme studente” eerder hul menslikheid en verdraagsaamheid wys deur met ‘n goeie gesindheid Afrikaans aan te leer en so iets nuuts te leer en onderrig te word daarin, maar nee, daarvoor is die haat te groot; nie vir ons pragtige taal Afrikaans nie maar teenoor Afrikaners!!

Oudste ·

Dit is interressant hoeveel sikofante gatoorkop slaan wanneer hulle vorige liberalistiese uitsprake terugkom om hulle openlik te konfronteer, tande te wys en julle diskrediteer, ne Max en Piet Kopdoek. Die beste manier om te verdedig (familie juwele) is om aan te val ne julle 2! Die Hanskakies tydens die 2 de Boereoorlog het dieselfde gedoen en die toekoms sal julle uitspuug vir julle self gesentreerde, ek hou van myself en soen die spieel in die oggende, uitsprake. Sterkte met julle self opgelegte ballingskap aan beide kante van die politieke sfeer.

Deene ·

Max se voorspellings oor hoe rooskleurig nuwe SA sou uitdraai was verkeerd. Hy het nie die intellek om strategies vooruit te dink nie daarom beteken max se opinie niks.

Michael Saayman ·

Max het die al die pot al die jare mis gesit,nou trap hy daarin !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.