Nuuskommentaar: Magashule maak gereed vir groot geveg  

Ace Magashule tydens sy hofverskyning. (Foto: NVG)

Ace Magashule se hofverskyning Vrydag was belangrik. Sy toespraak na die tyd was nog belangriker.

Net meer as ʼn maand gelede het ʼn valse Valke-lasbrief vir Magashule se inhegtenisneming die ronde gedoen. Magashule het natuurlik die geleentheid aangegryp om die Valke en Nasionale Vervolgingsgesag uit te daag op die valse aanklagte van korrupsie. Volgens Magashule was dit nie nodig vir ʼn “media spektakel” indien daar wel aanklagte van korrupsie teen hom gebring word nie. Hy het ook tydens sy toespraak die ANC belowe dat hy nie ʼn spektakel wil veroorsaak nie.

Magashule het ʼn gehoor ondersteuners in die Vrystaat op ʼn opgestelde verhoog deur ʼn gereëlde klankstelsel toegespreek. Hy wou baie duidelik ʼn media-spektakel van sy uiteindelike verskyning maak. Hy wou seker maak dat hy van dié geleentheid gebruik maak om te sê wat hy dink en wat hy gaan doen rondom hierdie aanklagte van korrupsie.

Magashule se toespraak en die gepaardgaande gebeure was alles ʼn herlewing van sy struggle-jare. Hy het heel dramaties as struggle-held by die hof opgedaag. Verskeie oud MK-lede was teenwoordig in hul MK-uniforms. Verskeie struggle-liedjies is gesing. Magashule het eerstens vermeld dat die ANC geïnfiltreer is deur anti-rewolusionêre magte waarvan hulle ontslae moet raak. Die ANC sukkel met ʼn impimpi wat inligting van binne met owerhede buite die ANC deel en die ANC saboteer. Die ANC se struggle-paranoia het hierdeur voortgeleef – die vrees van ʼn infiltreerder wat die bevrydingsbeweging van binne saboteer. Hierdie selfde paranoia verskyn telkens in Jacob Zuma se verwere teen korrupsie-aanklagtes.

By die byeenkoms het ondersteuners hemde met die gesig van Ramaphosa op verbrand. Sodoende was daar die bevestiging dat hulle nie noodwendig Ramaphosa as president van die party ag nie, asook dat Magashule se struggle steeds teen die staat is – nou word die staat net verteenwoordig deur anti-rewolusionêres soos Ramaphosa.

Magashule het verduidelik hoe die ANC se 109de verjaardag volgende jaar in die Vrystaat gevier sal word. Hy sal waarskynlik dié geleentheid gebruik om die pad na sy politieke herlewing te plavei. Ook moet die ANC se nasionale konferensie van Mei 2021 gebruik word om van anti-rewolusionêres in die party ontslae te raak. Magashule gaan waarskynlik hierdie geleentheid gebruik om van Ramaphosa in ʼn mosie van wantroue ontslae te raak.

Magashule se volgende hofdatum is eers in Februarie 2021. As hy daardie datum net een keer uit kan stel, kan hy dalk sy greep op die ANC versterk voordat hy weer in die hof hoef te verskyn. Indien hy in Mei van Ramaphosa ontslae kan raak, sal sy lot waarskynlik veel anders lyk.

Daar is ʼn goeie kans dat Magashule Zuma se herlewing van 2005 naboots. Zuma was op daardie stadium weens korrupsie-aanklagte as adjunkpresident van die land afgedank, maar was steeds die ANC se adjunkpresident. Mbeki moes eers deur amptelike partystrukture en prosedures van Zuma as adjunk van die party ontslae raak. Dit sou ook geskied by die nasionale konferensie van 2005. Zuma het egter by dié konferensie uit die dood uit opgestaan en is herbevestig as adjunk van die ANC. Hierdeur het Zuma nie net Mbeki ondermyn nie, maar ook sy pad na die presidensie plavei. Op die 2007 nasionale konferensie sou Zuma Mbeki as president van die ANC vervang. Hierdie oorwinning het die diep skeur in die ANC bevestig tussen die blatant populistiese Zuma en die meer liberale Mbeki.

Hierdie verdeling eggo ook die skeiding wat daar tans tussen die populistiese Magashule en die skynbaar liberaler Ramaphosa is.

Magashule is reeds besig om binne partystrukture voorbrand te maak vir ʼn interne geveg. Hy het ʼn groot deel van sy toespraak daaraan toegewy om die Vrystaat te herinner hoe goed hy as premier vir hulle was. Hy het vertel van die duisende kinders wat hulle oorsee laat oplei het, die huise wat hy vir hulle gebou het, die paaie en water wat hulle nou in die Vrystaat het. Magashule het hulle herinner dat hy eintlik ʼn goeie man is – hierdie korrupsie-aanklagte moet nie sy geskiedenis van goeie dade oorskadu nie.

Magashule se ondersteuners het na die hof opgeruk. (Foto: ANA)

Magashule weet hoe belangrik dit is dat hy steun op grondvlak binne die party geniet. Hy weet goed dat die narratief wat hy binne die party kweek belangriker is as die omstandighede buite die party. Indien hy partylede kan oortuig dat hy en die ANC ʼn slagoffer van anti-rewolusionêre magte is, sal hy sy oorlewing en herlewing kan verseker.

Magashule het ook bevestig dat hy nie uit die ANC gaan tree totdat die takke so besluit nie – hulle het hom immers verkies. Hierdie is in skrille kontras met die NUK se besluit vroeër vanjaar dat alle partylede wat vir korrupsie ondersoek word tydelik uit die party moet tree. Magashule se verontagsaming spreek van die dieperliggende magstryd wat heel waarskynlik in Mei ʼn hoogtepunt gaan bereik.

Indien Magashule in Mei van Ramaphosa ontslae kan raak, gaan hy waarskynlik in beheer van sy korrupsie-lot kan wees. Die oorweldigende gevoel is dat Ramaphosa met sy laaste bietjie politieke kapitaal strategiese aanslae teen korrupsie in die party wil maak – spesifiek teen die opponerende Magashule-faksie. Indien Ramaphosa daarin slaag, koop hy nie net tyd vir homself deur die land se vertroue te wen nie, maar ook deur die mag van sy grootste teenstanders te verklein.

Magashule gaan waarskynlik sy hofverskyning gebruik om sy mag binne die ANC te versterk en van Ramaphosa as interne bedreiging ontslae te raak. Hierdie stryd tussen Ramaphosa en Magashule is lank nie meer die tradisionele faksiegevegte van die ANC nie. Dit feit dat dit so in die openbaar geskied, spreek van ʼn party wat op die moontlike afgrond van skeuring staan. Magashule het in die lig van die korrupsie-aanklagte nie veel om te verloor nie en gaan dit vir Ramaphosa onmoontlik maak om hulle geskille stilweg binne die party uit te sorteer. ʼn ANC-skeur lyk in hierdie stadium onafwendbaar. Dit sal hopelik ʼn nuwe era van meer gefragmenteerde politiek in Suid-Afrika inlei. Een waarin ʼn moeitelose greep op absolute mag al moeiliker gaan raak en groepspolitiek al belangriker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Persheks Adri ·

Hier kom sports eish met Ace! Die ANC het die bed op gemaak en moet maar pa staan vir hulle gemors! Ace is BAIE gevaarlik en weet TE veel pffft

Hierdie ou kan nie ‘n president word nie ons gaan af chop en die hel gaan eers los wees. Dan sit ek maar met Cyril

Pierre ·

Dit sal binne gevegde bly, daar sal niks van kom nie, dit is in die ANC se belang om as eenheid op te tree en sal keer op keer as n eenheid by die stembus staan.

Harry ·

Pierre, ek hoop jy is reg. As hierdie man regkry waarmee hy dreig het hy al by monde gese die ANC is meer belangrik as die staat. Dit sal niks goed vir ons beteken.

Dup ·

In die land van die blindes is die eenoog koning…….kospakkies,t hemde,pette,baniere en korrupte tenders kan baie mense blind maak.

Rentia ·

Ek kan net my vorige stelling herhaal en bevestig. Ace werk met ‘n agenda. Hy is uiters gevaarlik en weet alles van almal in die ANC. Hy sal nie alleen onder gaan nie. Hemele behoed ons as die man ooit moet president word!

Derek ·

Wat nou gebeur is alles die moeite werd, dit is die gevolg en uitvloeisel van hul eie wanorde en wandade. Ons sal sien of Cyril gaan staande bly want selfs hy wat homself n Christen noem kan net so min vertrou word as die ander. Sy boom is self vol vrot vrugte. Die antwoord le in wat beleggers vereis en nie wat hul politieke agenda is nie.

Cornelius ·

As Cyril en sy ondersteuners verloor gaan die Magashule-Zuma faksie n kommunistiese een party diktatuur daarstel om hulle magsposisie permanent te maak.

Derek ·

My verwagting is dat n groot “aardskudding” ons land binnekort gaan tref wat n natuurlike skeiding sal veroorsaak. Die huidige politiek voorspel dit.

Nie Verbaas ·

Impimpi se jy Ace? Het hy gedink almal moet dit wat hy doen maar net aanvaar? Hoe arrogant. Hy het regtig sekerlik nie gedink dat sy skelmstreke nooit sal uitkom nie. Kan nie so onkundig wees nie. Ou Àce, jou ex PA sing soos n kanarie.

LANA is ELANè ·

VLOEKWOORD ~ verdomde sirkus wat ons regeer, mag die hele ANC sommer hulself van binne af uitmekaar verskeur en klaarkry, sodat mense wat werklik omgee vir SA en sy mense kan red wat oor is nadat hulle mekaar klaar vernietig het. Als gaan net oor mag en pag en absolute selfverykking ten koste vd land se mense en infrastruktuur, niks minder as ‘n spul geldwolwe nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.