Nuuskommentaar: Magashule ‘se boek’ – morele kompas of aanslag teen Ramaphosa?

Ace Magashule. Foto: ANC/Facebook

Die idilliese veldtog van verskeie mense om kiesers op te roep om in die komende verkiesing vir pres. Cyril Ramaphosa te stem, lyk al meer na ’n misoes. Pleks van agterdeurstemme vir die ANC trek, kan dit boonop dalk nou eerder vir dié party ’n vol skoot bokhael in die agterstewe gee.

’n Belangrike sneller hiervoor is ʼn nuwe boek, Gangster State: Unraveling Ace Magashule’s Web of Capture, en selfs nog meer die ANC se amateuragtige poging om die trefslag van die onthullings oor sy sekretaris-generaal, Ace Magashule, te probeer fnuik. Seker die vernaamste fout wat die ANC in sy reaksie maak, is om die tydsberekening van die onthullings so na aan die verkiesing as vuilspel af te maak, en daarom onwaar.

Toe nie só nie. Heelwat van die onthullings is al tevore gedoen. Een is dat oudpremier Marshof van die Vrystaat volgens die boek onthul het dat Magashule op die punt was om deur die destydse Skerpioene in hegtenis geneem te word. Dit was egter destyds onder meer goed onder die LPW’s van al die partye bekend, en daar het niks van gekom nie ná Jacob Zuma president geword en die Skerpioene “betyds” ontbind het. Maroela Media het ook onder meer op 12 September 2018 daaroor berig. Dit sê nie veel van die ANC se grondvlak-inligting dat dit nou eers basies dieselfde nuus as “nuut” aanbied nie.

Heel pikant het die ANC se eie minister van Intelligensiedienste ook pas beweer dat Magashule met die kandidaatlys van die party gepeuter het.

Die ANC se waarnemende woordvoerder, Dakota Legoete, leef in ’n droomwêreld deur die skrywer van die boek Gangster State, Pieter-Louis Myburgh, van ’n slenter te beskuldig wat ten doel het om die ANC in ’n slegte lig te stel. In watter heelal leef Legoete as hy meen slenters is nodig om die ANC in ’n slegte lig te stel?

Dit sal Legoete loon om bietjie deur die OG se boeke te blaai, waaruit Myburgh vrylik aanhaal. Of meen Legoete die OG se verslae is fopnuus?

Het Legoete werklik nog nooit tevore van die Vrede-melkplaas, Estina, en die R30 miljoen vir armes wat vir die Gupta-troue by Sun City help betaal het, gehoor nie?

Die nuus oor ’n bedenklike kontrak en bedenklike werk aan ’n behuisingsprojek by Bethlehem waarby Magashule se dogter betrokke is, is ook nie nuut nie en het juis onlangs weer skerp mediadekking, ook op SAUK-TV, gekry. Het Legoete vergeet dat dit al ou nuus is dat Magashule se een seun vir die Guptas werk, en die ander baie betrokke is by Vrystaatse tenders?

Dit blyk verder dat Myburgh deur die loop van sy ondersoek ’n lys van 60 vrae aan Magashule gerig het om op te antwoord. Magashule het nie daarop gereageer nie. Voorts berig News24 dat dié nuusmedium ook oor ’n ander ondersoek vrae aan Magashule gerig het, waarop hy nie gereageer het nie.

In die lig van die regsbeginsel dat “hy wat nie gereageer het toe hy kon en moes nie, word geag in te gestem het”, sou Magashule se stilswye sy kans op ’n suksesvolle hofsaak oor die boek nie veel gebaat het nie.

Volgens Luthuli-huis (waarvan Magashule self die bestuurshoof is) se mediaverklaring beoog Magashule moontlik regstappe. So eenvoudig sal dit egter nie wees as die uitgewer bewys lewer dat die oorwig van saakmakende inligting al lankal openlik in die openbare domein was, en dat nóg Magashule nóg die ANC tevore dit duidelik genoeg ontken het nie.

Maar gaan die nuus, wat in bykans enige ander land die finale spyker in Magashule se politieke doodskis sou wees, Ramaphosa so erg slaan soos hier voorgestel word? Magashule is immers geen vriend van Ramaphosa nie, en is opsigtelik deel van die faksie wat Zuma ondersteun. Die antwoord lê in Ramaphosa se stilswye nadat die boek bekend gestel is. Ramaphosa het nie onbeperkte mag om teen skandemakers op te tree nie, maar hy kon ten minste ’n beroep op Magashule gedoen het om in belang van die ANC terug te staan tot die bewerings in die boek behoorlik as onwaar bewys kon word. Magashule sou kwalik ’n ander keuse gehad het as om te bedank of “tydelik af te staan”.

Die lys van bedenklike figure wat die ANC bly koester en selfs op hul parlementêre kandidatelys plaas – sommiges selfs hoog op die lys, raak al langer en word bykans elke dag voor die Zondo-kommissie en ander ondersoeke langer.

Ramaphosa se stilswye (en selfs periodieke goedpratery van hopelose ministers) raak nou ’n onhoudbare gedawer. Terselfdertyd begin al meer vingers na Ramaphosa self wys, soos die sleutelrol wat hy as hoof van Eskom se “oorlogskamer” beklee het, maar dié instansie se dolle gejaag na die afgrond voortgeduur het.

Sy swye nadat die Menseregtekommissie met sy uitspraak oor Julius Malema en kie polarisasie in die land ’n hewige hupstoot gegee het, gaan onverskoonbaar blyk te wees, tensy Ramaphosa nou baie skielik wys van watter stoffasie hy gemaak is.

Die eerste geleentheid om die verstikkende lug te suiwer kom klaarblyklik Maandag wanneer die ANC se top-6, skynbaar ongeskeduleer, byeenkom.

’n Belangrike aanduider dat die druk op Ramaphosa onhoudbaar word, is dat oudpres. Kgalema Motlanthe, pas voor die boek se inhoud bekend geword het, gesê het die land is nou, ná die val van Zuma, slegter daaraan toe as daarvoor. Dit is harde woorde omdat Motlanthe geen vriend of aanhanger van Zuma is nie.

Die DA het in reaksie ook gesê daar is geen verskil tussen die ANC onder Zuma, en die ANC onder Ramaphosa nie. Dis ’n harde oordeel oor ’n man wat nie lank gelede nie nog in baie kringe ’n Ramaforie laat loop het. Sy eie hantering van die grondgrypkwessie het die Ramaforie laat begin afblaas, maar sedertdien skiet hy, gewoonlik deur strategiese stilswye, self gate in sy eie beeld.

Die Vryheidsfront Plus se lid van die provinsiale wetgewer en nasionale jeugleier, Tammy Wessels, sê in reaksie op die boek dit is duidelik dat daar ’n dringende amptelike ondersoek in die bewerings en aantygings wat in die boek gemaak is, moet geskied. Die VF Plus sê lankal reeds dat die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping ook Ace Magashule moet insluit weens al die bewerings soos in die boek vervat. Dit is om hierdie rede dat die VF Plus reeds 13 Februarie 2019 aan regter Zondo geskryf en gevra het dat Magashule voor die kommissie moet verskyn weens al sy beweerde betrokkenheid by staatskaping.

Nog ’n groot fout is dat Ramaphosa weier om aan ’n openbare presidensiële debat deel te neem. Iemand wat niks het om oor skaam te wees of weg te steek nie, laat nie so ’n kans verbygaan terwyl die donker wolke besig is om saam te pak nie.

Om nou gesien te word as iemand wat die erg gediskrediteerde Magashule koester, kan amper nie op iets anders as ’n ramp uitloop nie.

Maar dan … dis die ANC waarmee die land nou te kampe het. In akademiese kringe is lankal gesê ’n nasionale skande word nie in die ANC as skande ervaar nie. Maar dit sal ’n skande wees as so ’n geestesdwaling juis die oorsaak is dat die organisasie nie by die stembus gestraf word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

marco polo ·

Nee, Tammy Wessels, netnie nog ‘n ondersoek nie. Dis tyd dat arrestasies plaasvind en mense tronk toe gaan.

TimJan ·

Hoe is dit moontlik? Dat sulke aantygings met persone wat die bevestig. Gupta BANKSTAAT wat transaksies bevestig… En klagtes word terug getrek.
As dit ek en jy was, was ons reeds agter trallies en ALLE bates gefries.
Politiek is verhewe bo die grondwet en die parlement ingesluit.

Slim Jan ·

Dit laat my dink daar is meer as een Ramkat wat daar is en die se boek is nog nie geskryf nie. Hoe kan hulle dan teen mekaar optree?

Judge Dredd ·

Herman -jou laaste paragraaf is mees akkuraat.

Slegs as die ANC by die stembus gestraf word, sal hul daadwerklik verander(probeer verander).

Die moontlikheid van ‘n 5% steun verloor het klaar ou Cyril geforseer om voor te gee of hulle korrupsie wil bekamp – ek se voorgee want natuurlik is dit nog net kommissies – daadwerklik is niemand aangekla/ gevonnis.

Andreas ·

Herman, ‘n paar van ons veg nou onderaan ‘n berig van so ‘n dag of twee gelede, wat ‘n staatsman, ‘n leier, of iemand van presidensiele materiaal is, daar is ook verwys na direkteure van maatskappye, en wat nog, wat moontlike materiaal is, maar ooooo weeee …
As ons eerlik moet wees, lyk dit my die beste voorbeeld moet mens maar in die geskiedenis gaan soek.

Andreas ·

Laat ek byvoeg, die beste wat ons in SA kan verwag is soos wat ons die afgelope 20 jaar ervaar, en vorentoe is daar ook nie lig aan die einde van die tonnel nie.

marous ·

Hoe die regeerders van die land nie kon dink dat die skelmstreke hul gaan inhaal nie is verbysterend . Die feit dat daar absuluut niks gedoen word aan die vergrypers nie is absuluut skokkend . Die skade wat hierdie mense aangerig het , kan nooit herstel word nie . Anargiste gaan oorneem en diegene wat verantwoordbaar is gaan tussen die massas verdwyn . Dis verseker .

Andreas ·

Herman, kom laat ons dit nou maar erken, die land is die afgelope 25 jaar slegter daaraan toe as daar voor. Maar dit moet in baie, baie, baie klein skrif geskryf word, eintlik dat mens dit nie kan lees nie.

John ·

Die destydse NP het destyds boedel oorgegee… uitgestap… uit vrees en respek vir die ANC-vandale se bruuske aanslag. Wat verwag ons gaan nou gebeur? Gaan die oorwinnaars bereid wees om na so ‘n heuglike gebeurtenis sommer so erken dit was ‘n ligte mistasting van die bangbroek-nippies? Nee. Bloedsuiers klou om te hou want dit is hul forte: uitsuig tot die ‘gevangene’ bleek en koud en kaal morsdood lè.

Trol ·

Hoekom sou die skrywer n aanval teen die paddaman loods deur n boek te skryf wat magashule onder die loep neem? Sy grootheidswaan ken duidelik geen perke nie.

Andreas ·

Nou vra ek met trane in my oë, hoe kry mens die mense, dis nou die stoere blindelingse ANC ondersteuners en die toelae aanhardloopers so ver om binne ‘n maand ‘n kopskuif te maak om vir ‘n ander party te stem? Genade, hoe kan daar ‘n nuwe party tot stand kom? Die derde vraag, waarvan die uitkoms ewe onmoontlik is, hoe kry mens vir hulle ‘n nuwe leier wat kan oorneem, dis nou een waarvan die hande skoon is en wat ‘n onkreukbare karakter het, ‘n staatsman?

Basjan ·

Andreas, jy kyk met ‘n goeie bril na die situasie. “Die blindelingse ANC ondersteuners en toelae aanhardlopers” sal beslis nie binne ‘n maand oortuig kan word om ‘n kopskuif temaak om vir ‘n ander party te stem nie. Ek is nie ‘n profeet nie, maar ek voorspel (en ek vermoed jy ook) dat die ANC steeds die verkiesing gaan wen (hoewel met ‘n kleiner meerderheid).

Dries du Toit ·

Uitstekende intelligente artikel Herman. Sou bitter graag wou he om te hoor hoe kopdoek Piet Croucamp hierdie kommentaar sou verkeerd bewys het. Volgens hom het Ramaphosa n goeie plan

aj ·

Briljante artikel Herman!!!

Ek lag uit my maag uit vir jou raak beskrywings!

DOEN SO VOORT DAPPER STRYDER!!!

Cornelia ·

Dankie Mnr.Toerien. Die woord “mentaliteit” is gepas in die Anc se roekelose politieke dryfsfeer. Geld teenoor Gewete. Geld het ‘n neiging om baie “rond” te word wanneer dit in die verkeerde hande in ‘n sinistere dobbelspel ten koste van ‘n saak van goedkeuring, gekelder word vir individue se persoonlike bedorwe denke. Wat Ramaphosa betref weet ons reeds van watter stoffasie hy gemaak is. Hy het homself reeds duidelik geïdentifiseer en sy handelsmerk vrymoedig bemark. Is daar nog plek vir teleurstellings. Vir die wat hoë verwagtinge gekoester het vir vrede en verantwoordelike welvaartskepping en opheffing, is die huidige bewind ‘n verlammende plunder plaag.

Gert van Wierdapark ·

Hoe meer feite oor die Regstelendes die lig sien, hoe sterker staan hul skynbaar tussen die massa Kripvreters op die Soustrein

Hans ·

Hoe wit mense nou oorweeg om anc te stem om Ramaphosa te help teen die Zumas gaan mens se verstand te bowe. Hy was of te bang of hy wou nie standpunt inneem teen staatskaping en korrupsie nie.As hy nie daarvan bewus was nie maak dit hom nog meer nutteloos.Sy uitsprake o.a. dat die Boere duisende Zulus vir hul grond vermoor het maak van hom nog meer van n leunaar en n vyand van die Witman.Hy is gevaarliker as Zuma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.