Nuuskommentaar: Magsmisbruik, teistering en konstruktiewe ontslag

Argieffoto

Argieffoto

Die saak van konstruktiewe ontslag wat ’n voormalige woordvoerder van die Inkomstediens, Adrian Lackay, teen sy eertydse werkgewer aanhangig gemaak het, trek veral belangstelling omdat dit lig kan werp op die werkswyse van ’n Zuma-ontplooide kommissaris, Tom Monyane. Maar dit is ook nodig om die prosedure vir ’n saak van konstruktiewe ontslag onder die vergrootglas te plaas.

Die saak oor konstruktiewe ontslag wat ’n voormalige woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Adrian Lackay, teen sy eertydse werkgewer by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak het, plaas die kwessie van magsmisbruik, teistering en konstruktiewe ontslag oor ’n wye spektrum onder die vergrootglas.

Hierdie spesifieke saak is nog sub judice, maar die impak daarvan kan nie geïgnoreer word nie. Die Kommissaris van die Inkomstediens, Tom Monyane, staan as sentrale figuur in hierdie saak. Monyane is deur pres. Jacob Zuma in hierdie pos aangestel, en is dus betreklik onaantasbaar selfs al is hy en sy minister, Pravin Gordhan, nie op die beste voet nie. Monyane se naam word ook met ander omstrede kwessies genoem.

Heelwat is al geskryf oor vermeende magsmisbruik deur Zuma wat sy buitengewone groot grondwetlike magte met aanstellings ten volle benut om sy stelsel van patronaatskap te vestig.

Alle gevalle van teistering kan egter nie na Zuma se magsmisbruik herlei word nie. Lackay se geval kan wel deeglik daarna herlei word.

Met teistering word ’n veel wyer konsep as seksuele teistering bedoel, hoewel dit seksuele teistering insluit. Mans (en vroue) kan dus ook die slagoffer wees van teistering wat niks met seksuele teistering te make het nie.

Met arbeidswetgewing word dit baie moeilik gemaak om iemand te ontslaan, veral nie ’n onskuldige persoon wat boonop nog deur ’n goeie vakbond gerugsteun word nie. Die “uitweg” om van iemand ontslae te raak, soos iemand wat onkreukbaar is en dus korrupsie aan die man sal bring, is om die lewe vir die persoon deur teistering so onhoudbaar te maak dat hy self bedank. Dit staan as konstruktiewe ontslag bekend.

’n Saak van konstruktiewe ontslag kan net teen ’n werkgewer aanhangig gemaak word as die werknemer reeds bedank het, maar aanvoer die lewe is vir hom so moeilik gemaak dat hy nie anders kon as om te bedank nie.

Dit beteken nie dat enigeen wat stres ervaar weens teistering in die werkplek nou sommer kan bedank en ’n saak van konstruktiewe ontslag aanhangig gaan maak nie. Die slagoffer moet kan bewys dat hy die interne grieweprosedures aangewend het – iets wat vir ’n getraumatiseerde persoon baie moeilik is, omdat hy weet om sy baas te verkla, sal net die teistering laat toeneem.

Voorts is dit baie belangrik dat die slagoffer goed rekord hou van gevalle van teistering, en verkieslik ook bewyse byhou.

Dit is onwys om hierdie pad sonder die noue ondersteuning van ’n goeie vakbond te loop, verkieslik van ruim voor die bedanking af. Nie alleen help ’n vakbond ’n mens om in elke stap die regte prosedures in te span nie, maar die vakbond kan die situasie ook probeer voorkom deur die saak met die werkgewer op te neem.

In Suid-Afrika is die arbeidsreg omvattend in wetgewing vasgelê, wat ietwat teenstrydig is met die neerslag wat natuurlike geregtigheid (soos via die administrasiereg) in die arbeidsreg behoort te vind. Met teistering is daar ruim ruimte vir die vorming van presedentereg deur te kyk na voorbeelde elders. Die Spaanse en Ierse regspraak oor teistering is byvoorbeeld baie goed ontwikkel.

Daar is egter gevalle waar dit eenvoudig nie anders kan nie as om die groot stap van bedanking met die oog op konstruktiewe ontslag te neem.

Baie gevalle van teistering sou voorkom kon wees as die baas, en die baas se baas wat hom in sy kwaad sterk, behoorlik in goeie bestuurspraktyke opgelei sou wees.

Die geval van die sogenaamde SAUK 8 wat op so ’n wyse ontslaan is dat die Arbeidshof dit nie net omgekeer het nie, maar ook persoonlike kostebevele uitgereik het, is ’n voorbeeld van swak bestuurspraktyke. Die doodsdreigemente en soortgelyk wat die agt ontvang het, sou as teistering geklassifiseer kon word as ’n verband bewys kon word.

Met die omvang van korrupsie kan verwag word dat teistering van onkreukbares ’n baie hoë voorkoms sal hê.

Die belangrikste les is egter dat dit onwys is om hierdie pad sonder die rugsteun van ’n goeie en kundige vakbond aan te pak. Solidariteit het byvoorbeeld bewese sukses op hierdie terrein behaal.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

miv ·

Opleiding in goeie bestuurspraktyke vir Zuma en sy trawante? Elke regdenkende mens weet Zuma en sy ‘puppets’ maak en breek soos hul wil om hul verrotte party te ‘boost’. Lees gerus Zille se biografie, wat ek persoonlik dink is maar net die puntjie van die ysberg wat ontbloot word. Sommige politici neem niemand behalwe hulself in ag nie. Reg en geregtigheid is nie deel van hul woordeskat en leefwyse nie. Moenie die man op straat gering skat nie, ons neem waar wat in die land aangaan. Vir jare al word kundiges uit posisies ‘verwyder’ sodat kamerade die poste kan vul. Dis hoekom ons land in so ‘n helse gemors is. Al die jare wat die ANC regeer was daar geen begeerte vir bestuursopleiding nie. Toerien, wie dink jy gaan die voorstel ter tafel lê? Hulle sal jou uitlag. Zuma sê self die Westerse werkswyses is nie hoe Afrika dinge doen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.