Nuuskommentaar: Maldafi Ghadema

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Kort-kort vra ‘n meningsvormer dat Julius Malema geïgnoreer moet word. Die argument is dat die baie aandag, ook media-aandag wat die knaap vir sy absurditeite kry, aan hom ‘n onverdiende statuur gee. So word niets iets, en raak hy ‘n onverdiende faktor. So eenvoudig is dit egter ook nie.

Om bo uit te kom in so ‘n groot organisasie soos die ANC-Jeugliga is geen geringe prestasie nie. Boonop het die jong Malema nie die wegspring-voordeel van ‘n stam-adel soos byvoorbeeld Mandela en verskeie ministers en parlementslede nie wat danksy die staatsbefondsing van tradisionele konginshuise opvoedkundige voordele kon geniet.

Malema se ma was ‘n enkelouer-huishulp, en hy moes heelwat vindingrykheid aan die dag lê om nie net as leier na vore te tree nie, maar op jeugdige ouderdom, geoordeel aan eiendomme, snyerspakke en spandabelrigheid, nie die einde aan sy rykdom te ken nie. Malema is nie sonder presedent nie, en daar is selfs rolmodelle.

Ook Adolf Hitler het as beskeie vreemdelingsoldaat in die Duitse weermag daarin geslaag om deur populisme die Führer van die Duitse Ryk te word. Onder Malema rolmodelle tel Ché Guevarra, Fidel Castro, Hugo Chavez en Robert Mugabe, van die wêreld se voorste muishonde. Chavez het pas geen geheim daarvan gemaak dat hy teleurgesteld is dat Muammar Ghaddafi se bewind beëindig is nie, terwyl Mugabe ook Ghaddafi openlik gesteun het.

Die voormalige Libiese leier, Muammar Ghaddafi. Foto: GCIS

Daar is ook ‘n verbasende klomp ooreenkomste tussen Ghaddafi en Malema. Beide het as jong leiers na vore getree. Soos Ghaddafi, ry Malema ook op die rug van rewolusiepraatjies. Soos Malema het Ghaddafi ook ‘n beskeie herkoms gehad – hy het in ‘n Bedoeïenetent van ‘n klein, verarabiriseerde Berberstam grootgeword, baie soos Malema wat uit die Pedistam kom en ‘n magsposisie gebou het in ‘n organisasie wat tradisioneel deur Xhosas en Zoeloes oorheers word. Ghaddafi se held in sy jeugjare was die linksgesinde Egiptiese president, Abdel Nasser, wat self deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het.

Terwyl Ghaddafi na hy koning Idris verdryf het hom en sy familie volgestop het – na raming met ‘n fortuin van $200 miljard terwyl ‘n derde van sy land in uiterste armoede laat leef – het hy ‘n beskeie vertoon opgesit. Hy het nie soos Idi Amin aan homself hoë militêre range toegeken soos veldmaarskalk nie, maar op ‘n betreklik beskeie kolonelsrang vasgesteek, waarskynlik in navolging van Nasser. Hy het ook nie president of eerste minister geword nie, maar amptelik bloot die titel van “leier van die Groot 1 September Revolusie” gebly. Maar dat hy ‘n bloeddorstige diktator was, was gewis.

Malema, terwyl hy rol in die geld, die vertoon van lyfwagte geniet, en op jeugdige ouderdom lyf aangesit het wat wit mense na wie se boepies hy neerhalende verwysings maak na ‘n Ethiopiese hongersnood laat lyk, slaag hy steeds meesterlik daarin om die armes se lied aan te hef.

Terwyl Gaddafi in baie opsigte ‘n sterk Islamitiese karakter geopenbaar het, laat Malema hom ook gereeld in sekere kerke geld, en het selfs uit sy trustfonds ‘n kerk gebou. Het Malema hom net oor die lot van die armes ontferm sou hy ‘n goeie kans gestaan het om as ‘n soort eietydse Evita onthou te word. Hy kon as raserige gewete vir die ANC se sagte hantering van korrupsie en die impak daarvan op werkloosheid gewees het. Hy gebruik egter ook sy vermoë op te sweep om polarisasie oor ‘n wyer front aan te blaas – waaronder tussen wit en swart. Hy gebruik sy greep op die jong werkloses meesterlik om die ANC gyselaar te hou en om sienderoë die polarisasie te duld, en selfs deur ‘n appèlsaak teen sy haatspraakveroordeling te steun.
Selfs sy grondgryp-praatjies is berekend. ‘n Onlangse meestersverhandeling toon duidelik dat daar reuse persepsieverskille tussen wit en swart oor grondbesit is – met sowat 80 persent swart mense wat glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Dié persepsie is veral sterk onder die Zoeloes en die Noord-Sotho’s, Malema se stam, waar meer as 85 persent glo wittes het swart mense se grond gesteel.

Hoewel hy self ‘n mankolieke matrieksertifikaat bekom het, benut hy die gevolge van ‘n gedokterde geskiedenis – kurrikulum. Die polarisasie manifesteer onder meer daarin dat die FAK ‘n eenstop-webwerf op dreef kry om die werklike geskiedenis op te teken, as teenvoeter vir waarna hulle skryf baie mense na verwys as die haat-kurrikulum. Of dit verband hou is nie duidelik nie, maar ‘n volgens die studie glo ‘n groeiende aantal blankes ook nou dat wit mense swart mense se grond afgevat het – sowat 28 % Engelssprekendes en meer as 20 % Afrikaanssprekendes.

In die rewolusionêre taal van Malema bestaan daar nie ‘n vredesakkoord wat die land rig nie – dit is vervang met ‘n oorwinning wat in geen gesaghebbende geskiedenisboek opgeteken is nie. Dat die werklikheid en die oorwinningsideale so ver van mekaar verwyder is word meesterlik gebruik om rewolusie te stook. Vanoggend is berig dat Malema die naweek by een kerk deur die kerkleiers die hande opgelê is, en kort daarna, met sy Ché Guevarra-pet op, gedreig het dat alles wat wit mense besit, afgevat sal word.

‘n Rits e-posse doen die rondte waarin aanspraak gemaak word op allerlei binne-inligting oor die komende Jeugliga-optogte. Die gemene deler is dat die optogte doelbewus gewelddadig gaan verloop. Met Malema se geskiedenis vreet ‘n goedgelowige publiek hierdie stories op groot skaal vir soetkoek op. En die ANC laat hom op sleeptou neem. ‘n Ongetemde tier word opgesaal. ‘n Gulde geleentheid om by die wêreldwye uitkringaksies van die Wall Street-besetting in te skakel en ‘n tipe morele baken in te span, word verslons.
Pres. Jacob Zuma se weifel-aard laat Malama toe om in statuur te groei, terwyl die president se aansien in dieselfde proses ten gronde gaan.

Vir diegene wat meen Malema moet doodverswyg word is daar nuus: Hy laat hom nie doodswyg nie en is ‘n meester om in die kalklig te steel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae