Nuuskommentaar: Malema as simptoom én probleem

Waarskynlik die mees kommerwekkende kenmerk van die positiewe of neutrale reaksie op die skorsing van Julius Malema, is die totale afwesigheid by sommige partye en ontleders van verwysings na die grootste skade wat Malema aangerig het – naamlik die polarisasie in die land wat hy tot by kookpunt opgejaag het.

Met die reaksie van diegene wat Malema steun buite rekening gelaat, is daar steeds ‘n ontsaglike kloof tussen die reaksies van instansies soos Solidariteit by monde van sy navorser, Eugene Brink, Afriforum, die TLU SA, die Vryheidsfront Plus en die Christen-Demokratiese Party aan die een kant, en ander partye wat hoofsaaklik op swart kiesers ingestel is soos die IVP, ACDP en die UDM, asook ‘n rits politieke ontleders aan die ander kant vir wie die polariseringskwessie geen rol gespeel het nie.

Trouens, Malema se optrede het nie net gemeenskappe gepolariseer nie, maar minderhede vervreem en selfs verbitter. Enkele dae gelede nog het ‘n Indiërbelangegroep ‘n kriminele klag by die SAPD teen Malema gelê oor hy hulle ‘n neerhalende naam genoem het. Die ANC het Malema op, wat die minderhede as die ernstigste klag beskou – juis die aanstook van polarisasie – onskuldig bevind omdat die klaer volgens die verklaring nie sy saak bewys het. Die media het wél vroeër lustig oor Malema se gewraakte Galeshewe-uitsprake berig, opmerkings wat hy by herhaling gemaak het.

Die rede waarom die klag nie kon bly staan nie, kan dalk gevind word in ‘n onlangse hoofartikel van Volksblad, waarin daarop gewys is dat pres. Jacob Zuma self op die verhoog was toe Malema van sy uitsprake gemaak het dat blankes misdadigers is. Zuma het nie ‘n vinger gelig of die bekkige jongman gerepudieer nie. Om Malema hieraan skuldig te bevind, sou vir die ANC onder appèl ‘n reuse verleentheid word. Malema se bitsige grondgryppraatjies is op die basis van wit misdadigers geskoei – wat ook die oorspronklike inwoners, die Koi en San, se historiese plek misken en beledig.

Hoewel die uitspraak andersins goed gemotiveer was, sal die vermoede altyd bly staan dat die skorsing meer daarmee te make het dat hy kant teen Zuma gekies het – ‘n ongemaklikheid met die Bloemfontein-konferensie en die ANC se eeufeesvieringe onderweg. Dit sal ook niemand verbaas nie as Malema reeds minstens gearresteer sou wees vir kriminele ondersoeke teen hom nog voor sy appèl aangehoor is, en dat die ANC van so ‘n moontlike arrestasie bewus was. Dit sal die tegniese lastigheid van ‘n appèl in effek tot niet maak.

Die werklike slegte nuus is dat daar geen behoorlike boodskap van die ANC uitgegaan het dat die aanstig van polarisasie verkeerd is nie, en is die ANC se versekering dat dit met die verhoor die ANC se nie-rassige ideaal wou onderstreep, pikant. Die ANC het hom immers reeds verbind daartoe om Malema enduit in sy appèlsaak teen sy skuldigbevinding aan haatspraak te ondersteun.

Die ander kamp se beoordeling van die uitslag en die irrelevante rol wat Malema se vervreemding van minderhede gespeel het, blyk onder meer uit die kommentaar van Justice Malala. Hy meen die uitspraak trag om die ANC nader te bring aan die ANC van Mandela en Luthuli, wat in wese op ‘n belediging vir die nalatenskap van dié twee voormalige presidente neerkom. Die huidige generasie word steeds gebombardeer daarmee dat Mandela se groot rol versoening was, terwyl iemand bepaald hard op sy kop moes geval het om Malema se vryspraak op Galeshewe-klag daarmee te assosieer.

Veel gewag word gemaak van die byt wat nou uit die nasionaliseringsdebat gehaal is. Niemand is so naïef om te glo dat die debat gaan lê het nie, of dat die ANC se bontpratery hieroor sal ophou nie. Die bontpratery is minstens net so skadelik, indien nie nog skadeliker vir beleggersvertoue nie, en hoewel die markte direk na die uitspraak positief op gereageer het, dui die breë opweeg van ‘n mandjie ekonomiese faktore dat dit waarskynlik meer met die internasionale vertroue in die wêreldekonomie as Malema se rol te make gehad het. Goud het byvoorbeeld effens gedaal, en die platinumprys het effens gestyg, gewoonlik tekens van meer vertroue in die wêreldekonomie. Ongelukkig het spook wat dié tendens geselskap hou, die olieprys, ook hoër beweeg.

Hoewel Malema ‘n groot steunbasis het, is dit nietemin goed vir die moraal van die land dat Malema teenspoed gekry het, al was dit nie heeltemal vir die regte redes nie. Oor ‘n breë front sou ‘n sug van verligting opgegaan het, en sal duime vasgehou word dat Malema se ander beweerde sondes hom inhaal voor hy dalk op ‘n tegnikaliteit in ere herstel is, en dan bepaald nog sterker en luidrigtiger kafpratend die toneel sal herbetree.

Of nog erger, as die 2021-kongres, soos Malema dit stel, hom en die ander wat nou die onderspit gedelf het, bevry. Hiermee het Malema so duidelik soos selde sy opposisie vir Zuma aangetoon, wat beteken al manier waarop Malema so sal herrys, is oor Zuma se politieke doodskis.

Verantwoordelike Suid-Afrikaners sal duime vashou dat die magte wat agter die skerms aan ‘n meesterplan werk, steeds op koers sal wees om Zuma te onttroon, want die land kan, en kon nog nooit, Zuma as president bekostig nie. Maar dit kan Malema nog veel minder bekostig, en dus sal die duime vasgehou word dat die ANC tegelykertyd Zuma en Malema se politieke loopbane saam na die laaste rusplek sal stuur.

Dit is, in die finale instansie, ‘n groot hartseer dat die Malema-kwessie die land oor so ‘n wye spektrum aangryp, en demonstreer die vastrapplek wat kenmerke van ‘n eenpartystaat, waar staat en landsgeregering boonop byna sinoniem is, reeds gekry het. In daardie opsig sal die werklike waarde van Malema se lot daarin kan lê as dit nou ‘n groot uittog uit die ANC inlui, en ‘n wyer spektrum opposisiepartye die vrug pluk.

Malema was lank die simptoom en oorsaak van baie van die land se probleme – dit sal ironies wees as sy lot deel van die oplossing word – maar uiteraard sonder hom.

Lees gerus ook Eugene Brink se bydrae.
Klik hier om die oorspronklike nuusberig te lees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae