Nuuskommentaar: Malema die kaktus aan die boesem

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Die kliniese juridiese proses waarop Julius Malema hom beroep om wetgewing waarvolgens hy aangekla word, ongrondwetlik te laat verklaar, word deur erge rassistiese uitlatings oor wit mense, en absoluut verkeerde historiese feite oor grondbesit, erg versuur. Die gevaar bestaan dat die groot poel van onderlinge goedgesindheid tussen gewone mense deur sy onverantwoordelike politiekery onder druk geplaas kan word. En ’n vreedsame pad uit dié tameletjie gaan met baie moeite gevind word.

Tegnies is dit reg dat Julius Malema die hooggeregshof nader om ’n ou wet waarkragtens hy aangekla word se grondwetlikheid in die hooggeregshof te laat toets. Trouens, dit sal waarskynlik goed wees dat daar regsopruiming geskied rondom die grondwetlike houdbaarheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste nr. 17 van 1956, veral in die konteks dat dit eintlik ook een van die hoeksteenwette is wat saam met die verblyfsekerheidwet en aanvullende wetgewing regte op grond en bewoning reël. Hierdie wetgewing kan nie anders as problematies en in onderlinge verband as kompleks in uitleg beskou word nie.

Malema is daarvan aangekla dat hy ’n bepaling in hierdie wet deur oproepe tot grondbesetting oortree het deur mense tot onwettige grondbesetting aan te hits.

Die probleem is nou die rits uitlatings wat hy ná sy hofverskyning aan sy ondersteuners gemaak het. Volgens ’n berig in Netwerk 24 het Malema onder meer gesê: “Die wit minderheid, wees gewaarsku: Ons sal ons grond vat, dit maak nie saak hoe nie. Dit word onvermydelik. Die grond sal gevat word op enige manier wat nodig is. Die grond sal aan swart mense teruggegee word.”

Of dit nie beter sou wees om hom weens rassistiese optrede of haatspraak of ander wetgewing aan te kla nie, sal blyk uit die uitslag van sy voorneme om die wet, wat hy ’n apartheidswet noem, se grondwetlikheid in die hooggeregshof te toets.

Daar is ’n algemene opvatting dat wette mettertyd weens onbruik kan verval, maar in hoofstuk 4 van ’n studiestuk oor die tenietgaan en wysiging van wetgewing word dit duidelik gestel dat anders as reëls van die gemenereg, wetgewing nie weens onbruik verval nie. ’n Hof moet bepaal of dit (nog) geldig is, en die grondwetlike versoenbaarheid daarvan is belangrik. Die hof sal ook nie noodwendig die hele wet weens ongrondwetlikheid laat verval nie, maar net die gedeeltes wat ongrondwetlik is. In sekere omstandighede mag die howe die betekenis van wetgewing aanpas en wysig.

Hoewel artikel 2 van die Grondwet uitdruklik bepaal dat wetgewing wat met die Grondwet bots, ongeldig is, beteken dit bloot dat sulke wetgewing potensieel ongrondwetlik is.

Tot dusver lyk dit dus of Malema grondwetlik reg optree deur die wet te laat hersien, maar dit is kwalik die punt.

Daar is verskeie probleme. Eerstens gaan hy uitgesproke van die standpunt uit dat wit mense geen aanspraak op grond het nie, en dat alle grond aan swart mense behoort. Hy beroep hom onder meer op die Freedom Charter. Die Vryheidsfront Plus stel dit so: “Uiteindelik sal Malema die volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir die konflik wat hy nou stook oor grond in Suid-Afrika. Wit grondeienaars het gewerk vir hul eiendom en het dit regmatig bekom en is daarom geregtig op hul eiendom.”

Malema het ná sy hofverskyning verskeie stellings gemaak wat juis dít waarvoor hy aangekla word, herhaal, maar dít waarmee hy sy stellings ingekleur het, stel hom ook bloot aan ander regsoptredes.

Hiermee plaas hy die saak in ’n heel ander dimensie. Soos die Vryheidsfront Plus dit stel, hy maak hom aan haatspraak skuldig. “Malema se uitlatings wat lui, ‘We are not calling for the slaughtering of whites, at least not for now’, is haatspraak en daarmee sê Malema dat daar ʼn tyd kan kom dat hy swart mense wel sal vra om wittes uit te moor. Dit is rassehaat en skep die potensiaal van ʼn burgeroorlog in Suid-Afrika.

“Malema en die EFF moet kennis neem dat wit grondeienaars nie net gedwee sal sit en toekyk hoe hul grond beset en afgeneem word nie.”

Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, sê sy party sal om hierdie redes ʼn klag indien by die parlement se etiek-komitee teen Malema oor die feit dat hy die ampseed wat hy by die parlement afgelê het, verbreek. “Die ampseed (bylae 2 van die Grondwet) bepaal duidelik dat lede van die parlement onderneem om die volgende te doen: ‘… die Grondwet en die ander reg van die republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, en onderhou’. Daar is geen twyfel nie dat Malema met sy optrede hierdie onderneming met sy aanhitsing verbreek.”

Omdat Malema se vertrekpunt oor die oorsprong van grondeienaarskap so verkeerd is, kan verwag word dat verskeie belangegroepe, onder wie ook Khoi-San-groepe, op die een of ander wyse by die hooggeregshofsaak betrokke sal raak om die werklike historiese feite op die tafel te plaas. Daar bestaan byvoorbeeld ooglopend ’n reuseverskil in die weergawe van Malema en die ad hoc-komitee oor grondbesit. Die komitee het die opvattings, soos breedweg nou deur Malema verteenwoordig, as “die groot leuen” beskryf.

So ’n toetrede tot die saak sal egter behoorlik die muskeljaatkat tussen die hoenders loslaat, want daar was groot ongedurigheid in die parlement toe dr. Pieter Mulder voorheen ’n geskiedenisles hieroor in die parlement afgesteek het. Tot Zuma het sy mond bitter hieroor uitgespoel.

En Zuma se kennis oor grondsake is juis nie om oor huis toe te skryf nie. Hy het byvoorbeeld vanjaar weer die kluitjie gebak dat die grond wat swart mense gekry het (verwysend na die tuislande) die droë, onvrugbare dele van die land verteenwoordig. Reënvalkaarte toon duidelik dat die omgekeerde eerder waar is.

Om sake reg te stel, sal diepgewortelde opvattings reggestel moet word.

Malema se jongste optrede waarborg byna dat munisipaliteite wat die opposisie met die gedoogde steun van die EFF regeer, bitter kwesbaar is, en dat onwettige grondbesetting met die steun van die EFF in daardie munisipaliteite in ’n ommesientjie in ’n warboel gedompel kan word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

WL ·

My kommer is nie dit wat Malema kwytraak nie (niks wat hy sê skok my nie). Wat my wel kommer is hoeveel ondersteuning hy geniet, al maak hy sulke rassistiese uitlatings.

Dit is groot rede vir kommer.

WL ·

My kommer is nie dit wat Malema kwytraak nie (niks wat hy sê skok my nie). Wat my wel kommer is hoeveel ondersteuning hy geniet, al maak hy sulke rassistiese uitlatings.
Dit is groot rede vir kommer.

Dit is groot rede vir kommer.

Justice ·

Ek sal nie verbaas wees indien Malema deur Mugabe mildelik befonds word nie.

Uvonka ·

Die mentaliteit van die mense verbaas my, vat, vat, vat dit is ons reg, en dan om wat daarmee te maak??? Niks wat hulle aanpak is suksesvol nie.

Doret ·

Ek wonder soms of malema al gaan sit en dink het da is baie minder bevoorregte blankes ook gewees ok ja hulle het nie in plakkershutte gebly ma da was erge armmoede en een ding kan ek se die boere van di land werk hard vir wat hulle het simmiges verloor als om kop bo water te hou Wit mense is nie sommer net met n silwer lepeltjie gebore nie van ons wittes werk ons gatte af net om n oordentlike lewe te lei Skrik wakker Malema jys n aanhutser van die eerste waters

GES ·

Dit sal ‘n wonderlike dag wees as die mense net hulle huiswerk doen en hulle feite agtermekaar
kry. Ek hoop hy word behoorlik vasgetrap en gestraf. Dit lyk my dat hy nog nie “getransformeer” het nie. Dit gaan oor nasiebou en nie ‘n koninkryk vir hom self bou nie.

Leendert ·

WL, Malema se grootste ondersteuning kom van die armes af, daardie mense wat nie grond kan bekostig, of het nie, hy maak baie lank al die geluide wat hulle wil hoor, verniet grond, verniet onderwys, ‘n swartman moet grond hê, maak hy hulle wys. Wittes het die swartman se grond afgevat. Dis sy handelsmerk uitspraak. Hy probeer sy uitsprake so stel dat hy nie te ver oor die tou trap nie. As hierdie dinge nie in die howe stopgesit word nie, en hy aanmekaar toegelaat word om met sy radikale uitsprake weg te kom, swart teen wit op te sweep, wag daar nog meer rasse onenigheid in die land.

Kyk maar hoe het hy, na die Munisipale verkiesings woes daarop aangedring dat, in daardie gebiede waar die EFF saam regeer, die EFF die grondsake portefeulje moet hanteer.

Terloops Herman, ek hou van daardie woorde heel bo van jou: Malema, die kaktus aan die boesem. Dit sê als.

Theuns ·

Uitstekende Kommentaar Herman. Ek verbaas my oor jou energie om regtig waardevolle kommentaar te lewer oor gebeure in SA! In jou kommentaar spreek jy die Leun oor Grondbesit aan en ek verwys na die weergawe van die Ad Hoc Kommitee vs ANC /Juluis Malema en ook Pieter Mulder se geskiedenis les in die Parlement. Die verskillende weergawes is die groot probleem. Die ANC het begin om namens die Afrikaner sy Geskiedenis oor te skryf om sodoende n weergawe te skep wat op leuns en propaganda gegrond is. En as jy die leun lank genoeg vertel dan word dit geglo as die waarheid! Dit het so erg geword dat die nuwe geslagte jongmense wit en swart dit glo! Ek self het ‘n probleem om my kleinkinders van die waarheid te oortuig. Ons weet dat Juluis is ‘n uitstekende strateeg is en dat sy verhouding met die DA slegs ‘n “Marriage of Convenience” is om die ANC by te kom maw is dit net ‘n tydelike reeling. Die EFF het nie nie juis noemenswaardig stemme by gekry in die laaste verkiesing nie en daarom gaan hy die uitsprake oor witmense maak om beter te doen in die volgende verkiesing! Die VF+ het ook met die DA hande gevat vir dieselfde redes as die EFF, “A Marriage of Convenience’!

Theuns ·

Ek kan ook ‘n tydperk onthou dat die VF+(Pieter Mulder) deur Zuma in die ANC ingesluit was om die Afrikaner kastig te verteenwoordig? Dit het toe nie eintlik gewerk nie behalwe om die aanslag teen witmense ‘n bietjie te versag! Die feit dat die Politieke partye (DA/EFF/VF+) in ‘n koalisie is bevoordeel die DA/EFF maar doen niks vir die VF+ nie! Maar nou ja die mense het daarvoor gestem en is water onder die Brug! Na my mening gaan die Koalisie ook verhoed dat die twee partye ,DA en VF+, enige uitsprake of aksie teen die EFF se rassistiese uitsprake en doen en laate sal instel? Hule is dan Tjomme in die Parlement! En Juluis weet dit! Hoor ek hom lag?

christine ·

Ja moenie kommer oor die een nie. Lag maar net. Hy jaag wind en sal nie lank meer hier wees nie dan is hy van die toeneel af. O O Oros

Jan ·

Christine, jy wat nou van Oros praat. Madonsela het mos nou ‘n week of so gelede in ‘n onderhoud met die media na die ANCYL se president, Collen Maine, as Oros verwys. Sy het nie geweet wat Mainse se regte naam was nie, maar het geweet wat sy bynaam is wat mense hom noem, nl Oros. Ek sien sy het nou intussen vir die ou om veskoning gevra.

Johan ·

Hy gaan hom ook nie steur aan daai nuwe rassime wet nie……dis alles sy taktiek om wit mense te probeer bang maak………hy het mos ruk gelede gesê……”white people are going to quite their jobs an leave”…….hierdie is nie zim nie ou maat jy gaan jou g@#$ sien……..dis net vir my verstommend hoe stil alle wit mense is hier oor……die tyd is verbyvdat ons politiek korrek moet optree en praat…….ek sien nie een engelse wit persoon sy mond oop maak oor die aangeleentheid nie……

stev ·

Almal druk hulself nie in op sosiale media uit nie, vir baie redes. Moenie kommer nie.

TTh ·

… stilte voor die storm, Malema wil ‘n storm opwek en hy sal nie teleurgestel word nie, boere afrikaners het nie baie om te praat nie, die skrif is aan die muur, vasbyt, min dae …

Sonya ·

Johan ,eks engels en ek praat afrikaans ook ,baie mense wat engels is praat of antwoord in afrikaans op n afrikaanse blad..As dit engels is praat ek engels.So moenie dink geen engelse mense kommentaar op al hierdie afrikaanse posts!Ons doen!in die taal wat dit in geskryf is.

Niks is onmoontlik ·

Niks is onmoontlik vir my God! As ons boere ons oë op God gerig hou sal daar vir ons uitkoms wees.. al lyk dit nou onmoontlik maar die feit van die saak is as ons na die slag van Bloedrivier kyk.. tussen 10 000 en 15 000 Zulus teen slegs 474 boere en die Here het ons beskerm! Daars nie een boer daai dag dood nie.. ek reken die ratio vandag is baie beter!

KP ·

Hy weet dit is die enigste manier hoe om die swart bevolking agter hom te kry, blaas rassisme aan. Mugabe het hom mos goed geleer.

MercMan ·

Eers wil ons van internasionale hof ontrek? Dan hierdie uitsprake? Nag van die langmesse? Vra maar net.

stev ·

Ek stem, moenie agteroor sit nie. Wees paraat, propaganda is baie lelike ding en dit is al telkemale oor en oor bewys.

susan@ ·

Die hof moet hom nou permanent vas vat. Daar is te veel moorde gepleeg en mense vermink en aangerand in Suid Afrika!!!! Die mense in die land verdien n vreedsame lewens gehalte! Dit is God se land en Hy is vrede en Liefde.

Gideon ·

Herman Toerien ek wil net vir jou ‘n pluimpie gee!! Jou navorsing en skryfstyl is so goed en mens kan nie ophou lees aan jou berigte nie!! Hou asb so aan om berigte te plaas sonder om kant te kies!

Milan ·

Mnr. Malema: Wat die hart van vol is loop die mond van oor. Julle het reeds begin om ons by die dag te slag. Toekomstige konfrontasie is onvermydelik.

Marius Liebenberg ·

Malema nie die enigste kaktus. Daar is nog baie ander kaktusse. Zuma is die grootste kaktus.

Jan van Riebeeck ·

Malema se uitlatings skep ‘n gulde geleentheid vir Afrikaners om deels met hom saam te stem en te verklaar dat hulle ook nie belangstel om deel van die korrupte inmekaartuimelende reenboog nasie te wees nie (weliswaar om ander redes). “Irreconcilable differences” gaan nie weg omdat daar ‘n wet teen haatspraak opgestel word nie, dit bly daar omdat dit deur genetiese -, omstandigheids – en kultuur faktore vir die res van tyd daar sal wees. Daardie verskille het ook niks met kleur of ras te doen nie.
Dis hoog tyd dat Afrikaners wat so voel ‘n brief met soortgelyke verklarings by elke enkele staatskantoor gaan aflewer.

Erf Wetter ·

Stem 100% saam. Die reënboognasie is soos ‘n wanfunksionele huwelik – ‘n “arranged marriage” daarmee saam. Al die partye werk wil nie ewe graag hê dit moet werk nie, werk nie ewe hard daaraan nie en maak nie ewe veel en belangrike toegewings nie. Die dag is hopelik naby dat daar besef word dit kan en sal nooit werk nie, en dat die beste oplossing in almal se belang ‘n egskeiding is.

asjas ·

Mense hierdie mens is n baie siek mens. Net God kan ons teen sulke mense beskerm. Ons moet bid dat God intree en hom vasvat. Hy us besig om sy aanhangers net so siek soos hy te maak.

Alida ·

Dit help ons niks om tekere te gaan nie. Ek vertrou maar net dat die owerhede hierdie arrogante vent sal vasvat en hom die straf gee wat hy verdien. Eintlik hoort hy in die tronk.

John ·

Dit is nie ‘n nuwe ding nie. So vroeg soos 1830 nadat boere uit die kolonie in die Caledon-omgewing hartbeeshuisies opgerig het en seisoenaal mielies aangeplant het, het jaloerse sendelinge Moesjesj (‘n voortvlugtende Zoeloe wat mettertyd in die berge, nou Lesotho, uitgewekenes versamel het) aangepor om die boere te gaan verjaag. Boere is bv na die Kaap ‘teruggeroep’ en sendelinge en swartes het hul plase beset. Plaashuise van weerstandiges is afgebrand. Eerwaarde Roland van Beerseba ea van die Franse Sendingenootskap en die Brit, dr Philip, was voorbokke in kwaadstiging. Goewerneur Gray het na ondersoeke die boere, wat nie vermoor is nie, weer hul eiendom terugbesorg. (Schoeman en Prinsloo se geskiedkundige geskrifte hieroor bevat meer inligting.)

Hannetjie Harvie ·

Dink Malema nou die boere hier in Suid Afrika, gaan hom in nooi vir tee, en se daar is my grond, dit is joune?????? Nee mnr Malema, jy en jou makkers sal nog agterkom dit gaan nie so maklik wees nie. Ek dink nie jy sal kan kou wat jy afbyt nie.

Max ·

Alles wat Malema kwyt raak, word nog al die jare deur die ANC gepropageer.

Bernard Jacobs ·

“Die wit minderheid, wees gewaarsku: Ons sal ons grond vat, dit maak nie saak hoe nie. Dit word onvermydelik. Die grond sal gevat word op enige manier wat nodig is. Die grond sal aan swart mense teruggegee word.”
Wéét net Malema, dit gaan nie sommer so maklik wees nie. Dink jy die wit boere gaan stilsit en kyk hoe julle hul grond inpalm. Wees verseker, en wees gewaarsku, jy speel met vuur en jy gáán jou vingers verbrand. Hierdie is nie Rhodesië nie!!!

Helene ·

Nou se jy vir my, wat van bruinmense en Indiers ens? Antwoord my

Arsene ·

Dis tyd dat die Afrikaner hul kinders vertel wat verkeerd geloop het in 1992 en eintlik rindom die JA- stemmery.
Vertel hulle hoe julle teen alles wat waar en eg was gerebbeleer het en eerder rugby gekyk het. Hoe julle na elke vergadering van Kaapstad tot Transvaal die Nasionale party (die leuen) slaafs nagevolg het. Hoe julle die NG kerk en sinode bestuur slaafs navolg tenspyte van leuens. Hoe het ons nie gepleit by mede Afrikaners om nie “Ja” te stem nie.
Nou is ons almal in dieselfde pot. Werkloos, BBEE, kinders moet aan moleste by skool en die universiteit blootgestel word, ons ou mense word by klinieke en oue tehuis verniel en baie word vermoor en verkrag of besteel.
Terwyl ons die land en tesourie aan die gang hou… gil Malema en die massas steeds vir nog meer… die model is onvolhoubaar.
Ons ken die skewe nuusberigte… maar vertel nou die storie aan jul kinders wat nie verstaan nie…
Dis tyd om voor God3 te staan en die saak uit te maak.
Dit het niks met Malema of Zuma of wie ookal te make nie.
Hierdie onuithoudbare situasie is ons eie ongehoorsaamheid teen God3.

Kyk-uit die droogte kom SA.

Sterkstaan
AL

Hugo ·

Stem saam. Hierdie is ons eie toedoen, maar die tyd is nou om om te draai – die knieg te buig en te pleit.

christine ·

Marius en wat as ek heldersienend is Mmm. Kom ons mors ons tyd met werklike gevaar. Die een is meer mond as binnegoed. Los hom vir ons Vader hyt net die regte plek vir hom.

Ouma ·

Gepraat van Malema: Ek wonder watter dieet hy deesdae volg. Hy verloor darem vreeslik gewig….Of is hy dalk siek?….Fooi…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.