Nuuskommentaar: Malema en getallepolitiek of raspolitiek?

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

Soos gebruiklik het die uwe gister laatmiddag begin wonder waaroor om vandag se nuuskommentaar te skryf. Dit verg immers heelwat navorsing, besinning en waar moontlik, raadpleging. Die saak wat toe die meeste na ’n kandidaat vir ’n onderwerp gelyk het, is die nuus dat oudregter Zakeria Mohammed “Zak” Yacoob nou vir Julius Malema gegryp het.

Malema het naamlik ’n uitlating van Yacoob buite konteks gaan populariseer om te sê die meeste mense van Indiese herkoms is rassisties. Die eenvoudige vraag is: Is Malema se vertrekpunt werklik inherent rassisties, of het hy gewoon sy getalle-somme gemaak om te kyk hoe sy party die meeste stemme kan opvorder.

Die antwoord is waarskynlik soos dikwels die somtotaal van albei. Dit is immers onmoontlik om te aanvaar dat rassisme geen rol in Malema se haatsaai-retoriek gespeel het nie. En boonop bereid is om hof toe te gaan daarvoor (maar darem nie ook tronk toe nie). Trouens, presedente van die presedentereg en nuwe beoogde wetgewing sou Malema in die posisie plaas waar hy weens die lengte van potensiële tronkstraf as LP gediskwalifiseer word.

Tog dui sy optredes daarop dat hy deeglik kennis neem van getalle, soos dit wat die Versoeningsbarometer jaarliks oplewer. ’n Vorige jaar het dit immers op uitbreidende raspolarisasie gedui. (Die daaropvolgende jaar is op meer maatskaplike kwessies soos ongelykheid gefokus.)

Zuma het immers self in ’n rasse-opstoker ontwikkel deur onder meer nogal op ’n spesiale dag teen rassisme, na wit mense as “white supremacists” te verwys, en dinge in die openbaar kwytgeraak dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel – ʼn totaal onbewese persepsie, maar wat volgens navorsing deur tot 80% van swart mense geglo word.

Trouens, Zuma se omswaaiery hieroor het die ANC sy eie beleid oor onteiening sonder vergoeding daaroor laat verander, en sy opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, skynbaar gedwing om daarvoor in die bresse te tree. Dit plaas ’n blok aan Ramaphosa se been, en sal wel bydra dat hy daarmee niks kan doen om die ekonomie reg te ruk of rasseverhoudinge te bevorder nie.

Boonop is uit senior DA-geledere beweer dat die EFF nie net opgesweep word om oor die artikel 25-verhore ’n magsvertoon te lewer nie, maar daarvoor afgerig word. Die doel is skynbaar om die impak van meer as 700 000 geskrewe voorleggings (waarvan na verneem word verreweg die meeste teen onteiening sonder vergoeding) se impak te “neutraliseer”.

Die EFF kan nie met so ’n getal geskrewe voorleggings meeding nie. Jillende en intimiderende skares waar ’n teenstander soms bietjie gerol word, is meer die styl. In dié stadium is beriggewing wat mense wat behoort te weet aanhaal, erg teenstrydig. Sommige dui aan dat dinge vlot verloop, en ander op die teendeel. Trouens, formele klagtes is al gelê, en ’n opposisieleier het ná ’n onderonsie met Malema so ’n vergadering verlaat.

Kortliks kan dit gestel word, die openbare verhore skep inderdaad (so ver nog en veral in die noordelike dele van die land) die indruk van oorweldigende (swart) steun, waarin die nugter (toevallige wit en KhoiSan-verwante stemme) verdring word.

Soms is daar dodelike argumente, soos dat om grond wat sonder vergoeding onteien is, as waardelose grond aan nuwe eienaars oor te dra, omdat dit op sy beurt ook sonder vergoeding van die nuwe eienaars ontneem kan word, en dus waardeloos is omdat dit nie as sekuriteit (vir hoofsaaklik die bekom van produksiekapitaal) aangebied kan word nie.

Maar die komende algemene verkiesing is by wyse van spreke net om die draai.

Veel ruimte vir die popularisering van komplekse beginsels, soos dit wat ’n kerngesonde ekonomie op koers moet plaas, te populariseer, is daar nie. Malema het die voordeel dat hy nou ook diegene wat bloot ’n huis(ie) op sy eie grond(jie) wil plaas, ook vir sy saak kan opoffer. Dit staan lynreg op een van Ramaphosa se “gerusstellings” dat voedselsekuriteit en die ekonomie nie deur die dwase plan ondergeploeg word nie.

Tog is daar nog mense wat blindelings die Ramaforie bly steun. Pas het ’n gerekende analis in ’n ellelange rubriek oor Ramaphosa, ’n betreklike ewewigtige ontleding gedoen – maar die kwessie van onteiening en die gevolge daarvan, heeltemal verswyg.

Daar is basies twee redes waarom sommige mense nie insien dat die kwessie reeds rampspoed inhou nie. Die eerste is dat Ramaphosa self ná die Zuma-era soos ’n nuwe daeraad verskyn het, terwyl ekonomiese implikasies nie dadelik so duidelik soos die daeraad kan wees nie. Tog beleef die land reeds ’n handelstekort van miljarde rande teenoor ’n wins van miljarde ’n jaar gelede toe Zuma nog ’n selfversekerde, verbete klouende president was.

Tog toon ’n effekte-ontleding dat die JSE ’n uitvloei van miljarde rande se effekte beleef het. Ja, alles word nog op die nasleep van Zuma gepak, maar dit raak al meer soos om ’n bloedjong wit mens vir apartheid te blameer, en als wat nou verkeerd loop weer op apartheid te gaan pak. (’n Mens kan kwalik meer na oorle apartheid verwys – die ANC het net te veel na die wetboek teruggebring of lewend gehou.)

’n Finale gedagte oor Malema se uitlating oor Indiërs. Hy trap op histories sensitiewe tone, en hoewel hy daardeur nie stemme in Indiër-geledere wen nie, kan hy dalk heelwat swart stemme bykry. Swart kiesers wat sal onthou waar veral die arbeidersklas swart mense die eienaars van Indiërwinkels ook as “baas” moes aanspreek, iets wat blykbaar in ’n soort gewysigde vorm voortleef.

Sal die ouer geslag ooit die konflikte tussen die Zoeloes en die Indiërs vergeet waar Zoeloe-skares opruk om skoorsoekende Indiërs te gaan regsien, en die Indiërs dan agter die polisiekolonne in bome klim om bo-oor die polisie verder skoor te soek met die siedende Zoeloes.

Al hoe meer gevalle van onrus in oorwegende Indiërgebiede kom ook voor waar oorwegend swart plakkerskampe te na-aan die woonbuurte begin verrys.

Eiendomswaarde (waarop die inwoners volgens eie aansprake byhou met belasting en ander munisipale heffings) word as rede van verset voorgehou, maar die probleem is ook dat dit tot ander vorme van kultuur-indringing ly, soos toegang tot skole waar die Indiërbevolking dikwels ’n baie hoë standaard ontwikkel het.

Min mense sal glo dat dit benede Malema is om ou wrokke waarvan sommiges nuwe gedaantes het, uit te buit om meer swart stemme vir sy party te lok. In die proses word KoiSan-aansprake op grond wat swart mense by hulle gesteel, en dikwels met groot lewensverlies geroof het, so stil as moontlik gehou.

Vir Malema en kie mag dit gaan oor waar die meeste stemme te krye is, maar die rasse-aanslag daarvan het newe-effekte wat op niks anders as rassisme met ’n baie groot konflik-potensiaal te make het nie.

Die kwessie van rassisme is soos ’n oorryp vrug wat gaan val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Eben ·

Die enigste manier hoe die land gered sal kan word is as mens se belasting nommer gebruik word om te stem en nie jou ID nommer nie.

Paul ·

Malema wriemel van lekkerkry as hy die mense aan die neus kan lei, en natuurlik veral as hy na die tyd kan sien hoe die pers daaroor op loop gaan. Dit als gee hom suurstof.

Willem ·

En natuurlik raak ons beleggings daagliks, van so ‘n twee jaar gelede af toenemend minder werd. Vandag is dit kommerwekkend. Rente van wat tot twee jaar gelede verdien was en waarop geleef kon word, is daar nie meer nie, nou begin ons al van die kapitaal leef, so van die begin van die jaar. Ek wil nie eens daaraan dink waar gaan ons oor ‘n jaar staan nie. Soos die verkiesing nader kom so word die prentjie al donkerder. En indien dit daarna nog eskaleer?

Jerry ·

Ignoreer Malema sodat sy idees nie kan posvat en momentum kry nie. Tree slegs op indien hy homself inkrimineer en daar genoegsame klinkklare bewyse is en tree dan nog steeds net agter die skerms op. Laat die NVG die nodige publieke aankondigings maak. Die meerderheid Malema idees is geskoei op die Marxistiese Pan Afrikanistiese ideologie wat vir slegs n inklusiewe groep swartmense is en is dus in sy aard, blatant rassisties.

Penellope Jones ·

Dalk etallepolitiek met ‘n oorgrote mate van raspolitiek.
Moenie hulle nooit, ooit onderskat nie!

Netso ·

Bla.. Bla… Bla…! Het geagte MM nie ñ ander foto van daai leier wie se naam ek nie eers wil skryf nie? Ek is so keelvol vir alles en almal vir die publisiteid wat hy heeltyd en altyd kry?

Willie ·

Ek kan regtig nie meer hierdie verwarde seuntjie se bakkies hanteer nie..

Rynhardt ·

Verkiesing lankal eensydig vir 24 jaar lank!!Malema en EFF bedryf raspolitiek,so ook sy ouboet,die Anc!Anc moet grond vat,anders verloor hy n groot deel van sy mag en kan die korrupsie-trein nie gery word om die lekkker lewe te handhaaf nie.Malema glo weer met grondonteiening gaan die massas vir hom stem,want hy is die ware dryfveer agter alles,sodoende glo hy die presidentskap wink vir hom.

John ·

Sommer die eerste plek waar die Khoi eise kan instel is in Lesotho waar rotstekeninge deur die eerste inwoners uitbeeldings toon van hoe hul mense ewe kordaat die boereplase in die Vrystaat oorkant die Caledon beroof van hul vee en hoe hulle nagesit word. Later sou Mosjesh eintlik ‘n Zoeloe, maar verjaag is agv van sy aanvalle op mede-Zoeloes, die Khoi uitmoor en in die grotte skuiling soek teen eie geledere met behulp van ander uitskieters en later die Franse sendelinge. CR wil en word nou die nuwe Mandela geag: so vroom wat so graag Westers sou wou, maar aaitog, sy mense wil maar die grondjies he… en wat kan ‘n man dan doen. Gelukkig skenk dwase/skelm kolonialiste maar weer ‘n soveelste geldjie vir SA-in-sy-soveelste-verknorsing… so vroom…

Alida ·

MOET HOM GEEN PUBLISITEIT GEE NIE. DIT IS MAKLIK. IGNOREER HOM.

Vegter ·

United southern african federation
Google as jy moeg is vir die sirkus……..

Paul ·

Herman, betreffende Malema, soos met die saak vandag teen Velhapi Kumahlo, is Julius se uistprake dan nie ook “politieke oordrywinge” nie, en nie haatspraak nie, soos dit nou in die saak gestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.