Nuuskommentaar: Malema en Zuma in die kryt

Die polisie moes op 21 Augustus 2014 ingryp toe lede van die EFF en ANC mekaar by die Nasionale Vergadering wou pak Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die polisie moes op 21 Augustus 2014 ingryp toe lede van die EFF en ANC mekaar by die Nasionale Vergadering wou pak Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

By geleentheid was ʼn bokser besig om ʼn yslike drag slae by sy opponent op die lyf te loop. Maar in sy hoek verseker sy afrigter hom hy is besig om die oorhand te kry. Die afrigter het ʼn hele paar rand gewed dat sy bokser darem die agste rondte sal haal. Maar naderhand is sy bokser skepties: “Maar dan moet coach die skeidsregter dophou, want iemand is besig om my baie hard te moker.”

Met kliniese eenvoud het die EFF daarin geslaag om die president se sak geraamtes in die kas hard te skud.

Die ANC raas uiteraard driftig dat die EFF parlementêre konvensie oortree. Maar die ANC se afgedwonge konvensies het ook al in die howe beland, en daarvan is ongrondwetlik verklaar, soos die “konvensie” dat slegs die ANC wetgewing kon voorstel. Hierin het wyle dr. Mario Ambrosini ʼn belangrike rol gespeel, en dit was eintlik erg onvanpas dat sekere van die media hom na sy dood “veral” onthou het vir sy pleidooi vir die wettige gebruik van medisinale dagga.

Van dieselfde instansies wat nou die ergste mond uitspoel oor die EFF se gedrag, is op rekord dat hulle baie onlangs nog gal afgegaan het oor dit baie duidelik is dat die ANC se meerderheid gaan inspan om die Nkandla-kwessie te probeer begrawe.

As na die Openbare Beskermer se visie en missie gekyk word, staan enkele sake deeglik uit, waaronder die verbintenis tot verantwoordbare, deursigtige regering. Die woorde integriteit en wanadministrasie, en “op alle vlakke van die regering” staan ook uit.

Terwyl daar dan ʼn redelike konsensus buite die ANC was dat die ANC alles in sy vermoë gaan doen om hierdie waardes en beginsels te begrawe, moet daar ernstige vrae oor die grondwetlikheid van die konvensies wees wat dit moontlik maak. Dat Malema en sy EFF hulle ook wangedra het, veral in die konteks van vorige barbaarse optredes, tel teen die persepsie dat Malema en sy parlementêre bende dié slag die reg, veral die grondwet, aan hulle kant gehad het.

Goeie en onberispelike gedrag is egter nie altyd ʼn aanduiding van wie deur juridiese akrobasie besig is om te konkel nie. Die parlement het ʼn oorsigrol oor die land se regeringsake, wat die president en die kabinet insluit. Malema was dus volkome binne sy reg om ʼn aanbeveling van die Openbare Beskermer te gebruik om ʼn direkte vraag aan die president te stel. Maar sake het hierna erg ontspoor.

ʼn Belangrike les wat die parlementslede nou ter harte moet neem is dat parlementslede nie respek verdien omdat hulle self sê hulle verdien respek, en mekaar “agbares” noem nie. Hulle verdien nie respek omdat hulle konvensies skep om hulself “honorable” te maak nie.

Hul toets vir respek is wanneer hulle hul oorsigrol en wetskrywende rol met integriteit en deeglikheid vervul. Wanneer ʼn parlement met strooipoppe gelaai word om een persoon te beskerm, kwalifiseer dit beslis nie ʼn aanspraak op “honorable” nie.

Parlemente kan, konvensie en al, baie onstuimig wees. Die afgelope twee jaar is daar al minstens drie keer lekker bôlle gerol in Oekraïne se parlement. In Taiwan se parlement is al lekker ge-kung fu. Ook in ons parlement is al vuiste uitgepak, en ʼn vuilbek-tante is ʼn ruk lank geskors.

ʼn Ander vroulike parlementslid het op die Kovsie-kampus studente van die Vryheidsfront Plus gemiddelvinger.

As Suid-Afrika moet kies tussen ʼn waardige parlement waar ʼn meerderheidsparty sy mag gebruik om ʼn doeltreffende eenpartyregering te voltrek, en dan versuim om sy oorsigrol te vervul om in doeltreffende algemene belang te reageer, of ʼn robuuste parlement waar opposisiepartye hulle nie laat smoor nie, is dit tyd om hard en diep te besin.

Ja, daar is ander maniere as om soos ʼn barbaar op te tree. Ambrosini se hofsaak het belangrike aspekte van die demokrasie herstel. Burgerlike instellings trap die paadjie howe toe snuif om die regering tot grondwetlikheid te dwing. Samesprekings en berade word gehou. Beloftes word gemaak (en verbreek).

Maar uiteindelik wil die kiesers tog ook sien dat die parlement nie ʼn rubberstempel van die ANC se hoofkantoor word nie. Wil kiesers sien dat veelpartydemokrasie en regeer in algemene belang die norm word? En dat die ANC minder kwistig met sy “majority rule” sal omgaan omdat ʼn diktatuur van die meerderheid net so onaanvaarbaar is soos ʼn diktatuur van ʼn minderheid? Dan bly die vraag of Malema die Rooi Ridder op die wit perd hiervoor sal wees…?!

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.