Nuuskommentaar: Mandela en die mens en beheer oor lewe en dood

Dit is nie bekend aan watter lewensondersteunende apparaat, indien enige, oudpresident Nelson Mandela gekoppel is nie. Wat wel bekend is, is dat hy baie bejaard is, en nou kritiek siek is en dat die mediese personeel alles in hul vermoë doen om hom gemaklik te maak.

Intussen vra pres. Jacob Zuma en ander dat gebid word vir die beterskap van Madiba.

Terwyl groot moeite gedoen word om iemand wat, aldus aartsbiskop Desmond Tutu, al ‘n geruime tyd nie meer bewus is van wat om hom aangaan nie, aan die lewe te hou, spreek die Vrystaatse sinode van die NG Kerk sy kommer uit oor die baie aborsies wat plaasvind. Suid-Afrika het van die mees “liberale” wetgewing wat aborsies op aanvraag moontlik maak.
Terwyl berig word dat meer as ‘n miljoen wettige aborsies in die land uitgevoer is sedert dit gewettig is, is daar kort-kort berigte waar mense die versugting uitspreek dat die doodstraf heringestel moet word aan die hand van die wreedheid waarmee sommige moorde, dikwels plaasmoorde, gepleeg word.

Selfs uit regeringslede wat die liberale aborsiewetgewing gedryf het, is daar nou al meer geluide van kommer oor die impak wat dié wetgewing op moraliteit het – dit word onder meer te maklik ‘n vorm van “voorbehoeding” met dieselfde meisies en vroue wat gereeld aborsies laat uitvoer. Dit kompliseer uiteraard die stryd teen Vigs.

Dié week het die Bostonse Christian Science Monitor ‘n lywige artikel gepubliseer waarin Suid-Afrika in die besonder lof kry vir sy stryd teen Vigs en hoe dié stryd reeds suksesse oplewer, hoewel die land steeds as die mees geaffekteerde land ter wêreld beskryf word. Weens die beskikbaarheid van middels aan ongeveer 75 persent van die lyers kan MIV-positiewe mense sowat twintig jaar langer, en selfs nog meer, leef. Hulle kan min of meer normaal leef. Die aantal nuwe besmettings het sedert 2001 met 25% afgeneem, en selfs die mees optimistiese projeksies is oortref, luidens die verslag.

Op dieselfde dag verskyn ‘n berig in die Vlaamse koerant, De Standaard, waarin kommer uitgespreek word oor die tekort aan “tweede opinie-dokters” by gevalle van genadedood. Anders as in Nederland, word die verpligte tweede-opiniedokters by mense wat medies-geassisteerde selfmoord pleeg, nie besoldig nie. Dit beteken dokters moet op eie koste soms lang afstande ry, en lank weg van hul praktyke wees om bystand te verleen wanneer iemand wat aan die mediese kriteria vir wettige genadedood voldoen, uit die lewe gehelp word.

Hoewel die Rooms-Katolieke Kerk formeel hierteen gekant is, en dit dikwels in Nederland en België op insidente uitloop, het die artikel nie oor die moraliteit van die praktyk gehandel nie, maar oor die vergoedingskwessie.
Later dié week word pres. Barack Obama van die VSA in Suid-Afrika verwag. Onder die talle groepe wat protes beoog, is inligting dat Christengroepe ook ‘n vorm van protes sal hou nou skraps. Binne die VSA, maar ook elders in die wêreld, word Obama erg verkwalik oor sy houding jeens aborsie. Trouens, toe hy tot president verkies is, het die Christian Coalition of America verklaar dat die stryd om aborsies op aanvraag weer te verbied, met dekades teruggesit is. Obama is nie net ten gunste van aborsies nie, maar na berig word ook van die grusame en hoogs omstrede “partial birth”-aorsies. (Dis te grusaam om hier te beskryf, maar ‘n video oor Obama se standpunt kan hier gekyk word).

Die Republikeins-beheerde Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het pas wetgewing deurgevoer waardeur aborsies na 20 weke swangerskap verbied sal wees. Die 20 weke is gekies omdat dit glo die punt is waarna die babas duidelik pyn kan ervaar. Dié besluit van die Huis van Verteenwoordigers word egter as simbolies beskou, omdat die Demokraties-beheerde Senaat na verwagting nié die wetgewing sal goedkeur nie, en die Wit Huis reeds aangekondig het dat die president dit sal veto.

Nogtans beoog die Stad Kaapstad met sy baie Christene en Moslems (wat formeel teen aborsies op aanvraag is) om ‘n spesiale eerbewys aan Obama toe te ken, en is daar volgens berigte ander politieke redes vir die teenkanting teen dié verering.

Dit is vanselfsprekend dat die moraliteitsvraag deurlopend in Suid-Afrika gevra sal word waar die vlakke van korrupsie en die persepsies daaroor op ‘n verrotting in die samelewing dui.

Niemand sal verwag dat die dokters wat Mandela behandel, iets anders sal doen as wat hul eed van Hippokrates voorskryf nie.

En niemand met ‘n hart sal ouers wat verbete aan hoop en gebed klou en die lewensondersteunde masjiene nie laat afskakel nie wat ‘n kind “aan die lewe hou” lank na die Here die kind reeds kom haal het nie.

Dit is kwessies wat met deernis behandel moet word.

Maar dit is ook ‘n gegewe dat vrae gevra sal word of Madiba nie ter wille van ander, en teen sy beste belang, aan die lewe gehou word nie. ‘n Bietjie meer inligting sal ook baie van die vrae laat wyk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Jenny Upshon ·

Net ‘n brokkie – Sover ek verstaan is die eed van Hippokrates ‘n ruk gelede al geskrap – dit maak nie meer deel uit van voorvereiste om hier dokter te word of wees nie.Dit en natuurlik die 7 jaar se opleiding

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.