Nuuskommentaar: Mandela se versoeningsprojek misluk – prof. Willie Esterhuyse

Oudpresident Nelson Mandela in Desember 2009. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die bekende prof. Willie Esterhuyse het pas in ’n lesersbrief laat blyk dat die versoeningsprojek van Mandela, De Klerk en Mbeki dood is. In die plek daarvan het een van vergelding en toe-eiening gekom. Hy het ’n groot versugting dat pres. Ramaphosa die ou ideaal moet laat herleef.

Dit kos ’n mens met baie goeie stoffasie om ná dekades se noue, en soms selfs naïewe verbintenis, dit in ’n lesersbrief te kan stel: “FW de Klerk, Nelson Mandela en Thabo Mbeki se versoeningsprojek het misluk. Met Jacob Zuma en sy ANC was dit die einde van Mandela en Mbeki se versoeningsprojek.”

Aan die woord is prof. Willie Esterhuyse, emeritus filosoof en sakekenner van Stellenbosch. Hy is 82 jaar oud.

Nie almal sal met hom saamstem dat Mbeki se naam hier tuishoort nie, en eerder self die drywer weg van versoening was, maar Esterhuyse is bekend daarvoor dat hy vanuit die staanspoor naïef lojaal teenoor Mbeki was. Trouens, sommige kenners meen hy was nie vertroud met die ANC in die buiteland nie, wat verhinder het dat hy sy naïwiteit oor dié deel van die organisasie kon afskud.

Hoewel hy in sy brief sê dat hy as “wit Afrikaanse man ’n beperkte rol in die 80’s ná ’n nuwe bedeling gespeel het”, is daardie stelling beslis oorbeskeie. Bronne, dié wat sy rol gesteun het en dié wat krities terugkyk, beskou almal sy rol as minstens beduidend, en soms deurslaggewend. Die idee van deurslaggewendheid word sterk aangehelp deur die feit dat hy dikwels struikelblokke moes help opruim, en dat sy integriteit deur die onderhandelaars uit Suid-Afrika en die ANC in die buiteland bo verdenking geplaas is.

Self was hy ’n onafhanklike denker en het gereeld by onder meer fundamentalistiese godsdiensgroepe onder skoot gekom. Ook vanuit die konserwatiewer politieke denke is hy bygedam, en onder meer in die onderhandelingsverband ’n “useful idiot” genoem. Hy skryf ’n rits boeke, waaronder een wat in Engels vertaal word onder die titel, Apartheid is dead. Vir baie was dié boek minstens voortydig, maar dit wen verskeie pryse.

Nou skryf hy: “Kras gestel: Suid-Afrika se wêreldwye toejuiging van Mandela se versoeningsprojek is ‘uitgespeel’. Klaar. Dood.”

Sy teleurstelling word diep verwoord in die volgende: “Dit is vervang met ʼn vergeldingsprojek. Of meer korrek, een van toe-eiening, selfverryking, georkestreerde korrupsie en staatskaping. In minder as twee dekades.”

En dan sy versugting, en hier lê die knoop: “Kan pres. Cyril Ramaphosa nuwe lewe in die droom blaas? Net met ’n wonderwerk en ’n Mandela-agtige leierskap.” (Oor die gebruik van die woord “toe-eiening” (entitlement) is hy baie dapper. Die woord het ʼn bekende ekonoom en meningsvormer sy werk by ’n groot finansiële instelling gekos, en hy word nie meer as meningsvormer gehoor nie.

Was dit bloot ’n naïewe weglating van die skeurende effek van die huidige projek om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak? Ramaphosa het enorme probleme om mee rekening te hou en verkieslik ook aan te pak. Oor die vergoedingsaspek gaan hy egter nie wegkom nie. Die ekonomie, wat reeds letsels van die diskoers dra, gaan nie die inploffing vryspring as dit werklikheid word nie, al word dit erg suinig aangewend en al word daarin geslaag om Julius Malema en sy wilde ondersteuners in bedwang te hou.

Ja, die verloop is simptomaties van ’n groter probleem in die land, en daar moet eenvoudig maniere wees om beter oplossings in werking te stel.

Maar dankie, prof, dat u bereid is om nie net die ontleedmes in te span nie, maar ook aan die eie hart te gryp. Te veel ander rolspelers het al laat blyk dat hulle nie te gelukkig is met die huidige toedrag en moontlike afloop van sake nie, maar bly stywe rug en weier om selfs die geringste blykie te gee dat hulle erken hulle het oordeelsfoute begaan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Eish ·

Dit is eenvoudig n openbarimg hoe die huidige verrotting ons soos familie wat mekaar nie kon verdra het nie, verenig om n sterfbed.
Die berig se heel laaste opmerking dra swaar gewig!

Hans Kolver ·

Enige pampoen kon dit al 30 jaar gelede voorspel het, jy hoef nie ‘n professor in Stellenbosch te wees nie.

Netso ·

Baie hartlik dank aan “u” Dr.! Maar jy sê net iets wat almal weet? Ek is helfte jou ouderdom en my 3 kinders is nog in laerskool, wat sê ek vir hulle vandag? Vertel ons eerder waar als verkeerd geloop het sodat ons iets hieuit kan leer asb?

Jan ·

Herman, omdraaikans is daar nie, die land stuur op ‘n ramp af. Met Ramaphosa aan die voorpunt is die ANC regering besig om verwagtinge by die mense te skep wat nie haalbaar is nie. Ongekende kragte gaan in hierdie land losgelaat word. Ek wil nie naby wees nie as hulle die mense se woede moet kalmeer wanneer tot daardie besef gekom word.

Rotsloophhuwelik ·

Die huwelik is op die rotse en dit is tyd om te skei. Nie enige van die partye wil meer dit laat werk nie want ons is nie vir mekaar bedoel nie. Ons was nooit maar ons was gedwing om te trou.

Kompetisie Krimpvark van Kompetisiebaan ·

Die harde realiteit is dat Suid-Afrika gesneuwel het in die internasionale wedloop om ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid. Opportunistiese politieke beloftes, vergelding, toe-eiening (“entitlements”), verwyte oor apartheid, imperialisme en kolonialisme, en korrupsie maak jou nie ‘n wenner in hierdie wedloop nie. Gaan bestudeer gerus aanlyn die internasionaal erkende kriteria vir bestuursuitnemendheid soos vervat in die Baldrige Excellence Frameword for Performance Excellence. Batho Pele is nie eens ter sprake nie.

Gestremde ·

Volgens my was daar nog nooit ‘n ideaal van versoening nie en was dit voorgehou om die Blankes, Indiers, Kleurlinge te probeer gerustel dat daar vir hulle ook ‘n toekoms in die nuwe Suid Afrika gaan wees. Dus egter nie die geval nie as daar gekyk word na AA en BEE beleide wat sommer vroeg na die 1994 verkiesing in werking gestel is. Die wat nog hoop dat daar versoening gaan wees mag die fout van hul lewe en dit gaan alles oorvergelding, selfvereiking en korrupsie.

Willem ·

Dis asof dit net al woester raak noudat die grondverhore afgeskop het. Dit raak al dringender soos die mense tekere gaan, elkeen is bang hy kry nie grond nie, dit sweep mekaar op en laat ongekende emosies in die mense opborrel, so asof daar nou geskep moet word terwyl daar nog iets van die land oor is. Wat belowe die ANC regering dan nou vir die mense oor 5 jaar, nog grond, en wat dan volgende en volgende?

Paul ·

Dit ontaard nou in Malema kroeggevegte soos dit mekaar verskree en die een die ander nie kans wil gee om sy saak te stel nie. Wat kan mens dan nou sinvol oor die onderwerp in 3 minute sê.

Snowball ·

Gelees, en dit lees soos die profesie van ‘n aaklige verdoemenis wat voor ons oë afspeel en die uiteinde net rampsoedig kan wees.

marous ·

Alles was en is en sal een groot leuen bly . Dit het net gegaan oor die verorbering van die oorlogsbuit en gepaardgaande selfverryking . Die land se verdoemenis en bloed wat verseker die riviere gaan vul is aan die hand van hul ikoon se volgelinge . Die wig wat deur hul optrede ingedwing is tussen wit en swart is groter as die Vis rivier vallei en sal NOOIT gevul kan word nie.

Klaar ·

Versoen is ‘n reenboog, mooi maar nie bereikbaar. Ons moet ophou om die goudpot aan die punt van die reenboog te soek en vir ons eie aparte staat aansoek doen.

Paul ·

Dit was ‘n skande dat hulle hom gefire het, maar hulle was banger vir die die hand wat van die blaas weggeneem sou word.

Erick ·

Ek was 16 toe ons land en my en andere se erfenis weggestem is. Ons klomp hoërskool seuns het saans ons buurte gepatrolleer want die inbrake, emigrasie
en chaos het toe begin. Ons was 16 en ons kon sien waarheen dinge oppad is nou hoe kon dié klomp geleerdes dink jy kan saam met kommuniste onderhandel en skoon anderkant uitkom. Ek het nie tyd om my storie hier te vertel van mislukte besigheids probeerslae, verlore kanse te danke aan BEE en met min klaarkom. Ek is so reg om oor te begin in ‘n nuwe land ek kan dit in my mond proe…

Eie nuwe land ·

Ek is in selfde situasie en ek is ook so reg vir n nuwe land maar hopelik kan dit ons eie stuk land wees. Ek sal van voor af help om die land sterk op te bou.

adriana ·

Versoening is verby – want jy nie net gee en gee en gee nie en die ander partye ontvang en sit agteroor en doen niks behalwe afbreek en brand nie.

Frans C ·

Die nabetragting bring ons niks in die sak nie.Wat help dit om te weet,dat 50% van alle stemgeregtigde kiesers in diebelangrike referandum ‘Ja’ gestem het, met 25% nee en 25% wat buite stemming gebly het en hul dus versoen het met die uitslag.

Dit help ook nie om te sê dat die NP belangrike inligting van kiesers weerhou,soos dat korrupsie en verdrukking van ‘afvalliges’ aan die orde van die dag was en ‘afvalliges’ dikwels op ‘selfmoordaksies’ teen veiligheidsmagte gestuur is,om van hulle ontslae te raak.Dit is nie duimsuig stories nie,dit is goed op skrif gestel in boeke geskryf deur voormalige MK-lede.

Wat die prof skryf beteken ook niks,los nie ‘n enkele probleem op nie,skep net ‘n gevoel van wrewel teenoor ‘ja-stemmers.’Ons soek oplossings vir ons kinders hier en nie in die buiteland nie,want as kinders genoodsaak word om op grootskaal werk in die buiteland te soek,is dit die einde van ‘n blanke beskawing.

Kom prof,plaas werkbare oplossings op skrif.

Wicus ·

Mandela word voorgehou as wys en gematig, ai, hy het bloot nie ruimte gehad om sy ware kleure te wys nie, hy moes die rol speel agv die tydsgwrig . Stadig het hy die tande getrek om vir sy opvolgers die tafel te dek. Dit het nie oor bevryding gegaan nie, maar selfverryking, dis makliker om af te vat as om daaroor te werk.

Sulke ‘Slim’ mense soos die prof maak my moedeloos, hulle redeneer jou onder die tafel en trek agterna net die skouers op, jammer is te laat, te laat. Ons het baie wysheid nodig en my mense word minder en minder. Ook hartseer dat ons meewerk aan ons die ondergang.

Johan Burger ·

Aan Prof Esterhuise Ja ou Willie jy wou mos nie jouself glo nie maar meegedoen om ons willens en wetens te uitverkoop.Toe die spul op jou plaas die trekker middeldeur gebreek het moes dit tot jou verstand deurgedring het dat sekere dinge in die lewe nie deur almal waardeer kon word nie.Dus ploeter voort in jou blindheid.

humor ·

Ek stem en glo dat dit veel beter sal wees as prof Estertuyse heeltema van die toneel sal ontrek want blood sy teenwoordigheid veroorsaak wrewel in die teenswoordige tyd. Kan dit moontlik wees dat dit 82 jaar kan neem voor jou oe oopgaan. Sederd 1994 is baie mense vermoor in wie almal se hande kleef hierdie bloed. Alles het in enkele jare in n hartseer pynhoop gestort. Agter wie se name staan dit geskryf??????????? Soos vermeld selfs kinders kon insien en die hele Afrika was as voorbeeld dat die liberaalgedrewenis op die verkeerde pad is. En nou???? As daar enige oorwinning in hierdie stryd is gaan baie van hierdie gedrewenis die eerste wees om die vrug daarvan te pluk.

humor ·

Wil graag hierby noem. Het persoonlike ondervinding van gevalle waar waar liberales met hand en tand dit beveg het dat privaatskole vir die behoud van godsdiens, taal en kultuur tot stand moes kom en nadat dit wel met baie swoeg en sweet en baie geld waar geword het, was hul kinders van die eerstes in die skool. Dit maak leberalisme walglik.!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.