Nuuskommentaar: Mandela, Sharon, Thatcher en die spore na Nkandla

Ariel Sharon. Foto: USA Today

Ariel Sharon. Foto: USA Today

Dit is soms baie moeilik om te bepaal wat aangespreek moet word, en wat gelaat moet word wanneer soggens vroeg oor die tema van die dag se nuuskommentaar besluit moet word. Op die oog af, en sou die meeste Suid-Afrikaanse ontleders oordeel, sou die ANC se verkiesingsmanifes die belangrikste wees … meer nog so omdat dit die ANC se twintigste jaar aan bewind is, en daar ‘n bestekopname van die een of ander aard gedoen moet word.

Dit was dus geen maklike besluit om te oordeel dat die manifes “links” moet gaan lê nie. Ontleders het gou onder die dokument se inhoud ingeklim, en gegewe dat dit deels verkiesingspropaganda is, ook tot die slotsom gekom dis grootliks nie haalbaar nie  het bepaal ‘n gebeurtenis elders verdien vanoggend eerder die aandag.

Op die internasionale nuusfront geniet verskeie sake voorrang bo die manifes, byvoorbeeld bloedvergieting in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Suid-Soedan, die politiekery agter die aanbied van die Olimpiese Winterspele in Rusland, die Siriese burgeroorlog, selfs die Franse president se ontevredenheid oor sy privaatheid wat “geskend” is toe oor sy verhouding met ‘n skelmpie berig is  en vele meer. Waar Suid-Afrika wel die internasionale nuus haal, is dit eerder pres. Zuma se verkiesingstoespraak in Mpumalanga waarin hy gemeld het dat hy ‘n twee derde meerderheid soek sodat die grondwet verander kan word, as die bekendmaking van die manifes wat aandag geniet. Reg of verkeerd glo ‘n groot deel van die wêreld dat Suid-Afrika ‘n baie goeie grondwet het, selfs die beste ter wêreld het, omtrent net so sterk as wat hulle glo dat oud-pres. Mandela ‘n ikoon was. Hul oordeel oor Zuma is baie anders, en as Zuma die grondwet wil verander gaan die rooi ligte aan.

Die aspek wat vanoggend onder die loep geneem word, is die reaksie van veral Wes-Europese media op die afsterwe van oud-premier Ariel Sharon van Israel.  Sommiges dra veel meer berigte, artikels en rubrieke hieroor as wat hulle oor die afsterwe van oud-president Nelson Mandela gedra het.

Sharon was agt jaar lank in ‘n koma, en die media wat hom hoofsaaklik positief skets is dun gesaai.  Met die mediasirkus hier te lande tydens die siekte, afsterwe en teraardebestelling van Mandela het dit byna nie moontlik gelyk dat daar iewers in die wêreld ‘n groter ophef van iemand se dood gemaak kon word nie – veral nie iemand wat agt jaar lank nie deel van die wêreld se verloop was nie.

Dié twee oud-leiers se afsterwe het ook veel in gemeen met die afsterwe verlede jaar van oud-premier Margaret Thatcher van Brittanje.

Al drie was voor hul afsterwe ‘n geruime tyd nie meer deel van die politieke toneel nie, behalwe dat die ANC periodiek Mandela self, skynbaar willoos, ingesleep het. Volgens emeritus aartsbiskop Desmond Tutu en ander het Mandela al ‘n geruime tyd – heelwat meer as ‘n jaar as die argiewe teruggespoor word – nie meer ‘n bewustheid gehad oor wat om hom aangaan nie. Trouens, Tutu het gesê as Mandela sou weet wat nou (deur die toedoen van die Zuma-geleide ANC) aangaan, sou hy baie ontsteld wees.

Sharon was agt jaar lank in ‘n koma, en Thatcher het na haar aftrede uit die openbaar getree na sy verskeie beroertes gehad het.

Tog was hul afsterwe wêreldnuus, terwyl talle oud-regeringshoofde, en selfs sittende regeringshoofde jaarliks sterf skynbaar sonder dat die wêreld ‘n oog knip.

Wat dra daartoe by dat sommige mense hul leeftyd oorleef, terwyl ander vergete is nog voor hulle sterf?

Oor Thatcher is daar baie redes hoekom sy met  haar afsterwe wêreldnuus geword het. Sy was die eerste, en tot dusver die enigste vroulike Britse premier. Sy het haar spartelende party tot ‘n oorwinning gelei, en dit word graag gesê dat sy die “Great” teruggesit het in “Great Britain.” Sy het die land se ekonomie “bevry” van die verwoestende greep wat radikale vakbonde daarop gehad het, en na haar afsterwe het van die vakbonde ook verklaar dat hulle oor haar afsterwe jubel.

Sharon was ‘n premier van ‘n veel kleiner landjie. Hy was in alle waarskynlikheid meer omstrede as Thatcher, en uitlatings oor blydskap oor sy afsterwe is nie net tot radikale Palestynse geledere beperk nie.

Sharon sal op die politieke spektrum as ‘n valk, eerder as vredesduif onthou word. Die Duitse tydskrif, Focus, beskryf Sharon as iemand met ‘n stootskraper-mentaliteit. Bitterbek-ontleders wil nie eens edel motiewe daarin lees dat hy Israel en Joodse setlaars uit die Gaza-strook laat onttrek het nie.

Daar kan baie redes aangevoer word oor hoekom Sharon se afsterwe by sommige Europese koerante veel meer aandag trek as Mandela se afsterwe. Israel is nader aan Europa en van meer strategies belangrik vir Europa as die suidpunt van Afrika.

Geen mens is volmaak nie, maar dit is eenvoudig so dat dit makliker is om ‘n huldeblyk oor sommige heengegane persone te lewer as oor ander.

Die les wat uit die belangstelling in die afsterwe van Thatcher, Mandela en Sharon geleer kan word, is dat die mens se reis deur die lewe nie sonder spore agtergelaat word nie.

Of die spore baie diep getrap is, of kwalik ‘n duikie in die sand gelaat het, elke persoon behoort sy lewe so te rig dat die voetspore wat hy of sy nalaat, as kompas in die regte rigting vir ander dien. ‘n Mens hoef hiervoor nie ‘n wêreldleier te geword het, of oud te geword het nie. Dink maar aan die diep spoortjies wat die driejarige Willemientjie Potgieter getrap het, wat saam met haar ouers tydens ‘n plaasaanval vermoor is. Die woorde in ‘n koerantopskrif wat vertel het Willemientjie se ideaal was om eendag by die kinderkrans ‘n lofkleuter te word, het baie diep spore in die regte rigting nagelaat.

Oor waarheen Zuma se spore eendag gaan lei, sal die moedswillige seker nou sê alle spore van die e-tollenaar loop na Nkandla .

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae