Nuuskommentaar: Marikana steeds met ons

Weduwees van sommige van die mans wat in Augustus 2012 by Marikana doodgemaak is, steek kerse aan tydens ‘n herdenkingseremonie Woensdag by Lonmin (15 Augustus 2018). Foto: ANA

Kan uiteenlopende optredes oor Marikana die land nog ’n verskuiwingsvlak besorg waar gemeenskappe verder gepolariseerd raak?

Wel, 16 Augustus 2012 lê al, histories gesproke, taamlik ver in die verskiet. ’n Mens sou verwag dat ’n geordende samelewing weer die geledere sou kon gesluit het, die leemtes vul, die nood wat ontstaan het, sou uitskakel en die situasies so na moontlik polities en juridies bestendig.

Almal weet egter, selfs in die mees ideale staat sou so iets nie heeltemal moontlik wees nie. Dit is eenvoudig nie dieselfde om met, of sonder ’n pa groot te word nie en dit kan nie struktureel aangeraak word nie. Selfs al word die verlies aan inkomste op ’n manier voorsien.

Maar Suid-Afrika is nog geen bemagtigde moederlike land nie. Selfs waar welsynsgeld intree, is die bedrae onvergelykbaar met die tipe salarisse wat nou oor ’n wye boeg verdien word, en waaroor daar gereeld stakings vir meer en meer is.

Die einde van die pad oor presies wat destyds gebeur het, het ook nog nie aangebreek nie. Die ontstellendste is die nuwe getuienis van ’n onafhanklike ondersoeker, David Bruce, wat bitter na daaraan kom om minstens ’n deel van die polisiemag teenwoordig van moord te beskuldig. Ook die afgetrede ondersoekregter, regter Ian Farlam, het aangedui dat die saamstel van feite nie maklik was nie. Weduwees en ander het hande vol klagtes, sommiges dalk meer emosioneel as feitelik.

Dit bly vars in die geheue, veral jaarliks op 16 Augustus.

Hoe lank?

Ongelukkig is daar opportuniste wat die situasie maar elke jaar sal plooi om die een of ander voordeel te trek. Dit kan maklik uitgebuit word, want dit is vir die regering soos ’n klip in die maag, en trek ten minste ten dele die aandag weg van ouer gebeure soos die Sharpeville-skietery wat die regering op sy beurt polities intakt wil hou om politieke munt te slaan.

Daar het reeds veel goed voortgespruit uit Marikana, aldus die nuwe eienaars van Lonmin. Materieel is daar inderdaad veel vermag – dit terwyl die platinumprys onder druk is.

Khaya Ngcwembe, ‘n menslikehulpbronbeampte by Lonmin, het tydens ‘n herdenkingseremonie Woensdag by Lonmin gesê die mynmaatskappy het vordering gemaak om sy beloftes aan die Marikana-gemeenskap na te kom (15 Augustus 2018). Foto: ANA

Die vraag kan ook gevra word hoeveel druk daar vanuit radikale vakbondgeledere op pres. Cyril Ramaphosa opgediep sal word as hy die petrol van die onteiening-sonder-vergoedingsituasie afhaal. Ramaphosa was tydens die skietery ’n nie-uitvoerende direkteur van Lonmin, en het onsimpatieke woorde teenoor die stakers kwytgeraak waarvoor hy later verskoning gevra het. In sekere kringe word hy egter steeds verkwalik vir sy “aandeel” in die skietery.

Instansies en gemeentes het op ongekende skaal saamgestaan om die menslike tragedie, soos ondernemings wat in Rustenburg moes sluit en gevolglike hongerte onder andere onder skoolkinders, aan te raak. Waardevolle lesse is geleer.

Ongelukkig, struktureel, kan so iets weer gebeur, en op byna enige plek in die land.

Hoe lank dit as trauma akuut in die land aanwesig gaan wees, is moeilik om te bepaal. Apartheid as trauma en verwysingspunt vir onreg word nou al meer as twee dekades lewend gehou. Te oordeel na die DA-leier, Mmusi Maimane, se destydse vloermoer oor premier Helen Zille se kolonialisme-twiet, kan trauma bitter lank “oorgeërf” word. Uit verskeie uitsprake soos dié van die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit is die herinneringe aan die groot trauma soos grondroof, nie eens feitelik nie, of selde feitelik. Tog kan dit ’n land min of meer verskeur.

Almal in Suid-Afrika het op die een of ander manier Marikana gedeel, want die aangetaste ekonomie het elkeen in Suid-Afrika geraak.

Kom ons nou by die punt waar een deel van die gemeenskap hieroor (wil) aanbeweeg, en die ander uiterste die laaste bloed uit die rante van die klipkoppie wil tap? Die land kan nie regtig nog ’n verskuiwingsvlak bekostig wat verdeeldheid in persepsies en emosies bring nie.

Los Marikana eers behoorlik op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

Die volgende is nie heeltemal van pas hier nie, maar tog weerspieël dit die vermoeë van die ANC om te regering:

Onder die opskrif: ‘Boere in VS moeg vir die ANC grappe’, skryf Charles Smith vandag in Volksblad:

“Die ANC kan nie eens ’n vis-en-tjipswinkel behoorlik bestuur nie. Wat nog te sê om ’n land te regeer. As Theo Venter, politieke ontleder, se woorde gister op Vrystaat Landbou se kongres in Bloemfontein nie so waar was nie, was dit nogal snaaks. En dan wil hulle links en regs plase afvat en traai boer.”

Potlood ·

16 June 1976 is steeds met ons… tot in “ewigheid” sal die verlede altyd met ons wees as dit van sommiges af hang… Dis mos al wat hulle het om aan vas te klou!!

Abel ·

Ag genade, wanneer gaan hulle ñ dag stig vir die polisiemanne wat ook daardie selfde dag hulle lewens verloor het? Wat van hulle vrouens en kinders???????

Of moes hulle maar net stil gestaan het toe die betogers hulle aangeval het? Dit maak my siek!!!

Liberaal ·

Ja, linkse liberaliste eis die polisie moes net stilstaan, net soos jy net moet stilstaan wanneer jy aangeval word want die aanvaller het alle regte onder liberale wetgewing.

Anoniem ·

President Ramaphosa, help asb die Marikana slagoffers se weduwees ! Onthou net, hulle kry swaar ! Staan 1 van Jou plasies af aan hulle ! Wat van Jou gewete ????

Hanna ·

ELKE AKSIE HET ‘n REAKSIE. 16 JUNIE EN MARIKANA WAS MAAR NET NOG DAE….
Was daar ooit gewys hoeveel van die NIE SAPS LEDE het warns met lewendige amuniesie gehad en gebruik nie?
Ek is bevrees daar gaan talle meer gevalle soos hierdie met erge nagevolge wees.

Hendrik ·

Marikana dag gaan waarskynlik ook soos Sharpville ‘n publieke vakansiedag word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.