Nuuskommentaar: Maroela Media as media-suksesverhaal en media-reus

Maroela Media het Donderdag amptelik sy tiende verjaardag gevier. In haar verjaardagsredakteursbrief deel Susan Lombaard verskeie interessante feite oor Maroela Media se ongeëwenaarde groei en sukses oor die afgelope tien jaar. Hierdie feite gee ʼn mens ʼn blik op die reusesukses wat Maroela Media se span die afgelope dekade van hulself kon maak. Die een boodskap wat klinkklaar uit hierdie feite kom, is dat Maroela Media doodeenvoudig ʼn reus in die bedryf is.

Maroela Media is verreweg die grootste Afrikaanse aanlyn nuusplatform in Suid-Afrika en kompeteer ook kop aan kop met Engelse platforms. Ten einde Maroela Media se volgehoue sukses oor die afgelope dekade te verstaan, kan na ʼn soortgelyke mediafenomeen in die VSA gekyk word.

Op 6 Oktober 1996 het Fox News in die VSA begin uitsaai. Slegs vyf jaar na hierdie nuusstasie se begin, het Fox CNN verbygesteek as grootste nuusnetwerk. Fox News het ook sedertdien hierdie status behou en is vandag steeds die grootste nuusnetwerk in die VSA. So ook is een van Fox se ankeraanbieders, Tucker Carlson, die gewildste TV-programaanbieder gemeet aan kykergetalle.

Fox News het feitlik oombliklik tot ʼn reusesukses ontwikkel en het daardie sukses ook op ʼn volhoubare manier kon voortsit. Dit herinner ook aan Maroela Media se enorme, vinnige en volhoubare sukses wat oor die afgelope dekade behaal is. Nes Fox News kyk baie van Maroela Media se kompeteerders na die nuuswebwerf en verstaan nie eintlik waarom dit so suksesvol is nie. Kompeteerders en teenstanders kyk dikwels van buite af en kan bloot nie verklaar wat presies die suksesresep is nie – volgens hulle behoort Maroela Media asook Fox News bloot nie so groot en suksesvol te wees as wat hulle is nie.

Die redes waarom Fox en Maroela Media albei so oënskynlik onverklaarbaar suksesvol is, is eintlik heel verklaarbaar. Fox en Maroela Media het op die regte tyd die regte gaping in die mark geïdentifiseer en dit onbeskaamd ingeneem. Vir Fox News was die gaping konserwatiewe TV-nuusmedia en vir Maroela Media was die gaping konserwatiewe Afrikaanse nuusmedia.

In die tyd wat Fox News begin het, was die media oor die algemeen en joernaliste spesifiek nie verteenwoordigend van die Amerikaanse politiek nie – dit is in terme van politieke oortuigings en posisionering. Die VSA het daardie tyd reeds ʼn lang geskiedenis ervaar van die media wat oorwegend na links neig met die meerderheid joernaliste wat hulself as liberaal beskou.

Aan die ander kant was daar egter disproporsioneel min joernaliste wat hulself as meer konserwatief of Republikeins beskou. In 2013 was daar ʼn 1:4-verhouding tussen konserwatiewe en liberale joernaliste in die bedryf. Dit beteken dat een kant van die politieke stroom disproporsioneel onderverteenwoordig en sodoende stemloos was.

Sodoende het nie net die joernaliste nie, maar ook die nuuskanale en mediahuise oor die algemeen veel eerder liberaal of selfs links geneig. Dit het in die praktyk neergekom op ʼn hele helfte van die VSA se bevolking – dit is Republikeine of meer konserwatiewe mense – wat nie ʼn tuiste in die mediabedryf gehad het nie. Diegene wat meer konserwatief is, het nie ʼn TV-kanaal of mediahuis gehad wat namens hulle gepraat het, die wêreld vanuit hulle oogpunt ontleed het of hulle kant van die saak ooit eerlik probeer weergee nie. Hierdie mense wat deur die liberale en linkse media vervreem is, het uiteindelik nie ʼn stem of spreekbuis gehad nie.

Dit is presies hierdie ruimte wat Fox News ingeneem het. Dit is ook waarom Fox sulke fenomenale groei so vinnig getoon het – hulle het ʼn ruimte ingeneem en ʼn rol begin vervul waarna bykans die helfte van die VSA gesmag het.

Fox was ook uit die staanspoor volkome eerlik oor die aard en doel van die nuusnetwerk – hulle het glad nie daarin belanggestel om politiek korrek te wees nie en het beoog om ʼn aktiewe teenkanting van die liberale en linkse media te wees. Hoewel Fox hulself aanvanklik uiters suksesvol posisioneer het as buite die hoofstroom het hulle uiteindelik gegroei tot op die punt waar hulle die hoofstroommedia geword het. Tog sien Fox-kykers hul vandag steeds nie as deel van die establishment hoofstroommedia nie – ten spyte van hul grootte en sukses komplimenteer Fox-kykers die nuusnetwerk steeds deur hulle nie as bloot deel van die hoofstroom te ag nie. Dit ten spyte van die feit dat Fox inderwaarheid in kykersgetalle hoofstroom is – hulle dek doodeenvoudig die ander kant van die hoofstroom wat liberale en linkse media wou ignoreer.

Netso was en is Maroela Media ʼn tuiste, spreekbuis en stem vir konserwatiewe Afrikaanssprekendes. Hierdie is ook ʼn groep mense wat deur die meer liberale, linkse en soms openlik antagonistiese media vervreem is. Afrikaners in besonders is vir lank nie werklik ʼn stem en plek in nuusmedia gegun nie, is soms daardeur ontken en bloot net op neergesien as effe agterlik. In hierdie opsig het daar vir lank ʼn byna elitistiese neerkyk van die hoofstroom establishment media en joernaliste op gewone Afrikaners plaasgevind. Boonop dit het politieke korrektheid ook vir lank ʼn houvas op die mediabedryf gehad.

Die kombinasie van hierdie dinge het konserwatiewe Afrikaanssprekendes oor die algemeen en Afrikaners in besonders in wantroue weg van die media gedryf.

Maroela Media het presies dieselfde gaping as Fox gevul. Dit het vir mense ʼn tuiskomplek gegun waar hulle steeds betroubare nuus kan kry, maar in die proses ook ruimte en ʼn stem gegun word. ʼn Mediahuis wat ook net vir die ander kant van die hoofstroom ʼn stem, tuiste en spreekbuis wil gun.

Sodoende het Maroela Media kompetisie in die bedryf, maar ís hierdie kompetisie nie werklik kompetisie nie – juis omdat Maroela Media die nodige gaping op die regte tyd met oorgawe gevul het. Maroela Media is uiteindelik nie nét ʼn mediahuis nie, maar is eerder ʼn tuiste wat onbeskaamd haar karakter met haar lesers deel.

Dit is die sukses van Fox en so ook Maroela Media. Soortgelyke probleme is op baie soortgelyke manier gevul met vergelykbare vlakke van sukses wat uiteindelik bereik is.

Op Maroela Media se verjaardag vier ons almal dan tien jaar van tuiskoms in nuus en gemeenskap – ʼn media-suksesverhaal, media-reus en gemeenskapstuiste. Dit is hoe dit lyk wanneer jy raak boor!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Maroela media is ‘n bo gemiddelde nuus verspreider as hulle net die alewige politieke korrektheid wil oorbrug en meer konsentreer op feite soos dit werklik is sonder vrees sal hulle nr 1 wees.

FBS ·

Baie geluk Maroela en personeel, ek glo dit sal net beter en sterker word. Daar is net 2 inligtings bronne wat die moeite werd is, Maroela en Fox News lees hulle in SA en in VSA.

Sarel ·

Jasper en die ou agter die skuiling a3a3….julle hoef nie Maroela te lees nie. Gaan geniet News24. Dankie Maroela en julle span saam met Susan.

Althes ·

Baie geluk Maroela, jul is ook beter as van die grootste Suid-Afrikaanse tydskrifte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.