Nuuskommentaar: Massa-sielkunde van studente-onluste

Studentebetogings op die Wits-kampus (September 2016). Foto:@WitsSRC/Twitter

Studentebetogings op die Wits-kampus (September 2016). Foto:@WitsSRC/Twitter

Lê die oplossing vir die studente-onluste nie dalk in ’n boodskap wat die Suid-Koreaanse leier pas aan haar volk gerig het nie? Sy het hul slagoffermentaliteit oor vergrype deur groot moondhede in die verre verskiet teen haar land as rede vir pessimisme aangedui en gevra dat die geskiedenis eerder ingespan word as lesse vir heling en versoening.

Die massa-gevoel daarvan om slagoffer te wees van ’n onreg in die verlede, selfs antieke verlede, voed dikwels oorloë. Pas het Suid-Korea se president, Park Geun-hye, haar landgenote aangeraai om hul slagoffermentaliteit oor groot moondhede se aggressie teen hul land wat antieke griewe voed agter hulle te sit. Hierdeur moet hulle wegdoen met ’n pessimistiese manier van dinge beskou.

Uit die uitsprake van opstandige studenteleiers en die massa-optrede is dit duidelik dat griewe oor gebeure in die verlede die emosies voed. Objektief beskou, hoef daar nie noodwendig ’n verband tussen die gebeure en die grief te wees nie; die persepsie moet bloot aangevuur word om dit ’n “harde werklikheid” te laat word.

So word dit maklik om apartheid vir ’n gesin se armoede eerder as geslagte van te groot gesinne te verkwalik … ’n verskoning wat die toenmalige minister van huisvesting, Tokyo Sexwale, by geleentheid gebruik het om die regering se onvermoë te verduidelik oor hoekom nie voorgekom kan word met die voorsiening van huisvesting nie. Met ’n president met self ’n twintigtal plus kinders binne en buite die eg was Sexwale ook gou op straat.

Dis makliker en histories simplistieser om ’n perspektief te koester dat apartheid armoede konsekwent onder swart mense tot gevolg gehad het.

Dit is daarom uiters onwaarskynlik dat die studente oproepe om vrede sal beantwoord om, soos pres. Park dit in die oog het … “die geskiedenis ingespan kan word as lesse vir heling en versoening”.

Die onreg van die verlede moet nou eers van die tafel afgevee word.

In ’n opiniestuk van die Christian Science Monitor word verwys na die wyshede in ’n boek van 2014. Die skrywer van die boek, Eliot Behar, het die situasie in Joego-Slawië onder die loep geneem, en veelseggend geskryf: “Hierdie gevoel van toe-eiening (entitlement) op geregtigheid – hierdie impuls – is ’n kragtige voorvereiste vir geweld.”

En dit is wat soos klokslag met studente-onluste gesien word. Wat vreedsaam en binne die bedoelings van die Grondwet begin, ruk gou handuit en word gewelddadig met veral dade van vandalisme as kenmerk.

So “natuurlik” geskied die oorgang na geweld dat ’n besef van misdadigheid skynbaar dikwels ontbreek. Verskeie kere is uit die oproerige massa laat hoor “we are not criminals” terwyl die misdade soos menseroof, aanranding, intimidasie en vandalisme lustig gepleeg word.

So beskou ’n betogerleier van Wits sy eie beweerde optredes wat hom sonder borgtog in die sel laat beland het, sy eie optrede as niemisdadig. Hy gee weliswaar ’n nuwe beskouing hierop omdat dit polities is, en dat hy daarom glo eintlik ’n politieke gevangene is. Hy is intussen ook uitgevang dat hy vir die hof gelieg het oor ’n toets wat geskryf moet word. Seker ook ’n politieke oortreding.

By Kovsies is gekla dat teen protesteerders opgetree word, terwyl die Grondwet protes toelaat. Daar word gerieflik verswyg dat die Grondwet ook vereis dat dit vreedsaam moet wees.

Dit gaan baie moeilik wees om die onrus stop te sit. Om dit bloot deur polisiëring en die beskerming van ander studente se grondwetlike regte te stuit, verdiep eerder as verlig die persepsies oor ’n onreg. Boonop, met minstens een universiteit wat reeds sy deure vir die jaar gesluit het (hoewel die akademie deur die elektronika voortgesit word), is talle onherroeplik ’n akademiese jaar kwyt, met al die gevolge.

En vanuit die oproerige studente se oogpunt beskou, is boonop niks meer as dieper bewustheid oor die persepsies van verontregting bereik nie. ’n Groot deel van die voorheen simpatieke publiek word nou uiters keelvol.

Verskeie universiteite se “strategie” om deurlopend aan die opstandige studente te kenne te gee dat hulle eintlik die studente se saak steun, se uiteinde is onseker. Voed dit nie maar persepsies van ’n onreg, en ’n onmag om iets deur vreedsame maniere daaraan te doen nie?

Politieke sosioloë is moontlik die beste toegerus om die situasie te ontleed en oplossings aan die hand te doen.

Prof. Andries Bezuidenhout, ’n sosioloog, skryf onlangs oor die begrip “nostalgie” en meer spesifiek “politieke nostalgie”. Dit het heelwat raakvlakke met die bespreking tot dusver in hierdie stuk, byvoorbeeld: “Nostalgie as politieke krag gaan júís oor die gewaande, die onmoontlike, die fantasie. Dis wat dit so gevaarlik maak. Hierdie tipe nostalgie is ’n verlange na ’n onskuldige verlede, omdat dit op ’n selektiewe geheue berus … ʼn #RhodesMustFall-aktivis het onlangs in die vroeë oggendure op Facebook ’n maniese episode gehad waarin sy uitgevaar het teen wit mense en die wit ruimtes waarin sy haarself bevind. Die volgende oggend het sy geskryf oor hoe broos sy voel en dat sy die hele dag Harry Potter-boeke gaan lees om haarself beter te laat voel. Hogwarts is al plek waar sy werklik tuis voel, het sy geskryf. ’n Mens sou snedig hierop kon reageer en uitwys dat Hogwarts, Harry Potter se fantasieskool, oorwegend ’n wit plek is en dat die gedekoloniseerde universiteit waarvan die studente droom, in ideale vorm ook slegs in die domein van fantasie kon bestaan.”

Natuurlik is daar ook ander benaderings en metodes, soos om die probleem deeglik vas te vat voor dit handuit ruk. Maak die tronke vol en beskerm met alle geweld die wetsgehoorsame burgers.

Maar miskien het daardie skip reeds die hawe verlaat. Ten spyte van talle vroeë aanduidings dat die molesmakers hulself weldra in die voet gaan skiet, was daar baie simpatieke stemme uit akademiese geledere, en is die optrede in sommige se oë eintlik goedgepraat. Sommige universiteite het oor hul voete geval om hul taalbeleid so te wysig dat Afrikaans as onderrigmedium in wese in die slag sou bly, ’n grondwetlike kwessie wat na die howe oorgespoel het.

Natuurlik was daar ook politieke opportuniste wat hulle daarin verlekker het dat die kwessie vir die Zuma-faksie in die ANC ’n uiters warm patat geword het. Zuma, op sy beurt, is ’n meester daarvan om die warm patats met hospitaal-aangeë vir sy teenstanders (binne die ANC) aan te gee.

Die ding het nou wortels gekry. Diep wortels.

En dit kan slegs gedeeltelik op die politieke of staatkundige terrein opgelos word. En al word deur kundigheid die regte oplossing gevind, kan die ekonomiese werklikheid keer dat dit opgelos word.

En so word die verontregte verlede net met meer dorings gesaai, en sal dit jaar ná jaar, veral kort voor eksamentyd, distels baar.

Dit is dus nodig dat diegene wat hierdie verontregting uit die verlede voel, dadelik moet leer hulle kan nie hul griewe op ander afpers deur ander, waarvan baie ook arm is en enorme struikelblokke moes oorkom, en wat hard gewerk het, se toekoms te verongeluk nie.

Want dis hoekom daar ’n regstelsel is.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Baie simpatieke stemme het wel van hulle laat hoor. Thuli Madonsela, onder andere, het juis haar stem gister in ‘n toespraak voor die studente hiertoe gevoeg ter ondersteuning van hul saak, minder as ‘n week na sy as OB uitgetree het. Dit alleen om haar aan hul kant te hê, moet enorm betekenisvol wees. Ook sal ons sien tot welke mate dit nuwe stukrag (woema) aan die studente gee.

mc ·

“geslagte van te groot gesinne” so waar, en ook land se grense wat nie meer bestaan nie, skielik moet die Suidpunt van Afrika vir die hele Afrika en sy eie oor-groot gesinne sorg. Universiteite, skole- water- elektrisiteit- paaie- behuising. Die infrastruktuur het nie saam met die bevolkingsaanwas gegroei nie, voeg daarby ‘n president wat dan nog beloftes maak wat nie nagekom kan word nie…………………. ongelukkig het nie almal dieselfde insig om hulle eie somme te maak nie.

Theuns ·

Dagse Herman. Weldeurdagte Kommentaar! Ek wil graag gedagtes van Einstein en Hawkings inverband bring met jou kommentaar en vra wat jy daarvan dink? Soos jy weet het Einstein geglo aan ‘n “Skepping” wat “deterministic”was en dat alles in Harmonie gewerk het! Hy het ook geglo in die “oorsaak en gevolg” beginsel ? (cause en effect analyses) en dat jou eie vryewil tog jou besluite kan beinvloed. Einstein het , sover ek weet, glad nie geglo in “Quantum fisika” nie omdat atome in die sub-skepping willekeurig/lukraak (Random) is en atoom posisie en afstande nie in “Time en Space” bepaal kan bepaal word nie. Toe hy gevra is hoekom hy nie in die Quatum Fisika glo nie het hy gese ” God won’t play dice with the universe!” Hawkings glo egter aan Quantum Fisika en dat jy ‘n vrye wil het nie.Hy glo ook aan die “beginsel van oorsaak en gevolg”. Hy glo wel aan ‘n meervoudige “multi-verse”. waar die individu keuses het? Die implikasie van die gevolgtrekkings is dat student nie eintlik n keuse het om te brand, klippe te gooi en ander vandalistiese dade te pleeg nie in die onluste wat ons nou op die Universiteit kampusse sien nie? Dit is vooraf in hulle sige ge-programeer daarom tree hulle so op soos hulle doen? Hulle is eintlik onskuldig! Nog ‘n laaste vraag. Wat as die “gevolg” van hulle wandade nou die “oorsaak” word? Groete.

Herman Toerien ·

Hallo Theuns. Ek is op universiteit ‘n filosofie opgedwing waarmee ek so te sê glad nie saamstem nie, en is sedertdien baie kopsku om enigsins iets met filosofie te make te hê. Ja, ek is oortuig die oorsake en gevolge van die wandade teer nou op mekaar om ‘n bose kringloop te vorm. Oor die kwessie van ‘n Afrika, en meer spesifiek Suid-Afrikaanse gedekolonialiseerde wetenskap: Argeloë vind in Suid-Afrika interessante dinge oor ons oermense, soos dat die ronde klippe wat ‘n groep gebruik het om te jag of baklei, op 50 meter die doeltreffendste trefkrag het. Pas is weer bekend gemaak dat mense uit die Middelsteentydperk 80 000 jaar gelede hul werktuie met vuur getemper het (iewers in die Suid-Kaap). Nêrens in die wêreld is dit ook so ver bekend gedoen nie. ‘n Gedekoloniseerde wetenskap kan gebou word, maar dit sal kwalik kan opweeg teen ‘n wetenskap wat ‘n tuig tot anderkant Pluto kan stuur.

Theuns ·

Dankie Herman vir jou insigte! Dit laat my beter voel dat ek nie n klap van die Windmeul weg het nie! Groete.

John ·

Suid-Korea suig aan die VSA se spene vol ‘antidepressante’ vir hul angsaanvalle weens die Noorde se aggressie. Dit is die rede waarom sy haar mense aanspreek. Die noorde en suide is van dieselfde rassegroep en kultuur en kyk hoe haat hulle mekaar. Ons het ‘n hele paar reenboe vol van verskillende rasse en nasies hier. Selfs gereelde psigiatriese skokterapie soos dit aanvanklik gedoen is deur depressiewe pasiente se koppe onder die water te hou totdat hulle ophou teenveg, sal hierdie trolle-rollery nie stop in SA nie omdat ons ‘dokters’ aan dieselfde kwaal ly.

Maria van Dieweeck ·

Hierdie is mense wat glo hul kan n streep trek deur ‘koloniale wetenskap’ en n nuwe ‘Afrika wetenskap’ skryf. Ideale kandidate vir onsinnige ideologiee. Hulle het niks om op te roem of trots te wees nie, en weet nie wie hulle is in hierdie wereld nie. So is dit maklik om hul op te sweep. Voeg daarby die feit dat selfbeheersing nie aangeleer word nie en siedaar! #Fooiemoetval, en wittes.. Soms dink ek hul verlang na die ‘struggle’ om relevant te probeer wees. Hoe dit ookal sy, hul is oppervlakkig en baie kinderagtig en moet gehelp word om uit hul seepbel te klim. Hoe mens dit ooit sal regkry, weet ek nie.

Sies tog ·

Stem 100% saam. Hulle het ‘n helse chip op die skouer en uiters lae selfbeeld. Om te wil se dat die wiel ‘n wetenskaplike uitvindsel van die Weste is en dat dit daarom mee weg gedoen moet word, net om dan die volgende dag te se:” Kyk wat het ons hier in Afrika ontdek, ‘n wiel!” skreeu van aandag soek en ‘n behoefde om beter oor jouself te voel. Dit is makliker om ander te blameer as om introspeksie te doen en jou eie terkortkominge te erken. Hulle het nie gratis onderwys nodig nie, maar eerder gratis psigiatriese behandeling.

Mari ·

Watter taal gaan universiteite dan gebruik-Engels is baie kolonialisties

Han ·

Sies tog, ek stem volkome saam met jou. Ek het vantevore al talle kere dieselfde mening gehuldig. Dat enige waarheid wat oor hulle uitgespreek word binnekort ook as “haatspraak” gebrandmerk sal word, toon maar net hoe hulle beskerm wil word teen hul eie minderwaardigheidsgevoel. In plaas daarvan om hand in eie boesem te steek en hulself op te hef, word die skuld verplaas na ander wat beter as hulle vaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.