Nuuskommentaar: Massaskieters en wapenbesit in VSA

Foto: Gerald Herbert, AP

Ná ‘n skietery by ’n skool, waar daar dié keer 17 kinders doodgeskiet is, bekyk Amerikaanse ontleders die moontlike oorsake vanuit elke denkbare hoek. Dit hou reeds lesse vir Suid-Afrika in.

Oudpres. Jacob Zuma (wie onthou hom nog?) het gereken dit is aan sy knap presidentskap te wyte dat Suid-Afrika nie onlangs so ’n massaskietery, en veral skietery by skole, beleef het nie. Gelukkig is dit nie meer nodig om sy kop te lees, en sy uitsprake te ontleed nie.

In die VSA word steeds artikels en rubrieke geskryf om die probleem (weer eens) te probeer uitpluis. Weens Suid-Afrika se politieke gebeure op steroïede die afgelope week of wat is min aandag hier aan die skietery in die VSA gegee. Dit het uithaal gekos om hier te lande by te hou met die snelle gebeure. Sommer skielik is die Guptas en Duduzane Zuma internasionale vlugtelinge.

Die VSA se gebeure verg egter besinning, veral omdat dit herhalend kan wees, en ook hierheen “uitgevoer” kan word. Wat nou in Suid-Afrika gebeur, is bykans uniek en herhalings is onwaarskynlik.

Pres. Donald Trump het laat weet die FBI (wat vooraf oor die aanval ingelig is) sou ’n stokkie voor die aanval kon steek as hulle eerder meer aandag aan die skooldreigement geskenk het, as om te bepaal hoeveel en watter Russe in sy verkiesingsveldtog ingemeng het (om hom verkies te kry).

Volgens ’n nuwe peiling glo net soveel Amerikaners nou in die belangrikheid van die beheer van vuurwapenbesit as wat voel alle geestesongesteldes moet behandel word as beste teenvoeter vir wat nou in Florida gebeur het. Daar is nou heelwat meer Amerikaners wat voel skole is nie veilig nie. Daar is immers volgens die ontleder Ted Rall 17 skoolkinders afgemaai, maar selfs meer insiggewend is dat dit die agtste geval vanjaar van ’n skoolskietery in die VSA is. En dis nou eers Februarie.

donald trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Rall bespreek kortliks die geskiedenis van baie Amerikaners se gehegtheid aan hul skietgoed. Dit kom in wese daarop neer dat toe die grondwet aanvaar is, was die meeste mense nog landelik en van hul skietgoed afhanklik om kos op die tafel te hê. Hy wys daarop dat daar tans 270 miljoen wapens in die VSA in privaat besit is. Dit beteken byna ’n wapen per man, vrou, kind en baba. Maar hy self het al verskeie doodsdreigemente gekry, en sou veel eerder sy huis met die soort aanvalsgeweer wat nou gebruik is, wou beveilig as met ’n mindere skietding.

Hieruit is dit maklik om af te lei dat daar in Suid-Afrika ’n soortgelyke sentiment sou wees, met plaasaanvalle en gereelde gewapende aanvalle op woonhuise in stede en dorpe. In ’n onlangse berig in Maroela Media is beskryf hoe ’n gesin by Vredendal een van die aanvallers in die gesig geskiet het. Die berig is enorm baie gelees en daar was 53 kommentare.

In nog twee onlangse artikels bekyk nog twee bekende Amerikaanse ontleders die oorsake van die onwelheid op kampusse. In sy artikel skryf Michael Barone dat wat uit die kampusse sypel, besig is om die VSA te besoedel.

Hy skryf oor die tipe “sensuur” wat op kampusse toegepas word die volgende: “The result is that silence on any controversial social issue is endemic on college campuses.”

Patric J. Buchanan is veel meer op die onderwerp af in sy artikel, “The motives behind the massacre”. Hy meen dié soort voorvalle sal ongelukkig nie stopgesit word nie, en afkykers sal steeds iets probeer doen om die probleem wat te algemeen in die VSA geword het, voort te sit.

Hy erken dat die dader(s) sielsiek is, maar meen ook dis ’n geval van morele deprivasie. (Dit is die moeite werd om die hele artikel te lees.)

Weer eens die vraag: “Hoe ver is Suid-Afrika nou van so ’n moontlikheid verwyder?” Die redes hier mag meer polities van aard wees, maar die somtotaal is dat hier ook ’n neerslag mag wees van ras-polariserende uitsprake van politici. Hoe ver van regstreekse geweld was die Overvaal-kwessie as die polisie nie betyds ingegryp het nie?

Dit plaas ’n reuse-onus op ouers om te probeer toesien dat hul kinders in skole beland waar die ander leerders en hul ouers so na moontlik hul eie waardes en opvattings deel, veral in ’n gepolariseerde land soos Suid-Afrika. Dit verskraal immers die kanse dat ’n gebroke kind in situasies kan beland wat hy as verontregtend beskou, en op ’n dag uithaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ignorance ·

Dit gaan eerstens oor die min “kwalifikasies” wat iemand moet besit om ‘n WAPEN in USA te besit, en tweedens gaan dit oor die gebrek aan DISSIPLINE by skole en die SLAP POLSE waarmee boelies hanteer word. Hoekom was daar nie sekuriteitswagte wat die studente elke dag deursoek nie? Van wanneer af kom jy met ‘n wapen skooltoe? Net so jammer soos ek vir die oorledenes is, net so weet ek dat al die tekens daar was dat hierdie ou mense gaan vermoor en soos met ALLES WORD DIT GEIGNOREER!

Eish ·

Na aanleiding van die artikel waaruit u aanhaal, is ons reeds in n soortgelyke situasie wat betref gebroke gesinne. Hoeveel ouer kinders maak die jonger broers en susters groot aangesien beide ouers deur HIV ontval het. Hierdie samelewing is inteendeel reeds baie verby die punt van die VSA gedagtig aan die geweldadige tagtig en negentigs, waar geweld slegs n ander vorm aangeneem het met die nuwe bestel. Ons is die VSA ver voor met moord desondanks hul massaskieters. Kyk eenvoudig na die geweldadigheid van moord hier. Die Vrystaatse Goudveld het n gemiddeld van 4 moorde per week. Ons is dus binne n enkele maand op dieselfde moordsyfer as dié spesifieke VSA massasietery.
Ons het reeds n soortgelyke probleem, maar geen kundigheid om dit aan te spreek nie.

Werner ·

Amerika dit met sosiale probleme dwelmgebruik is aan die orde vd dag geen respek vir mekaar as mense weer respek en maniere leer sal probleem ophou terroriste gebruik trokke en karre om in skares mense in te jaag in Europa enige iets kan gebruik word om mense mee dood te maak

Johann Marx ·

In dieselfde Amerika wat nou so skree oor aanvals-gewere………..word 2 keer meer moorde met ander wapens gepleeg, 4 keer meer moorde met messe, bofbalkolwe en vuiste, 8 keer meer moorde met GEEN WAPEN nie (kaal hande en voete), 16 keer meer moorde met voertuie (dronk bestuur)…….en HONDERD KEER meer “moorde” deur nalatige mediese sorg. Tog skree niemand om vuiste, messe, bofbal kolwe, jag gewere, voertuie of hospitale te verban nie? Hulle skree NET oor vuurwapens? Die fout lê nie by die instrument van keuse nie………dit lê by die siek denke en waardestelsel daaragter!!

Matrys ·

Ditto Johann. Daar is selfs van die Amerikaanse skool distrikte waar uitgesoekte onderwysers opleiding kry en dan hulle eie (vesteekte) vuurwapens skool toe dra. En dit maak die kinders daar baie veiliger – die vinnigste manier om ‘n gewapende aanval te stop is om terug te skiet. Nou die liberales hou niks daarvan nie, maar dis mos nou ooglopend beter as jy dadelik gewapende personeel daar het as om eers te wag vir die polisie om te kom.

Christelle ·

Wat gebeur as jy God uit skole haal daar is jou antwoord dan gebeur dit

Michelle ·

So God laat toe dat 17 mense sterf, en die 17 mense het geen sê gehad of Hy in die skool toegelaat word nie? Ons Christene stel ons God in ‘n baie slegte lig as jy so redeneer.

fook ·

Hoe nou? Nee! God word nie daar toegelaat Dit is hoekom dit gebeur!

God? ·

Wie se God Christelle? Myne? Joune? Wie se geloof vorseer ons op alle kinders af?

ertjie ·

“18de geval vanjaar van ‘n skoolskietery…” .Dit is n onakkurate en misleidende statistiek, jammer. Die tipe statistiek wat so reg in Gun Free South Africa en ander soos hulle se kamp val.

Herman Toerien ·

Hallo Ertjie. Ek was self verbaas oor die statistiek. Ek onthou egter ek het ‘n ruk gelede ‘n soortgelyke stuk gedoen en die syfer vir die jaar verskaf, wat my ook verstom het. Vanoggend se bron word as gereken beskou, en staan in die dampkring van diegene wat eerder pro-vuurwapen sou wees. Die skakel is in die stuk – lees dus gerus sy artikel. Indien jy steeds verskil, verskaf dan ‘n syfer waarmee jy gelukkig sal wees plus ‘n geloofwaardige bron. Ek dink nie dis billik om ‘n feit af te skiet sonder om iets geloofwaardig in die plek te stel nie.

Pieter ·

Stem saam met jou die getal is ook wat gunfree sa voorgehou het, totdat hulle gevra is om datums en skole te noem. Hulle kon dit nie doen nie, dit is n belaglike aantyging om te maak. So n aanval sal orals op die nuus vertoon word, waarom het ons niks gesien of gehoor daarvan nie?

Hendrik ·

Die 18 voorvalle sluit ook in viurwapens per ongeluk afgevuur is, skote in parkeerareas en selfs een selfmoord geval. Die punt is egter dat dit heeltemal te maklik is vir Amerikaners om n vuurwapen in die hande te kry, veral semi-automatiese aanvalsgewere.

Michelle ·

Dit was nie 17 kinders nie, maar 14 kinders en 3 werknemers

TV ·

Kinders word van kleins af aan erge geweld op tv en rekenaarspeletjies blootgestel, ek dink dit is n kernoorsaak.

adriana ·

Ai Michelle, jy slaan die pot so mis. Dit is jammer.
Haal God uit die skole uit en jy het kinders wat geen Christenskap of geloof ken nie – hulle word sonder geloof groot . Gelowige kinders se koppe sal nie so uithaak nie, baie Amerikaanse gesinne het ook Godsdiens tuis nie. Geen moraliteit en respek vir lewe nie. Godsdiens leer jou dat jy nie mag doodslaan nie en alles wat daarmee gepaard gaan.

Werner ·

Dit is jammer dat die morele verval in die VSA so aansteeklik is.

Atta ·

In Amerika is die Christelike godsdiens geruime tyd reeds uit staatskole verban. Dit is vervang met die ateïstiese “godsdiens” van evolusie. Jy leer die kinders dat hulle afstam van ‘n aap en dat dit gaan oor “survival of the fittest”, jy leer hulle dat morele waardes deur die mens (gemeenskap) self bepaal word en dat daar geen Hoër Morele Gesag bestaan wat van jou rekenskap sal eis nie. En dan, as ‘n jongman soos ‘n dier sonder gewete by sy skool opdaag en almal voor die voet soos hy in sy rekenaarspeletjies geleer het begin afmaai, dan moet die probleem weer “vanuit elke moontlike hoek” ondersoek word. Strenger wapen beheer is vers 1 wat gesing word, die wetstoepassers wat nie hulle werk doen is vers 2. En so volg al die ander bekende en afgesaagde versies waarvan seker die mees absurdste een “waar was God gewees?” is, maar die olifant in die kamer word steeds geïgnoreer.

As Christen gaan my hart uit na die families van die slagoffers van hierdie sinnelose daad van ‘n geestelik versteurde persoon en ek bid dat hulle vertroosting mag vind. Maar my hart word stukkend geruk deur die geweldadige moord op byna 57 miljoen ongebore babas in die VSA alleen sedert aborsie daar deur die staat gewettig is in die middel 70’s. Dit is ‘n hele SA bevolking wie die reg op lewe ontsê is nog voor hulle ‘n eerste asemteug kon gee! En ons in SA moet mos alles slaafs navolg wat Amerika doen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.