Nuuskommentaar: Maties – Wat van bietjie meer waarheid en waardigheid?

'n Skermskoot uit 'n video.

‘n Skermskoot uit ‘n video.

Al hoe meer beskuldigings dat die rektor van die US nie oop kaarte speel om by sy veronderstellings en taalplanne uit te kom nie, vertroebel die hele debat oor universiteite as instellings van uitnemendheid. Dit is tyd dat die waarheid met waardigheid en onverskrokke gestel word om die siklus van onaangename persepsies af te skud.

Dit is jammer dat die polemiek oor die voorgestelde taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch soveel beskuldigings begin oplewer dat die rektor, prof. Wim de Villiers, taamlik los en vas met die waarheid omgaan. Want sonder oop kaarte speel met die suiwer, onverdunde waarheid, kan daar geen waardigheid in wees nie, om nie van geloofwaardigheid te praat nie.

In die jongste “bluf-roep” ontken AfriForum Jeug die rektor se aansprake dat die universiteit ook vooraf met AfriForum gekonsulteer het: “Prof. de Villiers het boonop in ʼn media-onderhoud gemeld dat hy met AfriForum oor die aangeleentheid gekonsulteer het.

“Dit is totaal onwaar. Hy het in géén stadium met ons hieroor gekonsulteer nie; trouens, hy het ons doelbewus daarvan probeer uitsluit. Ons sal egter verseker ons stem word óók gehoor,’ het Bernard Pieters,  Maties se AfriForum Jeug-takwoordvoerder, gesê.

Vroeër het ’n leser in kommentaar op Netwerk24 geskryf hy weet die rektor het ook pogings van die studente-organisasie, Adam Tas, om te ontmoet, geminag of geïgnoreer. Voorts maak die rektor, byvoorbeeld, groot gewag daarvan dat hy met koshuisliggame gekonsulteer het, maar die leser wys daarop dat die koshuis- en studentesamestelling al oor jare gemanipuleer is met die aanbieding van beurse en ander studiehulp – dis nie baie edel om die samestelling te manipuleer tot die “gewenste” uitslag ’n voldonge feit is en dan dié agtergrond te verswyg nie.

Ook die DA wys daarop hy het met Sasco gekonsulteer, maar nie met sy jeugvleuel Daso nie. Hierteenoor het die rektor omvattend die omstrede organisasie, Open Stellenbosch, lof toegeswaai vir hul insette. Open Stellenbosch word op sy beurt daarvan beskuldig dat hy taamlik wyd met die waarheid omgegaan het in ’n video wat versprei is en ANC-druk op die universiteit laat toeneem het.

Die gevolglike indruk is een waar die politiek van die dag gedienstig is en dié is ANC-politiek waarvan die Zuma-beeld met gepaardgaande wiele wat loskom, nie oral die blinkste beeld het nie. En assosiasie is ’n lelike ding, omdat mense eerder op hul persepsies as die werklikheid reageer.

Ja, daar is liberale en “liberale” wat hul steun vir die plan volmondig toon. Hieronder tel, soos verwag kan word, Max du Preez wat in sy Netwerk24-rubriek weer sy verstokte idees en perspektiewe opdis sonder om eens ’n poging aan te wend om die grondwetlike beginsels en sentimente wat die ander kant beliggaam, te verreken. Hy verval veel eerder in klappe uitdeel, soos om Breyten Breytenbach aan te val, wat die “konsep”-plan erg aangeval het. Hy kap ook na dr. Leopold Scholtz, asof hierdie opgetoë Stellenbosser en buitengewone professor in geskiedenis aan die US, ’n vreemdeling in Jerusalem is, terwyl hy, Max, in Kroonstad grootgeword het.

Dis sal interessant wees om te sien of Scholtz hom, soos ’n paar keer in die verlede, gaan verwerdig om Max ná so ’n inslepery weer  argument-kaal aan die kop-op-‘n-blok van openbare debat te laat.

’n Ander rektor het by geleentheid half meewarig gesê sy universiteit kan sonder die geldelike bydraes van die alumni oor die weg kom. Toe was die staat se geldsake egter nie so knap soos nou nie en dit was maklik om outonomie op die spel te plaas ter wille van vermeende groter geldelike bydraes. Die teenoorgestelde het egter gebeur en subsidies het byvoorbeeld afgeneem sodat sommige universiteite nou in ’n redelike krisis is en die staatskuld al leliker word.

Dit gebeur terwyl ’n paar ministers skynbaar nog geen persepsie vorm oor die impak wat die huidige droogte op die land se ekonomie het en nog kan hê nie.  En na berig word, raak die alumni van universiteite al hoe meer onthuts oor wat landwyd gebeur.

Die tyd van die ou statige rektore wat dikwels baie diktatoriaal en selfs stagnant was, is duidelik uitgedien. Met ’n idelogiesgedrewe afkopregering is ’n improviseerder en iemand wat op sy voete kan dink, ’n gegewe. Maar dit beteken nie los kanonne wat by herhaling stellings maak, soos dat die vorige Matie-rektor, prof. Russel Botman, “nie vanself dood neergeslaan het nie,” (hy is met swak gesondheid in sy slaap oorlede) en “verkramptes” die skuld gee nie. Dit moet in gedagte gehou word dat Botman ’n transsformasiesentrum in die lewe geroep het met vriende aan die hoof om ’n trasformasiebeleid te implementeer wat nog nie deur die Raad goedgekeur was nie.

Dit kan nie iemand wees wat Volksblad by die persombudsman gaan verkla, maar hom dan deels vasloop in ’n bevinding dat die skakelburo belangrike inligting weerhou het nie. Dit verg meer oordeel om aan ’n oproerige vergadering van #ReformPUK te sê hulle moet veg vir waarin hulle glo en so ’n klag by die polisie op die lyf te loop. In Stellenbosch loop die lesse van foute uit die verlede diep en dit sal prof. De Villiers loon om daarin te delf om nie ook kort voor lank ge-Chris Brink te word nie.

En ná alles, moes daar weens suiwer empiriese redes hieroor debat gewees het.

Die feite is lank reeds bekend, maar omdat die Vryheidsfront Plus dit so mooi opsom, word dié party se opsomming aangehaal:

“Afrikaans met 6,8 miljoen sprekers is die derde grootse taal in Suid-Afrika ná Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Afrikaans is ook die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noordkaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap).

“Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.

“Is dit te veel gevra om dan vir twee universiteitskampusse uit 36 wat oorwegend Afrikaans is te argumenteer?

“Met die Wes-Kaapse bevolking meer as 50% Afrikaanssprekend en bruin, behoort daar geen debat oor Afrikaans as onderrigtaal aan Stellenbosch te wees nie. Met twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap wat reeds Engels is, het mense wat hieroor druk op die universiteit plaas, ’n deursigtige verengelsingsagenda”.

“Open Stellenbosch” se verwysings na die Universiteit van Stellenbosch en Afrikaans, wat studente uitsluit, is niks anders as ’n verskuilde poging om die laaste paar universiteite waar Afrikaans nog as akademiese taal bestaan, te verengels nie. Die regering behoort hierdie universiteite ekstra staatshulp te gee ten einde meertaligheid te bevorder en erken dat universiteite wat slegs Engels as voertaal het, daardeur baie studente uitsluit.

“Artikel 29(2) van die grondwet bepaal: ‘Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is’.”

Die DA neem ’n soortgelyke standpunt in (Afrikaanse teks blykbaar nie beskikbaar nie):

“The DA believes in building inclusive campuses, where students are not excluded on the basis of language or any other characteristic. We further support the constitutional principle that every person has the right to be taught in the official language of their choice, where reasonably practicable.

“While the DA respects the autonomy of Stellenbosch University to make decisions affecting its language policy, we have some concerns about the proposed language policy, as outlined in the Vice-Chancellor’s recent statement.

“The change would see English made the primary language of instruction and this appears to be in contravention of the constitutional principle that every person has the right to be taught in the official language of their choice, where reasonably practicable. It cannot be argued that teaching in Afrikaans is not ‘reasonably practicable’. The constitutional rights of Afrikaans speaking students, therefore, need to be upheld while those of other students of different backgrounds are also met.

“That is what inclusiveness means in a multicultural society. So instead of jettisoning Afrikaans as the primary language of instruction, ways should be found to ensure that both the principles of inclusivity and language rights are upheld.

“Perhaps as a reflection of the haste with which this proposal has been put forward, it is also of concern to us that the consultation process undertaken thus far by the University appears to have been quite narrow and may not have taken all views into consideration. We note, for example, that the South African Students Congress was consulted, but the Democratic Alliance Student Organisation was not. Students and academic staff with a wide variety of opinions surely need to be consulted, including many whose views may not accord with those of any political party or movement.

“We strongly recommend that the University uses the next stage of its consultative process to significantly widen the pool of those consulted, to include all students, student organisations, academics and alumni, and to ensure that all constitutional principles are duly adhered to.”

Die hele aangeleentheid het nou in ’n tameletjie van onsmaaklike beskuldigings en vyeblaar-uitdossery ontaard. Dit gaan nou leierskap verg om die kwessie weer op ʼn vlak te bring wat by opvoedkundige instansies van uitnemendheid pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos ·

2 uit 36 universiteite vir uitsluitlik Afrikaans is nie te veel gevra nie. Waar is Johan Rupert?

HEVW ·

Die rektor van Maties. Hoe het hy in die pos gekom? Seker op dieselfde manier as wat hy nou tewerk gaan. Hoe lyk dit met n bietjie teer en veer. Darem nou nie op die brandstapel verbrand nie.

Bruno Stef ·

Sou dit nie n beter opsie wees om die ingeskrewe Studente en opvoedings personeel van die Universiteit aan n Ja/Nee referendum te laat deelneem eerder as om almal bloot te stel aan beskuldigings en ontkennings.Dit kan verseker dat mense soos Max ( lee blik) du Preez se verwronge siening in die bek geruk word en n aanvaarbare oplossing verkry word,Een knaap het oor die Nuus alreeds te kenne gegee dat dit maar net die begin van hulle eise is om SG apartheid op die Universiteit te verwyder.

Henry ·

Hoe gouer ons Afrikaners dit aanvaar dat hierdie eertydse Afrikaanse Universiteit in Wes Slaapland, se sand uitgeloop het, hoe beter.
Oor die afgelope jare het die vyande van Afrikaners – waarvan die meeste ongelukkig vanuit Afrikaner geledere afkomstig is, daarin geslaag om hierdie eertydse bate te kaap. Om dit in die hande van die ANC regime en hul meelopers wat die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal ten doel het, te oorhandig.
Laat ons die lesse wat hier geleer is gebruik om die aanvalle op ander teikens af te weer.
Laat ons veral dubbel versigtig wees vir die hanskakies en ander verraaiers in eie geledere, wat soos in Stalinbos se geval, as agente van die vyand help om ons taal en kultuur te vernietig.

Rina Kotze ·

Soos Oom Paul Kruger lank terug gesê het: “dis nie Stemreg wat julle wil hê nie, dis my land!”
Als wat wit en Afrikaans is moet mos nou afgebreek word. Hoekom gaan swot
James de Villiers, SR Voorsitter, nie by Universiteit van Kaapstad nie????
Die Universiteit is destyds deur Dr JS Marais met ‘n groot bedrag uit sy boedel geskenk aan ‘n trust om ‘n Universiteit vir Afrikaanssprekendes te stig. let wel, nie vir een bevolkingsgroep nie, maar almal wat Afrikaans praat.
Dalk moet alle oudstudente wat trots op hulle taal is, begin om geen meer bydraes te maak nie,
Jammer, MATIES was vir my nog altyd DIE UNIVERSITEIT van stabiliteit en standaarde.
Tensy almal nou saamstaan teen die taalkwessie, gaan ons land se standaarde NOG VERDER VAL!
Red Afrikaans by Maties!!!

humor ·

Iemand moet nog in hierdie late uur ontwaak. Dit gaan nie maar net oor taalkwessies nie. Die Afrikaner moet weg Alles gaan verengels. Alle administrasie sal ook verengels. As jy in Afrikaans gaan navraag doen dan sal jy met n vraagteken aangekyk word. Die geskiedenis sal vernietig word, en die plek sal ontaard in plek waar geen opgevoede Afrikaner ooit tuis kan wees nie.

Genealoog ·

Waarheid en waardigheid moet jy nie by De Klerk, Meyer of De Villiers soek nie.

arie plaasboer ·

Hoeveel van julle kommentatore het miskien daaroor gedink en dalk besef dat die rektor `n klip in die bos gegooi het om die reaksie te weeg?
Wie het al oorweeg dat daar dalk `n poging was om die rektor in `n blik te druk om Afrikaans as onderrig medium af te skaal?
Om sy “job” en pensioen te beskerm het hy “ingestem”. en `n buite ordelik `n aankondiging gemaak wat alle kommentatore (ek erken vir my ook) so op hitte gejaag het.
Kan dit wees dat hy hier `n politieke spel gespeel het om die druk op hom af te maak as onhaalbaar? Na aanleiding van die geweldige teenstand wat die publiek daarbuite ge-openbaar het, mag die aankondiging dalk net omgedraai word.
Met sodanige algehele teenstand kan hy beweer dat dit strydig is met die wense van die publiek wat daar studeer en wil studeer en NIE in ooreenstemming met die luidrugtige lawaaierige minderheid nie.
Die bekendmaking was duidelik nie met die goedkeuring van die raad van Maties gemaak nie.
Dit blyk nou uit jonger berigte dat die Raad sy aankondiging ongedaan gemaak het vir ten minste vir 2016.
Die reaksie teen sy buite orde aankondiging is ontvang en dit kan nou deur die raad gebruik word om hul argumente tee die verandering te versterk.
Miskien is hierdie scenario dalk net reeel – wie weet!

Reinhardt ·

Jy maak nogal n goeie punt Arie. Ek hoop hartlik dat dit wel die geval is. Dalk is ou Wim nie so n slegte ou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.