Nuuskommentaar: Matriek en gratis universiteitsopleiding

matriekuitslae

Argieffoto

Die vreugde oor die styging in die matriekslaagsyfer kan erg gedemp word as heelparty van die matrikulante nie werk kry nie en ook nie finansiering vir verdere studie kan bekom nie. In die VSA is daar verskeie programme ter ondersteuning van gratis tersiêre opleiding, omdat studieskuld selfs suksesvolle studente erg wurg.

Die vreugde en verwagtinge is groot oor die matriekuitslae, waarin die Vrystaat selfs ʼn slaagsyfer van meer as 90 % behaal het.

Maar nou wag die teleurstelling op duisende wat gemeen het matriek is die goue poort tot die toekoms. In die staat New York vereis 70 persent van alle werksgeleenthede ʼn gesaghebbende naskoolse kwalifikasie.

Die Christian Science Monitor berig vanoggend omvattend dat die staat New York met ʼn vorm van gratis tersiêre opleiding begin.

Die vereiste van tersiêre onderrig is, weens die koste daarvan, vir baie juis die dood in die pot. Studieskuld in die VSA het kredietkaartskuld as die tweede hoogste verbruikerskuld verbygesteek. Dit beloop nou ʼn astronomiese $1,2 biljoen (Amerikaanse triljoen). In die staat New York beloop die gemiddelde studentelening $30 000. Baie afgestudeerde studente word met studieskuld so gewurg dat hulle nie uit die wegspringblokke kan kom nie.

Nou het New York met ʼn program van gratis tersiêre onderrig begin. Die beskrywing “kolleges” sluit universiteite en gemeenskapskolleges in. Die enigste vereiste is dat die ouers saam minder as $125 000 per jaar moet verdien. Dit herinner aan die stelsel wat nou in Suid-Afrika geïmplementeer word, waar studente wie se ouers minder as R600 000 per jaar verdien, begunstig word.

Die nuwe stelsel sal na beraming die bestaande Tuition Assistance Program, van $1 miljard per jaar, met ʼn bykomende $163 miljoen uitbrei.

New York se planne is nie uniek nie, met verskeie programme in ander state wat reeds soortgelyke oogmerke het. Sekere universiteite, soos Stanford en Harvard, bied reeds gratis opleiding aan studente wie se gesinne onder ʼn sekere bedrag per jaar verdien.

Dieselfde koerant het onlangs ʼn interessante artikel geplaas onder die titel Did free college save this city? Dit handel oor ʼn program wat vir die stad Kalamazoo ingestel is. Dié stad trek noustrop weens ʼn verskuiwing van nywerhede. Die program vir gratis kollege-opleiding is baie afhanklik van private skenkings.

Minstens sommige van die programme vir gratis tersiêre opleiding, insluitende dié in New York, staan in die dampkring van die Republikeine se onlangse verkiesingsukses, asook Donald Trump se verkiesing tot president. Met die Republikeine wat nou beide huise van die kongres en heelwat deelstate beheer, probeer die Demokrate dit wat hulle steeds beheer, so ver moontlik insuleer van Republikeinse beheer.

Die bekendstelling van die gratis studieprogram vir die staat New York, is byvoorbeeld ook aangebied deur Bernie Sanders, die selferkende sosialis wat die onderspit teen Hillary Clinton in die Demokrate se nominasiestryd gedelf het. Ook ander programme met ʼn sosialistiese karakter, soos gesondheidsdienste, word nou gerugsteun teen die agtergrond dat ObamaCare onder die Trump Administrasie in die slag kan bly.

Programme om gratis tersiêre opleiding te verskaf, is egter nie beperk tot Demokraties-beheerde state nie. Ook Republikeinse state implementeer die konsep, en Trump word aangehaal dat hy die sou gesê het: “The students are choking on those loans. They can’t pay them back. Before they start, they’re in trouble. And it’s something I hear more and more and it’s one of the things I hear more than anything else.” Tydens sy verkiesingsveldtog het Trump ook gedreig dat tersiêre inrigtings wat hul belastingvrye voordele nie gebruik om behoeftige studente te help nie, die gevaar loop om hul federale toekennings te verloor.

In Januarie vanjaar het die meerderheid kiesers in ʼn peiling aangedui hulle steun pres. Barack Obama se planne vir gratis gemeenskapskolleges, mits dit hulle niks kos nie. Oor die algemeen staan Amerikaanse kiesers maar skepties oor uitkomste van na-skoolse opleiding, met net 28 % wat nog in 2014 geglo het kolleges bied voldoende opleiding om studente vir ʼn loopbaan voor te berei. ʼn Onlangse peiling bevestig die posisie het nie veel verander nie. Boonop glo die meeste kiesers tersiêre inrigtings se pogings om ʼn stres-vrye en veilige omgewing vir studente te skep, gaan hulle in hul loopbane benadeel.

Suid-Afrika kan, wat welvaart betref, nie met die VSA meeding nie, al is die VSA se skuld astronomies. Die VSA se skuld aan ander lande beloop $3 841 biljoen (Amerikaanse triljoen). Hiervan word $1 115 biljoen aan China geskuld, ten spyte van pogings deur opeenvolgende administrasies om staatskuld te verminder.

ʼn Mens kan maar net hoop dat die hoër matriekslaagsyfer in Suid-Afrika nie met ʼn daling in standaarde en dus ʼn groter druipsyfer op universiteite gaan verband hou nie. Dit plaas enorme druk op die geldsake van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS).

ʼn Deel van die finansiële hulp wat die NSFAS bied is studielenings. Suksesvolle beurshouers moet kontraktueel vir ʼn tydperk in ʼn voorgeskrewe sektor werk. Byna ʼn halfmiljoen studente gaan na verwagting vanjaar deur die NSFAS gehelp word.

Of dié soort hulp aan die studente se eise om gratis tersiêre onderrig te bied voldoen, sal hom na verwagting vanjaar skouspelagtig op kampusse en daarbuite afspeel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Marie Salzwedel ·

In verhouding met Suid Afrika hoeveel van Amerika se bevolking betaal belasting in vergelyking met Suid Afrika? Vergelyk Amerika se persentasie wat jy in matriek moet behaal om toegelaat te word in n universiteit met Suid Afrika sin!!

Johann ·

Vir wat dit werd is, as ek dit reg het, is Amerika die 9 rykste land in die wêreld en SA die 87 ste. En natuurlik is daar maar ‘n handjievol belastingbetalers in SA.

Jordaan ·

Hoeveel NSFAS skuld is tot dusver terugbetaal deur mense na hulle klaar studeer het?

Theuns ·

Hallo Herman
Werkloosheid is ‘n tydbom gedurende ‘n tydperk van oorversadiging van die werkmark tydens lae ekonomiese groei, miljoene ekonomiese vlugtelinge wat oor die SA grense spoel, ongekende “grants” aan n bevolking wat nie meer wil werk nie, lae geletterdheid van studente en algemene bevolking, oneweredige verspreiding van die belastinglas, feitlik geen ekonomiese investering nie asgevolg van Zuma, Guptas en ander krip vreters nie, oorgrens despote wat nie vir hulle mense wil sorg nie ens ens!! Maar daar is ook goeie nuus! Met die bevolkings ontplofing wereld wyd gaan die Massa van die Aarde nie toeneem nie! Die Groot Meester het dit alreeds verdiskonteer omdat die grond, water, suurstof en ander elemente waaruit die mens geskep is alreeds daar was en mense wat dood gaan net terugkeer na hulle natuurlike staat nl ” Stof En Gees”! Daar gaan egter baie mense van honger doodgaan omdat die aarde nie aan hulle behoeftes kan voorsien nie!
Groete

snoefie ·

gratis tersiere onderwys klink so maklik. maar hoekom? ek het my studieskuld binne drie jaar terug betaal. met NSFAS begin en nog voor ek afstudeer het, aan nedbank oorgegee sonder dat ek in die saak geken was. maar ek het gelukkig binne die eerste jaar werk gekry en die terugbetaling van my studieskuld was prioriteit. daarna het die”regte” kar, die “perfekte” woning en die labels gekom. ek weet van mense in die veertigs wat loop en spog dat hulle steeds studieskuld het en vind dis rede tot skaamte. niks om oor te spog nie. hoe vinniger jy jou studiegelde terug betaal, kan nog n student gehelp word.

John ·

Die een probleem wat hulp aan laagbesoldigde inwoners in die land gaan meebring, is dat hierdie groep wel baie finansiele hulp gaan kry, maar vanwee sommige se inherente swak vermoens om te presteer hul moontlik uiteindelik swakker kandidate vir ‘n bydrae tot ekonomiese groei gaan wees. Geld sit nie om in vaardighede en talente nie, soms moet dit oorgeerf of deur middel van ander vaardighede ontgin word. Meer begaafde leerders van meer begaafde ouers gaan agter eersgenoemde in die tou moet staan vir hulp.

Rupert Ashford ·

Kan iemand vir my se of die R600K stelsel wat nou in Suid-Afrika geimplementeer word kleurblind is, of is daar ander kriteria wat ook in ag geneem word?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.