Nuuskommentaar: Matriek – nou kom die toets

matriekuitslaeAgter die daling in die matriekslaagsyfer lê die moontlikheid dat die slaagsyfer vir die eerste keer in jare ’n aanduiding gee dat die uitslae in pas met vereiste standaarde is. Minstens een koerant het dit reeds vooraf met straatbaniere as goeie nuus vir die land aangekondig.

Ongelukkig vir diegene wat tog baie hard gewerk het, maar nie die agterstande weens bitterlik swak onderwysers wat deur ’n politiek-behepte vakbond in hul kwaad gesterk word, skoolboeke wat steeds nie gelewer is nie, baie moeilike omstandighede tuis wat nie leerwerk bevorder nie, en ander probleme dit nou nie gemaak het nie. Jong mense wat jonk reeds leer dat die lewe nie altyd regverdig is nie.

Aan die ander kant, baie geluk aan die harde werkers wat die onderskeidings en ander puik prestasies ingeryg het. Ook onder hulle is daar diegene wat nou, moontlik vir die eerste keer, leer dat die lewe baie onregverdig kan wees. Toppresteerders wat weens die kleur van hul vel nie keuring kon kry vir rigtings waarvoor hulle so hard gewerk het nie, en toppresteerders wat om dieselfde rede by beurs- en leningshouers voor dooiemansdeur te staan kom.

Waar ook ouers soms vir die eerste keer besef hoe hard die regering se rassebeleid kan slaan, en vir die eerste keer – en dan soms te laat – na Solidariteit en sy beursfonds begin kyk.

Baie dankie vir die talle leerkragte wat alles insit en self baie opoffer om die jong mense wat aan hul sorg toevertrou is, die beste moontlike uitslae te verseker. Dis nou op ’n eerlike manier – nie die groep-afkykery wat Umalusi aan die kaak gestel het nie.

Maar voor gejuig word oor die matriekstandaard wat nou dalk op die veronderstelde matriekstandaard is, sal dit eers in die praktyk getoets moet word. Universiteite sal eers behoorlik evalueer voor hulle oorbruggingskursusse sal afskaf. Of daar ’n daling in die uitvalsyfer, veral onder eerstejaars, op universiteit sal wees, sal eers deur die loop van die jaar bepaal word.

Gaan dosente se gebrom stil word dat daar soveel druk op hulle is om studente ongeag hopelose “prestasie” te laat slaag terwyl die universiteitshoofde wyd oor opvoedkundige instellings van uitnemendheid predik?

Kortom, gaan tersiêre inrigtings die praktyk-eise vir indiensneembaarheid wat matriek nie bring nie, verhoog of verswak?

Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum, wys op ’n aantal sake wat steeds haper. Altesaam 51 persent van alle Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 jaar oud is werkloos.

In Bloemfontein kom die hartseer verskynsel al meer voor – dat huishulpe aftree sodat kleindogters (met matriek) hulle as huishulpe kan opvolg. Dit is na die matrikulant se eie familie en die werkgewer landswyd eers hemel en aarde versit het om die jonge aan ’n werk te probeer help waarvoor hulle paslik gekwalifiseer is.

Bailey wys ook daarop dat as die getalle van die graad 1 klasinname van 2003 met vanjaar se matriekslaagsyfer vergelyk word, het minder as 45 persent van die oorspronklike groep nou geslaag.

Suid-Afrika investeer swaar aan onderwys. Die land spandeer ongeveer 20 persent van sy BNP aan onderwys, en hiervan weer sowat 80 persent aan die salarisse van personeel – nie almal leerkragte nie. Teen 2011 het die bedrag op meer as R10 000 per jaar per leerder neergekom. Internasionale syfers toon egter dat daar nie noodwendig ’n regstreekse verband tussen spandeer en die uitslae is nie. Die VSA spandeer die meeste uitgedruk per leerder (’n enorme $12 000 plus per hoërskoolleerder, 7,3 persent van die BNP) maar presteer nie waffers in veral wiskunde en wetenskap nie. Trouens, die Amerikaanse 15-jariges se wiskundige geletterdheid is onder die internasionale gemiddeld.

Ook Suid-Afrika vaar op internasionale indekse dikwels aansienlik swakker as ander lande wat baie minder per leerder spandeer, en wat wiskunde en wetenskap betref, is die land gewoond daaraan om onder die swakstes ter wêreld te tel.

Enorme werk lê nog vir Suid-Afrika voor voor die land ’n behoorlike rendement per rand gaan kry. Dit vereis dat die beste kundiges die beplanning en uitvoering moet doen, en dat Sadtu se ingesteldheid drasties sal moet verander. Transformasiebeheptheid moet noodwendig in pas met grondwetlike vereistes, soos die verbod op onbillike diskriminasie, gebring word. Suid-Afrika kan nie die toekoms ingaan terwyl ’n belangrike slagaar na die hart en brein verstop is nie.

Vir diegene wat desondanks presteer het, baie geluk, en baie dankie vir die daardie leerkragte wat werklik alles insit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae