Nuuskommentaar: Matriekuitslae; kennis is mag, maar wysheid is krag (en karakter verskaf respek)

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Dit is goed dat daar soveel vreugdevure opgaan oor verbeterde matriekuitslae. Kennis is immers mag, maar dan moet onthou word dat kennis in 1 Korintiërs 13 ondergeskik gestel word aan die liefde. Met die dreigende oorlog tussen die VSA en Iran, en selfs sprake van meer lande wat betrokke kan raak of ingesleep word, lyk dit of kennis en liefde te kort skiet. Plaaslik beroof verdraaide en doodgewoon foutiewe narratiewe die bevolking van korrekte kennis en blaas radikale groepe soos die EFF en die BLF juis rassehaat gebaseer op hierdie verskeurende narratiewe aan.

Te midde van groot vreugde, trots en verligting oor verlede jaar se matriekuitslae kom die gereelde vrae weer na vore. Vrae oor integriteit, manipulasie en oneerlikheid is onvermydelik ná bedrog en verneukery in die verlede (en spesifiek gevalle waar die skuldiges op verskillende vlakke uitgevang is), onverklaarbare statistiese uitskieters, berigte oor onderwysers wat lyf wegsteek, skoolonluste en vele meer, maar teengewerk deur verhale van ontsettende deursettingsvermoë te midde van klipharde opofferings, soos studie by kerslig.

Ja, in baie gevalle behoort ’n matriek met ’n medalje gepaard te gaan. Baie teleurstellings wag ongelukkig. Werksgeleenthede is veral in die gewilde skool-opleidingsrigtings so skaars soos hoendertande. Net so met sekere verdere kwalifikasies wat toeganklik geword het deur gratis verdere studie. In ’n land waar gevestigde narratiewe eerder as die werklikheid dikwels bepalend vir optrede is, loop die “geloof” dat kwalifikasies wat in Engels behaal is, (prestige) werksgeleenthede “waarborg” sterk, en voed onder meer die outoritêre gedagterigtings van die Gautengse LUR vir “onderwys”, Milner Lesufi.

In die proses word talle akademiese studies en internasionaal-erkende werklikhede gewoon onder die rommel van versteurde denke begrawe. Die bekende dr. Braam Hanekom, skryf vandag op Netwerk 24 oor die voorreg wat hy gehad het om die afgelope tyd ’n werk te lees van Jean Paul Lederburg, The Art and Soul of Peacebuilding (2005). Die paslike deel wat die leser tot sy voetsole moet tref, is in wese presies dieselfde as wat talle onderwyskenners en belangegroepe (op sterkte van navorsing) al lankal in Suid-Afrika en internasionaal skryf: “Ons onderskat die impak wat die vernietiging van ’n eie narratief, (ja die einste huidige modewoord wat deesdae so dikwels gebruik word dat dit die wilde waks uit baie beginselvaste pragmatiste irriteer), identiteit en die verlies van plek en ruimte aan mense en geslagte doen.”

Het Lesufi en ander eietydse Milneriete al Lederburg se boek gelees? Die ironie is dat Lederburg se boek eintlik oor die verwerwing van vrede, en die instandhouding en uitbou daarvan handel. Onregstreeks beteken dit dat die vals narratiewe wat die regering in verskeie kwessies, soos “grondhervorming”, aanwend of wil aanwend, insluitend Lesufi se Milneristiese streep, uiteindelik die vredesproses vertroebel.

Afrikaanssprekendes is juis verlede jaar hierdie werklikheid onder die neus gevryf toe pres. Cyril Ramaphosa op Welwillendheidsdag, vir die tweede agtereenvolgende jaar, ’n narratief van die Bloedrivier- en omringende gebeure gegee het wat van die Voortrekkers (die indringers) die skurke gaan maak het, en die impi’s wat ook vir onder meer Bloukrans en Wenen verantwoordelik was, asook die Mfekane (Sesotho Difaqane of Lifaqane), vryheidsvegters.

Daar is nie algehele sekerheid wie die eerste keer geskryf het dat kennis mag is nie. Oor die algemeen word ’n landgenoot van Milner, sir Francis Bacon (1561-1626), gekrediteer. Dit kom egter ook reeds ongeveer ’n duisend jaar vroeër voor in die geskrifte van Imam Ali (599-661). Later is die gesegde uitgebrei om te lui dat kennis mag is, maar dat wysheid krag gee. Later het Bruce Lee die term “karakter verskaf respek” bygevoeg.

Ook Salomo is bekend vir die agting wat hy vir wysheid en kennis gehad het.

Maar in die bekende 1 Korinthiërs 13, wat oor die liefde handel, vers 2, staan geskryf: “Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”

In vers 12 lees ons: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

In die wêreldpolitiek, asook in die plaaslike, is kennis uiters belangrik. Suid-Afrika kan veel meer per leerder begroot as wat vir die meeste Afrika-lande moontlik is, maar steeds nie dieselfde gehalte matrikulante oplewer nie, as beleidsgewys meer op onvanpaste narratiewe staatgemaak word om metodiek te ontwikkel.

Moedertaalonderrig suig teen die lesse van al wat beduidende gesaghebbende studie in aan die agterspeen. (Dis nou behalwe soos groot bedrae geld wat vir die bou van skole beskikbaar gestel is, maar aan tesourie terugbetaal moet word omdat dit nie benut is nie, soos deur die Vryheidsfront Plus uiteengesit.)  Ramaphosa se Bloedrivier-toesprake kan nie anders as om rassespanning te ontlok nie, en om uit dieselfde of enigeen anders se mond die gees van eenheid te gaan besing wat Siya Kolisi se Springbokke tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi behaal het, grens aan die onsinnige, en aan ongevoeligheid teenoor Afrikaanssprekendes wat teen die voorskrifte van die grondwetlike ampseed van die president in gruwelik met valsheid beledig is.

Hoekom val soveel magtige moondhede in kurkdroë dryfsand vas as hulle by konflikte elders betrokke raak? By ontledings blyk dit dat daar ’n algehele onkunde is oor hoe Islam gediversiveer is. Aan die een uiterste ’n bykans pasifistiese vertakking, soos blyk uit ’n radikale massaslagting toe radikale Islamiete ’n moskee van die pasifiste tydens ’n diens aangeval het. Almal is min of meer bewus van die verdeling tussen die Sjiïete en Soenies, en die verskillende sektes van die Soenies soos die Salafiste wat ’n tuiste bied aan radikales soos Al Kaïda en Isis.

Hoekom gee Duitsland voorkeur aan Indonesiese Moslems om Moslems in Duitsland te onderrig, eerder as Moslems uit Turkye of lande met Soenie- of Sjiïetiese Moslems? Dit lyk of die periodes toe Indonesië nog deur stamgodsdienste oorheers is, en later die Hindoeïsme, die latere Islam sterk oorheers. Waar streng Islam geen ooghare het vir toordery, spoke, lewende dooies en animistiese gebruike het nie, word Islam (met sy Indonisiese wortels) nog plek-plek beïnvloed deur toordery soos om die “slams” te laat kom om met allerlei toorgoed mense uit hul huise te verdryf.

En dan wil magtige moondhede sonder hierdie kennis gaan oorlog maak teen lande onder Islamitiese regerings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

André André ·

Jerm, ‘help ‘n bietjie, help’n bietjie, help ‘n bietjie hier!’

TwaalfBoor ·

Ek verskil met die stelling.
Kennis is nie mag nie.
“Toegepaste” kennis is wel mag.

André André ·

Herman, ek het hier bokant die mense getoets, hulle probeer oppomp om soos jy, vir reg en geregtigheid, die waarheid, op te kom. Ek het jou as fopnuusskrywer uitgekryt om reaksie te ontlok, in teenstelling met wie jy en jou wese is, sommer vir Jerm bygesleep, maar jy sal geliefd wees in jou denke en jou omgee, jou menswees, en jou bydrae tot die geskiedenis in die land.

As almal in die land ‘n optog vir jou denke en rubrieke sal hou soos Julius se volgelinge vir hom, het ons al ver gevorder.

Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.